Resensie: Die onsienlike son (Jacobus van der Riet)

Die ongeloof-like wonderwêreld van die geloof: “Die onsienlike son” – Jacobus van der Riet (Protea Boekhuis, 2012: ISBN: 9781869197513; Sagteband, R160.00, 104 pp.)

Resensie deur Tom Gouws

Omslag

Omslag

In die Brief aan die Hebreërs word daar van Moses hierdie merkwaardige woorde gesê: “hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien”. Hierdie Onsienlike, Yahwe, word deurgaans in die Skrifte gemetaforiseer as Son, byvoorbeeld deur die profeet Maleági as die “Son van Geregtigheid”; die kinders van Korag sê oor Hom: “die HERE God is ‘n son en skild”; en later skryf die apostel Paulus oor Hom dat Hy “onsienlik” is, en “‘n ontoeganklike lig bewoon”. Van God se Seun, Yashua, skryf Paulus eweneens in die sendbrief aan die Kolossense: “Hy is die Beeld van die onsienlike God”. Op die berg van verheerliking was Jesus se aangesig blink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.

Maar ook “die wat Hom liefhet, is soos die opgang van die son”, leer ons uit die krygsgedig van die profetes Debóra, en later verklaar Jesus:”die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader”  hier op aarde.

Binne hierdie geloofsraam bied die debuutdigter Jacobus van der Riet sy eerste worp gedigte getiteld: Die Onsienlike Son.

Vader Jacobus van der Rietis een van net twee Afrikaanssprekende priesters in die Oos-Ortodokse Kerk. In 1054 het die Ortodoksie van die Rooms-Katolisisme geskeur. Dis ‘n geloofsgroepering wat groot klem lê op die gemeenskap met die heiliges, die wat nog lewe, ook dié wat reeds gesterf het (maar dikwels op mistieke wyse steeds betrokke is by die ondermaanse). Verstaanbaar dan dat die digter se leef- en denkwêreld uiting gevind het in ‘n versameling hagiografiese gedigte. ‘n Mens sou gepas Psalm 16:3 as motto aan die bundel kon gee  – “Maar aangaande die heiliges wat op die aarde is, sê ek: Hulle is die heerlikes in wie al my behae is.”

Die digbundel is uitsonderlik mooi uitgegee deur Protea Boekhuis, op duursame glanspapier, en met pragtige volkleurafdrukke vandie ikonograaf Julia Bridget Hayes.(Sien haar werk by http://www.ikonographics.net/julias-blog.html.) Die aanwesigheid van die ikone skep ‘n serene atmosfeer wat, getrou aan die kuns van die hagiografie, ‘n bepaalde toonaard vir die gedigte dikteer.Die ingesteldheid van die hagiograaf is durende verwondering, ook hier, in gedig na gedig. (Dit word ikonies mooi vasgevang in twee titels, waar die duratief dit aandui: ‘Die Heilige Biskop en Martelaar Ignatius van Antiochië, die Goddraende’, en ‘Die Heilige Grootmartelaar Dimitrios die Mirrestromende van Thessalonika’. En let op hoe knap word dit ingeweef in die eerste twee versreëls op p. 75: “Ondervoets kraak nog die droë tak en die droë twyg. / Waar sy byl die hout kloof, ontsnap steeds ‘n sug.”)

Gekoppelmet die feit dat Van der Riet ál ses-en-sestig gedigte in sonnetvorm skryf, gee aan die bundel ‘n gepaste ikonisiteit, maar helaas ook dodelike eenselwigheid. Soos die Ortodokse geloof, skep die poësie ‘n geheelindruk van ritualistiese patroonmatigheid en godsdienstige formalisering.

Tog, gode sy dank, laat die poësie haar nooit inbind binne godsdienstige of ideologiese borstrokke nie, al waak Van der Riet getrou oor sy woordgemeente. Sienderoë glip daar ‘n speelsheid, ‘n onverwagte nattigheidjie, ‘n onbedoelde modderigheid wat getuig van gewone menswees. Hiertoe help die uitvoerige biografiese notas oor Bybelse profete, woestynvaders, en ander minderbekende heiliges agterin die digbundel ‘n bietjie. Dit help om die té soet wierookreuk van mensverheerliking te temper, enna egte karoobossie te laat ruik, om ‘n mooi beeld van Johannes de Villiers in ‘n artikel oor die digter te leen. Die aantekeninge agter, hoofsaaklik verkry uit die Synaxarion, ofte wel Die Lewe van die Heiliges, help ook telkens om die gedigkontekste meer verstaanbaar te maak. Daarsonder sou van die gedigte op die oog af lukrake jukstaposisies geword het vir lesers wat nie so vertroud is met die lewensgeskiedenisse van die heiliges nie.

Anders as vir die meeste ander lesers miskien pla die goedgelowigheid van die digterlike spreker my vreemd genoeg nie. Dis onteenseglik so dat hý glo in die wonderwerkinge van die geloof, selfs al neem van die legendes dalk mitiese proporsies aan. ‘n Mens stuit dikwels (veral in die aantekeninge) teen die ongeloof-like wonderwêreld van die geloof, van die wonderdoende relieke, die ekstreme, selfs bisarre gebeure, die rituele verskynings van heilige dwalendes en besoekende wandelendes, die levitasies, en vele meer.Maar duidelik het die digter – soos verskeie ander mense voor hom – “‘n ervaring van die ongeskape lig van God gehad”, soos wat dit op p. 97 genoem word. Hulle het bepaald die Onsienlike Son gesien, soos Saulus op die pad van Damaskus, waaroor hy getuig het voor die koning: “in die middel van die dag op die pad (het ek) ‘n lig uit die hemel gesien, sterker as die glans van die son” (Handelinge 26:13).Daarteen durf  mens nie veel sê nie, behalwe as jy miskien George Claassen is. Al wat ék durf prewel, is: Al was ek nie daar nie, ek weet dit is waar. (In die voorwoord tot Saints Preserve Us! sê Sean Kelly & Rosemary Rogers: “But we haven’t made anything up. So help us, Saint Christina the Astonishing.”)

In ‘n onderhoud op Versindaba wat die digter met Cas Vos gehad het, sê hy: “‘n Mens moet as’t ware eers in kommunie met die heilige tree voor jy oor hom of haar kan skryf.” Sjoe. Dit verklaar miskien in ‘n groot mate die vertederende verering, die ongekontamineerde piëteit wat die bundel kenmerk. In die gedig ‘Die Heilige Profeet Jeremia’ is dit dubbelsinnig goed dat dit nie duidelik is of dit Jeremia of die digterlike ek is wat praat nie: “lê Hy wat jou roep die reëls presies só in jou mond”, en “Dig jou tongof is dit bloot die griffel van die Digter-God?”.

Maar selfs as jy nie glo in, byvoorbeeld, die heilige Serafim van Sarof, en skepties is oor sy vriendskap met bere, wonder of hy werklik in twintig jaar nóóit ‘n enkelte woord gesê het nie, en jou uitspreek teen die praktisiteit dat hy voorwaar duisend dae en nagte op ‘n rots gekniel het, is dít bepaald die vermolmde boomstam waaruit orgideë beur! Weliswaar is dit die stof waaruit poësiegebore word.

Tot nou toe het ons hoofsaaklik na die vooropgestelde tematiek van die digbundel gekyk. Maar hoe vaardig is die digtershand met die versifikasie?

Om ses-en-sestig sonnette te skryf, in elke denkbare en ondenkbare styl onder die sienlike son, is op sigself ‘n prestasie. Van der Riet kry dit met gemengde welslae reg. Bykans al die moontlike vorme van die sonnet is daar, maar hy bied niks meer oorspronkliks en innoverend soos byvoorbeeld Ted Berrigan se The Sonnets nie, iets wat ‘n leser verwag as ‘n digter spesialiseer op ‘n digterlike vorm. Dikwels verloop die gedig na die einde toe – ek vind baie slotkoeplette swak, selfs al is die gedigliggaam goed, byvoorbeeld in ‘Die Heilige Lasarus van die Vierde Dag’, ‘Die Heilige Evangelis en Apostel Johannes die Teoloog’, ‘Die Heilige Dawid van Thessalonika’,’Die Heilige Elisabet, die Nuwe Martelaar’, en verskeie ander. ‘n Uitstekende gedig, soos ‘Die Heilige Eufrosynos die Kok’ word ten slotte deur die swak paarrymende koeplet in die wiele gery. Hierdie gedig stal die digter se vermoë tot metaforisering, beeldvorming en sy hantering van rym goed uit:

Nie vlug van gees, maar eenvoudig soos prei,

kom Eufrosynos tereg, ná seisoene van swerf,

in ‘n kloosterkombuis waar hy skil, opkap en kerf,

waar sy hart begin gloei soos sitroen en gedy.

Vlek hy ‘n vis, sing hy oor die patroon van ‘n graat:

“Eer aan U, o God, U het als met wysheid gemaak.”

Oor elke kleur sing hy, oor elke fatsoen en smaak,

die rooi en rye pitte van die waatlemoen en granaat.

 

Gestroop soos ‘n ui aanvaar hy die spot wat sny

deur die skil, dog in ‘n droom oor die tuin van geluk

sien die ab hoe die kok ‘n tak met die appels pluk,

wat hy by die klokkegeluid vind in die vou van sy py.

 

As siekes daaraan byt en gesond soos na ‘n heilige kyk,

daag by Eufrosynos die besef: Dis weer tyd om te wyk.

 

Alhoewel daar in sommige gedigte soms ‘n geyktheid insluip, en party ryme ruik na dwang of verveling, is daar genoeglike vondste en “kom woorde, glip soos oor ‘n leidam se lip / in ‘n verlossende vloed van homilie en gedig”. Bepaald is die digter nie in alle gevalle “‘n meester van die metafoor… / ‘n vaardige ambagsman van die onopgesmukte similee” nie, is daar bepaald  “deur die murg van genade, nog ingebed in die been” (p. 14) ‘n rasegte digterlike ambagtelikheid te bespeur.

Soms voel die leser die digter kon meer van gegewens gemaak het (p. 49), is ‘n uitgebreide vergelyking nét te dik vir ‘n daalder (p. 29), word die digter verlei deur ‘n té bewustelike alliterasie (p. 43), die uitdaginglose opgestapeling pla soms (“haar Heiland, haar Here en Herder, p. 51), ook die vertrekte toutologieë (bv.”warm trane geween”, p. 84) en ander poëtiese ondiere in versvoege. Die begin- en slotgedig van die bundel is vir my gevoel albei maar effentjies en hopeloos te lig in die py – in so ‘n bundeleenselwigheid behoort bundelkomposisie ‘n belangriker rol te speel. (Veral as daar spesifiek 66 gedigte is, en ‘n mens wil neig om dit te lees as heenwysing na die 66 boeke van die Bybel. Maar dis duidelik nié so gekanoniseer nie, al sou ek dit wou hê, veral om ‘n beter Génesis en Openbaring te verkry.)

In die lig van die religieuse tradisie in die Afrikaanse poësie maak Van der Riet ‘n belangrike, eiesoortige bydrae. Alhoewel daar verskeie digters is wat oor heiliges geskryf het, is dit die mees doelgerigte tematiese toevoeging tot ons literatuurskat nóg. Tog is dit glad nie te vergelyk met die beste van Sheila Cussons se soortgelyke gedigte oor heiliges nie; ook kom dit nie naby aan die ekstatiese hoogtepunt van byvoorbeeld D.J. Opperman se omdigting van Het Heilige Leven van Sinte Kerstine tot ‘Kroniek van Kristien’ nie. Maar dit is goue strate beter as die meeste debuutbundels van ons galery predikantedigters. ‘n Vers soos ‘Die Heilige Maagd Maria, die Moeder van God’ toon Van der Riet se vermoë om ‘n hele stuk evangelie in die klein bestek van die gedig te kan integreer en die kernaspekte van religieuse poësie,verlossing en vereenselwiging, poëties beslag te kan gee. Dit sê veel. Om dit met oorbekende gegewe nuut en aangrypend te kan doen, wys onteenseglik sy digterlike denke.

Die genoeglikheid wat hierdie debuutdigbundel bied, oorskadu by verre sy mankemente.Dit is ‘n geloofbare getuienis van Handelinge 26:13: “Die lig in Hom is sterker as die son.”

 

© Tom Gouws

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Resensie: Die onsienlike son (Jacobus van der Riet)”

  1. Bernard Odendaal :

    Dis ‘n resensie waarmee ek graag akkoord gaan. Geluk aan die digter – en lof aan die redakteur en uitgewer vir so ‘n mooie bundel.

  2. Dankie aan Tom Gouws vir die interessante resensie. En veels geluk aan Vader Jakobus vir die eerste Ortodokse digbundel in Afrikaans. Dis ‘n wonderlike bydrae!