Resensie: Om die gedagte van geel (Petra Müller)

Nou flik ‘n silwer stilte en volkome

 

Om die gedagte van geel   Petra Müller (ISBN 978 0 624 05446 7; 196 bladsye; Tafelberg

 

Resensie deur Joan Hambidge

 

*

en langs die pad

die wintersgras

‘n pels wat al hoe digter pas

 

o laat my nooit vergeet nie

– want ek sal eendag sterf –

hoe bewertjie

die gras vannag

 

 

Om die gedagte van geel

Om die gedagte van geel

Om die gedagte van geel is ‘n ryk geskakeerde digbundel. Die bundel is imposant en indrukwekkend in die ongelooflike kartering van ‘n jeug en die herinneringe daaraan. Die gevoelige kind word hier aangetref en die ouer, volwasse digter plaas haarself letterlik terug in die posisie van jong kind wat alles om haar registreer. Die kind is reeds digter, hoewel sy nog nie die woorde het om die primordiale gegewe te artikuleer nie. Dit is ‘n terugkyk op ‘n lewe: die posisie van die ouer digter en jong kind word één in hierdie terugkyk. Petra Müller het reeds in haar kortverhale hierdie gegewe aangespreek en nou word dit in Om die gedagte van geel poëties-sintuiglik verwoord.

Die buiteblad met telefoonpale dui reeds die gesprek aan wat ons sal aantref in hierdie bundel. Die gesprek tussen familie-lede, die onthou’e van ‘n geslag, die stories wat ingebed lê in ‘n gemeenskap; ook die pynlike verhale wat ‘n familie verwond (soos die dood van die geliefde broer wat regdeur die digkuns soos ‘n fyn draad ingeweef is) én saamsnoer.

Om hierdie bundel in al sy geledinge te takseer, was ‘n ongelooflik inspirerende ervaring. Met elke herlees, word die leser gedwing tot ‘n bestekopname oor die posisie van hierdie digterskap. Enersyds liries, andersyds ‘n sterk verhaalmatige aanslag wat die bundel stuur.

 

Die verskillende afdelings word vervolgens bespreek:

 

I Telefoonpale

Die sewe kinders rig dan ook die sewe afdelings. Hier word die kinders se “afluistering” van familiegeheime en -skinder weergegee. Die verhale is “ontrou”, bygelieg, versin – selfs verkeerd onthou, In “Taal in die lente” skryf die digter:

 

Die telefoonpale,

elk tot sy uiterste gestrek, stap deur die amper leë landskap

waarin hulle lynreg opgestel is as betroubare draers

van ontrou verhale. Hulle huiwer nie.

Ek het ver gereis om deel te neem aan die gesprek.

Daar is soveel daarvan –

dit het ‘n aaneenlopende gestroom geword

wat deur my ore in my kopbeen trek, en daar

‘n sirkelende tinteling aan’t gang hou

wat te veel geword het vir my (…)

 

Daar word ook verwys na “sieners” en “drome” wat reeds die aard van hierdie gedigte bepaal: ons beweeg as leser in die wêreld van die fantasie en herinnering.

Dat hierdie proses moeilik is om te verhaal, word duidelik. Terselfdertyd weet die leser dat hierdie bundel in ‘n vloed ontstaan het (“aaneenlopende gestroom”. “Taal in die lente”, 10) en teen die res van haar digkuns gestel, is dit dan ook ‘n gesprek met die ontslape broer, Nico van wie sy niks meer hoor nie. Sy gee egter lewe aan hom en hierdie gedigte kan gelees word as ‘n “sirkelende tinteling”. En sirkel of mandala is waarskynlik Jungiaans beskou, die belangrike kode vir die lees van hierdie bundel. Die volwasse vrou wat terugkeer na haar jeug en deur die gedigte alles heelmaak. Die simboliese getal sewe (heiligheid) word ook geaktiveer. Die “Onvindbare Een”, met ander woorde, die spirituele word eweneens betrek (“agtste”, 13) en in ‘n later afdeling word die VaderGod van die Protestantisme verwerp vir ‘n ander ervaring van die transendente.

Alles beweeg tussen figurasie en heenwysing (14) met ‘n keuse vir laasgenoemde. 

 

II Agter ‘n drywende son aan

In “gedig vir myself” word ‘n Oosterse dimensie ingeweef: die vel het so dun soos papier geword (19) en die bundel Liedere van land en see (1984) word geaktiveer in hierdie afdeling waarin legendes van haar jeug in herinnering geroep word. Die binne-herinnering wat intiem is aan die jeugervaring word vertaal in die gedig. In die praat-onthou is die herinnering nie altyd betroubaar nie, maar dit tog deur die gedig gekorrigeer. Die ouers se bevele en aanmanings is deel van die geheue en word ingebed in die vers. Sy onthou hoe haar lyf in die gras afgeprent is en op dieselfde wyse is die gedig ‘n afbeelding van al die herinneringe. “agter ‘n drywende son” (23) kan gelees word as ‘n ars poëtiese vers. Die verdwalende kind word deur die konstabel gevind:

 

met voor my oë die pragtige krom van die hings

se nek –

 

Dit aktiveer die Pegasus, die simbool van die digkuns wat veral in die vyfde afdeling aangespreek word. Die eiesinnige kind se geite word deur die familie en kennisse hanteer en begryp. ‘n Hoogtepunt is “Strykdag” (28) en die beskrywing van die kuikens. ‘n Mens is hier diep onder die indruk van die digter se sintuiglikheid en vermoë om die herinnering beeldend konkreet en aards te verwoord. Deurgaans is daar ook die taal van die omstanders wat sy weergee wat die portret outentiek maak. Dieselfde geld die gedig “deurskyn” (29) waarin die tegelykertydsaspek van die digkuns verbluffend weergegee word. Die gekko met sy prehensiele handjies word in die gedig opgevang:

 

deurskyn

 

in die keel van die gekko

klop deurskynend lewe; hy het nie so

geword nie, hy was nog altyd so

sy smagting is na die een

wit mot wat versot is

op wit lig

 

hierheen kom die gekko aand

ná deurskynende aand, met sy prehensiele handjies

teen die ruit geplak

 

sy kake geluidloos oop

 

o begeerte! – en onstuitbaar

waar dit wegval deur die sku gedig (29)

 

Wanneer sy die ruimte van die chora (Kristeva) betree, gaan sy die ruimte van die pre-simboliese binne en bely sy dat sy hier sonder taal staan:

 

rivierboord

 

pa en ma, ter herinnering

 

selfs ‘n gewone mens kan herinnering afskil:

die yslike nawellemoen

wat sy vorm ook

tot in sy afskil hou

 

en wat prut hier eenkant uit

soos ‘n naelstring nie behoorlik

afgebind nie –

 

nog ‘n nawel, nog son, ongedoop, ruig,

‘n geel-al waarvan ek die taai sop

tussen al agt vingermikke uitsuig

 

ek bly hier sonder taal staan; hier

kan hulle my kom haal (30)

 

Die gevoelige kind word van buite beskryf en dikwels in die derdepersoon laat praat soos in die aangrypende “sonsak” (33) en feministiese lesers sou geweldig baie voorbeelde kon kry van verse waarin die proses van menses (die “bloedstondige”, 34) ook die oorgang van die pre-simboliese na die simboliese orde vergestalt. Emily Dickinson kon glo nie die tyd gelees het totdat sy begin menstrueer het nie. Hierdie gevoelige verse aktiveer telkemale die spanning tussen die ouer digter wat die prosesse van seksuele en digterlike ontwaking ver-beeld.

Die jong kind leer ook deur ander se gesprekke van die “harde hartstog” en die “doodstil dood” (36).

 

III Om mee te begin

Nie om dowe neute nie word daar verwys na Velázquez en Escher in hierdie bundel: beide bekend om hul dubbelportrette, hul manjifieke hantering van vlakke en spieëlinge.

Die verkenning van die seksuele word so intiem en teer verhaal dat dit die leser se asem wegslaan. En dit word met soveel oorspronklikheid weergegee soos “naweek op die dorp” (43) getuig:

 

naweek op die dorp

 

liefhê is erger as kerkbasaar: jy kan jou lyf

maar skraal hou en agter stoele inskuif onder die gebed

om vir ta’ San Steyn, wat die voorste bakker

van ons omtes is, met die elmboog te beduie: jy wil

 

dié lemoenkoek met die oranje skilskaafsels

en die okkerneutklonte hê –

 

maar dit sal nie so gebeur nie, dis vir dominee

bedoel

 

en reg oorkant jou, kyk, staan hoeka ‘n seunsmens

met sy hande voor sy mik gevou

jóú oop-oog en beskou

 

(43)

 

‘n Donkerrooi dahlia word onthou soos “n gewone huisvrou / ‘n sonsverduistering: met beskadigde oë” (45) en die simbole van son/sonsverduistering word eweneens ‘n belangrike stramien in hierdie bundel wat werk met die opposisie van stilte en praat. Met die wete dat die aarde nie eenvoudig is nie; nog minder opgesom kan word (48). Die verhouding met die liefdevolle, begrypende vader (” op jou eie, in die stil kombuis”, 53) rig die lieflike woorde van die digter. Hierom kan sy nuwe name stook…

Die vader beskerm ook die gevoelige, dromende kind:

 

(…)

waar Ma die borde warm melkkos op die tafel sit en sê:

maar kind, waar was jy dan die hele tyd gewees, ons soek

jou al van dinsdag af, en jy laat weet ons niks

van jou; het jy ons nou vergeet

 

Pa, sy felblou oë reguit op my: los haar

dat sy eet

 

(“die eerste desember daarná”, 55).

 

En die verbeelding van die kind sien ons die gedig “groot katte” (55) waar die lig wat by die venster ingly ervaar word soos ‘n tier!

 

IV Lief

Hierdie afdeling resoneer met Die aandag van jou oë: gedigte vir die liefde (2002) waarin die verloop van liefdesverhouding beskryf word. Ook word die metafisika in hierdie afdeling onder die loep geneem: dit is egter ‘n God wat buite woorde lê, ‘n panteïstiese God wat verder as ver is. Dis nie die troostende Drie-enige God van die Protestantisme nie, maar eerder ‘n ervaring van die transendente wat hewig resoneer in die gemoed van die digter. ‘n Andersoortige blik word op Eva gegee in belangrike gedigte en die leser word nogal uitgedaag deur die gesprek met die Bybel en ons kennis hiervan.

In “Gety” (65) word die iteratief-duratief, die wordende proses deeglik verbeeld:

 

Gety

 

Klaarte is nie hier nie: klarighede moontlik,

maar nie klaarte nie. Niks is klaar nie

tussen jou en my. Dis alles aan die word,

 

gedurigdeur. Die golf het aangery gekom

en oorgestort; dieselfde water bly. Dis ons

 

wat in die golf geskyn het toe ons nog

dolfyne was. Die golf het aangery

 

en oorgestort. Die water bly,

ons bly dolfyn

 

(65)

 

In hierdie afdeling word die proses van liminaliteit ook beskryf – die oorgang van een dimensie na ‘n ander:

 

lumen

 

illuminasie is nooit stil

 

lig kan nie tot rus kom nie

val sus

val so

bly hang in wimpers

en in reënboë, selfs ná

die wintersdag verstryk het

 

dit is vir my verskriklik:

hierdie inkyk in jou oë

 

(67)

 

Die geliefde as ‘n teenspeler word in “bewonderinge” (68) uitstekend verwoord. Telkemale word die leser voor wendings geplaas: en lieflike liefdesverse soos “hartstog” (77). In “oor die ontmoontlikheid van pornografie” (80) – in hierdie dae van Pippi se veloorplanting – word die vel gesien as iets wat jou besit:

 

Die vel is liefde se moerland – daarom dat dit so verwoed kan

stilbly – ook en veral waar dit alles

het om te vertel.

 

In “Sandsteen” (88) word die reis na Tibet gesinkopeer met die herinneringe aan die Boesmansrivier; in “jy wat” (91) is ons in Jordanië.

 

V Somer in Eleusis

Hier is daar die soektog na “na poësieë uit ‘n ander tyd” (94) bekend aan die digter se gesprekke onder andere met Russiese digters. Die vurigheid van die jeugherinneringe word nou meer gedistansieerd en besinnend weergegee. Tog is daar weer eens die digter se unieke beelddrif (“En die druiwe hang soos tepels onder blare”, 98). “Pottebakker” (106) sluit aan by die tradisie van die lykdig en die digter se eiesoortige liefdevolle vertrekverse vir haar geliefde vriende en mede-reisigers.

Eleusis, glo die geboorteplek van Aeshylos, is die ruimte waar die antieke religieuse seremonies gehou is.

 

 

 

http://en.wikipedia.org/wiki/Eleusis

 

Afgetrek 2 Julie 2012

 

Eleusis (Greek: Ελευσίνα – Elefsina, Ancient Greek: Ἐλευσίς – Eleusis) is a town and municipality in West Attica, Greece. It is situated about 18 km northwest from the centre of Athens. It is located in the Thriasian Plain, at the northernmost end of the Saronic Gulf. It is the seat of administration of West Attica regional unit. It is best known for having been the site of the Eleusinian Mysteries, one of the most famous religious events of the ancient Greek religion,[1] and the birthplace of Aeschylus, one of the three great tragedians of antiquity. Today Eleusis is a major industrial center, with the largest oil refinery in Greece.

 

VI Met Afrika af

Ook hier vind ons gedigte vir die self waarin die intieme reiservarings, werklik en verbeeldend, verwoord word. “goue kalf” (113) vra op sy beurt om saamgelees te word met Sheila Cussons se brandende verse, die “verwasende ekstase”. In hierdie afdeling is daar ‘n terugkeer uit die “heidenlande”. Die kode van Jorge Luis Borges (“hommage”, 115) wat homself annoteer, speel weer in op die digter Petra wat haarself annoteer.

Die Jode-vervolging en deernis hiermee kom eweneens aan bod.

 

VII Met die auto af see toe

In die slotafdeling keer ons terug na die jeugervaringe en -indrukke. Aan die stemloses word stem gegee, soos Herklaas Wessels wat nooit ‘n boek geskryf het nie. So sluit die slotafdeling aan by die eerste: die sirkelgang van lewe en dood, onthou en gedig. Die broer se dood word eweneens besweer: sy sal nooit weer oor hom skryf nie; tog doen sy dit (129). Hiermee sluit hierdie bundel dan ook aan by die eerste: Obool (1977).

Onvermydelik word die vers oor die broer uit hierdie bundel opgeroep, waarskynlik een van die mooiste lykdigte in Afrikaans. 1. Hierdie traumatiese ervaring kan gelees word as ‘n pynlike wond en ‘n uitwerping uit die paradys.

Ons vind dat ook – soos dit gaan in spirituele ontdekkings – ‘n stropingsproses, hier onder andere deur die woorde van Rumi: “dra water aan see toe / staan op die strand / leer alle woorde af / leer een woord af” (153). Hierom dan uiteindelik die “silwer stilte” (158) wat in haar ore roep.

Met hierdie bundel wou ek volstaan deur sommer die hele bundel net so vir die leser aan te bied. Hopelik is my kanttekeninge van waarde vir die leser wat in hierdie bundel die werk van ‘n meester aantref.

Hierdie bundel het my weer teruggeneem na Jung se herinneringe aan sy jeug en hoe die perseptiewe jong kind alreeds sekere ervarings het wat die ouer persoon se lewe sal bepaal. Memories. Dreams, Reflections versorg deur Aniela Jaffé het in 1961 verskyn by Random House. In hierdie besinnings oor die lewe (en dood) word die leser teruggeneem na die prosesse wat in hierdie bundel verbeeld word: die psigiese parallellismes en die konneksie tussen ervarings, tussen toe en nou (418).  Hierdie bundel vergestalt wat Jung die mandala (van die Sanskrit) noem en volgens hom is dit ‘n bewys van die heel-heid van die psige – iets wat die leser aantref in hierdie bundel (367).

Die skadu in hierdie bundel is die dood van die geliefde broer waaruit sy regdeur kreatiewe vuur put. By herhaling keer sy terug hierna om telkemale dit te aanvaar in die gemoed. Die broer, en geliefde figure soos die vader en moeder, is “mythologems” waardeur haar psige werk (342).

Die sterk verhalende element van hierdie bundel moet beklemtoon word, ofskoon dit alreeds in Swerfgesange vir Susan en ander (1997) aan bod kom. Hier word mense ook by die naam genome, maar hulle word sterk mitologiese karakters.

Petra Müller is nie ‘n digteres of vroulike aanvulling nie; sy is volwaardig digter, in die oorspronklike sin van die word al skryf sy oor intens vroulike temas.

Ek het hierdie bundel in een vloed gelees – gedink hoe sou sy Die aandag van jou oë kon troef. Wel sy hét veral met die eerste drie afdelings. Dit is ‘n bundel van die hierosgamos: ‘n versoening van al die opposisies in hierdie digterlike onbewuste. ‘n Boek oor die omtes van die hart. 2.

  

Joan Hambidge

 

Junie / Julie 2012

 

 

Endnote:

 

1. Nico Müller, verdrink op 5 November 1961. Ter herinnering

  

Petra Müller

 

 

Hoe sal ek jou van hierdie volgehoue stilte red?

Kyk, die jaar is dragtig –

bome swel, riviere was

en mispels gooi hul vrugte op die grond.

Die jaar het al sy rykdom reeds gebaar

en bly nóg dragtig, swaar met jaar vir jaar

se steeds herhaalde vrug.

Die dae lê soos jong granate in ons hande, seun;

elke pit bloei rooi.

 

Ons het jou op die stam geënt.

Ons het jou in die grond geploeg.

Ons het jou naam by dag en nag geroep

tot selfs die voëls dit verder dra,

en jý, met al jou ongeskonde vreugdes

van hand, van voet en mond,

verklaar jou daagliks onafhankliker,

groei altyd vaster in die honger grond.

 

Die wintergras word wit

en om die heuwels loop die paaie

na alle verre oorde aan.

 

Ek moet jou naam nog eenmaal noem, in liefde en verset.

Hoe anders sal ek jou van hierdie volgehoue stilte red?

 

[Uit: Obool, 1977]

 

2. Boekeblad

Müller se poësie is ‘n liries helder landskap

Joan Hambidge

SWERFGESANGE VIR SUSAN EN ANDER, deur Petra Müller. Tafelberg Uitgewers, Kaapstad, 1997. (Sagteband, 131 bladsye, ISBN 0624035727, R59,95). OoR die bekoring wat Petra Müller se poësie vir my inhou, het ek my al dikwels uitgelaat. Sy is ‘n bestendige kortverhaalskrywer, en as keurder vir Tafelberg Uitgewers het sy deur die jare loflike werk gelewer en menige skrywer van raad bedien. Dit is goed dat sy verlede jaar bekroon is vir haar werk as resensent deur Leserskring se Boekjoernalis van die Jaar Wedstryd.

Petra Müller se jongste digbundel, Swerfgesange vir Susan en Ander, bevestig haar posisie as liriese digter. Sy is nie akademies ingestel nie; eerder spiritueel. En as sy in gesprek tree met ander digters, dan is dit op ‘n praatvlak: een mens tot ‘n ander. (Terloops, agterop verskyn nie ‘n foto van haar nie, maar van Osip Mandelstam (1891-1938).

Verse praat ook terug met gedigte uit ‘n vroeër bundel, soos “nico” met die vers uit Patria, wat handel oor die dood van haar broer:

dit is gedaan en afgesluit: ek skryf jou in die wasem teen die ruit waardeur ek op mistige oggende uitkyk na ‘n landskap wat skoon is, en gestroop

en deur jou helder, eenvoudige naam wit paaie wat wegloop, wegloop.

Dit is ‘n ars poetica van Petra Müller: haar poësie is soos ‘n helder landskap. Of dit is eenvoudige weefwerk wat ‘n mens imponeer om die helder kleure.

Petra Müller het al dikwels oor die Russiese digters geskryf ek dink hier aan haar gedig oor Martina Tsjwetajewa. Die gesprek met Anna Akhmatowa. En die verdigtings van Osip Mandelstam, die Russiese digter wat in ‘n kamp naby Wladiwostok gesterf het tydens die Stalinistiese vervolging. Snags het hy sy gedigte aan sy vrou Nadezjda voorgedra, en sy het dit gememoriseer en sodoende het sy poësie oorlewe.

Die bundel praat dan in die idioom van oorlewing. Van die digter as die een wat kan praat namens die dooies, die vermoordes of digters wat andersins onbekend sou bly in Afrikaans. Swerfgesange is ‘n bundel van verdriet, van afsterwe. Dit handel oor die dood van geliefde vriende: Susan Rudnitzky, Eraine Nankin en Martin Versfeld. In hierdie elegiese bundel het Müller ‘n voorloper in die digter Phil du Plessis en sy lykdigte oor Wilhelm Knobel.

Ons vind in hierdie bundel ‘n ervaring van die digter se kennismaking met die dood. Sy staan ‘n vriendin by in haar laaste reis, en sy wys op die aftakeling en die mens se vrees vir èn soeke na die dood.

In die twee gespreksverse die vriendin word soms aan die woord gestel “Nou en” en “Hier” (bladsy 62) versoek Susan haar om ‘n gedig te skryf. Die digter wil nie, want elke skryfsel skryf haar af. Tog skryf sy ‘n gedig om die dood te besweer:

…’n oorblyfsel, ‘n spelende stelling wat ons sal moet staanmaak in die plek van silwerende wittebome jaar na skoongewaaide jaar.

Die mens word deel van die natuur en a ja, a, die filosoof Martin Versfeld is nie om dowe neute op die voorblad nie. Sy ryk menslike filosofie is die bron vir bykans elke gedig. Dit spreek vanself dat hierdie bundel geskryf is deur ‘n ryp mens; en ook ‘n uiters belese mens. Maar al die invloede is verwerk. Dit kos fyn speur en nalees. Sy het my teruggeneem na Osip Mandelstam se Selected Poems, soos vertaal deur Clarence Brown en W.S. Merwin. Ook na herinnerings aan Rusland en ‘n besoek aan die Hermitage. Ook aktiveer dit die onlangse ontslape digter, Johann Johl se “verslag” oor Rusland, Roulet.

Susan word ‘n reisgesel genoem, en dit is duidelik dat ‘n mens hier kan praat van geesgenote in die ware sin van die woord. Tog is die afsterwe van die vriendin ook ‘n klaarmaak met iets in die digter self:

“drie-uur snags” Hoe hang die vensters in die esbome, elk ‘n dofgeworde vierkant lig in lower, luisterend na die gedig. Ek is vreemd hier. Ek leef van flentertjie tot flentertjie papier.

Dit is die tyd van die nag wanneer mense sterf; die kreatiewe mense lewe, vertel die Jungiane. Dit is wanneer die liggaam se weerstand op sy laagste is, en die psige as’t ware die oorhand kry. Ons weet ook dat die digter ‘n kenner van Jung is en, die bundel so gelees, word eweneens ‘n verslag van afsterwe, van klaarmaak met oortollige psigiese bagasie.

Benewens die gestroopte verse wat tot hierdie leser spreek is daar ook langer gedigte. Haar vers oor Rembrandt hoort in die galery van ander klassieke Rembrandt gedigte in Afrikaans. “Herinnering het jou reeds afgerond/ terwyl ek na jou kyk” (bladsy 72) is die refrein waarmee ek hierdie bundel gelees het. ‘n Mens sal eweneens ook nie die volgende strofe kan vergeet nie:

ek is ‘n digter, ek: ek werk met skaduwees, met liggame op trek; ek kry eers lewe as die avond met gesange uit die rante rek

en enkel swerwers, byna reeds geraamte, op die grondpad vind.

Daar is verwysings na die musiek, Chinese digkuns, die Russiese wêreld, die filosofie, kunswêreld. En ‘n bemoeienis met die dood is ook ‘n bemoeienis met die lewe. En hoë gedagtes veronderstel ook ‘n erkenning aan kafpraters “Sneeu in September: Agter-Pakhuis”, (bladsy 34), word opgedra aan wyle Daantjie Saayman.

Omdat sy hierdie kruis/munt-beginsel besef, is daar reëls soos:

Dit is hier nou nugter oggend in die klippe.

Elke hart het in sy holte tuisgekom.

Dit is ‘n bundel wat sy beslag gekry het in “helderte en pyn”. Die digter knoop ook ‘n gesprek aan met haar eie poësie en sy word al suiwerder. Die eiesoortige aanslag van Petra Müller se poësie, en die onbekende of minder bekende verwysings wat sy aan lesers voorstel, moenie onvermeld gelaat word nie.

Haar poësie is uiters sintuiglik. Sy dig aards, konkreet. Dit is iemand wat die wêreld om haar sién. Sy praat terug met Leipoldt, met Boerneef en met Opperman. Vir die leser lê daar ‘n leeftyd voor om uit te pluis aan hierdie digter se alfabet (om haar woorde aan te pas.)

Dis die moeite werd om saam te reis.

Joan Hambidge

Joan Hambidge is ‘n professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die UK.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Resensie: Om die gedagte van geel (Petra Müller)”

  1. Melanie Grobler :

    Baie dankie vir hierdie resensie.