Onderhoud met Jacobus van der Riet

 

 

Die Onsienlike Son en die sigbare heiliges

Onderhoud met Jacobus van der Riet (foto) deur Cas Vos

***

Kobus, van harte geluk met jou uitstekende debuut. Dit is ‘n bundel wat die Afrikaanse poësie verryk en verdiep. Dit is ook pragtig uitgegee deur Protea Boekhuis.

Dankie, Cas, ek is bly as jy van die gedigte hou. En soos jy sê, is baie dank aan Protea verskuldig vir die baie moeite wat hulle gedoen het.

Wat my onmiddellik opval, is die buiteblad. Ek dink nog steeds dat ‘n buiteblad ‘n sleutel tot ‘n bundel is. Waarom het jy juis Gregorius van Nazianzus se afbeelding as buiteblad gekies?

Ek het eers die titel gekies, en daarna die ikoon, omdat die titel uit die gedig oor die Heilige Gregorius kom, en omdat die ikoon vir my besonder mooi is, en ook miskien omdat die kleure daarin die kleure van Paul Roos Gimnasium en die Universiteit van Stellenbosch is, waar ek skoolgegaan en studeer het.

Die titel kom ook uit dié gedig aan Gregorius. Waarom het jy dié bundeltitel gekies? Is daar nie ‘n teenstelling in die titel nie? Die Son word tog gesien. Hoe kan die Son onsienlik wees? Natuurlik kan die ligbron ook verblind. Of het dit ‘n duidelik toespeling op God wat nie alleen die ligbron is nie, maar Self ook Lig genoem word? God is in sy heerlikheid onsienbaar.

Die Kerkvaders praat dikwels van die Drie-sonnige Son, met verwysing na die Drie-eenheid, en dan is daar mos ook die verwysing na die Son van Geregtigheid in die Heilige Skrif. In die Ortodokse teologie word ‘n onderskeid getref tussen die onbegryplike, ontoeganklike wese van God en die energieë van God waardeur Hy Hom betuig (sy genade) en Hy o.a. dan as ongeskape Lig of Heerlikheid ervaar kan word. Hierdie ongeskape Lig is normaalweg onsienlik, maar as ‘n mens se oë deur die einste energie van God aangeraak word, kan dit wel sigbaar raak, soos bv. tydens die Verheerliking op die Berg Tabor. Vir die askeet sou so ‘n ervaring die hoogtepunt der hoogtepunte wees, om begryplike redes.

Heiliges is o.a. in die Rooms-Katolieke en Grieks-Ortodokse tradisies bekend. Is die verklaring tot heilige ‘n kerklike besluit of speel ander faktore ook ‘n rol? Sou jy nie tog ‘n plek aan Augustinus, een van die grootste teoloë van alle tye, wou gee nie?

In die Ortodokse Christelike Tradisie word die proses van kanonisering verstaan as die blote erkenning dat iemand deur God verheerlik is(1 Kor. 12:26) en dat die Kerk hom daarom daarin kan verheug. Die aanduidinge dat iemand verheerlik is, kan verskil van persoon tot persoon, maar dikwels sal dit ook wonderwerke voor en ná die persoon se ontslaping behels.   

Ek kan eintlik net skryf as ek deur ‘n heilige se geskiedenis aangegryp is en ‘n sterk behoefte ervaar om oor hom of haar te skryf. Die Heilige Augustinus is effe omstrede in die Christelike Ooste vanweë sy teologie en teologiese metode, hoewel sy heilige lewe erken word. Tot dusver het ek nog nie die behoefte ervaar om oor hom te skryf nie, maar wie weet wat die toekoms sal oplewer?

Wat is die betekenis van heiliges? Is hulle prysenswaardig of net navolgingswaardig? Is daar onheilige heiliges?

Die heiliges is hulle wat, ten spyte van hul tekortkominge, God bo alle ander dinge liefgehad het en na Hom verlang het, waarop God, wat hulle eerste liefgehad het, Hom aan hulle gegee het as genade. Die heilige is hulle wat vol van hierdie genade (of energie)van die Drie-enige God is, en dus vol van God is, wat die genade as gawe ontvang het en dit behou het en daarin gegroei het. Dit veronderstel ‘n proses van medewerking (sinergie) met God, wat dan uitloop op hul verheerliking. Om met so‘n heilige in aanraking te kom is’n verkwiklike ervaring, omdat die heilige vol van die lig en vrede en blydskap en liefde en goedheid van God is en dit kan oordra aan ander wat daarvoor ontvanklik is. Dit gaan dus om veel meer as bloot navolgingswaardige etiese modelle. Party heiliges het God van kleins af lief en ander loop miskien eers ander onvrugbare paaie voordat hulle hul tot God bekeer, soos ons ook in die bundel sien.

In die Ou en Nuwe Testament het die woord heilige ‘n veelvoud van betekenisse. God is die Heilige, tempelvoorwerpe is heilig,  gelowiges word ook heiliges genoem. Daar is ook loodglas afbeeldings van heiliges in katedrale (vgl byvoorbeeld die vensters van ‘n  Kerk in Duitsland wat deur William Morris (1834-1896) ontwerp is). Hoe verbind jy die begrip heilige met die heiliges in jou bundel en in die kerklike tradisie?

Soos ek gesê het, verstaan ek die heiliges as hulle wat aan God wat hulle eerste liefgehad het toegewy is en daarom sy genade ontvang het en gevolglik vol van God se genade is. Die heiliges is ‘n bevestiging van die Evangelie, van die werklikheid van die verlossende en verheerlikende werk van die Heiland. As jy ‘n heilige in sy verheerlikte staat sien, kan jy daaruit aflei dat sy of haar Heiland steeds werksaam is soos in die Evangelies en Handelinge van die Apostels.

Wat my ook tref, is die afbeeldings van die ikone by elke gedig. Is die visuele en woord (gedig) voorkoms vir jou belangrik, en indien wel, waarom?

Die ikone beeld die heiliges in hul verheerlikte staat uit en is dus ‘n viering van die werk van God in hul lewens, en boonop herinner dit aan die gemeenskap van die gelowiges, aan die wolk van getuies rondom ons wat steeds by ons heil betrokke is, deur hul voorbidding by Christus. Op ‘n ligter noot, as iemand nie van die betrokke gedig hou nie, sal hy dalk darem van die ikoon hou. Die gedig en ikoon hoort saam want beide probeer om op verskillende maniere erkenning te gee aan die verheerlikte staat van die heilige. 

Die biografiese aantekeninge oor die heiliges is vir die leser ‘n onskatbare bron van inligting om jou gedigte te verstaan. Dit is duidelik dat jy ‘n kenner van die ikone is. Is jy dit hiermee eens?

Die aantekeninge kom uit die sg. Synaxarion oftewel die Lewe van die Heiliges wat ek elke dag lees en is ‘n bondige samevatting daarvan. Wanneer ek dit lees, ontwikkel ek miskien die behoefte om oor een van die heiliges te skryf, maar daarna volg daar meestal eers‘n proses om ‘n geskikte invalshoek te probeer kry of ‘n gepaste deurlopende beeld. ‘n Mens moet as’t ware eers in kommunie met die heilige tree voor jy oor hom of haar kan skryf en dieselfde geld vir die ikoonskilder, verseker Julia Bridget Hayes wat die ikone geskilder het my. Ek reken, volgens die getuienis van my geoefende oog, dat sy ‘n besonder knap ikonograaf is, wat haar werk met die juiste geestelike ingesteldheid benader. Haar werk is op die Internet te sien.

Kobus, jy staan in die ry van ‘n lang tradisie van digters wat oor heiliges dig. Ek dink hier o.a. aan N.P. van Wyk Louw, Sheila Cussons en I.L. de Villiers (aan wie jy jou bundel o.a. opgedra het). Sou jy jou met die digters oor dié aspek kon vereenselwig? Sou jy jou gedigte ook binne die mistieke verse van Sheilla Cussons en selfs sommige van I.L. de Villiers kon plaas?

Ek het dikwels aan Van Wyk Louw se “Rondloper” gedink, toe ek die gedigte geskryf het, want die “Rondloper” is vir my gevoel ‘n heilige figuur wat ‘n mens maklik in Rusland van ouds sou kon aantref, en ek het ook aan die H. Petrus-gedig van hom gedink, maar ek sal myself uiteraard nou nie in sulke uitgelese geselskap tel nie, om van Cussons nie te praat nie. My gedigte is heelwat eenvoudiger.

Ek het vir I.L die Villiers ná ek so ses of sewe van die sonnette geskryf het, gevra of hy dink daar kan iets van kom en hy het my toe sterk aangemoedig om 40 sonnette oor die heiliges te skryf en dit was natuurlik ‘n groot aansporing, selfs al het ek destyds getwyfel of dit moontlik sou wees. 

Wat jou bundel so anders, so uniek maak, is dat jy die mantel van die sonnet, in afwisselende vorm, as digvorm moeiteloos oor jou gedigte se skouers hang. Plaas dit die heiliges op gelyke voet of is daar ander literêre oorwegings?

Die eerste gedigte, t.w. die oor die H. Serafim van Sarof, was sonnette en ek het toe bloot daarmee aangehou, sonder enige literêre oorwegings. I.L. de Villiers het gedink ek behoort ook rymlose sonnette te probeer, maar tot dusver het ek nog nie sy advies gevolg nie. 

Die sonnet as digvorm kom die eerste keer by Guiitonne d’Arezzo (1230-1294) voor (vg ook Giacomo da Lentino). Die poëtiese tradisie is ryk aan sonnet digters in wisselende vorme. Daar is die bekende Beatrice sonnette van Dante (1265-1321) en Petrarca se 317 sonnette aan Laura  (1304-1374). Verder is daar ‘n lang ry van sonnetdigters. Om net enkeles te noem: William Shakespeare, Rimbaud, Baudelaire, Verlaine, Milton, Wordsworth, Shelley, Keats, W.H. Auden, García Lorca, John Berryman, Remco Campert, Gerrit Achterberg, Rainer Maria Rilke, Walt Whitman en Christopher Reid. Die Afrkaanse poëtiese tradisie is ook ryk aan sonnette. Ek dink aan C. Louis Leipoldt, N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, Peter Blum, Elisabeth Eybers, Charl-Pierre Naudé en I.L. de Villiers. En nou het jy, Kobus, die tradisie verder verryk. Was die konsekwente rym nie vir jou ‘n struikelblok (skandalon) nie? Dit het vir my nie so voorgekom nie.  

Ek het voorheen vrye verse geskryf, daarom was beslis ‘n aanpassing, veral omdat party woorde oënskynlik geen rymwoorde het nie of altans nie rymwoorde wat in die bepaalde gedig pas nie. Ek probeer natuurlik om rymdwang te vermy. Ek hou die meeste van Keats se rympatroon in Ode to a Nightingale waar elke reël met die derde reël ná hom  rym, en dus ‘n sekere spanning skep wat uiteindelik op ‘n salige wyse deur die rym opgehef word.

Vir my is, as ek een sonnet moet uitsonder, Die heilige Maagd Maria, die moeder van God ‘n juweel. Veral die twee slotreëls is treffend:

 

Wees bly, braambos wat brand sonder om uit te brand,

ligkolom wat ons lei na u Seun: God en Beloofde land.

 

Daardie sonnet is gebaseer op die sg. Akathistoslied van Romanos die Melodis, waar hy elke reël met “Wees bly” /”Verheug u”/ “Wees gegroet” begin (afhangende van hoe ‘n mens dit wil vertaal) en dan die Maagd dan so in soortgelyke terme as in my gedig in 12 lang en 12 korter strofes aanroep. Daardie gedig is vol woordspelinge, en interne en slotryme, en word na 1500 jaar steeds daagliks in kloosters in Griekeland en elders gesing.

Kobus, watter sonnet sou jy as jou gunsteling uitsonder?

Sjoe, dis moeilik, want elkeen het sy eie ontstaansgeskiedenis en ‘n mens kan ook jou liefde vir die heilige met jou liefde vir die gedig verwar. Dit gaan om liefde vir Christus in sy heiliges en die poging om daardie liefde uit te druk. Die gedig word vir ‘n mens waardevol omdat dit ‘n mens in staat stel om soos in ‘n liefdeslied aan iets uiting  te gee, en des te meer as dit dalk ‘n geslaagde gedig is.  Dalk  die een oor die H. Evangelis Johannes die Teoloog, die H. Polikarpus, en die H. Isak die Siriër, maar daar is ander ook wat eweneens my besonder na aan die hart lê, as ‘n mens so iets van jou eie gedigte of liefdesliedere mag sê.  

Kobus, nogmaals dankie vir die gesprek. Ek hoop die lesers vind dit ook verrykend.

Dankie, Cas. Die ideaal is mos om ‘n gedig te skryf wat jyself of jou leser by herhaling sal wil lees, so ek hoop elkeen kry ‘n paar daarvan in die bundel. 

Kobus ‘n slotwoord van jou asb.

‘n Mens kan gedigte uit meer as een motief of beweegrede skryf, bv. verontwaardiging of verdriet of vertwyfeling of ontsteltenis, of uit liefde of verwondering of wat ook al, en al daardie beweegredes kan geldig wees. In hierdie bundel het ek veral uit die beweegrede van liefde geskryf, met hier en daar ‘n bietjie verontwaardiging, en probeer om die fokus grootliks op die geliefdes te laat val. So die lesers sal nie veel oor die skrywer, soos in meer persoonlike gedigte,   wys word nie. Ek wou nie die heilige as kapstok gebruik om oor my eie innerlike lewe te skryf nie. Ek hoop die lesers sal daarvoor begrip hê.

 

Jacobus W. van der Riet is in 1959 in Stellenbosch gebore waar hy ook skoolgegaan en studeer het. Hy het grade in die Teologie en Klassieke Tale, en het ‘n Ph.D. by Wits verwerf oor die digkuns van Horatius, Catullus en Tibullus, ook met verwysing na klassieke Griekse digters. Hy het as hospitaalkapelaan by Groote Schuur gewerk, as dosent in Klassieke Tale by Wits en Unisa, as, boekwinkelassistent, en aflosonderwyser, en kombineer tans die Ortodokse priesteramp in die bisdom van Johannesburg en Pretoria, in gemeentes in Eldorado Park en Rustenburg, met biblioteekwerk in Johannesburg. Hy het in die V.S.A. by ‘n Ortodokse seminarie studeer en ‘n jaar lank in Griekeland in ‘n klooster deurgebring, o.a. om die moderne Griekse taal sover moontlik te bemeester. Naas die letterkunde is hy geinteresseerd in die teken- en skilderkuns, inluitende ikonografie en die karikatuur- en spotprentkuns.

 

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Onderhoud met Jacobus van der Riet”

  1. John Huisamen :

    Ek sien uit om die bundel in die hande te kry. Die onderhoud inspireer my om die bundel te wil lees.

  2. Melanie Grobler :

    baie dankie! ek sal die boodskap aan Petra oordra.

  3. Marianne de Jong :

    Veels geluk!

  4. Louis van Jaarsveld :

    Ek sê amen, g’n niemand het nog ooit vir God met ‘n oog gesien nie. In daardie sin had Kant en Degenaar gelyk. Nogtans kan so ‘n ontnugtering ons net op moedverloor se vlakte laat. Waffer sterfling sal ooit Sy dogter na behore kan voed en koester?! Maar wanneer Adam en Abram en Josua, Dawid, Daniël en Esegiël egter vir ‘God’ gesien het, het hulle nie dalk… Sy Oogappel gewaar nie? Want dis sy verskuilde glans wat die driestuks wel kon sien toe hulle die oë na die bergstap uitvee; vir niemand anders onder die son sou ‘n siniese Thomas dit uitkry nie: ‘my Here en my God’; alleen Hy bly ons heiligmaking. Die lig in Hom is sterker as die son (Hand 26: 13), sodat die son van die ou natuur skaam raak en in sy dop ga’ kruip (Jes 24: 23). Soveel meer intens is die Son van geregtigheid, dat ons opnuut moed mag skep; Hy bly eintlik die Bruidegom. Uit Sy koperoond is golf op golf van ons Pa-goed se glorie na ons kant aan’t versmelt.

  5. Barend Vos :

    Ek stem saam met John Huisamen; dankie dus vir die onderhoud. Vir die deurdagte vrae en die diepsinnige antwoorde. Ek kan nie wag om te begin lees aan die bundel nie.