Onderhoud met D.P.M. Botes

Foto: circa 1973

“Liefde is universeel en vorm die grondslag van die menslike bestaan.”

Johann Lodewyk Marais in gesprek

 met D.P.M. Botes

 

D.P.M. Botes is op 7 Julie 1935 in Witbank gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Ben Viljoen op Groblersdal. Daarna verwerf hy ‘n BA-graad met Afrikaans-Nederlands en Afrikaanse en Nederlandse Kultuurgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria en ‘n honneursgraad in Afrikaans-Nederlands aan UNISA. Onder prof. Wilfried de Pauw voltooi hy aan UNISA ‘n MA-verhandeling, ‘n Ondersoek na verteenwoordigende literêre opvattinge van die Futurisme, Kubisme, Dadaïsme en Surrealisme (1963). In die winter van 1965-1966 doen hy onder prof. Jean Weisgerber aan die Université Libre de Bruxelles in België navorsing vir ‘n proefskrif oor die digter Gaston Burssens.

Botes debuteer met die bundel Wat is ‘n gewone man (1965), waarvoor hy die eerste Afrikaanse wenner van die Ingrid Jonker-prys was. Daarna publiseer hy nog twee bundels, naamlik Klein grys telegramme van die wêreld (1966) en Psalms van David (1973). Van sy gedigte verskyn ook saam met dié van P.A. de W. Venter en Menno Stenvert in Klawer (1966). Botes het in 1995 as hoof van skakeling en markbevordering by die Mielieraad afgetree.  

Van Botes het pas ‘n vierde bundel, Van ‘n skaap in wolfsklere, by Tormentoso verskyn. Dié uitgewery is veral bekend vir sy historiese publikasies.

*** 

Marais: David, ek is opgewonde oor die verskyning van jou nuwe bundel, Van ‘n skaap in wolfsklere. Waarom het daar byna veertig jaar verloop voordat jy weer ‘n bundel gepubliseer het?

Botes: Ek is bly jy is opgewonde. Kritiek maak my seer en ek dink dit is beter om nie te publiseer nie en wat jy skryf vir jouself te hou eerder as om seer te kry. My goeie vriende Cobus Ferreira en Schalk le Roux wou die boek uitgee en ek het geswig en ingewillig.

Marais: Is jy die skaap in wolfsklere in die bundel?

Botes: Miskien wel. Dalk is daar ander lesers wat soos ek voel en met die skaap vereenselwig.

Marais: Jou eerste drie digbundels is gekenmerk deur die rymlose, vrye vers waarin jy dikwels van herhalende patrone en beelding gebruik maak. In Van ‘n skaap in wolfsklere het jy voortgegaan om so te skryf, of hoe?

Botes: Ek skryf uitsluitlik in die vrye vers. Dit verg baie streng dissipline. Rymende verse kan so maklik tot rymelary lei, soos in D.J. Opperman se versdrama Periandros van Korinthe.

Marais: Beelding speel ‘n groot rol in jou werk. Is dit vir jou die waarmerk van goeie poësie of is daar ook plek vir die narratiewe vers wat deesdae as ‘t ware mode in Afrikaans geword het?

Botes: Ek skryf vrye verse en Uys Krige het my destyds daarmee gekomplimenteer. Beelde vorm die grondslag van my werk – iets wat ek by die Surrealiste, Dadaïste en Ekspressioniste geleer het. Die modeparade van sogenaamde narratiewe digters laat my so effe koud, want ek het ‘n afkeer in modes.

Marais: In jou bundel speel die liefde en eensaamheid ‘n groot rol. Is dit die dominante temas in jou werk en waarom?

Botes: Liefde is universeel en vorm die grondslag van die menslike bestaan – of jy wit, bruin, geel of swart is. Dit is iets wat ons in hierdie groot land moet leer: die land van droefheid, moorde, sy eensaamheid. Eensaamheid en alleenheid.

Marais: Is daar een of meer van die gedigte in Van ‘n skaap in wolfsklere wat jy graag wil uitsonder en/of aanhaal?

Botes: Gedigte soos “Besoek” en “Hoe jy is …” Laasgenoemde gedig het ek geskryf nadat ek een van Gertrude Stein se boeke gelees het – maar dit is nie plagiaat nie! Eintlik moet jy maar al die gedigte lees om ‘n idee van my wêreld en bestaan te vorm. Vergeet ook nie ek is ‘n groot liefhebber van die werk en politieke sienswyses van Pablo Neruda en Paul Éluard.

Marais: Jy was/is een van die prominente Sestigerdigters. Is jy nog ‘n Sestiger of het jou werk sedertdien wesentlik verander?

Botes: Die Sestigers wou iets vir die Afrikaanse letterkunde doen en hom bevry van wat Van Wyk Louw lokale realisme genoem het. Jammerlik is Afrikaans nou weer terug by lokale realisme en het Sestig eintlik gefaal na die werk van Etienne Leroux en André P. Brink se Lobola vir die lewe.

Ek bly getrou aan die sienings van destyds en skryf steeds in daardie trant. Ek kan nie soos ‘n verkleurmannetjie sommer van styl verander nie, maar wel ontwikkel.

Marais: Het jy oor die jare heen kontak met mede-Sestigers en/of ander skrywers en kunstenaars behou?

Botes: Ja, ek het kontak gehad met Wilhelm Knobel, Wessel Pretorius, Phil du Plessis, Casper Schmidt en Wopko Jensma. Louis Esterhuizen was enkele kere by ons aan huis en dan het ek kontak met jou.

Marais: In ons onderhoud in Spilpunt 1(2), 2004 het ek jou uitgevra oor die polemiek wat ontstaan het na aanleding van ‘n gedig in Wurm en twee in Klein grys telegramme van die wêreld wat jy van Hans Magnus Enzensberger, Tomas Tranströmer en Sandro Key-Åberg sou geplagieer het. Hoe het die polemiek jou en jou werk beïnvloed?

Botes: Plagiaat is ‘n hoogs omstrede begrip. Dan pleeg die predikers seker elke Sondag plagiaat soos hulle die Bybel en Koran gebruik. Ek onthou die bohaai en die artikel van Roswita Schutte in Standpunte en Rykie van Reenen wat dit destyds op ‘n koerant se voorblad uitbasuin het. Intussen staan Standpunte en Rykie van Reenen nie meer nie en lê begrawe maar die twee gedigte leef voort. Die Wurm-storie was van ene Peter Horn – self ‘n Enzensberger-epigoon. Wopko Jensma het hom beveel om nie meer sy neo-liberale “gedigte” aan Jensma (nou oorlede) te stuur nie – dis nou die pogings wat destyds in Ophir verskyn het. Enzensberger self het sy werk – een ganse bundel gebruikspoësie genoem – en waarom kan ek dit dan nie gebruik om ‘n ander gedig te maak nie? Is Opperman se gedigte op Eugène N. Marais en koerantberigte en dié van T.T. Cloete dan nie ook plagiaat nie? Wat is die verskil tussen parodie en plagiaat? ‘n Digter, Melanie Grobler, is ook van plagiaat van Anne Michaels beskuldig – tog was dit ‘n mooi Afrikaanse gedig. Nee, plagiaat is moeilik en omstrede. Wessel Pretorius het my destyds verdedig. En watter letterkundige kritici het iets betekenisvol gesê of geskryf? Van Roswita Schutte is niks weer gehoor nie – ook maar ‘n eendagsvlieg.

Marais: Jy het ‘n keer gesê dat jy elke dag gedigte skryf. Watter rol speel die poësie in jou lewe?

Botes: Ek skryf nie meer elke dag nie, bloot omdat ek te lui is, maar poësie vul elke dag ‘n sentrale plek in my lewe soos die liefde. Ek lees Petra Müller sê wanneer sy ‘n bevlieging kry, skryf sy ‘n gedig binne twintig minute, want poësie bestaan uit 99% inspirasie en 1% perspirasie – dis dus nie maakwerk en sielloos soos so baie hedendaagse Afrikaanse gedigte nie.

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Onderhoud met D.P.M. Botes”

  1. Melanie Grobler :

    Ek sien intens uit om die digbundel te lees. Goeie onderhoud, Johann!