Breytenbach Sentrum, Wellington: Tuin van digters – ‘n fotobeeld met gedigte (2)
Klippe gloe nie in democracy
Ek’t virre klip gesoek
klein genoeg soelat
ek ‘it kan dra
Ek’t virre klip gesoek
swaa’ genoeg soelat
geniemant ‘it kan steel
Ek’t virre gladde klip gesoek,
moet genoeg space
omme poem op te paint
Ek’t virre klip gesoek
grof genoeg om innie Poets
Garden ingemessel te wid
Ek’t virre klip gesoek
groter assie hand soelat
geniemant iemant oppie Flêts
daa’mee kan gôi
‘cos klippe gloe mossie in democracy!
Ek… ek’t my klip gekry…my Bra!
© Willem Fransman Jr
Vers-word
Die wind skryf gedagtes
ligter as distels
oor klip in ‘n tuin
by Wellington.
Die nag word die kelk
van ‘n maanblom;
drome skiet saad
op die digter se tong.
Die geheue dra botsels
soos bloeisels;
drink aan ‘n tepelrooi son,
word vers, langsamerhand.
- Zandra Bezuidenhout
O’ My Gedigte Tuin
O’ hoe bly ek jou lyf op hoogtes soek
My hele wese roep uit na jou vrug
Ysberg blits vulkaan tot in elke hoek
Gooi ek nié tou op om jou te bevrug
Ek ry jou heelnagdeur tot daglig breek
Dié tuin van my bemes ek jaar na jaar
In SÝ paradys tot bloeisels uitsteek
Gesiggies tapisserie bo die blaar
Tonne humusverrykte kwatryne
Ego oor berge dale hemelruim
Tanka’s “Pop – ‘n – Wheel” oor witsandduine
Uit Japan klots haikoes soos branderskuim
In die limeriek sonnet vrye vers
Noem maar op… sokkie ek met opsitkers
© Floris Brown
Villasavary, Frankryk
hoog in Villasavary op ‘n balkon
wat moontlik eeue gelede uitgekap is
sweef ek uitgelate oor sonneblomgeel
afwisselend met oopgeharkte grond
waar ronde bale gras uitdroog
in die somerson
om ‘n gedig te skryf sou beter wees
om hierdie landskap vas te bind
al is die woorde te lig en te wit
te klip te groen – alles gly terug
in die begraaftuin van vervloeë dae
vergeel dan vinnig tot ‘n vlerk
sonneblompapier
*
(agterna is die reis net
‘n draling van windvoete tussen sipresse deur
‘n asemproe soos reën teen ‘n horison
met asfaltgedagtes wat oorskadu word
om alles weer te verken en met
woorde terug te lap)
© marlise joubert 2012
‘n tuin
‘n tuin is die huis
van skaduwee en mens
die honde en die voëls
is die oudword en ritsel
van die snoeiskêr en die hark
oor die grasperk van jou hart
waar jy as kind kon ruik
hoe die lewe sou wees
maar steeds jou kanse sou vat
die knol in die grond prop
die saad in die wind
blomme deur die winter bid
pit tot perske
die skadu skuif
die ryp raas
maar na ‘n nag
kom ‘n dag
na ‘n winter
‘n somer
‘n mens
‘n tuin
- ©Toast Coetzer






















Ek is in Mafikeng vir werk. Ek kon nie slaap gisteraand, staan vroeg op, kom sit in die lesingsaal… lees versindaba. Dankie vir mooi wat ek vanoggend kon proe, so alleen in die vertrek waar ek vandag nog gaan rondspeel op my selfoon, anderpad kyk na my kollegas wat slaap, wat onderlangs gesels, miskien neus krap. Dankie dat ek my stiltetyd vanoggend met jul tuin van digters kon deurbring!