Rensia Robinson. ‘n Perspektief op die digterskap van Donald Riekert

‘n Perspektief op die digterskap van Donald Riekert   –   Digter uit Kuruman

Rensia Robinson ©

Inleiding

Donald Riekert is digter-boorling van Kuruman. Sy mede-digtervriend daar was Thomas Deacon. Van sy verbintenis met hom het Riekert gesê (Müller 1990:4): “Ons inspireer mekaar, iets vreesliks. As ‘n gedagte by hom nie wil vorder nie, gee hy dit partykeer vir my aan, en ek woel daarmee. Omgekeerd ook. Ons maak vuur onder mekaar.”                                                

Diegene wat al op een of ander manier kennis geneem het van dié Noord-Kaap streek waaruit Riekert letterlik stam, sal dit heel waarskynlik nie uitsonder as ‘n idilliese bestemming waarna jy sou hunker om jou te vestig of te gaan verken nie. Padlangs sal die terloopse reisiger dalk eerder die ervaring hê om die reis so gou soos moontlik agter die rug te kry, veral wanneer dit gedurende die somer plaasvind met temperature wat tot in die veertigs kan boer. Dus, oppervlakkig waargeneem, nie ‘n geboorteplek vir gedigte nie. Dana Snyman (By 8.10.2011:12) verwys in ‘n artikel oor Riekert byvoorbeeld daarna as ‘n “nukkerige stuk Kalahari-wêreld”. Die geheim is egter dat oënskynlik juis sulke skaars streke vir die oer-digters ‘n tuiskom is.

Petra Müller, destydse uitgewer van sy digbundels, tipeer Riekert soos volg (1990:4): “Hy staan hier by jou, en kyk dwarsdeur jou na die lug vol donderkoppe anderkant jou. Hy’s nie ‘n man vir mure nie. Hy het in die veld grootgeword. En veldmusiek is die grondtoon van sy verse. ‘Dis ‘n wêreld vol krag hierdie,’ volgens Riekert, ‘dit loop jou onderstebo.'” (onderstreping van my)

Gevul met teenstrydighede, het hierdie wêreldvreemde karakter onder andere ‘n paar duisend boeke gehad. Hy was veral geïnteresseerd in Geskiedenis en het onder andere ‘n boek geskryf oor die lewe van Genl. J.A. Van Zyl wat in die Boere-oorlog en die Rebellie geveg het. Dié Generaal het ook die eerste skool vir Afrikaner kinders op Kuruman, waarvan Riekert ook later ‘n leerling was, begin. Helaas kon dié skool aanvanklik nie oorleef nie omdat die verarmde boere nie die losies vir hulle kinders op die dorp kon bekostig nie (Van der Merwe 1991:13).

Op besoek aan die geel huis in Kuruman waar Riekert al die jare gewoon het, tref Dana Snyman naas sy indrukwekkende versameling klip wat gesorteer in groot hope nog op die werf lê, vier gedaan rygoed aan: ‘n Volkswagen Passat met pap bande, ‘n Mazda bakkie, ‘n wieldoplose Nissan Skyline en ‘n blou Ford Cortina. Onder die doringboom langs die huis staan die hortjiesbank waarop oom Donnie jou altyd laat sit het wanneer jy daar kom. (Snyman 2011:12)

Riekert se digtersien van ‘n ongekunstelde wêreld blyk in die kort Gebed uit die bundel met die ewe poëtiese naam: Heuning uit die Swarthaak (1986:68). Vir dié bundel het hy die Ingrid Jonker-prys vir poësie in 1986 ontvang.

 

In die stil donkerte

van die veld roep

die kiewietjie beangs, en

God se volle maan

gaan oop

soos baie blomme

 

(http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2011/08/17/VB/2/kmdonnie.html Geraadpleeg: 012/03/31)

Riekert was jare lank beroepsfotograaf in Kuruman, ja Kuruman! Later het hy met klippe en halfedelgesteentes uit die berge daar gespekuleer – dolomiet, kwartsiet, jonasklip. André Brink onthou van hom, toe hy in 1978/’79 Kuruman toe is om te gaan navorsing doen vir ‘n artikel vir National Geographic, die volgende:

“Donald het my met sy mankolieke ou motor op Kimberley se lughawe kom haal voor ons vort is – Kuruman toe. Hy moes eers ‘n gebed doen voordat ons teen die verbysterende snelheid van 50 of 60 km/h daar weg is. Min of meer versmoor onder stof van buite en blou rook van binne.”

 

In die loop van die volgende paar dae het hy omtrent nooit opgehou praat nie: die mooiste stories uit sy kontrei, soms hartseer, soms skreeusnaaks, soms diep ernstig – hetsy in die Wondergrot met sy onvergeetlike rotstekeninge, die bergwêreld van Gamohaan, of by die bodemlose poel by Kuruman. Oor die onvrome eerwaarde Moffat, die mense en dinge en diere van die Noordweste. Hy was toe al befaamd as volksdigter, eintlik ou-wêreldse digter-profeet met die oë en baard van ‘n siener. ‘n Patriarg wat halfpad deur ‘n gesprek sy vrou sou uitstuur om in die tuin met die kinders ‘te gaan speel’ sodat hy kon praat… Self het hy maande van sy tyd afgeknyp om ‘n swart kunstenaar uit die buurt te leer skilder.” ‘Bowenal,’ sê Brink, ‘het hy my geleer van die veld, die rante en roetes, die geskiedenis van ons mense doer teen die Gariep se grensland. En die ongelooflike plastiese vermoëns van Afrikaans.'”

(http://www.dieburger.com?Vermaak/Nuus/Geliefde-volksdigter-van-Kuruman-sterf-Geraadpleeg: 2012/03/31

Riekert self “voer sy digterskap terug na sy kleintyd in ‘n patriargale bestel, vol van die klanke van die Bybel, die oer-Afrikaans van die oumense, en veral van die woordgevegte saam met die Tswanas saans om die vuur, waar die taal dan tot sy uiterste beproef is. ‘n Raak sê-ding in so ‘n geveg – wat ‘n paar uur kon duur – is deur die entoesiastiese omstanders toegejuig asof dit ‘n uitklophou in ‘n boksgeveg was. En is met gelag en gejil in die spreektaal opgeneem: ‘n nuwe gesegde van die ou sages.” (Müller  1990:4)

In Riekert se eerste formeel gepubliseerde bundel by Tafelberg in 1986 met die veelseggende titel Heuning uit die Swarthaak, kan die leser as’t ware ‘proe’ aan Riekert se digterlike teelaarde en -talent. Uit die ‘swarthaak’ met sy dorings en sy woestynagtige habitat, word heuning deur ‘n kennershand herwin volgens twee gedigte met die titel Swarthaakheuning 1 en 2 (1986:12, 13). In die eerste van dié twee gedigte, eet die seun dié heuning veelseggend uit die vadershand:

 

Die heuning drup

uit die bros geel koek

ek proe die soet in

sy sorg as hy vaderlik

met sy kort duim

die swarthaakheuning

bros kraak en in elke

porsie ag jong bye afmeet

 

Die keurigste, suiwer heuning kom uit die nes waar die ‘jong bye’ versorg word. Dit is nie sommer vir gryp en vat om uit ‘n nes met versteurde bye tussen swarthaakdorings  heuning te oes nie. Te meer is dit betekenisvol dat dit danksy die vader se noukeurige sorg moeiteloos geniet kan word deur die seun. Reeds in hierdie gedig ervaar die leser dat dit gaan om meer as blote beskrywing. Dit word ʼn simboliese handeling.

Die titel van Riekert se bundel Halfmens (1990) suggereer ewe betekenisryke verbintenisse tussen planteryk en mens met die aarde waaruit dit spruit. Die vetplant ‘halfmens’ (ook bekend as olifantslurp) leun altyd oor na die noorde. Volgens ‘n Namasprokie het die halfmense van hulle uitgedrewe voorgeslagte in hulle verlange na die Noorde so omkyk, omkyk soos die Ou Testamentiese Lot se vrou, in bome verander. (Van Niekerk 1981:88). In dié bundel tipeer gedig na gedig uiteenlopende mense met ‘n soortgelyke omkyk-hunkering. Vingerspel (1990:15) verwoord dit soos volg:

 

Die ou Boesman stryk

sy duim oor die

gemsboksening   Span

sy hand uit oor die

ribbebeen   en roep die

heuningvoëltjie óp óp

uit die uitgeëte skilpaddop

 

Ook in hierdie gedig is die leser bewus van ‘n magiese sfeer wat opgeroep word deur ‘n interaksie van mens en natuur.

Verrassend word selfs Breyten Breytenbach  (naas figure soos Steve Biko, Veldmaarskalk Smuts en Koos de la Rey) getipeer as moontlike ‘halfmense”, soos byvoorbeeld die gedig Breyten se vakansietyd (1990:39) suggereer met inagneming van die bundeltitel:

 

Die suidewind dryf

koud oor die Stil Baai

Trek ek langskaduwee in

my witskulp-tentjie terug

tot die son weer oor branders

my bruin brand   Swem ek uit

Jongensfontein se rotskuil

na die blóú verte

 

Kuruman Boorling

Dit is die soort oerdigter soos Riekert wat op grond van die legendes wat vervleg is met die geografiese eiesoortigheid van die streek, iets aanvoel van ‘n streek soos Kuruman se mitiese geboorte. In sy gedig Die eerste man uit die bundel Wensbeen (1995:28) skryf hy byvoorbeeld:

 

Maar dis die man

Die eerste man Gasegonjaan

Dis die groot een

Die man wat slang se stert

kierievat en slaan

dat die waters blinkoog

sewe strome loop

Die Man wat die waterkristal

laat glinster op sy elmboog

en met die son se straal

die vonk uit die vuurklip haal

Die man met die eerste naam

Gasegonjaan

Hy loop met Khudumaan

wat die tyd op Gamohaan laat staan

Ja, met sy tongklap

roep hy die eerste woord   Kuruman

oor die blinkklip op

Ja, hy span die boog se snaar

reënboog oor die wateraar

 

Die geskiedenis en die verhale van die streek word eweneens ‘n teelaarde vir gedigte. Waarskynlik die eerste Blankes wat dié gebied besoek het, was in 1801. Die geselskap se joernaalskrywer en skilder, ene Samuel Daniels, gee ‘n volledige beskrywing van die geselskap se besoek aan die Oog en die omliggende gebied. (Van der Merwe 2004:1) Die dorp Kuruman het in 1887 op die linkeroewer van die Kurumanrivier tot stand gekom. Kuruman is ‘n voormalige Engelse Sendingstasie en die grootste dorp in die munisipaliteit Ga-Segonyana, provinsie Noord-Kaap. Die vroeë inwoners van die gebied het die “wateroog en lewensaar in die Kalahari Gasegonyane genoem wat in hulle taal beteken “die plek van die klein kalbas of die oog wat borrel soos ‘n fontein” Dié onderaardse rivier wat bo die grond by die oog uitbreek, gee steeds 20 miljoen liters water per dag wat tot 72,000 mense daagliks van water kan voorsien indien elkeen 250 liter per dag gebruik. (Van der Merwe 2004:1)

 

Die dorp Kuruman is vernoem na Khudumaan, ‘n 18de eeuse Griekwa hoofman wat in die omgewing sy heilige plek ingerig het (http://af.wikipedia.org/wiki/Kuruman. Dat dit ‘n man met gesag en insig was, kan afgelei word uit die gedig Tug in die bundel Halfmens (1990:18):

 

Die Boesmankaptein Khudumaan

sny vyf kerwe op die

mikstok uit   Sy hand vat-vat

die rosynlat vas want die kiewietjie

kla sy seun draai na die nessie

af en hoe sal die reën broei

in ‘n leë nes   Die ou man kerf

vyf vingers bloed oor die seun

se skouers met die soetlat uit

Vryf wit van die eiertjie

oor sy seun se seer

en vra   Watter voël sal

vir ons die wolke dra as jy sy

roep oor die rant wegdra

 

Die gedig spreek eweneens van ‘n waarneming van die intieme wisselwerking tussen mens en natuur. Vir die bewoners van die streek is die natuur ‘n lewensboek waaruit en waardeur geleef word.

Die Moffats van die Londonse Sendinggenootskap het hulle in hierdie streek kom vestig en 50 jaar onder die Tswanas gewerk. Hulle spore is vasgelê deur middel van verskillende gedenktekens in die dorp. Gamohaankop in die verte aan die dorp se noordekant, is ‘n soort heilige plek in die Tswana-mense se ou-ou stories (Snyman 2011:12). In verskillende opsigte is dit ‘n gebied wat gevul is met ‘n bewussyn van die numineuse.

Dit is alleenlik die ware woestyndigter wat van Kuruman se wonder Oog meer sal weet as ‘n toeriste attraksie op ‘n reisbrosjure. In Die oog by Kuruman (1986:20) beskryf Riekert dié wonder soos volg:

 

Die dolomietspons

trek asem diep in

uit hierdie blou lug

die water sluk af

die lang wilgerwortels

in die swart turf

spoeg borrels op

tot hol geluide en

die moddervis kom op

om te soek waar die

lug wegraak in die grot

 

Hiernaas word Die oog (1986:36) in die gedig met dié titel geïdentifiseer as ‘n plek met buite-aardse konnotasies:

 

Die groen waterslang

se tong lek baie jare

aan die vaalgrys dolomiet

later skyn ‘n skerfie

lig in die grot

en met die groot reën

spoel ‘n stroompie water

bo-oor die rots en klip

blus die oervuur van

die boesman in rook en as

verwonder die boesmans

oor hierdie water wat

sterker is as heilige vuur

 

‘n Verband kan gelê word tussen die wyse waarop dierelewe (die moddervis) en die mens (die boesmans) dié grot verken en prakties toeëien. In die geval van die mens met sy kennis van vuurmaak ontstaan egter daarmee saam ‘n bewussyn en ontsag vir ongeïdentifiseerde kragte. 

 

Stamouers

Vir Riekert is sy stamverband so betekenisryk soos sy streekverbondenheid. In die gedig met die opskrif Pionier (1986:19) getuig hy soos volg van sy pionierpa:

 

Jy het nie sommer net

hier gebly nie

sommer net gelewe nie

met jou kort vingers

het jy die takke van die

kameeldoring gebuig

en die vaalblou peul gepluk

met jou eie hande gemaal

en gesif as kos vir die bees

in die halfwoestyn

sodat ons wat kinders was

die melk kon drink

met die snaakse peulsmaak

 

As kinders van dié streek is hulle uit die staanspoor ingeteel in dié aarde.

Hóé radikaal fisies verweef dié Pionierpa was met dié streek se mineraalryke aarde, sou mettertyd blyk. As gevolg van die asbes gifstof van dié aarde waarin hy gegrond was, was hy tot asemnood gedoem. In Die antwoord uit die bundel Heuning uit die Swarthaak (1986:37) word die skrynende waarom-vraag oor sulke lyding deur die digter-seun soos volg ver-dig:

 

Jy het gebid met oop hande

dat as dit moontlik is

jou asem weer sal terugkeer

en die blou asbes

uit jou longe blaas

maar die dood het

klipbrekersterk reeds

rooi skuim op jou lippe gespoeg

in die pyn het die antwoord

van God uitgesif tot die wete

jy word afval-asbes

 

Vir hom was die “Stof tot stof” (1986:66) uiteinde vermeng met die ‘bloudruk’, stempel van sy streek. Riekert skryf versiende ook hieroor:

 

Jy het teruggekeer Pa

terug na die rooi grond

teruggekeer in die penveer

van ‘n arend wat grondwaarts

sweef    nou lê jou vlerke stil

die kloue van jou bymekaarmaak

lê oop en jy moes die vervlieg

van jou asem hier laat in

gate van die blou dolomiet

 

Aangrypend is die beeldspraak van die Vaderfiguur wat met sy dood enersyds met sy gees/asem soos ‘n arend hemelwaarts sweef terwyl die penveer, die gebroke liggaam, andersyds “grondwaarts” verstil!

Hierteenoor spreek die gedig Kleinsussie (1986:60) oor die vroeë dood van ‘n kleuter, van skreiende futiliteit. Teenoor “helder water”, ‘n paslike simbool van lewe in dié dorre streek, staan die “verroeste konka” van die slotreël as ironiese “graf” van ‘n onvoltooide lewetjie.

 

Jy het gekruip

agter jou dors aan

in die helder water

was die borrels van

jou asem goue vissies

wat net buite bereik

van jou handjies bly swem

jy gryp gryp

maar die vissies bly weg

tot jy jou oë toemaak

moeg gesoek na jou asempie

in die verroeste konka

 

In dié gedig is ‘n eenword van mens en natuur gefnuik.

 

In gedigte van so ‘n oer aardsheid soos dié van Riekert, is lewe en dood kante van dieselfde munt. Die gedigte oor dood is ‘n terugkerende tema soos al die misteries van lewe – dit spreek van ‘n patos wat getuig van die blik verby die einders.

Van ‘n bittereinder Ma is soos volg afskeid geneem in die gedig met die titel Maar nog  jonk in die bundel  Wensbeen (1995:40):

 

Ma was nog jonk

sommer nog jonk in die bloed

toe die kanker rooi

voëlent in haar blom

Haar vingers het in maerte

die vat laat los

maar haar hart het teëgeskop

soos rooi aalwyn se blom

in droëntyd reën laat kom

Die dag toe sy kortkom

teen die laaste asem

was daar water in haar hand

toe ek haar vir laaste groet

 

Die sterwe word in sigself ‘n laaste ritueel wat mens en aarde ver-enig in ‘n oerverband. Wanneer sy Pa haar moet te ruste lê in die rooisand, sien hy hom, ‘n beweginglose patriarg, met die oog gerig op die Onverganklikheid, vasgevang in een vlugtige moment van weerloosheid. Hy verwoord dit in die gedig Stoffie in dieselfde bundel (1995:51):

 

Pa was ‘n harde man

Met Ma se doodsiek sê hy niks

Sing ons net Prys die Heer

met blye galme

o my siel daar’s ryke stof

Daardie middag in Augus se wind

toe ons Moeder inspit daar in

die rooi Kalaharisand staan hy

met sy oë op Driekoppe gerig

huil ons kinders routraan

tot Eerwaarde sê stof tot stof

Lê daar ‘n rooi sandjie

in Pa se wateroog

 

Oermense van die Kalahari – ‘n Mitiese streek

Dat Riekert in sy gedig In die begin (1986:7) aan hierdie streek die oer-oorsprong van die mens koppel, hang nie slegs saam met die geskiedenis daarvan nie maar met die belewing van ‘n intieme wisselwerking tussen die tydlose en die aardse – hemel en aarde is dáár aan mekaar verwant en aangrensend waar die digter Riekert hom bevind.

 

In die begin het

die Skepper die groot

wilde-olyf op Thamoanche

se nek gevel en uit die

taaihout die eerste man

gekerf    daarna die

wilde-olyf saam gemaal

met die blommetjies

van die swarthaak tot die

vrou opstaan uit die

jonasklip en in die geur

van heuning die olyf

uit daardie man se hand eet 

 

Dié gedig kan gelees word as dié streek se eiesoortige Paradysverhaal. Vir Riekert is die oerbewoners van die streek onlosmaaklik deel van die landskap en bowenal van sy beeldspraak. In die gedig Die skepping van die mens (1986:63) sien hy hulle as bepalend vir dié landstreek.

 

Jare terug het God

die water van die Oog

geneem en gemeng

met die potklei

van hierdie land

die Boesman gemaak

tot nou toe soek

hulle steeds na

die geboortegrond

in die groot grot

onder die water

waar die Skepper

nog ‘n bietjie vet

wou uithou    padkos

in die groot woestyn

 

Die “groot grot onder die water” vorm ‘n kontras met die herinnering aan die “verroeste konka” waarin die “klein sussie” verdrink het.

Die Wondergrot is, soos die Oog, een van Kuruman se oer wonders. Hiervan dra die Boesman intieme kennis maar ook is hy daar in geskryf in die rotswande. Die gedig in dié verband lui: Gemsbokke by Wondergrot (1986:53):

 

Met die klein handjies

kerf die Boesman

in rooi oker

die gemsbok

se sterk draf

in die ysterklip

vars lê die bloed

streep streep

teen die rotswand

opgedryf bly die

gemsbok lewe

in die snaarhand

van die Boesman

op die boog

 

Elke gedig van Riekert tref die leser met ‘n onvergeetlike eenvoud en verbeeldingrykheid wat alle ‘uitleg’ slegs die wonder laat versteur.

Hy verwoord die mites van die Boesmans van die streek asof uit hulle eie mond, soos in die gedig Die Reënroeper in die bundel Wensbeen  (1995:33):

 

Die einste Heitsi-eibib

die vrou wat die reën roep

Sy trek haar mond eentand

sit voorvinger op duim

skud skud die steenbokhorinkie

teen ander hand se palm

snuif snuif teen haar neus op

nies nies ‘n traan se loop

Sy kyk op teen die rooi rant

voorbok se roep vat die trop

teen die klipkop op

Dit is sy wat die vuurklip

laat vlam dat die donderweer grom

en die veld groen laat opslaan

 

Dit blyk dan ook uit sy gedig Waterskep in dieselfde bundel (1995:37) hoe dié natuurkenners sy mentors is met hulle intieme interaksie met die natuurdinge:

 

Maar daar by die suigput

het die ou boesman my leer

watertrek met die rietjie

my leer suig uit die vol dop

leer soek na die gemsbokkomkommer

maar ook toe ek sommer

vra vir ‘n storie

het hy sy hand bakgehou

en gesê storie

is jongvrou se waterskep

jy bly drink en drink

uit haar bakhand

 

Kan daar ‘n meer unieke metafoor wees vir die dors na stories as hierdie lewendige beeld van die mooi vrou uit wie se hand jy in die woestyn nie kan ophou waterdrink nie?

Vergelyk mens Riekert se gedigte met dié van /Xam digters, val dit op hoe nou verwant sy beeldryke segswyse daaraan is. Een van die /Xam-gedigte wat deur Bleek opgeteken is en deur Antjie Krog (2004:41) vertaal is, lui byvoorbeeld soos volg:

 

o nuwe maan daar bo

neem my gesig en ruil dit daarbo met joune

hou my gesig daar bo

en alles wat my ontstel

en gee my jou gesig wat altyd nuut terugkom

nadat jy gesterf het

want die vreugde daar bo

omdat jy nuut is

is altyd sigbaar van hier

 

Soos by Riekert, spreek uit genoemde gedig enersyds ‘n intens verbonde aardsheid en andersyds ‘n bewussyn van juis die altyd aanwesige bo- of buite-tydelike. Watter treffende simbool van vernuwing is die nuwe maan wat telkens verskyn nadat dit weggekwyn het!

 

Karakters van die streek

Nie slegs die Boesman met hulle aardse wyshede nie, maar ook ander karakters uit die streek, naas sy eie Pa, is vir Riekert gedigte. Hy skryf soos volg oor die kuns van broodbak wat verhef word tot hemelskos in Skaapwagter uit die bundel Wensbeen (1995:39):

 

Tant Koekie kon brood bak

warm aartappel hou sy

die suurdeeg teen haar boesem

dis hierdie deeg wat die witste

uitrys die swartste korsie bak

Die groot brood hou sy hanslam

onder haar arm    sny met een

haak van die grootmes die sny

Skaapwagterbreed smeer sy varkvet

loop appelkooskonfyt na smaak

Tant Koekie is ons herder

ons wat honger kinders was

loop maklam in haar trop

 

Mens en aarde is in elke karakterskets verweef. Dit gaan om intieme “met die aarde praat”, om ‘n frase by Cloete (1992) te leen.  In die gedig Koelte (1995:41) blyk die genesende krag van karakters wat die kuns van diep delf en luister-hoor kommunikeer:

 

Oom Louis se gesels

was soos koelte opsoek

aan die voet van die rooi duin

Op die warm sand

kry jy hom in die skadu

van die witstam sit

krap hy soek-soek

die soet wortel uit

Vol geur brand hy met lamsvet

en heuning die koffie sterk

op die opslaanvlam

Ja, vir langpraat se raad

trek oom Louis koffie na smaak

 

Die titel van Oom Louis se gedig oor sy eenword met sy leefwêreld is die veelseggende Uitgereënde wolk (1995:42). Daarin word sy dieper eenword en terugkeer na die aarde soos volg verwoord:

 

Maar ons het oom Louis

die dag op Kenhardt begrawe

hy wat altyd so na die reën

gevra het   altyd getuur het

na die wolke op die horison

hy wat sewe jaar van droogte ken

Noudat Boesmanland geel in

die duifiedoring staan

noudat die water pan

nou dra ons hom uit

laat sak ons hom in die natkluit

en die uitgereënde wolkies

hang laag oor Driekoppe se spits

 

Aangrypend is telkens die wyse waarop Riekert in ‘n gedig met eenvoud van segswyse patos en ironie vermeng.

 

Die vrou as muse

‘n Mens verwag nouliks agter die oënskynlik bruuske voorkoms van dié Kalahariedigter ‘n fyn waarnemer en byna aanbidder van vroulike skoonheid. Riekert se tweede bundel wat hy self uitgegee het, dra die titel Die Amandelbloeisel (1979) en dit vertel die verhaal van ‘n vrou wat hom na liggaam en gees oorrompel het met haar skoonheid. Helaas was dit ‘n tevergeefse liefde waarvan hy moes afstand doen toe sy as beeldskone bruid aan ‘n ander behoort het. Sy afskeidsgedig aan haar dra die titel Amandelbloeisel (1979:28) en lui soos volg:

 

In die lente het jy my verbly

As amandelbloeisel groot en wit

My in jou vreugde kon laat put

As jou geur wyd uitsprei

 

Ek het gesmag na jou goue nektar

Na die skoonheid van jou stuifmeel

Wat in drade, klossies geel

Uitstyg bo die kelk se blaar

 

Ek het dopgehou die kring

Van skoonheid en geur wat verwelk

Die vruggie styg op in die kelk

Deur groen blaartjies omring

 

November se laat ryp het geknak

Die vruggie gedop soos ‘n slak

 

Hier is duidelik nog nie die gestroopte digter van die later gepubliseerde bundels aan die woord nie, al is ‘n geromantiseerde kyk na vroulike skoonheid aanwesig. Dit is in die gedig Swarthaakheuning 2 (1986:13) waarin ‘n oer ode vir die vrou uit die Swarthaakkontrei vorm kry. Dit sluit aan by die gedig In die begin (1986:7) waarin dit gaan oor die skepping van man en vrou. Veelseggend word die heuning van die eerste Swarthaakheuning-gedig (1986:12) waar die heuning uit die Pa se hand geëet is, metafoor/beeld van die vrou/dogter. Unaline is die naam van Donald se jongste dogter met wie hy ‘n besondere geestesverwantskap gedeel het. Sy is van hom, die Pa wat dié heuning geoes het van sy vrou, Una.

 

Unaline Unaline

jy is die ver ruik

van die swarthaakblom

die stuif in die meel

van die trossies geelblom

jy waai in die soet-soet soek

van die lentewind

o jy is die kry,

van die bruingeel heuning

diep in die uitholklip

jy drup woestyngeur

Unaline in my

proe jy

na swarthaakheuning

 

Na aanleiding van dié gedig kan die bundeltitel sowel ‘n letterlike (heuning) as ‘n metaforiese/beeldende betekenis dra – die vrou is naamlik vir hom ‘heuning uit die swarthaak’.

 

Dit sluit aan by die gedig Raai-raai-spel (1995:15) waarin die soek-soek-vind van die sielsgenoot-vrou in Riekert se gedigte telkens ‘n verrassende vonds is waarin hy hom kan verloor:

 

Maar my lief se roep

was soos soek-soek

kiewiet se nes kry

Speel sy raai-raai met my

draai ek uit die rivier

op na die groot duin

en in die sand se waai

op die heup se swaai

het ek die inkruip

van haar nessie

aai-aai gekry

 

Ook in hierdie gedig is dié oer liefdespel vertaal in die beeldspraak van sy geliefde streek. Met die Beminde vier hy Die appelliefiedans (1995:13) in die gedig met dié titel:

 

Die dag lê klein geel appellief

in my keel   teen my wang

lê haar lippe vasgevang

Die aandster kom in haar oë op

my voete sweef sewester heelnag

teen haar heup se draai

En teen sonop spat

die appellief oop

baie pitjies lê gesaai

baie pitjies ingetrap

op die skoonwerf

 

Van haar kan hy ekstaties sing in die gedig met die titel My vrou se naam, veelseggend weer uit die bundel Heuning uit die Swarthaak  (1986:27):

 

My vrou se naam

is hemel

hemels waar haar

bruin oë die glans

van tieroog word

draai sy die son

se strale in die

terugskitter van

haar omkyk liefde

 

So tydloos is sy liefde vir dié ‘hemelse’ vrou dat hy in die gedig Kannieblom (1995:27) bely hoe dat selfs die dood hulle nie kan skei nie:

 

As ek jou eendag moet neerlê

sal dit in Bitterfontein se los sand wees

Stof tot stof sal jou nie raak nie

maar son en maan sal in die swartklip

oor jou gaan    Die kannieblom se roesrooi

sal jou wang se gloed bewaar

en die sout sal teen jou vasslaan

jou lyf se teer gebalsem hou

 

Ironies het die digter haar vooruitgegaan en is sy as gestrooi op Gamohaankop, die mitiese “heilige plek” van dié gebied.

 

Die kontekstualisering en eenvoud van geloof

Uit verskillende gedigte blyk dit hoe Donald uit ‘n diep gelowige agtergrond spruit – nie slegs wat sy huis betref nie, maar ook die omgewing waarin hy leef. Enersyds spreek die Bybelse sleutelverhale in die idioom van die streek opnuut aan in hulle direkte eenvoud. Van sy Pa skryf hy onder andere in Die Heilige Stad (1986: 10):

 

Pa het soms as hy luister

na die lied van die

Heilige Stad bewoë geraak

en ook gesing Jerusalem

Jerusalem    soms kla Ma

dat Pa die stemming steur

maar Pa trek oop  sy stem

en roep die Heilige Stad

wat in sy blou hemel

êrens rondom Thamoanche

en Maroping sou neerdaal

 

Die dikwels vrugtelose wag op reën in dié dor streek, word ironies verwoord in Biddag op Kuruman (1986:38). Die problematiek van die uitbly van gebedsverhoring ondanks ‘n gemeentelike gebedsbyeenkoms word deur middel van die beeldspraak van die haan op die kerktoring skreiender gesuggereer as enige direkte verwoording. Dit is asof die haan op die kerktoring ‘n spotbeeld word van die kinderlike geloofsbyeenkoms van gelowiges. Dit herinner aan die Bybelse haan wat gekraai het toe Petrus sy Meester verloën het (Matt.26:75). Te midde van ‘n eenvoud van geloof spreek die gedig van ontnugterende skeptisisme.

 

Die more pak die wolke

dikblou teen Gamohaankop

en die noordewind druk

die wolke diklaken

oor die grasrante

vir ‘n amperse drup-drup

maar in die uur pak

die moederkerk vol

en die haan op die toring

draai koersloos in die rondte

en kraai die wolke weg

 

Terwyl Riekert verskillende vorme van onpretensieuse geloof verwoord, word onderliggende huigelary of misleidende vertoon van vroomheid daarnaas met gestroopte maar skerpsinnige woordspel genadeloos geparodieer.

Die gedig Nagmaal uit die bundel Halfmens (1990:61) lui byvoorbeeld soos volg:

 

In die Moederkerk se

geel gepoleerde banke

sit die blinkes breed

en onbesorg terwyl die

leraar opgewek die

brood breek met

‘n gladde bottermes

 

Ironieë in die interaksie van Boesman-geloof enersyds en Westerse geloofsbeoefening andersyds word hiernaas in die gedig Buitediens (1990:60) veelseggend gejukstaponeer:

 

Die ou Boesman pas op

Aansluit die buitekerk op

en leer die swartkraai praat

van die Goeie Hoop   Die ou

leraar sweet die warm Sondag

in die Kalaharison   Hou hy

die nagmaalbeker lomerig uit

Pik die swartkraai die wit

brood op uit die silwerkom

en roep Goeie Hoop   Die ou

Bedienaar sluk dorstig die

koutjie brood af met die vol

beker soetwyn en roep

Dit is volbring

 

Baas-kneg verhoudinge word eweneens in Bybelse beeldspraak subtiel aan die kaak gestel deur die verwysing na Kneg met ‘n hoofletter in byvoorbeeld die gedig Buitepos uit die bundel Halfmens  (1990:57). Daarmee word dit in die lig van Christus se aardse knegskap geherevalueer:

 

Twaalf kleutertjies

verdriedubbel stuk-stuk

luister wange bymekaar

na Christus se lyding

‘n Kneg soos hulle pa

word hy afgeransel terug-

gestuur na die skape om

op hierdie dor pad die

lam terug te bring onder

die skaduwee van

die soetdoring

 

 

Telkens word die bekende Bybelverhale gekonkretiseer in dié streek. Daarmee word op verbeeldingsryke wyse uitdrukking gegee aan die universele toepasbaarheid daarvan as oerverhale. Na aanleiding van die verhaal van die drie wyses uit die Ooste wat agter ‘n ster aan die Christuskind vind, lui die gedig Die môrester (1986:42) soos volg:

 

Die môrester laat val

kort voor dagbreek drie

druppels nektar

op die rooi duin

en drie wyse manne

het op drie wit

môreblomme afgekom

en die geur van ‘n

babatjie geruik

en hom gevind

wat sou praat

oor die een ster

bo verlate duine

 

‘n Mens kan jou nouliks ‘n meer paslike agtergrond voorstel van die Bybelse intog van Jesus in Jerusalem op ‘n donkie, wat sy kruisdood vooraf gegaan het, as dié streek waar die donkie eweneens ‘n soort boorling is. Teen dié agtergrond is dit toepaslik dat in die gedig met die titel Die donkie, dit gaan om die oënskynlik swyende dier, wyser as die mens (1986:59):

 

Een dag gooi mense

hulle klere vir my oop

en waai my koel

met palmtakke

een dag klap mense

vir my hande

en roep hoera

ek loop so ligweg

want my las voel ek

nie eers nie    altyd

wou ek so ‘n ruiter hê

wat met hande opgelig

beduie van ‘n koninkryk

wat nou kom

 

Kan die verlossing deur Christus se kruisdood op meer konkrete wyse ervaar word as in die volgende gedig met die titel Riembreek (1995:72) ?:

 

Maar dis die galpaal

maar dis die bitterpaal

my Kroon

dis aalwyn se proe

dis die hoon

maar ons Liewen Heer

het met die doringkroon

op Riembreek

die strop om ons nek

losgetrek

 

Die trefkrag van Riekert se direkte en tog ontledende gedigte oor geloofsperspektiewe word verwoord in die volgende gedig van Bonaventure Hinwood wat hy opdra aan die digter. Die titel van die gedig is veelseggend Woordeboek  Dit lui soos volg:

 

kieme van sy skeppingswoorde

saai die Woord weer geil in jou

om bok en boom en horison

teen rooidag of teen skemeraand

met siende oë te herken

en weerligskerp op velle wit

weerspieëlend swart te ets

dat ons deur alledaagse tekens

die geel en blou en karmosyn

die lywe, rotse, koringare

die liefdesroerings binne-in

helder oopgevlek deur jou

opnuut opwindend mag ontdek

 

(http://www.argief.litnet.co.za?cgi-in/giga.cgi?cmd_print_article&news_id=54063&c. (Geraadpleeg: 13 Julie 2012).

 

‘n Versteurde Jeug

Aanvanklik het Riekert “sy versies op ‘n stukkie notapapier getik, dit met die hand afgerol en vasgeklam, dan op sy fiets geklim om dit in die dorp vir R10 te gaan verkoop”.(http://www.dieburger.com/Vermaak/Nuus/Geliefde-volksdigter-van-Kuruman-sterf-2  (Geraadpleeg: 31 Maart 2012) Sy verwerking van ‘n ingrypende emosionele krisis is verwoord in so ‘n uitgawe. Dit dra die titel Helderwit en Vuilblou (1979).

 

Riekert het na skool by die vloot aangesluit. Die helderwit van sy bundeltitel verwys na die vlootuniform wat hy gedra het. Vanweë sy passie vir geskiedenis het hy by ‘n militêre vleuel van die vloot aangesluit. Tot sy frustrasie en uiteindelike ineenstorting is hy egter ‘n vernederende opruimtaak toegesê. Dit word in die genoemde bundel verbeeld as ‘vuilbloue’. Die verpletterende kontras tussen sy ideale en die werklikheid wat hom in die gesig gestaar het, verwoord hy in die gedig Helderwit Uniform (1979:26):

 

My helderwit uniform moes ek uittrek

Die simbool van my groot hoop

Het hulle van my gestroop

My arms na die vuilblou drag strek

 

Daar lê dit nou op die vuil tapyt

Nog op die uniform se mou

Pryk die vere in helderblou

Maar dis weg, ek is dit kwyt

 

Die wit uniform was die wegspring

Die eerste trap in die hoë leer

Al was dit maar ‘n brose veer

Wat na die Vyfster sou uitkring

 

Maar die goue leeu eens regop geset

Staan nou onderstebo op my wit pet

 

Die gedig Ontslag (1979:28) in dieselfde bundel eindig met die noodroep:

Ek is nie meer die leeu werd

Ek klou net aan sy goue stert

 

In sy diepste nood onder toesig van medici in die sielkundige hospitaal, is dit by uitnemendheid weer sy streektaal en beelde wat ‘n vorm van sin skep. Die gedig Mediese Raad  (1979:27) lui soos volg:

 

Drie kakiegeneeshere is verplig

Om vir een minuut te konvergeer

Waarin ek hulle rus versteur

Voordat hulle my op ‘n nuwe toekoms rig.

 

Die hare van die kommandant

Is yl soos die gras op ‘n duin

As die son dit laat kwyn

In die warmte van die rooi sand

 

U kasteel glinster majoor

Op die glans van verdwaalde strale

As ek vertel van beelde, waterverhale

Ek my pad in die woestyn verloor

 

In die grys oë van die kaptein

Sien ek verskroeide swarthaak op ‘n duin

 

In sy ontreddering word hy weer ontroer deur die skoonheid van ‘n jongvrou wat hy eweneens besing in sy gedigte. Helaas verwoord hy in die gedig Kontraste (1979:37) in dieselfde bundel dat dit nie verder kon gaan, as sy bewondering vir haar nie. Hierdie onvervulde romantiese verlange herinner sterk aan klassieke riddergedigte. Weer eens werk hy hier nog met konvensionele digterlike middele soos die sonnetvorm en vaste rympatroon.

 

Sy was so mooi in helderwit geklee

My verweerde vuilblou broek en hemp

Het alle vrolikheid in my gedemp

Ek was eens soos sy daar by die see

 

Smôrens het ek moedeloos op die bank gesit

Maar as sy my met ‘n glimlag groet

Het in my opgestoot nuwe moed

Eens het ek ook so verskyn in helderwit

 

Sy het so sierlik in helderwit gelyk

Helderwit en vuilblou – die kontras

Nooit kan ek die vuilblou van my was

Of probeer om dit te verbleik

 

Ek wou weer gryp na ‘n lewe van helderwit

Sodat ek weer haar blydskap kon besit

 

In die gedig Jeug (1979:19) ver-dig hy die tragiese verhaal van sy psigiese versteuring. Hy verwoord die geloofsworsteling wat dit in hom ontketen het:

O God waarom het U my toe geslaan

Skaars was ek opgegroei, agtien

Of ek het die duister gesien

Wat hom in my siel vasslaan

 

Waarom O God die duisternis

Toe ek in die warmbloed van my jeug

My in die lewe moes verheug

Het U die lewe in my geblus

 

In die tyd toe ek moes lag en speel

En my oë na die skoonheid blik

Van die lelies helderwit en begeerlik

Toe het my siel in twee verdeel

 

In vier jaar het die siekte my verteer

Die sprankel in die lewe het ek verleer

 

In dié verwarde situasie is dit deur middel van natuurbeelde wat hy perspektief soek. Die aangrypende gedig Vyfster (1979:1) is vol mitologiese beeldspraak:

 

Vier sterre vorm ‘n vaste kruis

Waarop ek met die sekstant peil

Vier sterre waarop die wit skip seil

Die ambisie wat in my brein bruis

 

Die Suiderkruis moet ek vassluit

Sodat dit op my skouers pryk

En die koerspunt van my uniform bereik

My oë op die nag se eindeloosheid

 

Ek soek na die Môrester se baan

Want die blink ster se glans

Moet by die Suiderkruis voeg in ligkrans

Dan het ek die Vyfster geslaan

 

Ek kyk na die skip se roer

Maar net drome kan na sterre voer

 

Veelseggend is die baan van sterre wat in die gedig beskryf word, vanaf die Môrester tot die Suiderkruis tot die Vyfpuntster. Dit sou die weg van Christus kon impliseer wat die Blink Môrester was, desondanks gekruisig is, waarvan die Suiderkruis ‘n simbool kan wees en dan desondanks geblyk het die beloofde Messias te wees uit die stam van Dawid, waarvan die  Dawidster die simbool is.

Riekert se vermoë om intense emosionele ervarings te konkretiseer deur middel van ʼn gestroopte beeld, eie aan sy pretensielose streek, blyk byvoorbeeld uit die klein gedig Weerbegin (1990:67). Sy herontdekking van die vaderlike soort geloofsvertroue na sy oënskynlike vervreemding word verbeeld  deur middel van die “handjiebos” wat deur woestynagtige rooi sand breek. Dit sou nie vergesog wees om hieruit af te lei dat die natuurlewe van sy streek vir hom inderdaad dié Lewe beteken het.

 

Ek het weer begin bid Pa

my hande vou twee blaar oop

uit die rooi sand   Trek

my hoop op in geel-

blom handjiebos

 

Die slotsom

Soos die leser algaande vertroud raak met dié onkonvensionele digter se oënskynlike eenvoud van seggings, raak ook die lesersblik al meer die verbykyk van oer-Sieners. Miskien is dit die slotsom van die bundel Wensbeen se toemaak-gedig. Dit dra die veelseggende titel Lasarus – die man wat anderkant die dood Lewe herontdek:

 

Johannes het gebid dat sy oupa

Fanie weer moet verrys    gevra

dat sy oupa hom weer moet

wys waar is rosyntjies se soet

in watter bos hy moet soek

By sy oupa se graf roep roep

hy    Oupa kom op

Teen skemer staar hy net

Staan die siprestakke steil

op na waar hadidas verby

trek in ‘n pyl

van ses   Stryk die geluk

op ver vlei se water neer

 

Dit sluit aan by die eerste gedig van die bundel met die titel Wensbeen (1995:9) – eweneens ‘n byna profetiese gedig.

 

Voor die ou haan daardie môre

in die bloubosmik kon kraai

knak Pa sy nek met een kap

van die handbyl   Spat sy rooi kam

op uit die kameeldoring se kapkyl

Verwonder ek my oor die rooi

van die son se opkom en die bloed

Die haan wat afnek spring spring

Lê die haan bruingebak in die pot

staan Ma wensbeen in die hand

Maar met die vet gly die groter

been oor in my hand   weet ek

die son sal môre weer rooiveer sit

op die haan se ou slaapplek

 

Ondanks die feit dat die Haan-aankondiger van die nuwe dag, geslag is, word hy wensbeen in die hand van die digter, sodat ‘n nuwe dag “rooiveer” oor sy “ou slaapplek” steeds verskyn. Mens sou ook kon aflei – ondanks die stilword van die aankondiger van die nuwe dag, bly die wensbeen van die afkop haan in die hand ‘n teken van ‘n ander nuwe dag se wensmoontlikhede. Simbolies staan die wensbeen veelseggend ook bekend as ‘n dankseggingsbeentjie.

http://en.wikipedia.org/wiki/Furcula. 2012/04/06   Geraadpleeg: 4 Junie 2012.

 

Dalk was dít die visioen van die digter wat deur sy kinders op die vloer dood agter ‘n geslote deur in sy huis aangetref is. Boonop is sy broer, Prof Fanie Riekert van Bloemfontein en sy vrou Dorothy, die Sondagaand op Daniëlskuil, terwyl hulle op pad was vir Donnie se begrafnis, deur ‘n betogende skare met brandende buitebande voorgekeer en hulle motor met klippe bestook.

(http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2011/08/17.VB/2/kmdonnie.html   Geraadpleeg: 31 Maart 2012)

 

Die begrafnisdiens was in die Moffatkerkie by die ou Sendingstasie naby die dorp. In sy boodskap uit Rom. 8:38-39  by dié geleentheid, sê Prof. Riekert onder andere: “Die hoop vir die sterwe lê in die wyse  van lewe…God het iets gedoen aan ons angs wat die dood inhou…Anders as Abraham het Hy sy eie Seun nie teruggehou nie om ons te verlos van die geestelike sowel as die stoflike dood.” In die Gebed van die Jagter (1986:21) het Donald getuig van die dood wat verander is deur die opstanding van Christus. Die gedig lui soos volg:

 

O Here die bok

se bles is wit kruis wit

hy dra u lyding

op sy horings

my verlossing

in die swier

van sy skrede

hoe kan ek ooit

mik trek teen U

 

Waarna hier verwys word, is die sondebok wat as plaasvervanger geslag moes word voor Christus se soendood.

Dit is insiggewend om hiernaas Riekert se gedig, Die lewe na die dood  te lees na aanleiding van ‘n Boesman-siening van dood en opstanding in die bundel Halfmens (1990:11):

 

Die ou Boesmanvrou is

laat sak en haar asem

het nog die rooi sand

stoffie laat roer onder

die witstamboom   Druk

hulle haar kop vas met

‘n ronde klip   Maar ‘n ou

uitstoot-bobbejaanmannetjie

rol die klip weg en voer

die ou vrou ryp rooi soet

rosyntjiebessies

drie dae later loop sy met

die ou-een rond en vertel

omstandig van die lewe in

die holkrans waar die water

koel soos tsamma

op  jou lip kom lê

 

Op 27 Augustus, die dag waarop oom Donnie 64 sou word, is sy as deur 4 van sy kinders op Gamohaankop gestrooi. French, sy bejaarde basterbrak sonder stert, het vreeslik gehuil toe hy dood is en wou nie eet nie. “Hy is sonder stert gebore en dis hoekom Donnie van hom gehou het. Donnie was mos altyd anders”, volgens sy vrou Una, maar “Ons het nooit gedink ou French sou Donnie oorleef nie.” (Snyman:2011:13)

 

Nietemin, Oom Donnie se gedigte bly vir die leser Heuning uit die Swarthaak en Wensbeen in die hand vir ‘n altyd nuwe sonsopkoms oor die dor-ste streke met hulle versteekte rykdomme.

– – –

Literatuurlys

Botha, Danie.  Aug. 1995. Van die rooigrond vergeet Deacon nie. Die Burger: 4

Claassen, Isabel. 1987. Suid-Afrikaanse Panorama. Kuruman 1887-1987.  14-17.

Furcula (“little fork”, wensbeen). http://en.wikipedia.org/wiki/Furcula. 2012/04/06

Hinwood, Bonaventure. 2012. Woordeboek. http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=print_article&news_id=54063&c… Geraadpleeg: 13 Julie.

Hugo, Daniel. 1991. Netjiese verse van ‘n woestyn-profeet. Die Burger 26 Februarie.

Kemp, Charné. 2012. Egpaar in rou loop deur onder betogers.

http://www.mysubs.co.za/Article/s_468741/0/3/Egpaar-in-rou-loop-deur-onder-betog… Geraadpleeg 31 Maart.

Kuruman.2011 http://af.wikipedia.org/wiki/Kuruman. Geraadpleeg: 4 November

Kuruman River Reserve. Kalahari Meerkat Project. 2012. http://www.kalahari-meerkats.com/index.php?id=krr. Geraadpleeg 4 Desember 2011.

Louw, Annerie. 2011. Kinders tref hul digter-pa dood in huis aan.

http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2011/o8/17/VB/2/kmdonnie.html Geraadpleeg:  31 Maart 2012.

Müller, Petra. 1990. Twee digters uit Kuruman se wêreld. Die Burger 24 Februarie.

Rautenbach, Elmari. 2011. Geliefde volksdigter van Kuruman sterf.

http://www.dieburger.com/Vermaak/Nuus/Geliefde-volksdigter-van-Kuruman-sterf-2  Geraadpleeg: 3 Maart 2012.

Riekert, Donald W. (1977) 1979. Helderwit en Vuilblou. Kuruman: D.W. Riekert.

Riekert, Donald W. 1979. Die Amandelbloeisel. Kuruman: D.W. Riekert.

Riekert, Donald W. 1986. Heuning uit die Swarthaak. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.

Riekert, Donald W. 1995. Wensbeen. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.

Riekert, Donald W. 1990. Halfmens. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.

Riekert, Prof. Fanie. 2012. Afskeidsrede by Afskeidsdiens Donald W. Riekert.

(Telefonies aangevra ASR)

Snyman, Dana. 2011. Donnie was mos anders. Die Burger By 8.10.:12,13.

Van der Merwe, Gerdrie. 1991. Strome lewende water.Bloemfontein:NG Sendingpers

Van der Merwe, Gerdrie. 2004. Skool van drome. Die verhaal van Onderwys in Seodin met besondere verwysing na Hoërskool Kalahari. Kimberley: Swiftprint.

Van Niekerk, A.A.J. 1981. Namakwaland. Dorsland in die blom. Kaapstad: Cape & Transvaal Printers.

 

 


[1] Verwerking van Huldeblyk vir Donald Riekert by Stellenbosch Poësiekring 7 Mei 2012

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Rensia Robinson. ‘n Perspektief op die digterskap van Donald Riekert”

  1. Johann de Lange :

    Baie dankie hiervoor, ‘n nodige herwaardering. Ook vir die uitvoerige aanhaal vir lesers wat nie Riekert se boeke besit nie.