Resensie: Hanekraai (Daniel Hugo)

Hanekraai. Deur Daniel Hugo. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-763-6; 72 bladsye; Sagteband.

Resensent: Bernard Odendaal

 

omslag

omslag

‘n “Lettergreepteller” noem Hugo homself in die onlangse onderhoud met Joan Hambidge wat elders op hierdie webwerf verskyn.

Hy hewel daardie beskrywing oor uit die vierde strofe van “Digters”, ‘n gedig wat net mooi op die halfpadmerk staan van hierdie veertiende bundel eie verse van hom. Hy het dit in daardie strofe naamlik oor “die suiniges” wat “gekwel” voel oor “te veel woorde”, maar wat ook “presies” is in hulle taak – anders as digters wat byvoorbeeld uit sentiment of drif na die pen gryp.

In die genoemde onderhoud verduidelik Hugo (nie sonder die tong in die kies nie) dat die vormvastighede in sy werk ‘n klaarblyklike poging verteenwoordig om die ‘onsekerheid’ en ‘onveiligheid’ van “te veel vryheid” te besweer. Die verkieslike hou by reëlmaat in reël- en strofelengtes, die voorliefde vir ryme, die benutting van geykte vorme van korter bestek val dus op in Hanekraai. Dis ‘n bundel waarop die Hugo-stempel duidelik pryk. Trouens, hierdie keer word die bondigheid, die gedrongenheid van segging selfs verder gevoer as voorheen. Tientalle kwatryne en haikoes deurspek die bundel byvoorbeeld, en heel dikwels word gedigopskrifte (na die voorbeeld van die bundeltitel) beperk tot enkelwoorde. Vandaar dat die inhoudsopgawe in twee kolomme op ‘n enkele bladsy weergegee kan word.

Fyn, dikwels oombliklike waarnemings, impressies, insigte en ontdekkings word vasgevang in vorme en beelde wat verras, wat van vernuf getuig, en waardeur die vlietende tog iets van ‘n groter bestendigheid blyk te verkry. In ‘n haikoe waarin ook die nalatenskappe van ‘n Totius en ‘n D.J. Opperman naklink, vertolk Hugo iets van die benardheid van hierdie strewe:

 

Digter     

na W.H. Auden

 

soos die tinktinkie

onthou hy net ‘n fraksie

van sy ware lied[.]

 

Of in die volgende kwatryn:

 

Muse I

na Victor Hugo

 

jy is soos ‘n voël

wat neerstryk en sing

selfs al buig die tak –

suiwer bevlieging!

 

Dit mag “tinktinkietaal” wees, maar die digter ont-hou daarmee darem “‘n fraksie” belewing van verdwyning in die groter, onvatbare geheel. Kenmerkend van Hugo duik die metaforiese spieëling tussen werklikheidswaarneming (of -belewing) en poëtiese vormgewing derhalwe oral in die bundel op.  Vergelyk die prettige “Pterodaktiel” (opgedra aan wyle Ernst van Heerden):

 

KLAP-wap-wap, KLAP-wap-wap, Klap-wap-wap

kom dié daktiliese dier

na ‘n nes van woorde aangeflap[.]

 

Of kyk selfs al net na die titels van die drie kwatryne in die reeks “Drieluik”: “Lugspieël”, “Bladspieël”, “Seespieël”.

In “Veertien reëls vir ‘n wettelose land” neem Hugo ‘n standpunt in ten gunste van intieme, persoonlike poësie, geskryf vir “die binne-oor” – en waarby die voorkeur vir ‘minimalistiese’ vorme dan aansluit. “Wat help dit,” lui die onderskrif by die gedigtitel, “om die misdade hier te noem as die oortreders net so doof is vir die taal as die gedoemde moraal?” Ontstemmend fatalisties loop die gedig uit op die volgende reëls:

 

[…] Ek lawe my verslae ego

met dáárdie klanke van Afrikaans

wat nog net in die binne-oor bly eggo.

 

“[E]go” en “eggo” – ‘n halfrymende woordpaar, deur klankspel nou ook betekenismatig op mekaar afgestem, wat iets wesenlik aangaande die liries-musikale aard van die sonnet saamvat. Terselfdertyd, egter, vertoon dié ‘sonnet’, op funksionele wyse, ook iets ‘wetteloos’ deurdat dit min van die klassieke kenmerke van die geykte sonnetvorme behou!

Die standpuntinname vir “binne-oor”-poësie moet mens wel met ‘n knippie sout neem. Betragting en beoordeling van die mens se verhouding met die natuur, en van die rampspoedige invloede wat hy op sy mede-spesies gehad het en toenemend het – soos in ‘n groot deel van die eerste helfte van die bundel onder woorde kom – is nie “tinktinkie”-onderwerpe nie. Ook nie die afrekening met “Jahweh” en godsdiens-geïnspireerde sieninge in ‘n reeks gedigte nader na die einde van die bundel toe nie. (‘n Eiesoortige “geding-met-God” is waarskynlik al uit ‘n subgroep gedigte in Hugo se oeuvre te ontrafel.)

Hierby moet die opmerklike reeks-aard van baie van die gedigte in Hanekraai in ag geneem word. Soos in Die panorama in my truspieël, sy vorige bundel (uit 2009), staan die gedigte in Hanekraai nie gegroepeer in afdelings nie, maar is daar duidelik motiewe (spieëling, voëls, wind, kat, water), temas (die mens en sy ewolusionêre voorgeskiedenis, die [menslike] kwesbaarheid, poëtikale besinnings, ensovoorts) en vormbeginsels (die reeds genoemde haikoes, kwatryne, ensovoorts) wat intergedigtelike samehange beklemtoon. Sodoende word tog ‘n groter ‘greep’ op die menslike belewing (van die werklikheid) bewerkstellig.

Derhalwe kan in “Afrika, my Afrika” aanvanklik (oënskynlik) weggekyk word van groot impakte soos “sprinkane en droogte / haelstorms en meteoriete”, en gefokus word op “die klein irritasies / wat my radeloos maak: / vlieë, vlooie, muskiete”; ten slotte blyk egter dat dit juis iets miniskuuls soos die vlieg, daardie “voorste sensasiesoeker”,  is wat “geboei” word “deur trane wat loop, bloed wat vloei”.

‘n Mens sou selfs kon redeneer dat iets van ‘n sikliese verband die gedigteplasings in Hanekraai rig. Dit word al aangedui deur die dagbreek- en hanekraai-motiewe wat in die bundelmotto en die eerste twee gedigte, asook weer in die laaste twee gedigte van die bundel prominent gemaak word.

Hugo is nie net ‘n lettergreepteller nie, maar ook ‘n gedigteteller en -afweger. Luidens die reeds genoemde, enkelbladsy-lange inhoudsopgawe val die bundel uit in twee ‘tafels’ van twee-en-dertig gedigtitels elk. Die eerste helfte bestryk iets van die voorgeskiedenis van die mens se aardse verblyf; vervolgens die heerlikhede en haglikhede van die mens se verhouding met sy omgewing, en van sy belewing van die natuur; daarna volg enkele herinnerings- en reisgedigte; en na die middel van die bundel toe tree kunsskepping en digterskap as tematiek op die voorgrond.

Laasgenoemde loop oor as onderwerp van die eerste paar gedigte op die tweede ‘tafel’ van die inhoudsopgawe, maar met ‘n duidelik sterker ironiserende en (self-)satiriserende inslag. ‘n Reeks huldigings en hekelings van (meestal gestorwe) mededigters volg, dan ‘n paar gedigte met aftakeling en dood (ook selfmoord) as tematiek, dan die vermelde, strydvaardige, ‘religieuse’ verse. En pas voordat by die “hanekraai”-slotverse gekom word, duik ‘n vyftal erotiekgedigte op – as voorspel op die herlewing van die daglumier.      

Dit is duidelik dat die dubbelsinnighede wat in die bundeltitelwoord skuil – (nuwe) begin, verloëning/verraad – wel in die bundelinhoud verreken is. Ek het net ‘n keer of wat gewonder of die titel genoeg implikasiereikwydte bevat om al die motiewe en temas in die bundel ‘n behoorlike onderdak te kan gee.

As leser word ek deur talle fasette van Hugo se digkuns geboei en vermaak. Die aantreklikste is seker die allooi van vernuf en (soms grimmige) humor wat hy gekataliseer kry, en die bewonderenswaardige beeldvindinge. Ek noem maar net die (goedaardige!) gespot met uitgewers en stiplesers in “Heil die leser”; of die beeld van die van oos na wes Meksikaans-golwende oggend-ereksies op die aarde se lengtegrade langs in “As die haan kraai”; of die opstuur van clichés oor digterlikheid, oor God en religie, en oor “[d]ie vrye natuur”.

Ek het dit al voorheen gesê, maar herhaal graag: In vergelyking met wat sekere generasiegenote van hom gegun word, weerspieël die bladruimte wat tans aan Hugo se werk in ‘n literêr-historiese bloemlesing soos Groot verseboek afgestaan is, nie sy relatiewe belang as digter (en poësievertaler) nie.

 

Bernard Odendaal, direkteur van die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit  

 

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Resensie: Hanekraai (Daniel Hugo)”

  1. Joan Hambidge :

    Ek gaan akkoord. Hugo word nie genoegsaam in Groot verseboek verteenwoordig as digter en vertaler nie.

  2. Buiteblaf Breytenbach :

    Ek stem saam. So ‘n bek moet baie meer jêm kry, al is dit ook by wyse van mondjiesvol genoeg-genoeg om die sout en die suur saam met die soet te kan inneem.

  3. Leon :

    Sjoe, Bernard. Ek kry die impressie jy het te veel tyd op hande.

  4. Leon Retief :

    Net om uit te wys – ek weet nie wie boonste Leon is nie, maar dis nie Leon Retief nie.

  5. Desmond :

    Ons glo vir Leon Retief, want hy is nie ‘n anglisissie nie, en sou dus nooit “impressie” geskryf het nie… 🙂 (Net ‘n grappie, ander Leon, wie jy ook al is.)

  6. Irma Badenhorst :

    André Brink is seker kwaad vir Daniel Hugo oor iets, daarom dat hy so min van sy gedigte in Groot Verseboek gebruik. En dit slaan my ook dronk dat daar so baie (swak) gedigte van Fransi Phillips in Groot Verseboek is, maar nadat ek enkele jare gelede ‘n onderhoud in Stilet gelees het wat Phillips met Brink gevoer het en waaruit dit duidelik geblyk het hoe innig sake tussen die tweetjies gesteld is, maak dit sin. Tog jammer dat die Afrikaanse digkuns gebuk moet gaan onder die tirannie van André P. Brink.

  7. Buiteblaf Breytenbach :

    Ek kan my nie indink dat André Brink en Daniël Hugo juis oormekaar sou val (of elkander sou oorval) as bedmaats nie. Maar wat sê dit dan van die te veel gedigte van my wat André in Groot Verseboek gaan stop het?