Onderhoud met Petra Müller

Petra Müller

 

Sandberigte vir die son

Petra Müller gesels met Melanie Grobler oor haar bundel Om die gedagte van geel

 

“Een honderd lesers van jou gedigte is genoeg.” – Martin Versfeld.

*** 

Petra Müller woon tans in Larmenier Village op die gronde van Nazareth House, ‘n werkende klooster en hospitaal vir kinders met vigs. Sheila Cussons het haar laaste jare hier tussen die hoë dennebome en die alomteenwoordige Tafelberg gebly. Ek kom laatmiddag by Petra aan, te vroeg vir ‘n doppie brandewyn, maar betyds vir rooibostee met een of ander geurige kruieblaartjie daarin. Dan staan sy op en neem my na haar slaapkamer met sy groot venster wat uitkyk op haar geheime tuintjie. Reg by die venster hang die skildery met sy telefoonpale wat soos mense oor die geel landskap stap. Dan keer ons terug na die sitkamer waar ons oor haar nuutste digbundel begin praat …

 

Sewe

 

Daar ís iets aan sewe  ̶ sewe sieners stap deur my lewe.

Dis hoogdag, die skaduwees kort. Geen son te sien nie.

Hoe het die aarde so vereenvoudig geword in dié versadigde

geel, dié inkige blou? En julle sewe, so opreg orent,

my veelvoudige ouers  ̶  wat drá jul oor my heen, perfek

in pas hoewel nie eens verbind?

 

Drome maak so  ̶  raak jou nie aan onderweg nie. Is altyd

bo, of by jou verby. Net die horisontale aarde, ‘n riffeltjie

bruin op ‘n afstand, kan ek verstaan. Dit wil sê, dat die lewe

daar is, in struikgewas: grysbokkies, hase, skilpaaie,

dassies miskien . . .

 

Petra, jy sê dat jou bundel verse, Om die gedagte van geel, gekomponeer is. Jy vertel ook van jou goeie redakteur, Francois Smith, wat insien dat die digbundel onhanteerbaar dik is. Daarom steek hy sy hande in die manuskrip in en lig ‘n goeie derde uit; sit dit eenkant neer. Versteur hierdie handeling die gang van jou bundel?

Ek het opgemerk in my laaste twee digbundels dat my gedigte soos ‘n jaghond in kringe loop. Ek skryf die gedigte oor maande of jare en as dit tyd word vir ‘n bundel pak ek die verse uit op ‘n tafel of op die vloer waar ek hul rondskuif sodat een gedig op die ander volg. Weldra begin die een na die ander tema ook na vore tree; temas verander van bundel tot bundel. In my vorige bundel was dood ‘n sterk aanwysende tema. Maar hier het geel na vore gekom en word dit ‘n bundel van die lewe. Opwindend vir die digter om te sien wat uit die onbewuste na vore tree. Geel is oorheersend: die skildery op die voorblad is lewendig geel, ek skryf oor die son as bron van energie, die sonblom, die graanvelde van die Overberg, die lemoen, die lemoenboorde, die lemoenduifie en die geel lappe waarvan my ma klere gemaak het. In die namiddag het sy so gesit in die sagte lig van die son en dan op die naaimasjien gewerk. Geel kring uit en word die titel van die bundel. Ek werk op ‘n organiese wyse, dig totdat die interne goed na vore tree. Die gedigte vermenigvuldig en word soos deeg wat uit ‘n kom uitrys. Dit word onhanteerbaar. My redakteur, Francois Smit, neem van die gedigte weg. Daarna moet nuwe hegtinge gemaak word sodat niks los staan nie. Die hele proses verbeter die bundel.

Ek vra of jou digwerk ‘n uitvloeisel van ‘n proses is maar die vraag bly rond hang. My gevoel is dat groot gebeure in jou lewe, die dood van Wilhelm, jou verhuising na Larmenier en die toekenning van die Hertzogprys, jou letterlik na dieper kreatiewe poele stoot. Tydens ‘n close reading sessie word ek bewus van die sprong tussen Die aandag van jou oë en Om die gedagte van geel, van nuwe vorme wat uit jou binnewêreld vloei. Wil jy praat oor die veranderende binnelandskap?

Die bundel word ‘n verhaal met ‘n begin en ‘n middel en ‘n einde en daar is karakters wat daarin optree. Die verhaal is van ‘n meisiekind wat groot word. Haar pa is ‘n polisieman op Botrivier, daarna word hy grondbesitter. Die plaas is reg onder die hange van die Langeberge in die omgewing van Swellendam. Sy is ‘n kind wat aanmekaar wegloop en daar is gedigte oor paadjies en waterslote. Daar is bepaalde mense in haar lewe, die pa en die ma is alomteenwoordig. Dan is daar iemand met ʼn demoniese geaardheid, Mal Elsie. Ander figure wat opgeroep word is Hanna Bladcher, ‘n Jodin, ‘n ouer vrou en Harold, ‘n gespreksgenoot. Hanna het groot donker oë soos ‘n panda, ‘n wyse vrou. Reis saam met haar in Sjina, deel ‘n kamer met haar. Terug in Kaapstad word ons vriende. Elsie, die draer van my biografiese gegewe kom sterk na vore. Dis die storie van ‘n kind wat groot word, van jeugliefde, en grootmens hartstogte, verliese. In die volgende afdeling word daar weg gespring na Griekeland, na Ceres, die Godin van Graan en die tema van geel, ‘n verbinding met die wêreld waar die kind groot word met die alomteenwoordigheid van geel. Ek moes by die vader gode verby na die moeder gode. Die digbundel is verhaalmatig; geen vry-swewende gedigte met ‘n bepaalde liriese element nie. Die werk staan op ‘n manier nader aan die nuwer digkuns wat genoem word “gewone praat poësie.” Die karakters praat gewoon en daar is nie bewysbare poëtiese konstruksies nie maar eerder stories wat iets wil openbaar. W.A de Klerk het destyds ‘n opwerking gemaak oor die digterlikheid in my verhale en iets verhalend in my gedigte. In Die omtes van die hart is daar sprake van impressiewe prosa wat neig na die poësie. In hierdie bundel is die gedigte verhalend.

Die gedigte in Om die gedagte van geel is eenvoudig en mens is bewus van die aflegging van geleerdheid, moontlike terwille die besondere volgehoue toon wat dwarsdeur deur die bundel gevoer word.

Kan nie eintlik sê waaroor ek dig nie. Dis ‘n soort bevlieging wat oor my kom. As ek dit nie oombliklik raakvat of neerskryf nie, al is dit net die kern van die gedig, dan is dit verby. Vir altyd verlore. Ek skryf met ‘n potlood op papier omdat ‘n potlood altyd beskikbaar en gewillig is. Mens kan gewoon aaneen skryf, lig of donker en mens kan iets aflei van die hand wat dit neerskryf. Martin Versveld het alles met die hand geskryf, met ‘n potlood. Die hand probeer om die gedigte te vereenvoudig want as mens ‘n bietjie aanstap met die pad soos ek nou aanstap, as die stuk wat voorlê korter word; dit gaan nooit weer langer word nie, word jy pynlik bewus van enige iets wat oordadig is, of nie kernagtig is nie. Dis ‘n sintuig wat mens ontwikkel as jy ouer word. Dan gaan jy terug na jou ou gedigte en dan sê jy vir jouself: “ek kon hierdie ding baie dringender gesê het as ek dit eenvoudig gesê het.” Ek was nie bewustelik op soek na eenvoud nie maar soos ek die gedigte bewerk, probeer ek tog om dit ‘n bietjie helderder te kry as te vore. Ek glo dat die ideale gedig is ‘n water druppel waardeur jy kan sien. Dis nie ‘n einddoel nie, dis deel van bewuswording. Die bewuswording beweeg dan deur die druppel en laat dit dan agter.

Beelde van die dogtersvorm, lappe wat om die lyf gedraai word, die ma wat legendes deur die voetjie van die singer voer, die greep van die berg, die leivoor, die bossies wat mens por en por, die bibberende kringende water, die koei met die donker oë en die groot Oog, die glans van die solder, die lemoenboord, die eerste dag van menstruasie en die rooi papawers, die sikliese induik en die afduik en die durende herhaling; gedigte oor onnoembare gebeurevoermens mee na ‘n magiese aardse belewenis. Hoe verstaan jy hierdie magiese kwaliteite?

Magiese goed is dit wat saam met kinders gebore word en wat hul vir ‘n tyd saam met hulle dra. Dan begin hulle die realiteit deur taal ervaar. Maar vir ‘n lang tyd bly die magiese en dan beweeg dit weg en dan word die kinders deel van hierdie wêreld. Ek is een van die mense wat in ‘n groot mate in die kinderwêreld vas gesteek het. Het die kinderlike magiese kwaliteite behou en op ‘n manier is ek nog altyd aan die speel. Dit is wat die magiese is, ‘n vrye toegang tot die moontlikhede van die wêreld, tot fabulasie, tot die geweldige verlenging van betekenis wat mens in die simboliese wêreld vind. As mens oud word keer mens terug na daardie ding toe; mense word mos kinderlik, op ‘n mooi manier en die “getier” van die wêreld val weg en hulle word weer eenvoudig. Ek self is baie kinderlik en soms ook kinderagtig en is op my gelukkigste as ek met klein kindertjies speel. Miskien het iets hiervan oorgebly in die gedigte. Ek sal bly wees as dit die geval is.

En wat van die Stoepsitters soos jy na hulle verwys?

Die mense van daardie tyd het op die stoep gaan sit en dan het hulle die wêreld verken deur verhale te vertel of deur ‘n relaas wat jy dié dag gedoen het en wat jy gehoor het As jy mooi luister na die stoepsit-geselsery word jy bewus van bepaalde ritmes en herhalende ritualistiese frases. Dan hoor jy Odysseus toe die koning vir hom gesê het: “Kom sit nou hier en dan vertel jy vir my wie jy is.” Dan lewer jý ‘n relaas van jouself wat totaal aan mense en menslikheid gebonde is, waar jy was en wat jy gedoen het, wat die verskuiwings en verskrikkinge is wat jou oorgekom het, net soos Odysseus dit vertel. En dan kom daar ‘n antwoord uit die groep mense wat op die stoep sit, en die een sê, “Ja, ek onthou.” En die ander een sê: “Ja, ek onthou van daardie eiland. Ons het ook daar aangegaan.” Dis ‘n baie ritmiese ding en dis ‘n deurlewing van tyd, persoonlike tyd wat in daardie narratiewe na vore tree. Ek glo dat mense al hoe minder persoonlike narratiewe het. Narratiewe word vir hulle gegee deur Masjiene waarna hul sit en kyk, waarin verhale afspeel en waarop hulle nie kan antwoord nie. Hulle sit passief en kyk. Maar toe ek klein was, was ons deel van verhale en ons het gedurigdeur verhale vir mekaar vertel. Dis hoe ons die wêreld leer ken het. Ek het gedink dat almal so groot geword het. Toe ek klein was het die groot mense vir my gesê: “Jou kop is vol allerhande bevliegings. Jy loop en kyk op in die lug en dan loop jy jouself in die honde-gemors vas. Kyk voor jou voete!” Ek glo dat by die meeste skeppende mense sit daar in die middel van alles, ‘n kind wat nooit die magiese wêreld verlaat het nie. Dis eintlik gelukskinders. My ma en pa was heeltemal merkwaardige mense want hulle het heelal op heelal van mens belewenis in hulle koppe gehad. My ma het stories vertel. Sy was ‘n meester en sy het dit nie geweet nie. My pa het as jong polisieman heroïese goed op sy eie onderneem, vir dae lank ‘n bepaalde wetsoortreder deur die berge agtervolg. Hy het ‘n bepaalde man doodgeloop in die berge totdat die man op ‘n stomp gaan sit het en homself oorgegee het aan die gereg; dis nou my pa wat luister na die vlugteling. “Hier”s ek nou, baas Manie. Neem my nou, ek kan nie meer verder loop nie.” Nou, as mens dit as jou lewenskos inkry, die melk wat jy drink en die brood wat jy eet, gaan alles wat jy dink verder terug. Dis mos waarvan jy aanmekaar gesit is. Dis wat by my gebeur het.

En wat van plaas-mistisisme en of mites?

Dit het my opgeval tussen die plaas mense waar ek groot geword het dat elke enkele boer sy plaas beskou het as die middelpunt van die aarde. Hy het presies geweet wat roer waar en wat my pa getref, hy het na sy plaas gekyk asof dit ‘n bonatuurlike verskynsel was. Dit val my op dat ons hier in Suid Afrika geen mistiek in ons godsdiens het nie. Wat die gedigte van Sheila Cussons betref, hier kan ons praat van mistiek. Al die groot gelowe, die Arabiese, Duitse en Engelse het ‘n mistieke tradisie. Die mistiek wat ons hier aantref sit by die digters of die skrywers wat daardie wêreld oproep. Maar daar’s oral mistiek teenwoordig. Ek onthou toe ek my eerste betaling vir skryfwerk gekry het, ek dink dit was sowat twee halfkrone, ek was toe twaalf jaar oud, toe het ek vir my pa gevra waarin ek die geld moet belê, toe antwoord hy: “in die grond want die grond loop nooit weg van jou af nie. Jy kan vanjaar koring plant en dan plant jy volgende jaar weer iets anders.” As ek en my pa gery het van dorp tot dorp kon hy presies vir my sê wat verlede jaar op daardie land gegroei het en die jaar van te vore. Dit was ‘n boek in sy kop net soos die ou mense van die Weskus wat die see soos ‘n boek in hul koppe lees. En interessant genoeg, hulle het baie beter geheues as hoogs geletterde mense. Hulle kan alles oproep en presies sê waar die skadu van die Losberg geval het daardie dag toe hul die dier gaan soek het en hom nie gekry het nie. Die dier is natuurlik die luiperd. Sulke familie stories word aan gegee van een geslag na die volgende en neem dan ‘n mitiese dimensie aan. Deur herhaling word die storie ‘n legende. Mense het ‘n eienaardige siening van mites. Hulle dink dis iets norms en groots wat aan ander mense behoort. Ek onthou toe ek toe ek en my broer eendag net anderkant Ashton oor die berg se rug gery het, toe my broer vir my sê: “Ja, dis hier waar die oostewind gebore is.” Nou dis Homeries. Wat is die verskil? Dit hang net af hoe dit dan neerslag vind en as een verhaal van een na ‘n ander geslag oorgedra word en nog verder gaan, bestaan die moontlikheid dat mitiese materiaal bygevoeg sal word. Die wêreld is besig om grondliggend te verander wat betref kommunikasie. Ek skryf oor eenvoudige goed en hoop dat my kleinkinders eendag belang sal stel in my stories. Ek het nie ‘n goeie verhouding met die dood nie maar ek sien ek gaan nie hierdie oorlog wen nie. Mens probeer om die dood te omseil met mens se skryfwerk. Wie weet?

Evokasie of die oproep van stemme is deel van jou werk. ‘n Prosessie van mense  ̶ die gesprekgenoot, Harald van vroeëre bundels, mal Elsie van jou kort verhale, vriende soos David en Martin en Cas, die verdrinkte broer, ander broers en ‘n suster, die alom teenwoordige ouers, die mooi Ma en die ‘wilde’ Pa. Jy vertel van jou allemagtige Smalberger tantes.  Loop die daad van evokasie reeds lank saam met jou?

Digwerk is ook ‘n poging om dinge van die stilte te ontruk deur stemme op te roep. Om deur evokasie, die stemme wat stil geword het, weer terug te roep. Vir my persoonlik, as ek die gedigte lees, roep dit vir my ook iets onmiddeliks op. Ek soek dit in poësie. Dit kan gebeur by die musikale liriese verse maar kan ook gebeur by hierdie nuwer gewone praat-poësie wat van die alledaagse spraak gebruik maak. Die jonger digters betree dit, sommige met groot sukses. Hier het ons hier te make met grondliggende veranderinge. Die musikale meer ritmiese verse word al hoe meer afgelê.

Kan ons praat oor stilte en ritme in jou werk?

André Wagner wat nie van die poëtiese wêreld is nie, het na hy na ‘n voorlesing van my gedigte geluister het, die opmerking gemaak dat ek net soveel met stilte as met klank werk. Ander mense verstaan ook eers die gedigte as dit voorgelees word. Toe het ek meteens besef dat daar groot gesinkopeerde, onreëlmatige ritmes in my werk is. As ek dit voorlees weet ek presies hoe om met die lang stiltes en die eienaardige gebroke ritmes om te gaan. As die karakters in my gedigte praat, tree hierdie oneweredighede na vore. Aan die ander kant; ek ondersoek my gedigte nooit.

 

Elsie

 

“ses maal in die moer geskop, ses maal

kleintjie gedrop  ̶  mies, sus, moos, weet nét hóé;

jy staan nog so, dan trek jy al, en waar jy val

is beter dat jy lê . . .

 

“en more kom hy: elsie, elsie, elsietjie; einstetyd

het jy laas nag die koekerasie in die grond begraaf,

en klip daarop gesit;

 

“die boere wat so oor hul landerye loop en sê

ploe hiér, saai dáár,

weet ook maar fôkkol wat in hulle grond lê;

 

“maar die duiwel weet, en die duiwel se bek

klap oop en toe

van als wat kom en als wat gaan,

 

“maar hiervan sê hy níks,

Mies Sus”

 

As deel van die digter-dissipline skryf jy joernale; het reeds 40volgeskryf. Vir jou is die vloei van gedagtes deur die hand ‘n noodwendig daad. Jy skryf gedeeltes van ander skrywers se werk neer; vertaal, veral Zen koans wat jy beskryf as die verdigting van stof na kristal. Is die werk in die joernaal ‘n voorloper van ‘n digbundel?

Ek is nie ‘n mens wat dagboek hou nie maar wat ek al ‘n geruime tyd doen is om dinge te boekstaaf. Ek koop gewoon daardie swart hardeband oefenboeke met lyntjies en skryf redelik gereeld daarin, goeters wat ek teëkom en wat my tref; ‘n stukkie storie of ‘n ding wat ek gesien het, ‘n stuk papier wat in die lug rondgewaai het, prentjies. Werk van ander digters of filosofiese besinninge word ook op geteken. Ek neem die werkboeke of kladboeke saam as ek op reis gaan. Mens kan sodoende op jou eie spore terug loop. Ek skryf ook onklaar gedigte in hierdie boeke en sodoende word beroeringe en bevliegings meer hanteerbaar.

Na die Hertzog Prys-toekenning vir Die aandag van jou oë kuier ek by jou en jy praat oor die gravitas van die Prys; vir jou moet die ontvanger se werk uitmuntend wees en jy twyfel oor jou eie. Jy wil weer kyk na jou werk, dink dat sekere herhalende digpatrone vernuwe moet word. Wil ‘n studie maak van N.P. van Wyk Louw se digkuns. Jy noem dat hy nou soos ‘n ligstraal deur jou nuwe bundel loop. Kan jy meer vertel van die vernuwing in jou werk?

‘n Digter wat die meeste invloed op my gehad het, is N.P. van Wyk Louw. Ek het ‘n manier om name vir mense te gee. Ek noem hom Niklaas. Ek beskou Tristia as ‘n magtige bundel veral na die einde toe. In daardie laaste verse is daar ‘n helderte en ‘n noodwendigheid. Daardie ding wat die Grieke genoem het Adnangke. Dié wat van Wyk se werk ken, sal hoor sy werk eggo in my bundel. Die woordTristia, is ‘n ou woord. Osip Mandelstam het ‘n bundel verse byeen gebring wat hy Tristia genoem het. Triest, is die Afrikaanse woord. Ek het in myself ‘n verskriklike kapasiteit ontdek om te rou, om te treur, byna soos ‘n treurduifie wat die hele Sondag kan sit en treur. In een van Rilke se groot sonnette skryf hy:

 

Ons is die treurendes

eenmaal was ons ‘n groot ryk gewees

‘n groot wêreld van treurendes

 

Om te treur is amper om te dig. As mens dig, roep mens vir ‘n oomblik die dodes terug aarde toe. Baie van my digwerk is treurpoësie. Maar ek is ook ‘n vrou wat daarvan hou om “kamp-grappies” te maak, soos ou Martin gesê het. Ek hou veral van boere-grappe. Ek dink die boere-grap is een van die groot kulturele prestasies van die Afrikaner. Een van sy groot kulturele bydraes.

Ons praat oor Osip Mandelstam, Hans Faverey, Elizabeth Bishop, Emily Dickinson, weereens Emily Dickenson, ook ‘n nuwe leermeester, César Vallejo waar jy hulp soek met die tegniek van vertel. Ongelooflik om te dink dat mal Elsie ‘n draai maak by Vallery in verre Peru! Ook die Palestynse digter, Darwish en byna vergeet ek van die blinde Borges.

Ek lees baie digters en vele van hulle beïnvloed my werk. Ook in my laaste bundel is daar vele invloede wat ek kan raaksien.

Ons het mekaar leer ken in die laat tagtigs. Nou het ons albei meer tyd en sien mekaar meer gereeld, veral rondom die maandelikse byeenkomste van die Tafelberg Leeskring waar ons jou ken as ‘the wise woman’. Ek weet dat jy deurentyd studies van uiteenlopende onderwerpe doen. Kan jy meer vertel en syfer hierdie studies deur na jou digwerk?

Van Wyk Louw het een van die groot konsepte van die Zen vir homself geneem: “Die pad self is die ding wat loop”.  Jy verwys na verskillende studies wat ek onderneem. Dis nie iets wat op enige formele vlak geskied nie. Die pad bring dit na my toe. Ek moet binnekort oor Magmoed Darwish, die Palestynse digter praat. Nou moet ek terug gaan na die verskriklike broedertwis, die familie twis tussen die Jode en die mense van Islam, wat ‘n baie groot en woedende wond is. Daar sit in die Midde Ooste waar die Monoteïstiese godsdienste almal uitgebroei het, ‘n groot klomp gevoelens vir almal in die Weste. Om nou enigsins te begryp wat die woord Palestina beteken moet daar nou ‘n studie onderneem word en kyk waar alles vandaan kom, watter verse inwerk op hierdie mense. So dis iets wat oor die pad kom. My studie van die Kabbala (dis ‘n studie wat ek vir myself gedoen het) spruit uit die feit dat my man ‘n direkte afstammeling is van die groot Talmoedis, Eliaza ben Solomon Slavin, wat ‘n vyand van die Gaside, ‘n ander vorm van Joodse Mistisisme, was. As jy eers die Gaside bestudeer het, kom jy by die Kabbala uit, dis die oorsprong-verhale van die Joodse Mistisisme. In die middel van die Kabbala vind mens iemand met die naam Isaac ben Solomon Luria. Sy storie van hoe die wêreld ontstaan het, is vir my die mooiste. Dan lees jy ‘n boek soos Disgrace en jy sien die hoofkarakter se van is Lurie, dan gaan soek jy, want daardie karakter is ‘n Jood. Hy het ‘n baie lang geskiedenis agter hom wat jy in aanmerking moet neem, as jy oor daardie karakter wil dink. Ek beskou Disgrace as ‘n groot werk. Die boek se naam is eintlik Grace. Die storie gaan oor grace, ‘n gegewe wat net uit die liggaam van die Rooms Katolieke Kerk, uit die Maagd se liggaam gekom het met die geboorte van Jesus Christus. Die studies wat ek onderneem, lei my daartoe om na my eie denke te kyk. Praat hierdie karakter of skrywer die waarheid of lieg hy? Deesdae is die soeke na betekenis onpopulêr, dit het nie meer waarde nie.

Teen die einde van die bundel verander die verse en word die stem stil gemaak. Jy dig oor stilte van die Langeberge teen die einde van die dag. Gedigte verbrokkel en word koans. Het jy altyd belang gestel in die Oosterse digkuns?

Ek het myself bewustelik geskool in gedagterigtings en gewoontes wat vir my vreemd is, byvoorbeeld die wêreld van die Zen. Die Zen-digkuns loop saam met die stilte. Daar is die waterpoel, die rots by die waterpoel en die bamboes by die waterpoel. Op ons bergplasie bo-op Piketberg is daar presies so ‘n plek. Die groot uitbeelders van die Zen-poësie het gedurende hul skoling vir ‘n jaar lank ‘n blaar geteken, leer ‘n paar jaar lank om ‘n waterverftekening te maak van ‘n rots. Dis ‘n hele skoling van die verbeelding en van die hand. ‘n Groot aantal van hulle kort, klein openbaringsgedigte het ek vertaal as oefeninge vir myself. Die koan is eintlik ‘n strikvraag wat jou gemoed van die logiese na die onlogiese neem. Hul observasiegedigte is soos klein abstrakte werkies soos Basho se afskeidsgedig

 

Siek geword terwyl ek nog onderweg was

my woorde bly hang in ou landerytjies

 

Van die korter en langer gedigte in Tristia is perfekte Zen-observasies. Die eenvoud word tot op ‘n punt geneem waar alles verbrokkel. Hierdie is die laaste gedig in my bundel  ̶

 

Die diskrete vuur wat in die roos woon, is dié-

selfde geel, die goud,

wat oor die spits sonwaarts spring

en oplos in herinnering,

 

                                                            en klein wit reiers kantel langsaam af

                                                            en strek hul pote uit

                                                            om tuis te kom in bome

                                                            wat by stilte staan

 

wit vlek die dag se reier

nou die nag;

roer nog ‘n bietjie, strek ‘n vlerk

waardeur die maanlig sif soos gaas

wat geroer word  ̶

oplaas is daar rus

 

                                                            maar

                                                            die gespieëlde lewe in water

                                                            beef met ‘n lang wig lig

                                                            geruisloos  ̶

 

                                                            otter is hier

                                                            vis-in-die-bek

 

                                                            nou flik ‘n silwer stilte

                                                            en volkome

 

Dwarsdeur jou bundel is daar verse wat uitreik of verwys na die ontwykende beminde. Kan hierdie gedigte as liefdesverse beskou word?

Alle gedigte is liefdesgedigte.

Dankie vir die gesprek, Petra. Watter persoonlike gunsteling uit jou bundel kan ons ten slotte aanhaal as sluitstuk by die onderhoud?

 

vroeg I

 

ek gewaar dat jy in die oggend met my wakker word

en saans met my gaan slaap

                                    onderneem jy ook die vaarte oor ‘n aardbol

                                    wat ek onderneem  ̶  die melkwit reis waarin ek swaai

                                    soos in die uier van ‘n koei

                                    vaar jy ook landwaarts, en word daar vir kleingeld

                                    oor die rotse uitgestrooi

                                    maak jy daar ook die radelose liefde

                                    wat ek maak

my vrae buig hul oor jou soos ‘n moeder, al vorentoeër

en al moeër: ken jy die geselle waarvan jy

so veel vertel, my kind?

 

son kom op, nog ver, en lees ons sandberigte

soos ‘n oorlogsheer wat verg dat niks

verberg mag word nie voor sy aangesig

 

tot maan kom, met haar krateragtige aandgesig

waarin daar holtes vir ons voete is

 

                        gaan jou goed, hoor;

                        moenie moed verloor nie,

                        mooi beminde

                        ̶  wat jou teen die aand

                        weer in

           

(c) Petra Müller

 

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Onderhoud met Petra Müller”

  1. Francis :

    Hierdie onderhoud is ‘n besonderse woordreis.

  2. Melanie Grobler :

    Baie dankie Francis! Ek sal dit aan Petra oordra.

  3. Ingrid Winterbach :

    Pragtige, pragtige onderhoud.

  4. Melanie Grobler :

    So bly dat jy dit geniet het. Sal dit aan Petra oordra