Hardus Ludick. Die taal
Ek is ‘n 16-jarige. Eerste taal Afrikaans, tweede Engels, derde Duits.
Alhoewel ek nog altyd hou van lees, het ek eers onlangs ‘n dieper passie ontwikkel. Ek het vir baie lank gedink dat die Afrikaanse letterkundige bedryf maar klein is, totdat ek begin rondkyk het. Etlike duisende boeke waarvan ek nooit gehoor het nie is te koop vir ‘n appel en ‘n ei. Duisende letterkundige liefhebbers dra meningsvolle skryfwerk toe tot LitNet en Versindaba. Ek is verheug, want hier kan ek uiteindelik gesels/lees met/oor die Afrikaanse letterkunde wat ek so liefhet.
Dit lyk nog een oomblik so verskriklik baie, asof dit onmoontlik is vir enigiemand om dit mis te kyk. Maar dan vermoed ek ‘n droewige waarheid: daardie duisende is maar min teen die miljoene Afrikaans-sprekendes wat net nie omgee daarvoor nie! Hoekom nie?
Goed, nie almal hoef te hou van lees en skryf nie. Dit is logies. Maar wat my pla, is dat daar dalk iewers iemand is wat graag meer sou wou weet, maar net nooit blootgestel word daaraan nie. Wat sou gebeur as Ingrid Jonker in 1995 gebore is? Sou die gemiddelde hedendaagse ouer haar blootgestel het aan die dinge wat sy nodig sou hê? Dit klink verspot, maar dit is eintlik kardinaal: wat van as ons een van ons toekomstige potensiële top skrywers kwytraak, omdat hy/sy nooit eers geweet het dat daar iets is soos die soet ritme van ‘n gedig en die geleidelike samesleping van ‘n roman nie? Wat sou gebeur as enige van die steunpilare van Afrikaans se nalatenskap skielik net nooit bestaan het nie? Ek is seker dat ek nie alleen is om te besef dat ek ‘n baie minder vreugdevolle en volmaakte mens sou wees nie. Kies u gunsteling skrywer. Verbeel u daardie persoon is weg. Ek moet dit beklemtoon: WEG! Soos die fondament van ‘n kaartehuis, sou alles wat daarop gebou was, saam met dit platval. Wie sou u wees?
Ek tik hierdie ‘brief’, maar ek weet dit is tevergeefs. Ek weet wat ek wil hê: dat elke kind moontlik blootgestel moet word aan die prag van Afrikaans. Maar ek weet nie hoe om dit te bewerkstellig nie. Ek dink wel dat ‘n beginpunt sal wees dat elke ouer wat wel hierdie lees, seker maak sy/haar kinders weet van hierdie beeldskone en onsigbare wêreld. Lees vir hom/haar: ”Moenie slaap nie, kyk! Agter die gordyne begin die dag dans met ‘n pouveer in sy hoed”, of wat ook al u verkies. Laat hulle darem weet wat hulle mis. Dan kan hulle self besluit, en mens kan hulle hul besluit gun. Maar om ‘n besluit te neem, móét mens weet wat dit is wat jy dalk prysgee.
Ek vra nie veel nie. Ek wil net weet dat daar iets gedoen word. Ek was grootgemaak in ‘n huis en familie wat deurentyd ‘n passie het vir die taal en al sy fasette. Iemand wat ek ken het dieselfde blootstelling gehad, en het nie aanklank daarby gevind nie. Ek gun daardie persoon dit, want dit was ‘n ingeligte (maar jammerlike) besluit. As ek moet dink wie ek sou wees sonder my taal, raak ek bedroef. So kom ons “laat ‘n stad bloei uit Afrikaans se grond”, terwyl daar nog ‘n generasie is wat dit kan doen. Moenie hierdie taak van u kinders verwag nie, want as u nie u kant bring nie, gaan die nuwe geslag verseker nie.
Vriendelike groete
Hardus Ludick








Hardus, Dankie vir jou passie vir die Afrikaanse letterkunde en jou drif dat ander kinders ook toegang kan hê daartoe. Steek gerus kers op by Adriaan Louw wie nou by US studeer maar as kind al sy vriende betrek het by opvoerings, teater, gedigte en musiek. So het hy nuwe wêrelde vir hulle oopgemaak en hulle verryk. Dit het deel van hulle verwysingsraamwerk geword, ook hoe hulle kwaliteit raakgesien het in die kunste en dit verder bekend gemaak het. Hy het op skool al resensies oor jeugboeke vir Litnet geskryf.
‘n Film soos Dead Poet’s Society is ‘n goeie beginpunt om dan verder te kyk na Afrikaanse gedigte wat jy met vriende kan deel. Ook ‘n boek soos Catcher in the Rye, absoluut klassiek. Kyk na die jeugboek, ‘My kat is herfs’ van Barrie Hough of enige boek wat jou beindruk het en met nuwe oë na die wêreld laat kyk het. Lees vir jou vriende ‘n deel van hierdie stuk wat jy geskryf het voor of vonkpos dit vir hulle en bespreek dit met hulle.
Jy is reg, dit is ons almal se verantwoordelikheid om die rykdom van letterkunde met kinders te deel, en dit vir hulle toeganklik te maak. Jy het jou eerste treë as ‘n kunsaktivis gegee deur hierdie drif van jou met ons te deel. Nou deel party van ons ook ‘n stukkie van jou drif en jou verantwoordelikheid.
Baie dankie vir die wonderlike woorde. Ek sal beslis met Adriaan kontak maak, en hoor watter raad hy dalk het.
Dead Poet’s Society is een van my gunsteling flieks (ek is bowenal ‘n fliek-liefhebber), en dit kan beslis ‘n beginpunt wees.
Ek het nie baie vriende my ouderdom nie, wat my natuurlik baie pas. Maar ek probeer tog om geleidelik die saadjie, nl. dat daar iets beter is in hierdie wêreld, te plant. Ek skraap nog skaars die punt van die poësie-berg, en het dus nog nie Barrie Hough se werk gelees nie. Sal wel uitkyk daarvoor.
Nogmaals dankie vir die kommentaar, dit word waardeer en toegepas. Ek hoop dat dit nie die laaste is wat u van my sien nie!
Groete
Hardus