Andries Bezuidenhout. Oopmond by Oppikoppi 2012
Verlede naweek was die agtiende Oppikoppi rockfees. Dis eintlik nou al bietjie meer as ʼn rockfees. Daar was uitstallings van foto’s en grafiese kuns, asook ʼn aantal dokumentêre films wat vertoon is. Dan is daar die deel oor digkuns. Hierdie jaar is die Oopmond-vertoning vir die eerste keer aangebied. Dis ʼn variasie op die Poetry Slam/Bekgeveg-ding:
Die gehoor kies ʼn onderwerp. Dan word daar impromptu-gedigte geskryf deur digters uit twee spanne, wat met mekaar meeding. Tot dusver is dit soos ʼn tipiese bekgeveg. Met Oopmond word die gedigte egter getoonset deur musikante. Hierdie jaar was die musikante Valiant Swart en Jaco van der Merwe. Laasgenoemde is bekend vir sy band Bittereinder, maar meer onlangs doen hy (benewens Bittereinder) rustiger folkmusiek saam met ʼn nuwe band genaamd Die Begin. Hy is deur twee van die lede van Die Begin bygestaan.
Ronel Nel, Danie Marais, Toast Coetzer, Abjater Ronkedoor en ek moes gedigte skryf. Melt Sieberhagen was weer die seremoniemeester en Mia Jordaan het die punte gehou.
Ons het die Vrydagaand laat opgetree en toe nie gaan slaap nie en weer die Saterdagmiddag die verhoog betree. Saterdagmiddag het ek my swakste Oopmond-poging tot op hede geskryf – die onderwerp was “Olimpiese Spele”. Dit was so ʼn klaaglike stukkie digwerk dat Valiant, wat dit moes toonset, dit in ʼn country tune moes verander. Heel gepas.
Hier is ʼn paar foto’s, net vir die rekord.















