Joan Hambidge. Ars poëtica
Ars poëtica
Stilte, eensaamheid
dryf haar van geboorte af
van wieg tot kis:
soekend na ‘n ander
se aanraak of troos.
Op verskeie reise,
vlugtend van om verlaat-te-wees,
weg van pynlike ervarings,
terug tot in ‘n andersoortige kissie:
hierdie klein brose ding,
genaamd ‘n gedig,
nes die amberkamer
in die Hermitage.
Te vertelle,
eenling is jy gebore,
en só sal jy die gom
van die bome sny.
© Joan Hambidge, 2012









@ Joan, dis altyd met die grootste vorm van versigtige nuuskierigheid wat ek ‘n digter se Ars poëtica lees. Wat sê die digter van haar rol as digter? Wat is haar beskouing op haar vak? Strook haar Ars poëtica met die res van haar oeuvre? Hierdie vrae en nog meer kon ek uit jou gedig beantwoord. Vir jou sal dit moeiliker wees, want onbekend maak onbemind – as digter in elk geval. Nogtans, desnieteenstaande:
Ars Poetica
I grondstowwe vir distellering
druif
korrel en dop
vlees en pit
die gees van uitlopertjies op ‘n stok
die geur van blaartjies aan ‘n rank
alles onder druk aangevuur om in bose koorsdrome te spook, kook, worstel, borrel en kolk
om plotseling te verdamp in duiselingwekkende hoogtes vol leegtes
om teen die kilkoue kant van ‘n pen te kondenseer
drup
II bewerking van die hart
Tweemaal gedistilleer
in ketekamers koperrooi
gepreserveer.
Stadig word die druppels oud
in die vat van eikehout.
Ek beledig my Wynmeester
nie in die gereelde ritueel nie.
Hy wat met geboë hoof
die donker kelder betree
om die faktor
van my onbegryplike vog
te kom tap vir toets.
Eenmaal gereed
word my verlies
in bottels verdeel
geëtiketteer
en versprei.
III gebruiksaanwysings
Skink ‘n skoon skeut
woorde in ‘n kelk.
Meng dit met verdagte lug:
sonder water, sonder coke.
Koester dit met hitte uit
die holte van jou hand.
Kyk na kleur. Neus.
Roer my neerlaag.
Neem ‘n teug.
Sluk versigtig.
Ek bedamp
bedwelm
brand.
Dus: proost met ‘n glasie 15-jaar oue Van Ryns op die digterskap! En wat is die verskil nou weer tussen ‘n kissie en ‘n bottel? Groete, Carina