Rensia Robinson. ‘n Perspektief op die digterskap van Donald Riekert
‘n Perspektief op die digterskap van Donald Riekert - Digter uit Kuruman
Rensia Robinson ©
Inleiding
Donald Riekert is digter-boorling van Kuruman. Sy mede-digtervriend daar was Thomas Deacon. Van sy verbintenis met hom het Riekert gesê (Müller 1990:4): “Ons inspireer mekaar, iets vreesliks. As ‘n gedagte by hom nie wil vorder nie, gee hy dit partykeer vir my aan, en ek woel daarmee. Omgekeerd ook. Ons maak vuur onder mekaar.”
Diegene wat al op een of ander manier kennis geneem het van dié Noord-Kaap streek waaruit Riekert letterlik stam, sal dit heel waarskynlik nie uitsonder as ‘n idilliese bestemming waarna jy sou hunker om jou te vestig of te gaan verken nie. Padlangs sal die terloopse reisiger dalk eerder die ervaring hê om die reis so gou soos moontlik agter die rug te kry, veral wanneer dit gedurende die somer plaasvind met temperature wat tot in die veertigs kan boer. Dus, oppervlakkig waargeneem, nie ‘n geboorteplek vir gedigte nie. Dana Snyman (By 8.10.2011:12) verwys in ‘n artikel oor Riekert byvoorbeeld daarna as ‘n “nukkerige stuk Kalahari-wêreld”. Die geheim is egter dat oënskynlik juis sulke skaars streke vir die oer-digters ‘n tuiskom is.
Petra Müller, destydse uitgewer van sy digbundels, tipeer Riekert soos volg (1990:4): “Hy staan hier by jou, en kyk dwarsdeur jou na die lug vol donderkoppe anderkant jou. Hy’s nie ‘n man vir mure nie. Hy het in die veld grootgeword. En veldmusiek is die grondtoon van sy verse. ‘Dis ‘n wêreld vol krag hierdie,’ volgens Riekert, ‘dit loop jou onderstebo.’” (onderstreping van my)
Gevul met teenstrydighede, het hierdie wêreldvreemde karakter onder andere ‘n paar duisend boeke gehad. Hy was veral geïnteresseerd in Geskiedenis en het onder andere ‘n boek geskryf oor die lewe van Genl. J.A. Van Zyl wat in die Boere-oorlog en die Rebellie geveg het. Dié Generaal het ook die eerste skool vir Afrikaner kinders op Kuruman, waarvan Riekert ook later ‘n leerling was, begin. Helaas kon dié skool aanvanklik nie oorleef nie omdat die verarmde boere nie die losies vir hulle kinders op die dorp kon bekostig nie (Van der Merwe 1991:13).
Op besoek aan die geel huis in Kuruman waar Riekert al die jare gewoon het, tref Dana Snyman naas sy indrukwekkende versameling klip wat gesorteer in groot hope nog op die werf lê, vier gedaan rygoed aan: ‘n Volkswagen Passat met pap bande, ‘n Mazda bakkie, ‘n wieldoplose Nissan Skyline en ‘n blou Ford Cortina. Onder die doringboom langs die huis staan die hortjiesbank waarop oom Donnie jou altyd laat sit het wanneer jy daar kom. (Snyman 2011:12)
Riekert se digtersien van ‘n ongekunstelde wêreld blyk in die kort Gebed uit die bundel met die ewe poëtiese naam: Heuning uit die Swarthaak (1986:68). Vir dié bundel het hy die Ingrid Jonker-prys vir poësie in 1986 ontvang.
In die stil donkerte
van die veld roep
die kiewietjie beangs, en
God se volle maan
gaan oop
soos baie blomme
(http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2011/08/17/VB/2/kmdonnie.html Geraadpleeg: 012/03/31)
Riekert was jare lank beroepsfotograaf in Kuruman, ja Kuruman! Later het hy met klippe en halfedelgesteentes uit die berge daar gespekuleer – dolomiet, kwartsiet, jonasklip. André Brink onthou van hom, toe hy in 1978/’79 Kuruman toe is om te gaan navorsing doen vir ‘n artikel vir National Geographic, die volgende:
“Donald het my met sy mankolieke ou motor op Kimberley se lughawe kom haal voor ons vort is – Kuruman toe. Hy moes eers ‘n gebed doen voordat ons teen die verbysterende snelheid van 50 of 60 km/h daar weg is. Min of meer versmoor onder stof van buite en blou rook van binne.”
In die loop van die volgende paar dae het hy omtrent nooit opgehou praat nie: die mooiste stories uit sy kontrei, soms hartseer, soms skreeusnaaks, soms diep ernstig – hetsy in die Wondergrot met sy onvergeetlike rotstekeninge, die bergwêreld van Gamohaan, of by die bodemlose poel by Kuruman. Oor die onvrome eerwaarde Moffat, die mense en dinge en diere van die Noordweste. Hy was toe al befaamd as volksdigter, eintlik ou-wêreldse digter-profeet met die oë en baard van ‘n siener. ‘n Patriarg wat halfpad deur ‘n gesprek sy vrou sou uitstuur om in die tuin met die kinders ‘te gaan speel’ sodat hy kon praat… Self het hy maande van sy tyd afgeknyp om ‘n swart kunstenaar uit die buurt te leer skilder.” ‘Bowenal,’ sê Brink, ‘het hy my geleer van die veld, die rante en roetes, die geskiedenis van ons mense doer teen die Gariep se grensland. En die ongelooflike plastiese vermoëns van Afrikaans.’”
(http://www.dieburger.com?Vermaak/Nuus/Geliefde-volksdigter-van-Kuruman-sterf-Geraadpleeg: 2012/03/31
Riekert self “voer sy digterskap terug na sy kleintyd in ‘n patriargale bestel, vol van die klanke van die Bybel, die oer-Afrikaans van die oumense, en veral van die woordgevegte saam met die Tswanas saans om die vuur, waar die taal dan tot sy uiterste beproef is. ‘n Raak sê-ding in so ‘n geveg – wat ‘n paar uur kon duur – is deur die entoesiastiese omstanders toegejuig asof dit ‘n uitklophou in ‘n boksgeveg was. En is met gelag en gejil in die spreektaal opgeneem: ‘n nuwe gesegde van die ou sages.” (Müller 1990:4)
In Riekert se eerste formeel gepubliseerde bundel by Tafelberg in 1986 met die veelseggende titel Heuning uit die Swarthaak, kan die leser as’t ware ‘proe’ aan Riekert se digterlike teelaarde en -talent. Uit die ‘swarthaak’ met sy dorings en sy woestynagtige habitat, word heuning deur ‘n kennershand herwin volgens twee gedigte met die titel Swarthaakheuning 1 en 2 (1986:12, 13). In die eerste van dié twee gedigte, eet die seun dié heuning veelseggend uit die vadershand:
Die heuning drup
uit die bros geel koek
ek proe die soet in
sy sorg as hy vaderlik
met sy kort duim
die swarthaakheuning
bros kraak en in elke
porsie ag jong bye afmeet
Die keurigste, suiwer heuning kom uit die nes waar die ‘jong bye’ versorg word. Dit is nie sommer vir gryp en vat om uit ‘n nes met versteurde bye tussen swarthaakdorings heuning te oes nie. Te meer is dit betekenisvol dat dit danksy die vader se noukeurige sorg moeiteloos geniet kan word deur die seun. Reeds in hierdie gedig ervaar die leser dat dit gaan om meer as blote beskrywing. Dit word ʼn simboliese handeling.
Die titel van Riekert se bundel Halfmens (1990) suggereer ewe betekenisryke verbintenisse tussen planteryk en mens met die aarde waaruit dit spruit. Die vetplant ‘halfmens’ (ook bekend as olifantslurp) leun altyd oor na die noorde. Volgens ‘n Namasprokie het die halfmense van hulle uitgedrewe voorgeslagte in hulle verlange na die Noorde so omkyk, omkyk soos die Ou Testamentiese Lot se vrou, in bome verander. (Van Niekerk 1981:88). In dié bundel tipeer gedig na gedig uiteenlopende mense met ‘n soortgelyke omkyk-hunkering. Vingerspel (1990:15) verwoord dit soos volg:
Die ou Boesman stryk
sy duim oor die
gemsboksening Span
sy hand uit oor die
ribbebeen en roep die
heuningvoëltjie óp óp
uit die uitgeëte skilpaddop
Ook in hierdie gedig is die leser bewus van ‘n magiese sfeer wat opgeroep word deur ‘n interaksie van mens en natuur.
Verrassend word selfs Breyten Breytenbach (naas figure soos Steve Biko, Veldmaarskalk Smuts en Koos de la Rey) getipeer as moontlike ‘halfmense”, soos byvoorbeeld die gedig Breyten se vakansietyd (1990:39) suggereer met inagneming van die bundeltitel:
Die suidewind dryf
koud oor die Stil Baai
Trek ek langskaduwee in
my witskulp-tentjie terug
tot die son weer oor branders
my bruin brand Swem ek uit
Jongensfontein se rotskuil
na die blóú verte
Kuruman Boorling
Dit is die soort oerdigter soos Riekert wat op grond van die legendes wat vervleg is met die geografiese eiesoortigheid van die streek, iets aanvoel van ‘n streek soos Kuruman se mitiese geboorte. In sy gedig Die eerste man uit die bundel Wensbeen (1995:28) skryf hy byvoorbeeld:
Maar dis die man
Die eerste man Gasegonjaan
Dis die groot een
Die man wat slang se stert
kierievat en slaan
dat die waters blinkoog
sewe strome loop
Die Man wat die waterkristal
laat glinster op sy elmboog
en met die son se straal
die vonk uit die vuurklip haal
Die man met die eerste naam
Gasegonjaan
Hy loop met Khudumaan
wat die tyd op Gamohaan laat staan
Ja, met sy tongklap
roep hy die eerste woord Kuruman
oor die blinkklip op
Ja, hy span die boog se snaar
reënboog oor die wateraar
Die geskiedenis en die verhale van die streek word eweneens ‘n teelaarde vir gedigte. Waarskynlik die eerste Blankes wat dié gebied besoek het, was in 1801. Die geselskap se joernaalskrywer en skilder, ene Samuel Daniels, gee ‘n volledige beskrywing van die geselskap se besoek aan die Oog en die omliggende gebied. (Van der Merwe 2004:1) Die dorp Kuruman het in 1887 op die linkeroewer van die Kurumanrivier tot stand gekom. Kuruman is ‘n voormalige Engelse Sendingstasie en die grootste dorp in die munisipaliteit Ga-Segonyana, provinsie Noord-Kaap. Die vroeë inwoners van die gebied het die “wateroog en lewensaar in die Kalahari Gasegonyane genoem wat in hulle taal beteken “die plek van die klein kalbas of die oog wat borrel soos ‘n fontein” Dié onderaardse rivier wat bo die grond by die oog uitbreek, gee steeds 20 miljoen liters water per dag wat tot 72,000 mense daagliks van water kan voorsien indien elkeen 250 liter per dag gebruik. (Van der Merwe 2004:1)
Die dorp Kuruman is vernoem na Khudumaan, ‘n 18de eeuse Griekwa hoofman wat in die omgewing sy heilige plek ingerig het (http://af.wikipedia.org/wiki/Kuruman. Dat dit ‘n man met gesag en insig was, kan afgelei word uit die gedig Tug in die bundel Halfmens (1990:18):
Die Boesmankaptein Khudumaan
sny vyf kerwe op die
mikstok uit Sy hand vat-vat
die rosynlat vas want die kiewietjie
kla sy seun draai na die nessie
af en hoe sal die reën broei
in ‘n leë nes Die ou man kerf
vyf vingers bloed oor die seun
se skouers met die soetlat uit
Vryf wit van die eiertjie
oor sy seun se seer
en vra Watter voël sal
vir ons die wolke dra as jy sy
roep oor die rant wegdra
Die gedig spreek eweneens van ‘n waarneming van die intieme wisselwerking tussen mens en natuur. Vir die bewoners van die streek is die natuur ‘n lewensboek waaruit en waardeur geleef word.
Die Moffats van die Londonse Sendinggenootskap het hulle in hierdie streek kom vestig en 50 jaar onder die Tswanas gewerk. Hulle spore is vasgelê deur middel van verskillende gedenktekens in die dorp. Gamohaankop in die verte aan die dorp se noordekant, is ‘n soort heilige plek in die Tswana-mense se ou-ou stories (Snyman 2011:12). In verskillende opsigte is dit ‘n gebied wat gevul is met ‘n bewussyn van die numineuse.
Dit is alleenlik die ware woestyndigter wat van Kuruman se wonder Oog meer sal weet as ‘n toeriste attraksie op ‘n reisbrosjure. In Die oog by Kuruman (1986:20) beskryf Riekert dié wonder soos volg:
Die dolomietspons
trek asem diep in
uit hierdie blou lug
die water sluk af
die lang wilgerwortels
in die swart turf
spoeg borrels op
tot hol geluide en
die moddervis kom op
om te soek waar die
lug wegraak in die grot
Hiernaas word Die oog (1986:36) in die gedig met dié titel geïdentifiseer as ‘n plek met buite-aardse konnotasies:
Die groen waterslang
se tong lek baie jare
aan die vaalgrys dolomiet
later skyn ‘n skerfie
lig in die grot
en met die groot reën
spoel ‘n stroompie water
bo-oor die rots en klip
blus die oervuur van
die boesman in rook en as
verwonder die boesmans
oor hierdie water wat
sterker is as heilige vuur
‘n Verband kan gelê word tussen die wyse waarop dierelewe (die moddervis) en die mens (die boesmans) dié grot verken en prakties toeëien. In die geval van die mens met sy kennis van vuurmaak ontstaan egter daarmee saam ‘n bewussyn en ontsag vir ongeïdentifiseerde kragte.
Stamouers
Vir Riekert is sy stamverband so betekenisryk soos sy streekverbondenheid. In die gedig met die opskrif Pionier (1986:19) getuig hy soos volg van sy pionierpa:
Jy het nie sommer net
hier gebly nie
sommer net gelewe nie
met jou kort vingers
het jy die takke van die
kameeldoring gebuig
en die vaalblou peul gepluk
met jou eie hande gemaal
en gesif as kos vir die bees
in die halfwoestyn
sodat ons wat kinders was
die melk kon drink
met die snaakse peulsmaak
As kinders van dié streek is hulle uit die staanspoor ingeteel in dié aarde.
Hóé radikaal fisies verweef dié Pionierpa was met dié streek se mineraalryke aarde, sou mettertyd blyk. As gevolg van die asbes gifstof van dié aarde waarin hy gegrond was, was hy tot asemnood gedoem. In Die antwoord uit die bundel Heuning uit die Swarthaak (1986:37) word die skrynende waarom-vraag oor sulke lyding deur die digter-seun soos volg ver-dig:
Jy het gebid met oop hande
dat as dit moontlik is
jou asem weer sal terugkeer
en die blou asbes
uit jou longe blaas
maar die dood het
klipbrekersterk reeds
rooi skuim op jou lippe gespoeg
in die pyn het die antwoord
van God uitgesif tot die wete
jy word afval-asbes
Vir hom was die “Stof tot stof” (1986:66) uiteinde vermeng met die ‘bloudruk’, stempel van sy streek. Riekert skryf versiende ook hieroor:
Jy het teruggekeer Pa
terug na die rooi grond
teruggekeer in die penveer
van ‘n arend wat grondwaarts
sweef nou lê jou vlerke stil
die kloue van jou bymekaarmaak
lê oop en jy moes die vervlieg
van jou asem hier laat in
gate van die blou dolomiet
Aangrypend is die beeldspraak van die Vaderfiguur wat met sy dood enersyds met sy gees/asem soos ‘n arend hemelwaarts sweef terwyl die penveer, die gebroke liggaam, andersyds “grondwaarts” verstil!
Hierteenoor spreek die gedig Kleinsussie (1986:60) oor die vroeë dood van ‘n kleuter, van skreiende futiliteit. Teenoor “helder water”, ‘n paslike simbool van lewe in dié dorre streek, staan die “verroeste konka” van die slotreël as ironiese “graf” van ‘n onvoltooide lewetjie.
Jy het gekruip
agter jou dors aan
in die helder water
was die borrels van
jou asem goue vissies
wat net buite bereik
van jou handjies bly swem
jy gryp gryp
maar die vissies bly weg
tot jy jou oë toemaak
moeg gesoek na jou asempie
in die verroeste konka
In dié gedig is ‘n eenword van mens en natuur gefnuik.
In gedigte van so ‘n oer aardsheid soos dié van Riekert, is lewe en dood kante van dieselfde munt. Die gedigte oor dood is ‘n terugkerende tema soos al die misteries van lewe – dit spreek van ‘n patos wat getuig van die blik verby die einders.
Van ‘n bittereinder Ma is soos volg afskeid geneem in die gedig met die titel Maar nog jonk in die bundel Wensbeen (1995:40):
Ma was nog jonk
sommer nog jonk in die bloed
toe die kanker rooi
voëlent in haar blom
Haar vingers het in maerte
die vat laat los
maar haar hart het teëgeskop
soos rooi aalwyn se blom
in droëntyd reën laat kom
Die dag toe sy kortkom
teen die laaste asem
was daar water in haar hand
toe ek haar vir laaste groet
Die sterwe word in sigself ‘n laaste ritueel wat mens en aarde ver-enig in ‘n oerverband. Wanneer sy Pa haar moet te ruste lê in die rooisand, sien hy hom, ‘n beweginglose patriarg, met die oog gerig op die Onverganklikheid, vasgevang in een vlugtige moment van weerloosheid. Hy verwoord dit in die gedig Stoffie in dieselfde bundel (1995:51):
Pa was ‘n harde man
Met Ma se doodsiek sê hy niks
Sing ons net Prys die Heer
met blye galme
o my siel daar’s ryke stof
Daardie middag in Augus se wind
toe ons Moeder inspit daar in
die rooi Kalaharisand staan hy
met sy oë op Driekoppe gerig
huil ons kinders routraan
tot Eerwaarde sê stof tot stof
Lê daar ‘n rooi sandjie
in Pa se wateroog
Oermense van die Kalahari – ‘n Mitiese streek
Dat Riekert in sy gedig In die begin (1986:7) aan hierdie streek die oer-oorsprong van die mens koppel, hang nie slegs saam met die geskiedenis daarvan nie maar met die belewing van ‘n intieme wisselwerking tussen die tydlose en die aardse – hemel en aarde is dáár aan mekaar verwant en aangrensend waar die digter Riekert hom bevind.
In die begin het
die Skepper die groot
wilde-olyf op Thamoanche
se nek gevel en uit die
taaihout die eerste man
gekerf daarna die
wilde-olyf saam gemaal
met die blommetjies
van die swarthaak tot die
vrou opstaan uit die
jonasklip en in die geur
van heuning die olyf
uit daardie man se hand eet
Dié gedig kan gelees word as dié streek se eiesoortige Paradysverhaal. Vir Riekert is die oerbewoners van die streek onlosmaaklik deel van die landskap en bowenal van sy beeldspraak. In die gedig Die skepping van die mens (1986:63) sien hy hulle as bepalend vir dié landstreek.
Jare terug het God
die water van die Oog
geneem en gemeng
met die potklei
van hierdie land
die Boesman gemaak
tot nou toe soek
hulle steeds na
die geboortegrond
in die groot grot
onder die water
waar die Skepper
nog ‘n bietjie vet
wou uithou padkos
in die groot woestyn
Die “groot grot onder die water” vorm ‘n kontras met die herinnering aan die “verroeste konka” waarin die “klein sussie” verdrink het.
Die Wondergrot is, soos die Oog, een van Kuruman se oer wonders. Hiervan dra die Boesman intieme kennis maar ook is hy daar in geskryf in die rotswande. Die gedig in dié verband lui: Gemsbokke by Wondergrot (1986:53):
Met die klein handjies
kerf die Boesman
in rooi oker
die gemsbok
se sterk draf
in die ysterklip
vars lê die bloed
streep streep
teen die rotswand
opgedryf bly die
gemsbok lewe
in die snaarhand
van die Boesman
op die boog
Elke gedig van Riekert tref die leser met ‘n onvergeetlike eenvoud en verbeeldingrykheid wat alle ‘uitleg’ slegs die wonder laat versteur.
Hy verwoord die mites van die Boesmans van die streek asof uit hulle eie mond, soos in die gedig Die Reënroeper in die bundel Wensbeen (1995:33):
Die einste Heitsi-eibib
die vrou wat die reën roep
Sy trek haar mond eentand
sit voorvinger op duim
skud skud die steenbokhorinkie
teen ander hand se palm
snuif snuif teen haar neus op
nies nies ‘n traan se loop
Sy kyk op teen die rooi rant
voorbok se roep vat die trop
teen die klipkop op
Dit is sy wat die vuurklip
laat vlam dat die donderweer grom
en die veld groen laat opslaan
Dit blyk dan ook uit sy gedig Waterskep in dieselfde bundel (1995:37) hoe dié natuurkenners sy mentors is met hulle intieme interaksie met die natuurdinge:
Maar daar by die suigput
het die ou boesman my leer
watertrek met die rietjie
my leer suig uit die vol dop
leer soek na die gemsbokkomkommer
maar ook toe ek sommer
vra vir ‘n storie
het hy sy hand bakgehou
en gesê storie
is jongvrou se waterskep
jy bly drink en drink
uit haar bakhand
Kan daar ‘n meer unieke metafoor wees vir die dors na stories as hierdie lewendige beeld van die mooi vrou uit wie se hand jy in die woestyn nie kan ophou waterdrink nie?
Vergelyk mens Riekert se gedigte met dié van /Xam digters, val dit op hoe nou verwant sy beeldryke segswyse daaraan is. Een van die /Xam-gedigte wat deur Bleek opgeteken is en deur Antjie Krog (2004:41) vertaal is, lui byvoorbeeld soos volg:
o nuwe maan daar bo
neem my gesig en ruil dit daarbo met joune
hou my gesig daar bo
en alles wat my ontstel
en gee my jou gesig wat altyd nuut terugkom
nadat jy gesterf het
want die vreugde daar bo
omdat jy nuut is
is altyd sigbaar van hier
Soos by Riekert, spreek uit genoemde gedig enersyds ‘n intens verbonde aardsheid en andersyds ‘n bewussyn van juis die altyd aanwesige bo- of buite-tydelike. Watter treffende simbool van vernuwing is die nuwe maan wat telkens verskyn nadat dit weggekwyn het!
Karakters van die streek
Nie slegs die Boesman met hulle aardse wyshede nie, maar ook ander karakters uit die streek, naas sy eie Pa, is vir Riekert gedigte. Hy skryf soos volg oor die kuns van broodbak wat verhef word tot hemelskos in Skaapwagter uit die bundel Wensbeen (1995:39):
Tant Koekie kon brood bak
warm aartappel hou sy
die suurdeeg teen haar boesem
dis hierdie deeg wat die witste
uitrys die swartste korsie bak
Die groot brood hou sy hanslam
onder haar arm sny met een
haak van die grootmes die sny
Skaapwagterbreed smeer sy varkvet
loop appelkooskonfyt na smaak
Tant Koekie is ons herder
ons wat honger kinders was
loop maklam in haar trop
Mens en aarde is in elke karakterskets verweef. Dit gaan om intieme “met die aarde praat”, om ‘n frase by Cloete (1992) te leen. In die gedig Koelte (1995:41) blyk die genesende krag van karakters wat die kuns van diep delf en luister-hoor kommunikeer:
Oom Louis se gesels
was soos koelte opsoek
aan die voet van die rooi duin
Op die warm sand
kry jy hom in die skadu
van die witstam sit
krap hy soek-soek
die soet wortel uit
Vol geur brand hy met lamsvet
en heuning die koffie sterk
op die opslaanvlam
Ja, vir langpraat se raad
trek oom Louis koffie na smaak
Die titel van Oom Louis se gedig oor sy eenword met sy leefwêreld is die veelseggende Uitgereënde wolk (1995:42). Daarin word sy dieper eenword en terugkeer na die aarde soos volg verwoord:
Maar ons het oom Louis
die dag op Kenhardt begrawe
hy wat altyd so na die reën
gevra het altyd getuur het
na die wolke op die horison
hy wat sewe jaar van droogte ken
Noudat Boesmanland geel in
die duifiedoring staan
noudat die water pan
nou dra ons hom uit
laat sak ons hom in die natkluit
en die uitgereënde wolkies
hang laag oor Driekoppe se spits
Aangrypend is telkens die wyse waarop Riekert in ‘n gedig met eenvoud van segswyse patos en ironie vermeng.
Die vrou as muse
‘n Mens verwag nouliks agter die oënskynlik bruuske voorkoms van dié Kalahariedigter ‘n fyn waarnemer en byna aanbidder van vroulike skoonheid. Riekert se tweede bundel wat hy self uitgegee het, dra die titel Die Amandelbloeisel (1979) en dit vertel die verhaal van ‘n vrou wat hom na liggaam en gees oorrompel het met haar skoonheid. Helaas was dit ‘n tevergeefse liefde waarvan hy moes afstand doen toe sy as beeldskone bruid aan ‘n ander behoort het. Sy afskeidsgedig aan haar dra die titel Amandelbloeisel (1979:28) en lui soos volg:
In die lente het jy my verbly
As amandelbloeisel groot en wit
My in jou vreugde kon laat put
As jou geur wyd uitsprei
Ek het gesmag na jou goue nektar
Na die skoonheid van jou stuifmeel
Wat in drade, klossies geel
Uitstyg bo die kelk se blaar
Ek het dopgehou die kring
Van skoonheid en geur wat verwelk
Die vruggie styg op in die kelk
Deur groen blaartjies omring
November se laat ryp het geknak
Die vruggie gedop soos ‘n slak
Hier is duidelik nog nie die gestroopte digter van die later gepubliseerde bundels aan die woord nie, al is ‘n geromantiseerde kyk na vroulike skoonheid aanwesig. Dit is in die gedig Swarthaakheuning 2 (1986:13) waarin ‘n oer ode vir die vrou uit die Swarthaakkontrei vorm kry. Dit sluit aan by die gedig In die begin (1986:7) waarin dit gaan oor die skepping van man en vrou. Veelseggend word die heuning van die eerste Swarthaakheuning-gedig (1986:12) waar die heuning uit die Pa se hand geëet is, metafoor/beeld van die vrou/dogter. Unaline is die naam van Donald se jongste dogter met wie hy ‘n besondere geestesverwantskap gedeel het. Sy is van hom, die Pa wat dié heuning geoes het van sy vrou, Una.
Unaline Unaline
jy is die ver ruik
van die swarthaakblom
die stuif in die meel
van die trossies geelblom
jy waai in die soet-soet soek
van die lentewind
o jy is die kry,
van die bruingeel heuning
diep in die uitholklip
jy drup woestyngeur
Unaline in my
proe jy
na swarthaakheuning
Na aanleiding van dié gedig kan die bundeltitel sowel ‘n letterlike (heuning) as ‘n metaforiese/beeldende betekenis dra – die vrou is naamlik vir hom ‘heuning uit die swarthaak’.
Dit sluit aan by die gedig Raai-raai-spel (1995:15) waarin die soek-soek-vind van die sielsgenoot-vrou in Riekert se gedigte telkens ‘n verrassende vonds is waarin hy hom kan verloor:
Maar my lief se roep
was soos soek-soek
kiewiet se nes kry
Speel sy raai-raai met my
draai ek uit die rivier
op na die groot duin
en in die sand se waai
op die heup se swaai
het ek die inkruip
van haar nessie
aai-aai gekry
Ook in hierdie gedig is dié oer liefdespel vertaal in die beeldspraak van sy geliefde streek. Met die Beminde vier hy Die appelliefiedans (1995:13) in die gedig met dié titel:
Die dag lê klein geel appellief
in my keel teen my wang
lê haar lippe vasgevang
Die aandster kom in haar oë op
my voete sweef sewester heelnag
teen haar heup se draai
En teen sonop spat
die appellief oop
baie pitjies lê gesaai
baie pitjies ingetrap
op die skoonwerf
Van haar kan hy ekstaties sing in die gedig met die titel My vrou se naam, veelseggend weer uit die bundel Heuning uit die Swarthaak (1986:27):
My vrou se naam
is hemel
hemels waar haar
bruin oë die glans
van tieroog word
draai sy die son
se strale in die
terugskitter van
haar omkyk liefde
So tydloos is sy liefde vir dié ‘hemelse’ vrou dat hy in die gedig Kannieblom (1995:27) bely hoe dat selfs die dood hulle nie kan skei nie:
As ek jou eendag moet neerlê
sal dit in Bitterfontein se los sand wees
Stof tot stof sal jou nie raak nie
maar son en maan sal in die swartklip
oor jou gaan Die kannieblom se roesrooi
sal jou wang se gloed bewaar
en die sout sal teen jou vasslaan
jou lyf se teer gebalsem hou
Ironies het die digter haar vooruitgegaan en is sy as gestrooi op Gamohaankop, die mitiese “heilige plek” van dié gebied.
Die kontekstualisering en eenvoud van geloof
Uit verskillende gedigte blyk dit hoe Donald uit ‘n diep gelowige agtergrond spruit – nie slegs wat sy huis betref nie, maar ook die omgewing waarin hy leef. Enersyds spreek die Bybelse sleutelverhale in die idioom van die streek opnuut aan in hulle direkte eenvoud. Van sy Pa skryf hy onder andere in Die Heilige Stad (1986: 10):
Pa het soms as hy luister
na die lied van die
Heilige Stad bewoë geraak
en ook gesing Jerusalem
Jerusalem soms kla Ma
dat Pa die stemming steur
maar Pa trek oop sy stem
en roep die Heilige Stad
wat in sy blou hemel
êrens rondom Thamoanche
en Maroping sou neerdaal
Die dikwels vrugtelose wag op reën in dié dor streek, word ironies verwoord in Biddag op Kuruman (1986:38). Die problematiek van die uitbly van gebedsverhoring ondanks ‘n gemeentelike gebedsbyeenkoms word deur middel van die beeldspraak van die haan op die kerktoring skreiender gesuggereer as enige direkte verwoording. Dit is asof die haan op die kerktoring ‘n spotbeeld word van die kinderlike geloofsbyeenkoms van gelowiges. Dit herinner aan die Bybelse haan wat gekraai het toe Petrus sy Meester verloën het (Matt.26:75). Te midde van ‘n eenvoud van geloof spreek die gedig van ontnugterende skeptisisme.
Die more pak die wolke
dikblou teen Gamohaankop
en die noordewind druk
die wolke diklaken
oor die grasrante
vir ‘n amperse drup-drup
maar in die uur pak
die moederkerk vol
en die haan op die toring
draai koersloos in die rondte
en kraai die wolke weg
Terwyl Riekert verskillende vorme van onpretensieuse geloof verwoord, word onderliggende huigelary of misleidende vertoon van vroomheid daarnaas met gestroopte maar skerpsinnige woordspel genadeloos geparodieer.
Die gedig Nagmaal uit die bundel Halfmens (1990:61) lui byvoorbeeld soos volg:
In die Moederkerk se
geel gepoleerde banke
sit die blinkes breed
en onbesorg terwyl die
leraar opgewek die
brood breek met
‘n gladde bottermes
Ironieë in die interaksie van Boesman-geloof enersyds en Westerse geloofsbeoefening andersyds word hiernaas in die gedig Buitediens (1990:60) veelseggend gejukstaponeer:
Die ou Boesman pas op
Aansluit die buitekerk op
en leer die swartkraai praat
van die Goeie Hoop Die ou
leraar sweet die warm Sondag
in die Kalaharison Hou hy
die nagmaalbeker lomerig uit
Pik die swartkraai die wit
brood op uit die silwerkom
en roep Goeie Hoop Die ou
Bedienaar sluk dorstig die
koutjie brood af met die vol
beker soetwyn en roep
Dit is volbring
Baas-kneg verhoudinge word eweneens in Bybelse beeldspraak subtiel aan die kaak gestel deur die verwysing na Kneg met ‘n hoofletter in byvoorbeeld die gedig Buitepos uit die bundel Halfmens (1990:57). Daarmee word dit in die lig van Christus se aardse knegskap geherevalueer:
Twaalf kleutertjies
verdriedubbel stuk-stuk
luister wange bymekaar
na Christus se lyding
‘n Kneg soos hulle pa
word hy afgeransel terug-
gestuur na die skape om
op hierdie dor pad die
lam terug te bring onder
die skaduwee van
die soetdoring
Telkens word die bekende Bybelverhale gekonkretiseer in dié streek. Daarmee word op verbeeldingsryke wyse uitdrukking gegee aan die universele toepasbaarheid daarvan as oerverhale. Na aanleiding van die verhaal van die drie wyses uit die Ooste wat agter ‘n ster aan die Christuskind vind, lui die gedig Die môrester (1986:42) soos volg:
Die môrester laat val
kort voor dagbreek drie
druppels nektar
op die rooi duin
en drie wyse manne
het op drie wit
môreblomme afgekom
en die geur van ‘n
babatjie geruik
en hom gevind
wat sou praat
oor die een ster
bo verlate duine
‘n Mens kan jou nouliks ‘n meer paslike agtergrond voorstel van die Bybelse intog van Jesus in Jerusalem op ‘n donkie, wat sy kruisdood vooraf gegaan het, as dié streek waar die donkie eweneens ‘n soort boorling is. Teen dié agtergrond is dit toepaslik dat in die gedig met die titel Die donkie, dit gaan om die oënskynlik swyende dier, wyser as die mens (1986:59):
Een dag gooi mense
hulle klere vir my oop
en waai my koel
met palmtakke
een dag klap mense
vir my hande
en roep hoera
ek loop so ligweg
want my las voel ek
nie eers nie altyd
wou ek so ‘n ruiter hê
wat met hande opgelig
beduie van ‘n koninkryk
wat nou kom
Kan die verlossing deur Christus se kruisdood op meer konkrete wyse ervaar word as in die volgende gedig met die titel Riembreek (1995:72) ?:
Maar dis die galpaal
maar dis die bitterpaal
my Kroon
dis aalwyn se proe
dis die hoon
maar ons Liewen Heer
het met die doringkroon
op Riembreek
die strop om ons nek
losgetrek
Die trefkrag van Riekert se direkte en tog ontledende gedigte oor geloofsperspektiewe word verwoord in die volgende gedig van Bonaventure Hinwood wat hy opdra aan die digter. Die titel van die gedig is veelseggend Woordeboek Dit lui soos volg:
kieme van sy skeppingswoorde
saai die Woord weer geil in jou
om bok en boom en horison
teen rooidag of teen skemeraand
met siende oë te herken
en weerligskerp op velle wit
weerspieëlend swart te ets
dat ons deur alledaagse tekens
die geel en blou en karmosyn
die lywe, rotse, koringare
die liefdesroerings binne-in
helder oopgevlek deur jou
opnuut opwindend mag ontdek
(http://www.argief.litnet.co.za?cgi-in/giga.cgi?cmd_print_article&news_id=54063&c. (Geraadpleeg: 13 Julie 2012).
‘n Versteurde Jeug
Aanvanklik het Riekert “sy versies op ‘n stukkie notapapier getik, dit met die hand afgerol en vasgeklam, dan op sy fiets geklim om dit in die dorp vir R10 te gaan verkoop”.(http://www.dieburger.com/Vermaak/Nuus/Geliefde-volksdigter-van-Kuruman-sterf-2 (Geraadpleeg: 31 Maart 2012) Sy verwerking van ‘n ingrypende emosionele krisis is verwoord in so ‘n uitgawe. Dit dra die titel Helderwit en Vuilblou (1979).
Riekert het na skool by die vloot aangesluit. Die helderwit van sy bundeltitel verwys na die vlootuniform wat hy gedra het. Vanweë sy passie vir geskiedenis het hy by ‘n militêre vleuel van die vloot aangesluit. Tot sy frustrasie en uiteindelike ineenstorting is hy egter ‘n vernederende opruimtaak toegesê. Dit word in die genoemde bundel verbeeld as ‘vuilbloue’. Die verpletterende kontras tussen sy ideale en die werklikheid wat hom in die gesig gestaar het, verwoord hy in die gedig Helderwit Uniform (1979:26):
My helderwit uniform moes ek uittrek
Die simbool van my groot hoop
Het hulle van my gestroop
My arms na die vuilblou drag strek
Daar lê dit nou op die vuil tapyt
Nog op die uniform se mou
Pryk die vere in helderblou
Maar dis weg, ek is dit kwyt
Die wit uniform was die wegspring
Die eerste trap in die hoë leer
Al was dit maar ‘n brose veer
Wat na die Vyfster sou uitkring
Maar die goue leeu eens regop geset
Staan nou onderstebo op my wit pet
Die gedig Ontslag (1979:28) in dieselfde bundel eindig met die noodroep:
Ek is nie meer die leeu werd
Ek klou net aan sy goue stert
In sy diepste nood onder toesig van medici in die sielkundige hospitaal, is dit by uitnemendheid weer sy streektaal en beelde wat ‘n vorm van sin skep. Die gedig Mediese Raad (1979:27) lui soos volg:
Drie kakiegeneeshere is verplig
Om vir een minuut te konvergeer
Waarin ek hulle rus versteur
Voordat hulle my op ‘n nuwe toekoms rig.
Die hare van die kommandant
Is yl soos die gras op ‘n duin
As die son dit laat kwyn
In die warmte van die rooi sand
U kasteel glinster majoor
Op die glans van verdwaalde strale
As ek vertel van beelde, waterverhale
Ek my pad in die woestyn verloor
In die grys oë van die kaptein
Sien ek verskroeide swarthaak op ‘n duin
In sy ontreddering word hy weer ontroer deur die skoonheid van ‘n jongvrou wat hy eweneens besing in sy gedigte. Helaas verwoord hy in die gedig Kontraste (1979:37) in dieselfde bundel dat dit nie verder kon gaan, as sy bewondering vir haar nie. Hierdie onvervulde romantiese verlange herinner sterk aan klassieke riddergedigte. Weer eens werk hy hier nog met konvensionele digterlike middele soos die sonnetvorm en vaste rympatroon.
Sy was so mooi in helderwit geklee
My verweerde vuilblou broek en hemp
Het alle vrolikheid in my gedemp
Ek was eens soos sy daar by die see
Smôrens het ek moedeloos op die bank gesit
Maar as sy my met ‘n glimlag groet
Het in my opgestoot nuwe moed
Eens het ek ook so verskyn in helderwit
Sy het so sierlik in helderwit gelyk
Helderwit en vuilblou – die kontras
Nooit kan ek die vuilblou van my was
Of probeer om dit te verbleik
Ek wou weer gryp na ‘n lewe van helderwit
Sodat ek weer haar blydskap kon besit
In die gedig Jeug (1979:19) ver-dig hy die tragiese verhaal van sy psigiese versteuring. Hy verwoord die geloofsworsteling wat dit in hom ontketen het:
O God waarom het U my toe geslaan
Skaars was ek opgegroei, agtien
Of ek het die duister gesien
Wat hom in my siel vasslaan
Waarom O God die duisternis
Toe ek in die warmbloed van my jeug
My in die lewe moes verheug
Het U die lewe in my geblus
In die tyd toe ek moes lag en speel
En my oë na die skoonheid blik
Van die lelies helderwit en begeerlik
Toe het my siel in twee verdeel
In vier jaar het die siekte my verteer
Die sprankel in die lewe het ek verleer
In dié verwarde situasie is dit deur middel van natuurbeelde wat hy perspektief soek. Die aangrypende gedig Vyfster (1979:1) is vol mitologiese beeldspraak:
Vier sterre vorm ‘n vaste kruis
Waarop ek met die sekstant peil
Vier sterre waarop die wit skip seil
Die ambisie wat in my brein bruis
Die Suiderkruis moet ek vassluit
Sodat dit op my skouers pryk
En die koerspunt van my uniform bereik
My oë op die nag se eindeloosheid
Ek soek na die Môrester se baan
Want die blink ster se glans
Moet by die Suiderkruis voeg in ligkrans
Dan het ek die Vyfster geslaan
Ek kyk na die skip se roer
Maar net drome kan na sterre voer
Veelseggend is die baan van sterre wat in die gedig beskryf word, vanaf die Môrester tot die Suiderkruis tot die Vyfpuntster. Dit sou die weg van Christus kon impliseer wat die Blink Môrester was, desondanks gekruisig is, waarvan die Suiderkruis ‘n simbool kan wees en dan desondanks geblyk het die beloofde Messias te wees uit die stam van Dawid, waarvan die Dawidster die simbool is.
Riekert se vermoë om intense emosionele ervarings te konkretiseer deur middel van ʼn gestroopte beeld, eie aan sy pretensielose streek, blyk byvoorbeeld uit die klein gedig Weerbegin (1990:67). Sy herontdekking van die vaderlike soort geloofsvertroue na sy oënskynlike vervreemding word verbeeld deur middel van die “handjiebos” wat deur woestynagtige rooi sand breek. Dit sou nie vergesog wees om hieruit af te lei dat die natuurlewe van sy streek vir hom inderdaad dié Lewe beteken het.
Ek het weer begin bid Pa
my hande vou twee blaar oop
uit die rooi sand Trek
my hoop op in geel-
blom handjiebos
Die slotsom
Soos die leser algaande vertroud raak met dié onkonvensionele digter se oënskynlike eenvoud van seggings, raak ook die lesersblik al meer die verbykyk van oer-Sieners. Miskien is dit die slotsom van die bundel Wensbeen se toemaak-gedig. Dit dra die veelseggende titel Lasarus - die man wat anderkant die dood Lewe herontdek:
Johannes het gebid dat sy oupa
Fanie weer moet verrys gevra
dat sy oupa hom weer moet
wys waar is rosyntjies se soet
in watter bos hy moet soek
By sy oupa se graf roep roep
hy Oupa kom op
Teen skemer staar hy net
Staan die siprestakke steil
op na waar hadidas verby
trek in ‘n pyl
van ses Stryk die geluk
op ver vlei se water neer
Dit sluit aan by die eerste gedig van die bundel met die titel Wensbeen (1995:9) - eweneens ‘n byna profetiese gedig.
Voor die ou haan daardie môre
in die bloubosmik kon kraai
knak Pa sy nek met een kap
van die handbyl Spat sy rooi kam
op uit die kameeldoring se kapkyl
Verwonder ek my oor die rooi
van die son se opkom en die bloed
Die haan wat afnek spring spring
Lê die haan bruingebak in die pot
staan Ma wensbeen in die hand
Maar met die vet gly die groter
been oor in my hand weet ek
die son sal môre weer rooiveer sit
op die haan se ou slaapplek
Ondanks die feit dat die Haan-aankondiger van die nuwe dag, geslag is, word hy wensbeen in die hand van die digter, sodat ‘n nuwe dag “rooiveer” oor sy “ou slaapplek” steeds verskyn. Mens sou ook kon aflei – ondanks die stilword van die aankondiger van die nuwe dag, bly die wensbeen van die afkop haan in die hand ‘n teken van ‘n ander nuwe dag se wensmoontlikhede. Simbolies staan die wensbeen veelseggend ook bekend as ‘n dankseggingsbeentjie.
http://en.wikipedia.org/wiki/Furcula. 2012/04/06 Geraadpleeg: 4 Junie 2012.
Dalk was dít die visioen van die digter wat deur sy kinders op die vloer dood agter ‘n geslote deur in sy huis aangetref is. Boonop is sy broer, Prof Fanie Riekert van Bloemfontein en sy vrou Dorothy, die Sondagaand op Daniëlskuil, terwyl hulle op pad was vir Donnie se begrafnis, deur ‘n betogende skare met brandende buitebande voorgekeer en hulle motor met klippe bestook.
(http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2011/08/17.VB/2/kmdonnie.html Geraadpleeg: 31 Maart 2012)
Die begrafnisdiens was in die Moffatkerkie by die ou Sendingstasie naby die dorp. In sy boodskap uit Rom. 8:38-39 by dié geleentheid, sê Prof. Riekert onder andere: “Die hoop vir die sterwe lê in die wyse van lewe…God het iets gedoen aan ons angs wat die dood inhou…Anders as Abraham het Hy sy eie Seun nie teruggehou nie om ons te verlos van die geestelike sowel as die stoflike dood.” In die Gebed van die Jagter (1986:21) het Donald getuig van die dood wat verander is deur die opstanding van Christus. Die gedig lui soos volg:
O Here die bok
se bles is wit kruis wit
hy dra u lyding
op sy horings
my verlossing
in die swier
van sy skrede
hoe kan ek ooit
mik trek teen U
Waarna hier verwys word, is die sondebok wat as plaasvervanger geslag moes word voor Christus se soendood.
Dit is insiggewend om hiernaas Riekert se gedig, Die lewe na die dood te lees na aanleiding van ‘n Boesman-siening van dood en opstanding in die bundel Halfmens (1990:11):
Die ou Boesmanvrou is
laat sak en haar asem
het nog die rooi sand
stoffie laat roer onder
die witstamboom Druk
hulle haar kop vas met
‘n ronde klip Maar ‘n ou
uitstoot-bobbejaanmannetjie
rol die klip weg en voer
die ou vrou ryp rooi soet
rosyntjiebessies
drie dae later loop sy met
die ou-een rond en vertel
omstandig van die lewe in
die holkrans waar die water
koel soos tsamma
op jou lip kom lê
Op 27 Augustus, die dag waarop oom Donnie 64 sou word, is sy as deur 4 van sy kinders op Gamohaankop gestrooi. French, sy bejaarde basterbrak sonder stert, het vreeslik gehuil toe hy dood is en wou nie eet nie. “Hy is sonder stert gebore en dis hoekom Donnie van hom gehou het. Donnie was mos altyd anders”, volgens sy vrou Una, maar “Ons het nooit gedink ou French sou Donnie oorleef nie.” (Snyman:2011:13)
Nietemin, Oom Donnie se gedigte bly vir die leser Heuning uit die Swarthaak en Wensbeen in die hand vir ‘n altyd nuwe sonsopkoms oor die dor-ste streke met hulle versteekte rykdomme.
- – -
Literatuurlys
Botha, Danie. Aug. 1995. Van die rooigrond vergeet Deacon nie. Die Burger: 4
Claassen, Isabel. 1987. Suid-Afrikaanse Panorama. Kuruman 1887-1987. 14-17.
Furcula (“little fork”, wensbeen). http://en.wikipedia.org/wiki/Furcula. 2012/04/06
Hinwood, Bonaventure. 2012. Woordeboek. http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=print_article&news_id=54063&c… Geraadpleeg: 13 Julie.
Hugo, Daniel. 1991. Netjiese verse van ‘n woestyn-profeet. Die Burger 26 Februarie.
Kemp, Charné. 2012. Egpaar in rou loop deur onder betogers.
http://www.mysubs.co.za/Article/s_468741/0/3/Egpaar-in-rou-loop-deur-onder-betog… Geraadpleeg 31 Maart.
Kuruman.2011 http://af.wikipedia.org/wiki/Kuruman. Geraadpleeg: 4 November
Kuruman River Reserve. Kalahari Meerkat Project. 2012. http://www.kalahari-meerkats.com/index.php?id=krr. Geraadpleeg 4 Desember 2011.
Louw, Annerie. 2011. Kinders tref hul digter-pa dood in huis aan.
http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2011/o8/17/VB/2/kmdonnie.html Geraadpleeg: 31 Maart 2012.
Müller, Petra. 1990. Twee digters uit Kuruman se wêreld. Die Burger 24 Februarie.
Rautenbach, Elmari. 2011. Geliefde volksdigter van Kuruman sterf.
http://www.dieburger.com/Vermaak/Nuus/Geliefde-volksdigter-van-Kuruman-sterf-2 Geraadpleeg: 3 Maart 2012.
Riekert, Donald W. (1977) 1979. Helderwit en Vuilblou. Kuruman: D.W. Riekert.
Riekert, Donald W. 1979. Die Amandelbloeisel. Kuruman: D.W. Riekert.
Riekert, Donald W. 1986. Heuning uit die Swarthaak. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.
Riekert, Donald W. 1995. Wensbeen. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.
Riekert, Donald W. 1990. Halfmens. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.
Riekert, Prof. Fanie. 2012. Afskeidsrede by Afskeidsdiens Donald W. Riekert.
(Telefonies aangevra ASR)
Snyman, Dana. 2011. Donnie was mos anders. Die Burger By 8.10.:12,13.
Van der Merwe, Gerdrie. 1991. Strome lewende water.Bloemfontein:NG Sendingpers
Van der Merwe, Gerdrie. 2004. Skool van drome. Die verhaal van Onderwys in Seodin met besondere verwysing na Hoërskool Kalahari. Kimberley: Swiftprint.
Van Niekerk, A.A.J. 1981. Namakwaland. Dorsland in die blom. Kaapstad: Cape & Transvaal Printers.
[1] Verwerking van Huldeblyk vir Donald Riekert by Stellenbosch Poësiekring 7 Mei 2012











Baie dankie hiervoor, ‘n nodige herwaardering. Ook vir die uitvoerige aanhaal vir lesers wat nie Riekert se boeke besit nie.