Leon Retief. Somer in die prêries.
SOMER IN DIE PRÊRIES
(OF: WING NITE IN TAKBOKKAKEBEEN)
Vakansietyd in Saskatchewan hang af van wie mens is en wat jy doen. Meeste mense gaan in Julie of Augustus met vakansie, maar nie die ekspat Suid-Afrikaners nie – Lesli en ek is byna die enigste uitsonderings. Die ander verkas in Desember of Januarie na sonnige Suid-Afrika om agtergeblewe familie en vriende te gaan besoek en weer langs die see of in die Bosveld ‘n vissie of vleisie te gaan braai en te kla oor die Kanadese winters. Hulle mag dalk in daardie opsig ‘n punt beet hê want winters hier is bleddie koud, maar wanneer hulle terugkeer hoor ons weer hoe hulle uitwei oor korrupsie, misdaad en geweld in Suid-Afrika.
Saskatchewan het sneeu op die grond vir vyf maande van die jaar. In daardie tyd kan boere natuurlik nie juis iets op hul plase uitrig nie en dus gaan hou hulle vakansie in Meksiko, Arizona of Florida. Baie welgestelde afgetredenes doen dieselfde om van die koue te ontsnap en staan bekend as “snowbirds”.
Ons het nog elke jaar in Julie of Augustus met vakansie gegaan en tot dusver allerhande plekke ver van Saskatchewan besoek, trouens ek dink ons het al meer van Kanada gesien as meeste Kanadese. Toe ek so ‘n paar jaar gelede aan ‘n sekretaresse by die hospitaal vertel dat ons deur die Rockies gaan reis sê sy aan my “You know, I have never seen a mountain.” En dis nie omdat sy nog nooit in haar lewe buite Moose Jaw was nie, dis net dat daar nie berge in Saskatchewan is nie. Ek het onlangs ‘n inskrywing gelewer oor Andrew Suknaski en Wood Mountain waar hy gebore is. Ons was in Wood Mountain. Daar is geen, soos in bleddiewil geen, berg te sien nie, nie eers ‘n groterige heuwel of rantjie nie. Wood Mountain “berg”, ‘n ent weg van die dorpie, sal in SA skaars kwalifiseer as ‘n klein mynhoop. In Saskatchewan word sulke rantjies egter as berge beskou. Sjeim, hulle weet nie van beter nie.
Vanjaar het Lesli en ek besluit om by wyse van verandering die suidelike streke van ons tuisprovinsie Saskatchewan te verken en meer spesifiek die plattelandse omgewing. Beide van ons het in klein dorpies grootgeword en het ‘n sagte plek vir die platteland en sy mense. Ons tuisprovinsie is so groot dat mens dit nie as geheel in een vakansie kan ontdek nie (behalwe as dit ‘n baie laaang vakansie is). Daarmee eers ‘n paar hopelik nie te vervelige statistieke oor hierdie provinsie.
Saskatchewan het ‘n oppervlak van sowat 650 000 vierkante kilometer, waarvan omtrent 12 persent deur mere of riviere ingeneem word. Dit is dus ongeveer die helfte so groot soos Suid-Afrika maar beslaan net 6,5% van Kanada se totale oppervlak, wat mens ‘n idee gee van hoe enorm hierdie land is. Dit is ‘n redelik dun bevolkte provinsie met net so ‘n raps meer as een miljoen inwoners waarvan ongeveer die helfte in die twee grootste stede, Saskatoon en Regina, woonagtig is. Kleiner sentra is plekke soos Moose Jaw, Yorkton, Prince Albert en so aan, almal in die suidelike derde van die provinsie met kleiner dorpe verder noord. Dit is dus meestal ‘n plattelandse provinsie met klein en soms fassinerende dorpies.
Die prêries, redelik plat soos dit is, het sy eie bekoring, winter en somer, maar ek moet erken dat dit mens so bietjie tyd vat om daarvan te hou. Hierdie foto is geneem terwyl ons op reis was tussen Moose Jaw en Edmonton in die aangrensende provinsie Alberta. Dit is hoe die prêries in die somermaande vir sowat 750 kilometer lyk – koring, canola, lensies en ‘n lug vol helder wolke. Nie verniet dat Saskatchewan se leuse “The Land of Living Skies” is nie.
INNER SPACE
my spaces are vast
are blue
winds rip through my ribcage
redtails shriek in my throat
with a dry puckered mouth
the sun sucks my brain
i look small
and earthbound
but inside
is the sky
Lorna Uher
Al hou die Moose Javians daarvan om hul tuisdorp ‘n stad te noem, het Moose Jaw met ‘n bevolking van sowat 36 000 ook maar ‘n baie plattelandse atmosfeer en het dit baie opsigte ‘n interessante geskiedenis. In die twintiger- en dertigerjare van die vorige eeu het Al Capone soms hier kom uitspan wanneer Chicago vir hom te ongemaklik geraak het. River Street was destyds die plek waar prostitute snags hul dienste verkoop het en menige nagtelike ontmoetings het in die Royal George Hotel, oftewel The Park, plaasgevind – beide name pryk op die gebou se fasade. Ek verstaan dat daar steeds prostitusie in Moose Jaw is, skynbaar is hulle steeds in River Street te vinde, net effens wes van waar dit in die ou dae was.
PARK HOTEL, MOOSE JAW
Harold Ogel: you should see
this place you worked in 53
fine grand staircase, ornate radiator
now you’ve got to stay drunk
to work the front desk
peeling paint, screwed down TV
chipped red enamel writing desk
where no one writes boasting postcards
fake books nailed to the bar wall
Bible tossed outside
to rot with a broken beer bottle
it’s adventurous to watch 40′s Bogart
bragging over a black falcon
if you can leave the next day
say goodbye to Tiger
the toothless Metis mother
begging for a friend
the German with the thickest fingers
ever to yank turnips tops
who drove 16 horses 510 miles in 17 days
says the rooms aren’t so bad
George Morrisette
Die bakkie voor die hotel is ‘n Cadillac uit die laat 1960′s of vroeë 1970′s, ek kon nie vasstel presies watter jaar nie – Cadillac maak al dekades lank bakkies en vir ‘n onrehabiliteerbare petrolkop soos ek is die aantal goed opgepasde ou motors wat hier rondry ‘n bron van vreugde. Daar is darem min dinge wat so mooi klink soos ‘n V8 wat “wloeb-wloeb-wloeb” staan en luier (terwyl die eienaar gou by die hotel se drankwinkel induik om sy naweek se voorraad Molson bier te koop.) Dan praat ek nie eers van die Harley-Davidsons nie, rydinge wat in SA die speelgoed van welgesteldes is. Hier is hulle soos aambeie, elke tweede poephol het een.
Die hotel is sedert die skryf van die gedig hier bo darem so bietjie opgekikker maar dit vergelyk steeds nie juis baie gunstig met die Mount Nelson in Kaapstad nie. Ons besoek dit nogtans so elke twee of drie maande om twee redes. Een is dat elke Woensdagaand Wing Nite is en dat hulle sonder twyfel die beste hoendervlerkies en -boudjies in Moose Jaw aanbied, die tweede is dat ons daarvan hou om te kyk na die mense wat saam met ons in die kroeg sit terwyl ons ‘n Rickard’s Red Lager drink en ons vingers en monde besmeer met een van die 39 geure vlerkies wat daar te eet is. Hulle is ‘n interessante groep – tattoeërmerke orals, ringe op neuse, lippe, ore en wie weet waar nog als, baie spiere en\of groot boepense, hul gesprekke vol van die f-woord. Ten spyte van hul robuuste voorkoms was daar nog nooit enige insidente van geweld of eers ‘n hewige verbale meningsverskil terwyl ons daar was nie, maar ek veronderstel dat dit wel soms mag voorkom. En dan die tannie wat die vlerkies berei… met sulke arms wil ek haar nie graag een donker nag in ‘n stegie ontmoet nie. Mens gaan gee jou bestelling by haar, sy vra jou naam en beveel jou kortaf om te gaan sit. Tien minute later skreeu sy so kliphard dat die hele kroeg weergalm: “LEOOOOONN!!! YOU WINGS ARE READYYYY!!! en jy skrik so groot dat jy onmiddelik drafstap om die bestelling te gaan haal voor sy jou weer moet roep – ek meen, netnou vererg sy haar as jy nie dadelik opdaag nie.
“Gemengde” huwelike, dit wil nou sê tussen swart/wit of Kaukasies/Oosters/Arabies is taamlik algemeen in Kanada, ook hier in die prêries en niemand knip ‘n oog daaroor nie. Dis een van die dinge waarvan Lesli en ek baie hou – Kanadese se oor die algemene gebrek aan rassegevoel. Huwelike of verhoudings tussen wit Kanadese en inheemse Kanadese Indiane (of “first nations” soos hulle hier genoem word) is egter relatief skaars.
LITERACY
he would beat her
because she was a woman
and Indian, and he thought
he had debased himself with her
in this uncivilized place
loved only his books
Shakespeare and Plato
and Songbirds of England
locked himself often in
and read then bitterly
she when he died
piled them all in the front yard
emptied on them a can of coal oil
only when they were burning
did she pull one out
and cry over
the curling pages
Leona Glom
Die twee gewildste sportsoorte in Kanada en veral in die prêries is rugby en yshokkie. Met rugby bedoel ek natuurlik die Amerikaanse weergawe. Saskatchewan se provinsiale rugbyspan staan bekend as die Rough Riders en ek het nog nooit ‘n Kanadees ontmoet wat dit snaaks vind wanneer ek hulle vertel dat Rough Rider die naam van ‘n gewilde kondoom in Suid-Afrika is nie. Hulle is ewe fanaties oor hul rugbyspan as wat Suid-Afrikaners is oor die Sharks of wat ook al – menige kar het ‘n Rough Riders vlag, plakker en dies meer en baie mense dra hierdie span se t-hemde, selfs by die werk.
Ek het kort na ons aankoms hier ‘n paar yshokkie-wedstryde bygewoon. Dis beslis die vinnigste spel wat bestaan en ek admireer die spelers want dit verg geweldig baie talent en ongelooflike vinnige reaksies, maar ek het besluit dat dit nie vir my is nie. Geweld, en ek bedoel openlike vuisgevegte tussen opponerende spelers, word nie alleen toegelaat nie maar ook aangemoedig. Dit is nie vreemd om te sien dat die skeidsregters opsy staan en twee spelers toelaat om mekaar te takel nie. Voorts het onlangse navorsing getoon dat yshokkiespelers so dikwels konkussie kry dat baie van hulle vroeg in hul lewe (en ek praat hier van hul veertigerjare) Alzheimer-agtige siektes opdoen. Daar is tans pogings om hierdie nodelose geweld te probeer stop maar ek hou nie my asem op nie.
THE SLAP SHOT
(for Rudy Wiebe)
You see, the problem is:
to get your head above and
just ahead of the puck
to slide your forehand down
the shaft of your stick as you
pull it back
and with your back leg leaving
the ice just before your stick
hits
striking the ice just a few
inches behind the puck
hitting it about the
middle of the blade
while aiming at the corner
of the net
and if you have to think about
that, brother,
it just isn’t there
Stephen Scriver
Moose Jaw het sy eie radiostasie en met die dat landbou een van die twee of drie grootste industrieë in die onmiddelike omgewing is het ek dit nogal amusant gevind om te hoor dat die advertensies, so tussen die Country and Western musiek deur, dikwels plaasimplemente adverteer.
Pitch forks and saw logs
Old Jack Bertram, who once
roped a Big Horn ram
and only wondered
as the loop settled
behind the curls
how he’d ever
get his rope back
and never did,
ambled around the corner
of the barn as
I trailed the cow in
for milking.
I asked Jack if he figured
rain would come
black clouds boiling
over the mountains
and he said
he’d had a Holstein
just like that’n
when he lived on the Sorge place
maybe twenty year ago come April
or was it twenty one
and he tied her to the corral
milked her outside
on nights like this.
She was a fine old cow
never wandered off
getting mixed up with wire
or things like that,
threw some big calves
hardly ever went dry
kicked the pail over
or swatted shit in your face.
That old Sorge place
now that was a ranch
close to the mountains
cool winds of a summer
good water year round
yeah he reckoned
she’ll rain all right
shore as standing here.
Jim Green
Rondom Moose Jaw is ‘n aantal Hutterite kommunes, anabaptiste verwant aan die Amish en Mennoniete met ‘n kenmerkende kleredrag soos op die foto gesien kan word. Hulle spreektaal is ‘n dialek van Duits, kinders word tuis geskool, vroue het so ver as wat ek kon uitvind nie stemreg in die kommunes nie en daar is ook nie TV nie. Byna niemand verlaat hierdie geslote gemeenskappe nie en wanneer dit wel gebeur dan is die persoon vir daardie kommune so goed as dood – ‘n uitgeworpene vir die res van sy/haar lewe. I am a Hutterite, deur Mary-Anne Kirby, vertel haar familie se ondervindings nadat haar ouers die Hutterites verlaat het toe sy tien jaar oud was.
Die gedig hier onder is ‘n Mennonitiese moeder se weeklag oor haar seun maar dit is ewe veel van toepassing op die Hutterites.
TANTE TINA’S LAMENT
Hänschen is a fool
and I am his mother,
Lord forgive us both.
Hänschen struts about the city
like a chicken.
He wears a pink shirt
and plaid, big-bottomed hosen.
When he was little,
his bottom was like a zwieback.
I spanked his little buns
and how he crowed!
Now he wags his tongue at me
and thinks I am ignorant.
He says farmers have no brains
they should all be businessmen.
He says farm girls don’t know how to walk
and I don’t know how to barbeque a steak.
Oh his heart is full of borscht
and his words are sour.
Don’t call me Hänschen, he says.
My name is John.
Do I not know my son’s name?
Did I not argue for six nights
with David, my husband, about that name?
On Wednesday night
the young people go to church.
They eat platz and give testimonies.
The girls have long golden hair.
Their cheeks are rosy from harvest
and dresses cover their knees.
When the young people sing together
it is heaven above and earth below
with sopranos and basses.
But my Hänschen
goes to dance in the city.
He has a girl friend.
She smears grease on her lips.
Her blond hair is cut and curled
and her knees are bare
like a young calf.
When they dance
their legs are noodles
and the music is a tractor.
The girl friend says it is not a shame
for a woman to cut her hair.
She thinks Mennonites are like Hutterites
and has never heard of roll kuchen.
What good can come of that?
Hänschen says she is a modern girl.
He says we must speak English to her
because she goes to the United Church.
He says Low German is a pile of manure.
Listen here, my little boy.
I will surround you with Low German.
I will speak piles of it to you.
Then you will know what Low German is!
Then you will remember -
a mother’s anger is a willow switch.
He does not listen.
We are poor he says.
We do not know how to make money.
He wants to be rich, like the English,
And save us all from Mannagruetze.
His heart is as tight as a peppernut.
His head is a piroshky
stuffed with fruit.
In the barn, the cats eat mice
and wait for milking time.
When my man comes in
I serve him dinner, steaming on a plate.
But my son does not know happiness.
On New Year’s Eve
we go to church at night,
and on Easter
as the sun rises
we sing praises.
Hänschen is at the church by eleven
on Easter.
On New Year’s Eve
he goes to dance.
He does not even come to hear the children
on Christmas Eve!
When he was still wet behind the ears
he was a wise man in the play.
Oh my son
my heart is heavy,
thick as glums.
If you come home
it will rise, light and sweet.
I will make you porzelky for breakfast
and we will celebrate the New Year
every morning.
David Walter-Toews.
Sowat 100 kilometer suid van Moose Jaw is Assiniboia, die spreekwoordelike one-horse town waarvan die perd ook al dood is. Dit het egter ‘n fassinerende kunsgalery wat net so maklik gevind kan word in ‘n stad soos Toronto of Vancouver. Bill Shurniak is in Assiniboia gebore en het ‘n loopbaan as internasionale bankier in die Ooste gevolg waar hy ‘n massiewe privaat kunsversameling opgebou het. Na sy aftrede het hy sowaar in Assiniboia kom aftree. Die prêries, so lyk dit my, laat mens nie maklik los nie. Daar het hy op eie koste die galery van sowat 750 vierkante meter laat oprig. Na wat ons verstaan het hy genoeg kunswerke om die galery drie keer te vul en die uitstallings word elke paar maande verander – meestal skilderye maar ook beeldhouwerke, potte, glasware, houtsneë en dies meer.
Hy is natuurlik geregtig op sy eie smaak waarvoor hy per slot van rekening betaal het en ons hou nie van alles wat daar hang nie, maar daar is heelwat uitstekende werke wat ons beïndruk het.
Sowat 200 kilometer oos van Moose Jaw is Wolseley met ‘n inwonertal van sowat 965, ‘n pragtige dorpie wat rondom ‘n meer geleë is. Ons het dit besoek om na die “Opera House”, opgerig in 1904, te gaan kyk. Nou ja, ‘n operahuis in die prêries bied nie juis operas aan nie al word dit met so ‘n titel verheerlik en hierdie een is geen uitsondering nie – tot op hede geen operas nie maar darem blyspele soos The Sound of Music en dies meer, asook toneelstukke deur Shakespeare. Wat ons veral van hierdie gebou getiekel het was die beplanning daarvan: dis bedoel om te dien as operahuis, raadsaal vir die dorpsraad en aan die agterkant… die brandweerstasie. Net in die prêries…
Die gebou was gesluit en ons het by die munisipale kantoor gaan vra of iemand dit vir ons kan oopmaak. Vyf minute later daag Dennis Fjestad, die burgemeester, op. Hy kon nie uitgepraat raak oor sy 2007-besoek aan SA (veral Kaapstad en die Sani-pas) nie, het die gebou oopgesluit en ons op ‘n baie interessante begeleide toer geneem. Al is Wolseley (vernoem na dieselfde persoon as Wolseley in SA) maar klein het dit ‘n aktiewe gemeenskapslewe met drie weekblaaie, twee skole, biblioteek en sy eie radiostasie. Die inwoners word beskryf as “a mixed culture of English, French, German, Polish, Ukranian, Irish, Scottish, Norwegian, Black South African and Aboriginal.”
Wolseley is ook een van die enigste twee plekke in Kanada wat so ver as ons weet nog ‘n propperse inryteater het, die ander een is in Medicine Hat, Alberta. Die Twilite Drive-In is al agt-en-vyftig jaar oud en bied weekliks tussen Mei en Augustus vertonings aan. Die teater gebruik tans nog ‘n outydse projektor met die film wat om spoele afgewentel word, maar dit sal binnekort deur digitale apparaat vervang moet word omdat vervaardigers nie meer films op hierdie manier gaan versprei nie.
Ongeveer twintig kilometer buitekant Moose Jaw is die Sukanen Ship Museum wat ons al etlike kere besoek het. Hierdie gerestoureerde dorpie bied ‘n fassinerende blik op die lewenswyse van mense in Saskatchewan vanaf sowat 1870 tot ongeveer 1940 – 1950. Die provinsie se ekonomie het tot ongeveer die 1970′s gestagneer en die mense se lewens was bitter, bitter moeilik, veral in die negentiende en vroeë twintigste eeu. Op skool het ek by herhaling gehoor en gelees hoe swaar die Voortrekkers gekry het, kaalvoet oor die Drakensberge en so aan en sonder twyfel was hul lewens nie maklik nie (en ek probeer nou nie hul swaarkry as nietig afmaak nie) maar inwoners van Saskatchewan se ontberings laat dit na kinderspeletjies lyk. Ten eerste is die klimaat hier doodeenvoudig wreed, ten tweede moes elke familie wat ‘n plaas gehad het hul eie werk doen sonder van handlangers gebruik te maak.
Die museum is elke weekdag oop wat nie juis veel beteken nie want daar is net die klerk wat jou toegangsfooi vra. So drie of vier keer per jaar word elke geboutjie en huisie in die museum egter beman deur mense wat diepgaande kennis oor die geskiedenis van hierdie omgewing het en dan is dit ‘n ander storie. Ongelukkig is hierdie mense almal oud – ek meen regtig oud – en is daar geen aanduiding dat jonger Moose Javians by hulle gaan oorneem nie. Ek onthou steeds ‘n omie van seker oor die tagtig wat verlede jaar met groot plesier aan my verduidelik en gedemonstreer het hoe ‘n vonk-gaping Morse-kode apparaat werk (ek hoop dis die regte Afrikaans vir “spark gap”) en dat dit dieselfde tipe apparaat is wat op die Titanic gebruik is. Okei, ek weet dat dit deesdae meer belangrik is om te weet hoe rekenaars en iPads werk, maar darem… Een van die dae gaan hierdie ou mense almal onder die kluite wees en groot stukke orale geskiedenis sal saam met hulle na die graf gaan.
INSTRUCTOR
the quickest draw in moose jaw
is fred bsc engg
he on his hip like a pistol wears
his calculator
electronic gunslinger/he swaggers
down the hall
his hewlett-packard swings easy
in its padded vinyl holster
fred watches the eyes
as he faces his pupils down
it’s the eyes/lighting
up like a switched-on
texas instrument/that
give them away/he guns
them down with a flick
of digits
Lorna Uher
Die museum is vernoem na Tomi Jaanus Alankola wat in 1878 in Finland gebore is. Ek weet nie waarom hy later in Kanada as Tom Sukanen bekend geword het nie alhoewel ek nog nie moed opgegee het om te probeer uitvind nie. In 1898 het hy na Minnesota in Amerika verhuis waar hy met ‘n Finse meisie in die huwelik getree het. Hulle het drie dogters en een seun gehad maar hul bestaan was uiters armoedig. In 1911 het hy te voet die 680 kilometer na Saskatchewan aangepak. Saam met sy broer het hy ‘n plaas tot stand gebring en in 1918 het hy weer te voet na Minnesota teruggekeer om sy familie te gaan haal, net om uit te vind dat sy vrou oorlede is en dat sy kinders in pleegsorg geplaas is.
Hy kon net sy seun opspoor en het twee keer gepoog om hom na Kanada te neem. Dit is egter as ‘n oortreding beskou en elke keer is sy seun van hom afgeneem. Hy het sy kinders nooit weer gesien nie. Na verdere rondswerwinge in Finland en Hudson Baai het hy teruggekeer na Moose Jaw, maar op daardie tydstip was die Groot Depressie in volle swang, geen boer kon hier ‘n lewe maak nie. Tom het kontak met die werklikheid begin verloor. Hy het besluit om ‘n boot te bou waarmee hy na Finland sou terugkeer.
Ses jaar lank het hy sy plaas verwaarloos en net aan die boot gewerk, een wat deur sowel stoom as seile aangedryf kon word. Dit is nooit voltooi nie. Hy het dit Sontiainen (Miskruier) gedoop. Sukanen wou dit deur riviere vaar tot in die oseaan en dan na Finland.
Sy bure het begin wonder oor Tom. Vandale het van die metaal van sy boot gestroop en vir Sukanen was dit die laaste strooi. Die manne in wit jasse het hom kom haal en hy is in 1943 as ‘n vergete armlastige oorlede, dieselfde jaar dat die langdurige droogte in Saskatchewan gebreek is.
Die middelste gedeelte van die onvoltooide boot is reg by die ingang tot die museum wat na Tom Sukanen en sy wilde, onvervulde en onvervulbare droom vernoem is. Die kruis in die voorgrond is die graf waar Sukanen later herbegrawe is.
Dalk net een ander aspek van die Sukanen Ship Museum: behalwe die uitstallings oor die lewenswyse van weleer het die museum ook ‘n kolossale uitstalling van antieke landbou-implemente. Daar is seker maar min mense wat belang stel in hoe trekkers en ander plaasimplemente van 70-80 jaar gelede lyk, maar net in geval enige leser van Versindaba dalkies so ‘n stokperdjie het – wel, Moose Jaw is die plek om te besoek…
















lekker blog Leon! nie geweet daar is soveel interessante dinge en plekke om te ervaar in Kanada nie. die kommunes is seker ook iets wat net eie is aan Amerika en nie hier in SA of ander lande nie. ek wonder hoekom. seker maar instellings van oor generasies heen wat oorgedra word.