Andries Bezuidenhout. Gert se plek: ʼn Bondige geskiedenis van Beaufort-Wes

Beaufort-Wes – die dorp, die landskap – speel ʼn belangrike rol in Gert Vlok Nel se digbundel om te lewe is onnatuurlik. Beaufort-Wes, aanvanklik bekend as slegs Beaufort, is in 1818 as setel vir ʼn adjunk-landros op die plaas Hooyvlakte aangelê. Die plaas was naby die Nieuweveldbergreeks, waarvan die pieke gereeld in die winter met sneeu bedek is. Dis is in 1760 aan Jacob de Clercq (aanvanklik Le Clercq en later De Klerk) en sy seun Abraham toegeken. Hulle het vooruit geboer, deels weens die Gamkafontein, wat verseker het dat die rivier in daardie tyd standhoudend was, asook vier fonteine in die Kuilsrivier. Abraham de Clercq was ʼn kranige jagter en het op die ouderdom van vyftig reeds “31 leeus en 9 tiers” van kant gemaak. Op die vlaktes het gras, karoobos en ganna gegroei en op die rante granaatbos en noem-noem. Die noordelike gedeeltes van die plaas was ruig, met renosterbos, harpuisbos, kriedoring, rooigras en suurgras. Langs die Gamkarivier het doringbome en wildetabak gegroei. Wild het wyd voorgekom. Daar was voëls soos wilde volstruise, patryse en sekretarisvoëls en bokke soos koedoes, duikers, springbokke, steenbokke, ribbokke en klipspringers, asook kwaggas. Leeus en tiers (meer korrek, luiperds), asook jagluiperds, was volop.

Daar word genoem dat Abraham de Clercq ʼn groot aantal slawe besit het en dat daar ʼn groot Boesmankamp “net wes van die Gamka, bokant die fontein” was. Volgens Vivier en Vivier, wat oor die dorp se geskiedenis geskryf het, sou De Clercq die kamp nie daar “geduld het as die Boesmans nie vir hom gewerk het nie.” Die agtergrond waarteen hierdie stelling gelees moet word, is die aaneenlopende guerrillaoorlog wat tussen koloniste en “Bosjesmans” in die Groot Karoo gevoer is, veral sedert die 1770s, wat van die kommandostelsel en die gepaardgaande gemilitariseerde, wit manlikheid ʼn instelling met ʼn lang aanloop en diep historiese wortels in die Groot Karoo gemaak het. Dis nie toevallig dat De Clercq se ander plaas Bosjesmansberg geheet het nie.

Fischer en Stockenström, as landdroste van Tulbagh en Graaff-Reinet, het met De Clercq onderhandel om die grond te bekom. Die motivering hiervoor was die bekamping van smokkelary, die genoemde konflik en veediefstal, asook algemene wetteloosheid in die Groot Karoo. Erwe is tussen die Gamka- en Kuilsriviere aangelê, tussen en weerskante van Donkin- en Birdstraat. Die twee strate het noord na suid geloop en albei is vernoem na goewerneurs. Leivore het huise van water voorsien en slawe het hul eienaars se wasgoed die rivier gewas.

In 1837, kort na die vrystelling van slawe, het die dorp munisipaliteitstatus gekry. Die eerste bank is in 1854 gestig en ʼn biblioteek in 1861. Koetse en waens het van Kaapstad af Kimberley toe deur Beaufort-Wes gery, ʼn belangrike roete na die ontdekking van diamante in 1871. In 1885 kry die dorp ʼn telegraaflyn en in Februarie 1880 is die spoorwegstasie amptelik geopen. Die koms van die spoorweg en stoomtreine het ingrypende veranderings veroorsaak.

Teen 1881 was daar reeds twaalf woonhuise langs die spoorlyn, oorkant die stasieperron. Dit het aanvanklik as die “Railway Camp”, of Spoorwegkamp, bekend gestaan. Eerste Laan en Tweede Laan is as formele strate aangelê. In 1900 was daar 400 inwoners in die Kamp. In 1917 is Derde tot Sesde Laan aangelê, ook die tyd toe inwoners die naam Hillside begin gebruik het. Van daar het die buurt uitgebrei tot teenaan Stasiekoppie. In 1952 is die NG Kerkgebou ingewei en in 1954 ʼn voorbereidende skool, wat in 1962 as laerskool uitgebrei is. In 1968 is die Eric Louwburg poskantoorgebou oorkant die kerk opgerig. ʼn Spoorlyn, sowel as die Gamkarivier, skei nou die dorp en die Spoorwegkamp.

Volgens Vivier en Vivier is Hillside “eintlik ʼn dorpie op sigself”. Hulle verduidelik verder: “Hoewel dit aan die hoofdorp grens, is dit nie ʼn geproklameerde uitbreiding nie, maar spoorwegeiendom. Al die inwoners is spoorwegmanne, en geen grond word aan die publiek verkoop nie.” In die 1950s kry Hillside dus ʼn eie kerk en ʼn skool. Nuwe strate kry nie meer neutrale syfers as name nie, maar word na politieke figure soos D.F. Malan, Paul Sauer en Eric Louw vernoem, asook die historiese figuur Jan van Riebeeck. Eric Louw as vir jare Beaufort-Wes se parlementslid, asook Minister van Buitelandse Sake, sowel as Ekonomiese Sake. Sy pa was ʼn plaaslike winkeleienaar. Paul Sauer was die Minister van Vervoer. Die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging van die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens speel sedert 1933/4 ʼn aktiewe rol in Beaufort-Wes, sowel as ʼn Voortrekkerkommando, vanaf 1932; die Vroue-Landbouvereniging, ook vanaf 1932; en die Rapportryerskorps, vanaf 1962. Die huise om Paul Sauerstraat se soom is aan die voet van Spoorwegkoppie – ʼn natuurlike grens. In 1961 is die spoorlyn tussen Kaapstad en Beaufort-Wes geëlektrifiseer, maar stoomlokomotiewe word nog tot die laat-1970s gebruik, toe die spoorlyn Kimberley toe ook geëlektrifiseer is. Vir sommige van die spoorlyne het diesellokomotiewe stoomtreine mettertyd vervang. In Gert Vlok Nel se kinderdae is stoomtreine dus nog wyd in gebruik.

Hillside as woonbuurt vir spoorwegwerkers ontstaan dus in 1880. In daardie jaar en in 1881 neem inwoners van die dorp aan die Basotho-oorlog deel. Tot en met 1880 was daar egter ook nie ʼn aparte woonbuurt vir swart inwoners nie. Laasgenoemde het meestal in Birdstraat en Nuwestraat gewoon. Nuwestraat loop parallel met Donkinstraat aan die westekant en het ontstaan toe die Gamkarivier deur ʼn kombinasie van rommelstorting en meer beplande drooglegging verder wes geskuif is. Waar die natuur aanvanklik die dorpsuitleg bepaal het, begin menslike intervensie in die landskap nou natuurlike grense verskuif. In 1880 is die dorp se plaaslike geografie dus nie net deur die ingebruikname van die spoorwegstasie verander nie, maar rasseskeiding is bewustelik toegepas. In daardie jaar is ʼn terrein suid van die dorp, op die Gamka se westelike oewer, uitgelê vir “zwart schepsels”. In 1925 is die gebied formeel as “Bantoe-lokasie” verklaar, “alhoewel die inwoners nog merendeels Kleurlinge was.”

Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het ʼn dramatiese impak op die dorp gehad. Beaufort-Wes was ʼn strategiese spoorwegnodus vir die Britse weermag, wat ʼn aantal blokhuise gebou het. Een van hierdie blokhuise staan vandag nog langs ʼn spoorwegbrug ten noorde van die dorp. Die getal Britse troepe, asook hul perde, het waterbronne uitgeput, wat bitterheid veroorsaak het. Boonop is ʼn aantal “ongewenstes”, wat met die Boererepublieke gesimpatiseer het, onder krygswet in die plaaslike tronk en ʼn interneringskamp wes van die spoorwegstasie aangehou. Soos in groot dele van die res van die Kaapkolonie, het die oorlog bitterheid en verdeling onder Afrikaners veroorsaak en bygedra tot die opkoms van nasionalisme.

Die Rebellie van 1914 en die nadraai van die Eerste Wêreldoorlog het verder tot die aanblaas van Afrikanernasionalisme bygedra. Die stigting van ʼn aantal kultuur-politiese organisasies wat hulself vir Afrikanerbelange beywer het, is reeds genoem – die ATKV, die Voortrekkers, ens. Soos in die res van Suid-Afrika, het hierdie bewussyn in die 1930s momentum gekry, deels rondom die eeufeesvieringe van die Slag van Bloedrivier. Alhoewel Beaufort-Wes binne die grense van die destydse Kaapkolonie geval het, is plaaslike mitologieë rondom die dorp se “besonderse verhouding” met die Groot Trek ontwikkel. Hiervolgens het verskeie van die betrokkenes by die Slagtersnek rebellie van 1815 hulself op Beaufort-Wes gevestig, ná hulle uit die Graaff-Reinetdistrik verban is. Hulle sou die kern vorm van ʼn groep boere uit Beaufort-Wes wat aan die Groot Trek deelgeneem het. Saam met bitterheid oor die vroeër gebruik van Engels in die NG Kerk, asook die ontwrigting wat die Anglo-Boereoorlog op die dorp gehad het, het die 1938-vieringe Afrikanernasionalisme in Beaufort-Wes aangewakker. Die aanloop tot die Tweede Wêreldoorlog het hier ook neerslag gevind. Furlong noem byvoorbeeld die vurige anti-Semitisme van iemand soos Eric Louw, ʼn kwessie waaroor Vivier en Vivier eerder swyg.

Tydens die feesvieringe in 1938 is sekere straatname gewysig, waarvan die mees prominente die verandering van Markstraat na Voortrekkerstraat was. In hierdie tyd het die ou dorp verder suid, aan die oostekant van die Gamkarivier se loop uitgebrei na ʼn area genaamd die Lande. Die bure oorkant die rivier, in wat as die Lokasie bekend gestaan het (of Sakkiesbaai, soos dit informeel genoem is), het “ʼn groot bron van ergernis vir die dorp geword.” As gevolg hiervan is daar in 1942 ʼn gebied verder wes as Rustdene, ʼn “Kleurlingbuurt”, wat ook Visblikkies genoem is, uitgelê.

Hierdie ruimtelike segregasie vind plaas voor die Nasionale Party in 1948 aan bewind kom. In Beaufort-Wes is Eric Louw hard aan die werk met die aanloop tot die 1948 verkiesing. Hy skryf ʼn dokument getiteld “Wenke vir huisbesoek”, waarin die “kleurvraagstuk” as die verkiesing se belangrikste kwessie uitgewys word. Die probleem, volgens die dokument, is dat kommunistiese agitators swart mense aanmoedig om uit “kaffer-gebiede” na wit areas te beweeg en dat dit tot “verbastering” sal lei. Wetgewing soos die Groepsgebiedewet (1950) en die Bevolkingsregistrasiewet (1950) trek dus skerper geografiese grense tussen mense en woonbuurte.

In die 1940s en 1950s brei Rustdene verder noord uit, met Nuweland langs die nasionale pad en Newtown aan die oorkant, wat ʼn meer gegoede stratum van die “Kleurling” bevolking huisves. Teen 1968, in die tyd wat Gert Vlok Nel as leerling in sy eerste skooljaar na Beaufort-Wes verhuis, skryf Vivier en Vivier, benewens die feit dat teerstrate vir Rustdene oorweeg word, die volgende: “By ter perse gaan is daar nog 23 nie-blanke gesinne in die blanke gebied woonagtig. Hulle sal na hulle eie milieu verskuif word sodra huise beskikbaar is. So gou doenlik sal ook die oorblywende 155 Kleurlinggesinne in die ou Bantoe-lokasie na Rustdene verhuis.”

In 1963 is die Ossewatrek van 1938 weer op die dorp herdenk, asook ʼn weeklange viering van Republiekwording in 1966. In die 1960s en 1970s word poginge om algehele rasseskeiding op die dorp te bewerkstellig dus geïntensiveer, wat weer tot teenstand vanuit die swart gemeenskap lei. In die 1960s kry Rustdene ʼn aparte munisipaliteit en word openbare geriewe verder geskei. In 1977, byvoorbeeld, kry Rustdene ʼn aparte biblioteek. Regeringsgesinde koerante berig in hierdie tyd hoe Beaufort-Wes kon “spog” met “die enigste hotel vir bruinmense tussen Oudtshoorn en Kimberley”. In hierdie konteks van plaaslike rasseskeiding, haal ʼn netbalwedstryd tussen “blankes” en ʼn “Kleurlingspan” op Beaufort-Wes die nasionale nuus. Die volgende jaar is segregasie in sport weer in die nuus toe Solly Essop, ʼn plaaslike besigheidsman en lid van die Kleurling Verteenwoordigende Raad (KVR) vir Bokkeveld, ʼn krieketwedstryd tussen twee spanne op die krieketveld stopsit, omdat dit deur ʼn “non-racial” span vir ʼn oefening bespreek is. Die saak is vererger deur die feit dat een van die “non-racial” spanne betrokke by die wit krieketliga aangesluit het. In 1978 loods Essop ook ʼn aksie teen aparte geriewe op die stasie en slaag daarin om vir een maand van apartheidsbordjies ontslae te raak, maar word weens hierdie aksie deur die stasiemeester van die stasieperseel verban. In 1979 word Essop die eerste swart lid van die plaaslike hospitaal se bestuursraad en neem onmiddellik die gebrek aan behoorlike geriewe vir swart pasiënte op.

Solly Essop se aksies om sekere elemente van die apartheidsbestel teen te staan word gedoen vanuit ʼn elite posisie. Hy is ʼn gerespekteerde besigheidsman, wat as onafhanklike lid van die KVR, die stelsel teen sigself gebruik. Hy word uit die stasiegebou verban, maar word nogtans uitgenooi om op die hospitaal se raad te dien. Dít alles in die 1970s.

Solly Essop was ʼn belangrike figuur in Beaufort-Wes se plaaslike politiek in die 1970s en 1980s. Hy was egter vol kontradiksies. Hy het ʼn Mercedes en ʼn BMW gehad, met die registrasienommers CZ 2 en CZ 4. Sy huis was in Essopville en was bekend vir die massiewe eetkamertafel. Die familiebesighede het bioskope, drankwinkels, spekulering met eiendom en konstruksiebedrywighede ingesluit. Sy pa het in 1902 uit Indië na Suid-Afrika geëmigreer en homself as sakeman op Beaufort-Wes gevestig. Solly Essop self het na skool ekonomie in Bombaai studeer. Hierna het hy Nelson Mandela en Walter Sisulu bevriend en saam met hulle aan politieke aktiwiteite deelgeneem. Anwar Essop, Solly se seun, het later beweer dat sy pa saam met Mandela, Sisulu en Oliver Tambo in die tronk was. Solly Essop se afkeur in kommunisme het hom egter polities van hulle verwyder. Alhoewel Essop ʼn lid was van die KVR, later ʼn lid van die Arbeidersparty, asook ʼn beroep op die regering gedoen het vir die stigting van ʼn “Kleurlingkorps” op Beaufort-Wes, staan hy in 1980 ʼn klousule in die konstitusie van “Building a Better Society”, ʼn gemeenskapsorganisasie in Beaufort-Wes, teen wat die organisasie eksklusief vir “kleurlinge” sou maak. Dit wys dat Essop tog sensitief was vir die skeiding wat apartheidswetgewing tussen “bruin” en “swart” probeer bring het. In 1981 slaag hy daarin om die dorpsraad te oorreed om R50 000 aan inwoners van die dorp terug te betaal, ná foutiewe meterlesings. In 1981 spreek hy sy teleurstelling uit oor die feit dat die NG Sendingkerk die dorp se Republiekfeesvieringe boikot.

Die 1980s word deur ʼn nuwe tipe politieke aktivisme ingelui, toe 200 jeugdiges uit wat steeds slegs as die “Lokasie” bekend staan, besluit om ʼn opmars na die dorp te hou. Hulle probeer twee keer om die Gamka-brug, wat die wit en swart dele van die dorp skei, oor te steek. Die polisie verwilder hulle met traangas en word met klippe bestook. Volgens ʼn mediaberig is baie van die dorp se wit werkers huis toe om hul vroue aan te sê om hulself met rewolwers te bewapen. By ʼn kafee is ʼn barrikade met aartappelsakke gebou, terwyl die kafee-eienaar die betogers met ʼn haelgeweer ingewag het.

In die 1980s vind daar dus ernstige polarisasie in die dorp plaas. Soos aktivisme teen apartheid toeneem, vind die breër verdeling tussen “verligtes” en “verkramptes” in Afrikanergeledere ook in Beaufort-Wes ʼn inslag. In die “Lokasie” en Rustdene kom daar ook groter verdeling tussen diegene wat aan apartheidsinstellings deelneem en meer radikale bewegings. So byvoorbeeld word die dorp se “Kleurlingbestuurskomitee” in 1981 na ʼn toneeluitvoering ter viering van Republiekwording uitgenooi. Sekere wit dorpsbewoners gee hul kaartjies uit protes terug. Alhoewel die komiteelede die uitvoering bywoon, word die fees deur die NG Sendinggemeente geboikot.

In 1983 is daar sprake van ʼn staking deur padwerkers in Beaufort-Wes, wat deur die General Workers’ Union (GWU), ʼn ongeregistreerde vakbond wat aan die United Democratic Front (UDF) verbonde was, asook deur die Karoo Farm Workers’ Union (KFWU), waarvan niemand anders as Solly Essop die voorsitter was nie, georganiseer is. Die UDF, of ten minste een van die organisasie se vakbonde, is dus reeds teen 1983 aktief op Beaufort-Wes. In Augustus 1984 hou die UDF hul eerste formele byeenkoms op Beaufort-Wes. Die vergadering, in die Rooms-Katolieke Kerksaal in Rustdene, is deur onder andere Louise Boesak en Chris Nissen bygewoon en die Arbeidersparty se deelname aan apartheidsinstellings is skerp gekritiseer.

In 1984 is Solly Essop oorlede en sy seun Anwar (soms as Anver gespel) het, op die ouderdom van 27, sy plek in die verkiesingsveldtog vir die Raad van Verteenwoordigers ingeneem. Hy sou dit egter as een van drie opposisielede van die Demokratiese Arbeidersparty doen. In 1984, waarskynlik in reaksie op die UDF se aktiwiteite, is die “Lokasie” se naam na Sidesaviwa (“daar is na ons geluister”) verander en ʼn Gemeenskapskomitee is verkies om inwoners te verteenwoordig. Die naam sou, volgens die amptelike weergawe, verwys na die feit dat inwoners gevoel het dat daar gehoor gegee is aan hul versoeke om die woongebied op te gradeer. Die wit dorpsraad het moontlik ʼn tikkie ironie gemis, of dalk verkies om dit te ignoreer.

Op 22 Januarie 1985, om 7:30 die oggend, is Mandlenkosi (ook bekend as William) Kratshi, 25 jaar, uitvoerende lid van die UDF se landelike komitee (“rural committee”) deur die polisie by sy huis doodgeskiet. Die polisie het beweer dat hy hulle gebyt het en met ʼn eetvurk aangeval het. Volgens Anwar Essop, wat op die toneel was, het die polisie traangas by die huis ingepomp en toe begin skiet. Kratshi was besig om sy kind te voer. Essop, in sy hoedanigheid as lid van die Raad van Verteenwoordigers vir Nuweveld, het ʼn beroep op die regering gedoen om ʼn volskaalse ondersoek te loods. Kratshi se dood het onmiddellike protesaksie tot gevolg gehad. Die middag van die insident het die polisie ʼn groep betogers met traangas uitmekaar gejaag. ʼn Polisieman, konstabel J. Nappies, se huis is die aand met ʼn petrolbomme bestook en die volgende oggend aan die brand gesteek. Jeugaktiviste het druk op Gemeenskapsraadslede gesit om te bedank. Vier het onmiddellik gehoor gegee, en nadat ʼn tweede huis later die dag aan die brand gesteek is, het die res ingestem. Op 23 Januarie, het Sidesaviwa se hele Gemeenskapsraad dus uit hul poste bedank. Die regering het byeenkomste op die dorp vir ʼn week verbied. Daar is ook besluit om Sidesaviwa na Kwa-Mandlenkosi (“Mandlenkosi se plek”) toe te herdoop.

In Augustus is nog drie huise in Kwa-Mandlenkosi aan die brand gesteek en twee mense is in die hospitaal opgeneem. Na die voorval is Anwar Essop se huis deur die polisie bewaak. Op 17 Augustus is daar besluit om alle wit besighede op die dorp te boikot. Die polisie se reaksie was om aktiviste in hegtenis te neem en sommige moes uit die omgewing vlug. Op 18 Oktober, wat deur inwoners van Kwa-Mandlenkosi “helikopterdag” genoem word, het ʼn seun op een van die gehuggies se dakke geklim en na ʼn polisiehelikopter met sy kettie geskiet. Dit het een van die lemme getref en die helikopter moes ʼn noodlanding doen. Die seun het ʼn plaaslike legende geword.

Op 26 Oktober is Andile Amos Klassen tydens onluste deur die polisie doodgeskiet. Streng beperkings is op die begrafnisreëlings geplaas. Van die besighede het probeer om met die gemeenskap te onderhandel, maar die boikot het nogtans vir ʼn paar maande geduur. Wit besighede se winste het gevolglik met tussen 25% en 50% gedaal. Die situasie op die dorp was so desperaat dat die NG Kerk ʼn beroep op lidmate gedoen het om vir die owerheid te bid. Ten einde laas het die Afrikaanse Sakekamer ingestem om ʼn brief te skryf waarin ʼn beroep op lede gedoen word om diskriminasie in die werksplek tot ʼn einde te bring, insluitende verskillende besoldigingsvlakke vir wit en swart werknemers. Sekere ontwikkelingsprogramme, soos ʼn behuisingsprogram ter waarde van R4 miljoen, is in Kwa-Mandlenkosi geloods. Die boikot is op 7 November 1985 afgelas.

Die Afrikaanse Sakekamer se brief het ʼn onmiddellike verregse reaksie ontlok. ʼn Vergadering van die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) is goed bygewoon en besigheidsmense wat aan die onderhandelings deelgeneem het, is sekere hotelle op die dorp belet. Tewens, Beaufort-Wes was reeds voor die boikot ʼn paar keer in die nuus weens ras-insidente. In 1984 is die dorp in die nuus toe ʼn hokkiespan van ʼn “veelrassige skool” uit ʼn “onafhanklike tuisland” nie toegelaat word om in die munisipale woonwapark te oornag nie. Ook in 1984 het ene Frikkie Bekker, voorsitter van die Afrikanervolkswag op die dorp, ʼn aksie teen die FAK begin, nadat “’n hele aantal Kleurlinge” aan ʼn kunskompetisie deelgeneem het. Bekker skryf die volgende jaar in ʼn brief aan Die Burger: “Ek het die afgelope vakansie met my gesin in Seepunt vakansie gehou. Die toestande daar het my so geskok dat nie ek of my gesin die heerlike seewater kon geniet nie. Die strande was so oorstroom deur nie-blankes dat die blankes die wyk moes neem. […] Geen ordentlike vrou of kind kan dit meer daar waag nie! Is dit nie ironies om te dink dat die hart van die blankedom, dié strand waar die blankedom gebore is, nou só besoedel word nie?”

In Augustus 1985 het Karoo-park, die Spoorweë se ontspanningsgeriewe, steeds nie “people of colour” toegelaat nie. In 1987, die jaar wat Gert Vlok Nel aan sy digbundel begin skryf, stig die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) ʼn gemeente op die dorp, alhoewel dit klaarblyklik nie groot aftrek kry nie. Ook in 1987, waarskynlik om die verregse reaksie op die dorp teen te werk, ken die dorp ereburgerskap aan die Staatspresident, P.W. Botha toe tydens ʼn onthaal in Karoo-park. In 1988 is die Groot Trek met ʼn hernude ossewatrek gevier en ʼn nuwe monument daarvoor in die hoofstraat opgerig.

In 1988 skiet die polisie vir Jerry Ndishe tydens ʼn arrestasie dood. Daar word weer streng beperkings op die begrafnisreëlings geplaas. In 1989 poog verregse groepe om ʼn veelrassige kleuterskool te sluit en kondig planne aan om ʼn alternatiewe Sakekamer – die Afrikaner-Sakekamer – op die dorp te stig. Frikkie Bekker is by beide hierdie aksies betrokke. Die 1980s op Beaufort-Wes eindig met ʼn protesoptog waaraan 5 000 mense uit Kwa-Mandlenkosi en Rustdene deelneem. ʼn Kerkdiens word gehou en ʼn lys griewe word aan die dorpsraad oorhandig. Hierdie keer is daar geen geweld nie.

Die apartheidsbestel het stadig maar seker, soos die dorp se leuse sê (“Festina Lente”), stoom verloor. As geografiese projek het dit egter die plaaslike landskap op ingrypende wyse herdefinieer. Die dorp se plaaslike geografie is gevolglik deur ʼn kombinasie van faktore bepaal, deels rivierlope, deels rasseskeiding. Vandag beweeg die dorp se wit middelklasse oos, met die N1 langs. Aan Hillside se westekant is ʼn RDP-tipe woonbuurt bygevoeg en aan Restdene se suide ʼn nuwe uitbreiding, genaamd Prince Valley, vernoem na die dorp se kontroversiële munisipale bestuurder Truman Prince. 1990, die jaar toe die ANC ontban is, is ook die laaste jaar waarin Gert Vlok Nel aan sy digbundel werk. Die wêreld waaroor hy skryf is Beaufort-Wes van die 1960s, die 1970s en die laat-1980s – Afrikanernasionalisme se hoogtepunt, maar ook die einde daarvan.

Bronne:

Furlong, Patrick. 2003. “Apartheid, Afrikaner Nationalism and the Radical Right: Historical Revisionism in Hermann Giliomee’s The Afrikaners.” South African Historical Journal, 49(1): 207-222.

Giliomee, H. 2003. The Afrikaners: Biography of a people. Kaapstad: Tafelberg & Charlottesville: University of Virginia Press.

Nel, Gert Vlok. 1993. om te lewe is onnatuurlik. Kaapstad: Tafelberg.

O’Meara, Dan. 1996. Forty lost years: The apartheid state and the politics of the National Party, 1948-1994. Athens: Ohio University Press.

Vivier, W.G.H. en S. Vivier. 1969. Hooyvlakte: Die verhaal van Beaufort-Wes 1818-1968. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Koerante: Cape Herald, Beeld, Daily Dispatch, Die Afrikaner, Die Burger, Die Patriot, Die Vaderland, Eastern Province Herald, Rand Daily Mail, Rapport, Rapport Ekstra, Sunday Times, The Argus, The Cape Times, The Citizen, Weekend Argus

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Gert se plek: ʼn Bondige geskiedenis van Beaufort-Wes”

  1. Jan Van Riebeeck :

    Ek het daar gebly van 1972 tot 1982, ek onthou nog die republiek feesvieringe van 1981, want ek was ‘n leerling van Laerskool Eric Louw wat deelgeneem het aan die verrigtinge.Beaufort Wes land van ruimte…

  2. Jan Van Riebeeck :

    Amper vergeet ek, ons het in sesde laan in Hillside gebly, ja my pa was ‘n spoorwegwerker.

  3. Dankie Jan. Daar’s darem ‘n straat in Hillside wat na jou vernoem is. 🙂 Ek hou van hoe Gert daardie tyd in die bundel vasvang.