Jorge Luis Borges – vertaling in Afrikaans
Jorge Luis Borges – vertaal deur De Waal Venter
Aan ‘n muntstuk
Koud en stormagtig die nag toe ek uit Montevideo gevaar het.
Om die Cerro,
gooi ek van die boonste dek
‘n munt wat glinster en wegraak in die modderige water,
‘n stukkie lig vasgevang deur die tyd en donkerte.
Ek het die gevoel gekry dat ek ‘n onomkeerbare daad gepleeg het,
wat die geskiedenis van die planeet aangevul het
twee aaneenlopende reekse, parallel, moontlik oneindig:
my bestemming, gevorm uit angstighede, liefde en futiele moeilikhede,
en van daardie metaalskyfie
oorgegee deur die water aan die sagte dieptes
of na die verre seë wat nog steeds
knaag aan die oorblyfsels van die Saksers en die Fenisiërs.
Elke oomblik van my, slapend of wakker
pas by ‘n oomblik van die gesiglose munt.
Partykeer voel ek berou
en partykeer afgunstig
op jou, wat bestaan, nes ons, in tyd en sy doolhof,
sonder om dit te weet.
[Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter]
Jorge Luis Borges
Jorge Francisco Isidoro Luis Borges (24 Augustus 1899 – 14 Junie 1986), bekend as Jorge Luis Borges, was ‘n Argentynse kortverhaalskrywer, essayis, digter en vertaler, gebore in Bueno Aires. Kenmerkend van sy oeuvre is die “eienskap van onwerklikheid in alle literatuur”.
Sy kortverhale word met mekaar verbind deur temas soos drome, labirinte, biblioteke, spieëls, diere, fiksieskrywers, filosofie, godsdiens en God. Hy het bygedra tot die fantasie-genre, ‘n genre wat gereageer het teen die realisme en naturalisme van die negentiende eeu.








