Onderhoud met Daniel Hugo

 

Gesprekke vir die binne-oor

Daniel Hugo gesels met Joan Hambidge oor sy pasverskene bundel, Hanekraai

***

Baie geluk met jou nuwe bundel Hanekraai wat sopas by Protea verskyn het, Daniel. Ek het in 2007 met jou op Litnet gesels Ek wil nie myself herhaal nie en verwys lesers graag na hierdie onderhoud. ‘n Vraag wat steeds tersaaklik bly: hoe voel jy oor die stand van ons digkuns tans?

Jy dwing my nou om te bieg, Joan. Sedert ek van die radio weg is en voltyds vertaal, het ek nie tyd of energie om op die hoogte van die jongste digkuns te bly nie. Ek volg wel deur middel van Versindaba alles wat uitbroei, kekkel en kraai. Van duskant die heining lyk dit vir my na ‘n klein maar woelige boerdery.

Jou nuwe bundel bevat gedigte oor ander digters. Hoe sien jy so ‘n gesprek? Is dit ‘n kritiese regstelling of aansluiting by daardie vakman?

Beide – dit kan ‘n kritiese regstelling by een wees, en ‘n simpatieke aansluiting by ‘n ander. Voorbeelde van die eersgenoemde soort is “Eksistensie” wat aan T.T. Cloete opgedra is of “Arthur Koestler (1905-1983)“, en van die laasgenoemde: “Twee kwatryndigters” wat handel oor Hennie Aucamp en Johann de Lange. Maar meestal is dit in memoriam-verse vir gestorwe skrywers wat van my waardering vir hulle werk en persoon getuig, soos die gedigte oor Ina Rousseau, Lucas Malan en Eugène N. Marais. Ek moes darem ook ‘n kwatryn wy aan die doyenne van die lykdig in Afrikaans:

 

Lykdigter

vir Joan Hambidge

 

haar versreëls lê soos die skaduwees

van ‘n laning sipresse oor die blad

dié bome laat die wind droewig suis:

hoor jy dit, is jy na ‘n graf op pad

 

Jy skryf ook satiriese verse soos die volgende een:

 

Heil die leser!

vir Nicol Stassen

 

A, wat is ‘n bundel verse sonder

‘n setfout of twee? ‘n Dooie wonder.

Anders word die leser voor ‘n keuse gestel:

Is dit ‘n blaps of is dit ‘n woordspel?

Gee die digter alle voordeel van die twyfel

as jy, liewe leser, nog wil weifel.

(Die lui redakteur kry nooit die eer nie.)

Die blatante fout word gesublimeer

tot meerduidigheid en dan sorgvuldig

gekontinueer. Papier is mos geduldig.

 

Wat is die funksie van so ‘n satire?

Om die leser te laat glimlag. Om my werkgewer (Nicol Stassen) en uitgewersredakteur (Martjie Bosman) ‘n bietjie te terg – en hopelik ook te laat glimlag. En miskien om te wys op die vrugbare feilbaarheid van die gedrukte teks én die leser. Want selfs al kry die leser ‘n betroubare teks onder oë, het die digter geen beheer oor wat daar ingelees gaan word nie. Dit hou die wonder van die poëtiese kommunikasie lewendig. Sodra daar eenstemmigheid oor die betekenis en waarde van ‘n gedig bereik is, verander dit in ‘n “dooie wonder”. Dit is die lotgeval van die meeste “klassieke” tekste.   

Jy is dikwels meedoënloos met jouself in hierdie bundel. Hoe voel jy oor die gedig as self-gesprek of as ‘n soort selfmoord? Jy noem digters ook “slinks, selfsugtig en brutaal” in die gedig “Digters“. (Hier is ek natuurlik ‘n uitsondering, nie waar nie?)

 

Digters

 

die soetsappiges laat

graag hul gevoelens blyk:

die woorde versuiker

terwyl jy daarna kyk

 

die betraandes weer skryf

of hulle gerook is:

die woorde vloei ineen

en kantel uit fokus

 

ander is verbitter

of onuitstaanbaar suur:

die gal wat hulle braak

brand dwarsdeur die papier

 

die suiniges word deur

te veel woorde gekwel:

hul laat die reëls presies

ses lettergrepe tel

 

digters is die edelsmede

van elke taal

onsin: hulle is slinks,

selfsugtig en brutaal

 

Jy het die selfkritiese ingesteldheid goed raakgesien. Dit is nie om dowe neute dat een van die gedigte die titel “Selfkatkisasie” het nie! Ek reken myself byvoorbeeld tot die suinige digters van die voorlaaste strofe in die gedig hierbo. (Jy kan maar tel: elke reël in dié gedig het net ses lettergrepe.) In “Lesingsaal, 1975” is ek beslis ook krities op my jong, verwaande self. (‘n Soort selfmoord? Moontlik.)

Die skryf van gedigte is vir my in die eerste plek ‘n self-gesprek. Die woordspel en ander grappies (soms galgehumor soos in “Skande“) is eintlik net bedoel om myself te vermaak. Dit is sekerlik ook so dat die Afrikaanse digter se potensiële gehoor aan die krimp is vanweë die afskaling van Afrikaans as onderrigtaal op skool en universiteit. ‘n Alternatiewe titel vir die bundel sou Gesprekke vir die binne-oor kon wees, na aanleiding van die volgende reëls uit “Veertien verse vir ‘n wettelose land“:

 

Op my rekenaar

kielie ek deesdae gediggies uit

oor die lente, die liefde, die Lethe

in ‘n taal wat binnekort vergete

sal wees. Ek lawe my verslae ego

met dáárdie klanke van Afrikaans

wat nog net in die binne-oor bly eggo.

 

Jy het jare gelede Elisabeth Eybers as ‘n digterlike heldin beskou. Nou ja, niemand kan soos Eybers ‘n distigon of sonnet bedryf nie. Lees jy haar steeds? En Ina Rousseau?

Ja, ek lees al twee nog graag, veral Ina Rousseau. In Hanekraai staan ‘n gedig wat so begin:

 

ek lê in die bed en lees Ina Rousseau

dis haar klankspel wat my wakker hou –

 

Ek het die afgelope tyd twee uiters toeganklike Amerikaanse digters ontdek wat my baie plesier gee – selfs al skryf hulle ‘n soort gedig wat totaal anders is as die kort, klankryke verse van Eybers en Rousseau. Ek praat van Billy Collins en Tony Hoagland. By albei waardeer ek die humor en improvisasievermoë.

Ek sien eweneens die invloed van Auden op jou digkuns. En ook Opperman. Wat my uitbring by jou nougesette vakmanskap: jou verse is perfek gekonstrueer. Hoe vermag jy dit?

Dankie vir die kompliment, maar dis ‘n vraag wat bykans onmoontlik is om te beantwoord. Waarskynlik het dit met my psigiese samestelling te doen. Ek voel klaarblyklik onseker en onveilig as ek te veel vryheid gegun word. Daarom hou ek van rym, lettergreeptelling en vaste vorms soos die distigon, haikoe, kwatryn en sonnet. Ek moet myself soms forseer om losser versreëls aanmekaar te timmer. Daarom beny ek die gemak waarmee digters soos Collins, Hoagland en Danie Marais (op sy beste) die versreëls laat vloei sonder om die vae grens na prosa oor te steek.

Hoe lank het jy aan hierdie bundel gewerk?

Sedert my vorige bundel Die panorama in my truspieël wat in 2009 verskyn het. Maar sommige gedigte is ouer en het veel langer in die laai gelê. Nie alles wat ‘n digter skryf, is altyd geskik vir ‘n spesifieke bundel nie. Ek weet Hanekraai en sy voorganger lyk na skraal oeste, maar dit kom van lettergrepe tel!

Jy is eweneens ‘n vertaler van sowel prosa as digkuns. Watter impak het jou werk as vertaler op jou gedigte?

Dit gee my minder tyd om te skryf, maar die vreugde van vertaal vergoed daarvoor. (Kyk, dit laat my selfs allitereer!)

‘n Mens sou jou as vernufsdigter kon tipeer. Jy het immers hieroor ‘n tesis geskryf. Tog is daar in hierdie bundel ‘n groter emosionaliteit aanwesig. Het ek gelyk? In die openingsgedig staan daar:

 

my hart is ‘n gravitasiekolk

waarin die laaste vonk verslaan

 

Dit is ‘n vraag wat ek moeilik self kan beantwoord. As jy dink die verse is emosioneler van aard, is ek bly. Dan het ek nie verniet gelewe en gely nie!

Daar is eweneens natuurgedigte in hierdie bundel. Jy skryf oor katte, krappe, insekte, honde en wat nog. Wat is die funksie van so ‘n vers wat dikwels ‘n vers oor die vers word?

 

Seespieël

 

blou branders kom rymend aangerol

(my versreëls spoel nooit ‘n bladsy vol)

in seeblou ink skryf ek spieëlskrif hier:

die oseaan is ál gedig wat duur

 

Die digter vind dikwels ‘n gedig in die natuur en daarom word die natuur hier resiprokaal as ‘n gedig voorgestel. Die gedig en die natuur word spieëlbeelde. Wat die diergedigte betref: Met ‘n hopeloos oorbevolkte en oorontginde aarde raak mens en dier al hoe meer op mekaar aangewese. Ons begin diere al meer as lotgenote beskou.

Jy beoefen ook die haikoe en variasies hierop in jou bundel. Waarom het jy hierdie vorm gekies?

 

Haikoe

 

al weer ‘n seisoen

om lettergrepe te tel –

dis herfs in Japan

 

Die haikoe is die Everest van die die lettergreeptellers. Jy moet met baie min suurstof klaarkom en elke voet presies reg neersit. Binne sewentien tellings staan jy op die top van die wêreld of lê jy begrawe onder ‘n sneeuwit blad. Die groot uitdaging vir die moderne haikoeskrywer is om ander temas as die vier seisoene en die natuur as spieël van die digter se gemoed te beproef. W.H. Auden kon elke denkbare saak in haikoevorm giet. In Hanekraai het ek sowel tradisionele as “eksperimentele” haikoes probeer skryf. Die grootste uitdaging was om twee beroemde haikoes van die grootmeester Matsuo Basho (1644-1694) te vertaal en dan een-en-twintigste-eeuse variasies daarop te maak:

 

Matsuo Basho: weerspieëlings

 

I

vergete vywer

‘n padda spring van die wal

die klank van water

                                    *

giftige vywer

die padda dryf witpens bo

die stank van water

 

II

dit is doodstil – dan

deurdringend tot in die rots

die sonbesieskree

                                   

*

stilte bestaan nie

slegs kosmiese tinnitus:

die skril kubersfeer

 

 

Wat beteken die titel van jou bundel vir jou? Jy gebruik dit in verskeie geledinge, onder andere dat jy werk in ‘n taal wat dalk mag uitsterf en dat digters dus verraai voel deur die kuberruimte en politieke werklikheid waarin die bedryf van stilte al hoe meer verminder word …

Die haan simboliseer twee dinge: verraad en ontwaking. Wat die eerste aspek betref, kan ‘n mens – by wat jy hier bo noem – voeg dat die mens besig is om sy eie aard én die aarde te verraai. Dit staan in ‘n drieluik gedigte aan die begin van die bundel: “Evoluisie“, “Troetelgoed” en “Jurassic Park“.

Die idee van ontwaking kom veral voor in die erotiese verse aan die einde van die bundel. Die titelgedig “As die haan kraai” gaan redelik blatant oor die manlike ereksie. Dan volg vier liefdesgedigte en dié sekwens word afgesluit deur “Dagbreek“, wat met die volgende reëls wegval:

 

                        die haan staan op sy tone

                        met sy erekte nek tot die uiterste gestrek

 

Die haan as aankondiger van ‘n nuwe dag figureer in die motto voor in die bundel en in die twee reëls waarmee die bundel afgesluit word.

‘n Laaste vraag: hoe voel jy oor die stand van resensies tans en dat digbundels al hoe meer afgeskeep word in die dagbladpers?

Dit is ‘n treurige toestand wat weekliks treuriger word – veral aangesien die reeds beperkte ruimte in die Afrikaanse blaaie aan soveel Engelse boeke afgestaan word. As ek resensies oor die wêreldletterkunde wil lees, koop ek Engelse koerante of gaan soek dit op die internet. Die Afrikaanse pers is besig om sy taak ten opsigte van die Afrikaanse letterkunde gruwelik te verwaarloos ter wille van ‘n sogenaamde ruimer blik. Gelukkig is daar nog Versindaba wat sorg dat elke Afrikaanse digbundel behoorlik bekendgestel en uitvoerig bespreek word.

 Gee vir ons ‘n gunsteling-gedig uit hierdie bundel.

 

Nege metafore en ‘n vergelyking

 

‘n kind kraai anders as ‘n haan

‘n kat lek anders as ‘n kraan

‘n deur piep anders as ‘n muis

‘n klok slaan anders as ‘n vuis

die wind huil anders as ‘n wolf

‘n vy swel anders as ‘n golf

‘n wolk dryf anders as ‘n skuit

‘n peer bloos anders as ‘n bruid

‘n voël sing anders as ‘n vers

en digters doof gou soos ‘n kers

 

© Daniel Hugo (Uit: Hanekraai, 2012: Protea Boekhuis)

 

 

Daniel Hugo & Joan Hambidge

Daniel Hugo & Joan Hambidge

 

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Onderhoud met Daniel Hugo”

  1. Veels geluk met jou bundel, Daniel. En, Joan, dankie vir jou onderhoud wat op so ‘n gemaklike toon so insiggewend is.

    Hierdie fragment is veral vir my ‘n riem onder die hart:

    die soetsappiges laat
    graag hul gevoelens blyk:
    die woorde versuiker
    terwyl jy daarna kyk

    Dit is ‘n skerp, raak tipering van ‘n verskynsel wat uit die sosiale media peul.

  2. Pieter Hugo :

    Daan die Haan MAG maar kraai!

  3. Dankie, broer! Elke haan het mos sy eie mishoop. Een van die mooiste versre”els in die Afrikaanse digkuns is G.A. Watermeter se “my swart haan roep die dagbreek rooi”.

  4. Thomas Deacon :

    aai my broer
    ons mis jou stem so skerp
    geslyp soos’ie lem
    vannie slagman se mes
    so sny-sny soos ouma
    se boerbroodmes gly-
    gly deur’ie
    oondgebakte swartkors-
    brood ma nous’it stil
    en dood
    ma ons eet darem dourie
    swartkorsbrood
    en rek oense nekke
    so skuinsweg
    na waar’ie rooihaan
    staat ek kraai
    ma jy bly sit dour voor jou
    keyboard en laat’ie woorde
    glip en gly en stort
    uit dourie keyboard
    wat’ie stem had nie
    wat’ie hard kan
    praat’ie
    maar aai my broer
    ons mis daai gladgeslypte
    lem van jou mooi-
    praat hugo stem

  5. Dankie, Thomas!