Trienke Laurie. Domkerke
Domkerke
Katedrale bekyk, die een na die ander,
oorweldig deur kuns en omvang van skaal,
maar kerk is dit nie. Later bly net oorkoepelend
‘n gedagte van ribbe, van deurstraalde vensters,
van benoude Pandorabieghokkies en beelde —
maar: sing daar per toeval ‘n koor a cappella,
en die klank word aangegee en vaar deur die skip
en die dwarsskip tot bo in die dakribbe
waar duiwe in die vlegwerk in beurtsang koer,
of sien jy iemand wierook in Gods skaal bid
en ‘n kersie vir ‘n sieke opsteek,
dan breek jy met Iemand brood,
sluit Petrus inderdaad die deure oop.
© Trienke Laurie, 2012









Pragtig, Trienke! So pragtig!
Dankie. Thomas. Ek het dit nodig.