André Pretorius. Camões se Os Lusíadas

Dit is ‘n Kaapse storie, maar hy ontspring ver van die Kaap.

In die hertogstadjie Mantova in die Po-vallei in Italië word ‘n prehistoriese veldslag steeds geveg: Federico II Gonzaga, hertog van Mantova, het die skilder Giulio Romano aangestel om sy plesierpaleis, die Palazzo Te, te versier.  In die beroemdste vertrek, die Sala dei Giganti of “Saal van die Reuse”, bevind ek myself een wintersoggend van aangesig tot aangesig met Giulio se herskepping van ‘n bloedstollende konfrontasie uit die klassieke mitologie.

  Dit word vertel dat die sonderlinge ras van Reuse – seuns van die Hemel en Aarde – die gode se vesting op Olimpus probeer verower het.  Jupiter en sy gode het egter hulle aanslag afgeweer.  Dus troon die oppergod aan een kant van die vertrek – die argitektoniese grense is weggepleister om ‘n enkele, aaneenlopende oppervlak te skep, ‘n grot-agtige ruimte met oneweredige mure – met ‘n koker vol blitse en donderslae wat hy teen die gedoemde Reuse lanseer.

  Laer teen die grotwande koes die Reuse, verpletter deur die tuimelende rotse.  Hulle gesigte is vertrek van vrees en vasberadenheid, hulle gelaatstrekke dié van figure in ‘n kinderstorieboek.  Rondom Jupiter vlug die ander gode in alle rigtings, verskrik deur die tierende konfrontasie tussen gode en Reuse.

  Duisende jare ná die verplettering van die Reuse is nuwe lewe geblaas in hulle verhaal – en in die proses ‘n Suid-Afrikaanse stigtingsmite geskep.

Casa da Mateus

  Lank ná daardie oggend in die Palazzo Te besoek ek ‘n ander Europese herehuis, die Casa da Mateus by Vila Real in die vallei van die Douro-rivier in die noorde van Portugal.  Ek word rondgelei deur die pragtige Ana Paganini, ‘n borrelende donkerkop.  Later blyk dit sy is Ana Sousa Botelho Albuquerque Paganini, afstammeling van die Botelho-familie vir wie die Casa da Mateus drie eeue reeds “huis” is.  Daar is donker houtpanele teen die mure, ou porselein in die muurkaste, swaar kristalkandelare aan die plafon en daardie verruklike mengsel van mufreuk en blink politoer wat alleen met die eeue saam neerslaan.

  Die Casa da Mateus, voel dit my, is ‘n verlangse neef van daardie ou Kaapse opstalle – plekke soos Constantia of Vergelegen.  Nie bloedbroer nie: hierdie is ‘n produk van die Portugese Barok en dit drup met Portugese Katolisisme, eerder as die Kaaps-Hollandse kentekens van Protestantse Nederland se Goue Era wat uitgevoer is na die verre suide.  Maar neefs nietemin: relikwieë van ‘n 18e eeuse landelike klein-adel waarin die voetstappe van hul eertydse inwoners steeds eggo.

  En skielik, in ‘n glaskas in die ou biblioteek met sy rakke vol leergebonde waardigheid, vang my oog ‘n verbeelding van daardie Kaapse stigtingsmite: ‘n woeste, bebaarde figuur met ‘n liggaam van rots waarin die buitelyne van ou Tafelberg uit te maak is (sy regterhand lê op Duiwelspiek).  Die figuur met sy kop soos ‘n versmelting van wind en wolk op ‘n torso van rots – amper soos ‘n Ou Testamentiese God die Vader – tier met stille woede op ‘n etsplaat en die afdruk daarvan. 

  Die tierende figuur is Adamastor, een van die verslane Reuse en later die bewaker van die seeweg om die Kaap van Storms, en hy terroriseer ‘n nietige 15e eeuse karveel – deel van die vloot van Vasco da Gama op sy epiese eerste reis om Afrika na Indië in 1497/8.

  Maar toe die Reuse Olimpus probeer binneval het, was Adamastor nie daar nie – nie eens in die mitologiese verbeelding van antieke nie.  En nie een van die Reuse op die mure van die Sala Dei Giganti is te eien as die Kaapse Reus nie.

  Want Adamastor was ‘n nuutskepping van ‘n Portugese digter in die 16e eeu, die ent van ‘n nuwe loot op ‘n ou mitologiese stam, in een van die grootste werke van die Renaissance in enige taal: Luís Vaz de Camões se epos Os Lusíadas (of “Die Seuns van Lusus“).

  Os Lusíadas is die “nasionale gedig” van Portugal, ‘n epiese vertelling van dié land se geskiedenis tot en met sy “goue era” – die ontdekkingstogte van Prins Hendrik die Seevaarder.  Ana, my gids, is begeester toe ek die Adamastor-plaat herken: soos alle Portugese kinders – sy lyk skaars 20 – moes sy Os Lusíadas op skool bestudeer, maar min uitlanders wat hier aandoen is bekend met dié hoeksteen van Portugese kultuur.

  Die gedig se tien kanto’s – bestaande uit strofes van agt reëls elk met ‘n vaste rympatroon van ABABABCC – vertel die verhaal van Da Gama se reis.  Camões kry dit egter reg om ‘n epiese weergawe van Portugal se voorgeskiedenis in te sluit, deur Da Gama te kry om die verhaal van die Portugese volk te vertel aan die goedgesinde Sultan van Malindi (in die huidige Kenia) en later aan die verteenwoordigers van die heerser van Calicut (deesdae Kozhikode aan die Indiese suidweskus).

  Camões self het daardie reis in 1553 aan boord van die Sao Bento meegemaak en Adamastor is oënskynlik gebore uit die huwelik van Camões se eie vreesaanjaende kennismaking met die woeste seë van die Stormkaap en die oorlewering van ‘n soortgelyke ervaring deur Da Gama se vloot.

  Camões se beskrywing is te vinde in kanto V, strofes 37-61*.  Da Gama se vloot bevind hulle voorspoedig in die Suidersee, maar dan:

 

Verskyn meteens ‘n wolk wat die hemel bo verduister,

Laag oorhoofs, en ons in ‘n somber skadu kluister.

Die donker see het diep gebulder en veraf het sy gang

Geraas, asof dit sinloos vasslaan teen ‘n rotsrif daar.

 

Die argitek van daardie onheil was ‘n skrikwekkende figuur:

 

‘Terwyl ek nog gepraat het, het ‘n reusagtige figuur

Teen die skemer opgestaan, robuus en fors,

‘n wangemaakte romp wat teen die lae wolke skuur,

Sy gesig gekwel en stuurs, sy baard vuig bemors,

Gloeiende oë was diep gesonke, sy voorkoms guur

En smeulend boos, die gelaat was bleek gekors,

Elke gewringde haar was verstrengel in slik en grond,

En die tande geel in die donker gaping van sy mond.

Sy stemtoon het gruwelik geklink asof dit los

Geruk is van die bodem en uit die see se diepte kras:

Ons hare het gerys, bloed het gekil en wild verstoor

In my en almal, net om hom te sien, sy stem te hoor.

 

  Daardie koperplaat in die Casa da Mateus met sy vreesaanjaende Adamastor is een van twaalf gegraveer in opdrag van die Graaf van Vila Real vir ‘n beroemde uitgawe van Os Lusíadas uit 1817.  Twee-honderd-en-tien kopieë is gedruk – insluitend die een op perkament wat hier bewaar word – en aan die gekroonde hoofde en waardige akademies van Europa gestuur.  Hulle dankiebriewe – van pous Pius VII, Lodewyk-Filips van Frankryk en tsaar Alexander I, onder andere – word teen die mure uitgestal.

  Maar, hoe vernuftig die uitbeelding op die koperplaat ookal is, verdof dit neffens Camões se woorde.  Sy skrikwekkende Adamastor dreig en vervloek die Portugese seevaarders wat dit kom waag het om sy ryk te onteer met hulle vermetele teenwoordigheid.  Dit is ‘n vloek wat steeds eggo wanneer die Stormkaap sy naam gestand doen op ‘n ongure wintersdag:

 

Omdat julle die oergeperkte grense wil verander,

My ongerepte deinings waag seil teen die wind,

Waaroor ek reeds lank selfsugtig waghou en bewaar,

Luister vervloektes en hoor die verdoemenis,

Vir julle tartende houding sal ek julle verstoot

In elke streek van hierdie aarde en oor veraf seë,

Wat nog oorwin sal word in jul leë oorlogsweë

 

Weet dat, wanneer julle bote seil langs hierdie weg,

Wat u nou oopbreek en met dieselfde krag en moed,

Vyandigheid in hierdie streek sal teëkom, en beleg

Deur winde, teen genadelose storms onbehoed

Sal wees: die eerste vloot wat deur my waters veg

Sal voor teisterende golwe hulpeloos moet boet,

Ek sal alles self bestier vir hul verdiend’ kastyding

Met gevare, rampspoed en oneindigende lyding.

En, as ek myself nie verloën nie, beloof en sweer

Ek, teen hom wat my onthul het, onbeheerste wraak:

Aan die einde van my slenters sal daar geen keer

Wees vir die dwase volharding met u astrante saak;

Wanneer julle skepe elke jaar verskyn, meer en meer

(as my oordeel eg is en dit volbring kan raak)

Skipbreuk, gevaar van alle soorte en ongekende vrees,

Totdat dood die minste van euwel ongeluk sal wees.

 

  Hy sweer sy wraak teen die vermetele Portugese wie se graf hy sou word: Bartolomeu Dias, wat in 1488 die eerste Europeër geword het om rondom hierdie Kaap te vaar en Adamastor se ryk te penetreer, het in 1500 hier gesink in bevel van een van Pedro Álvares de Cabral se skepe (Cabral se vloot het onderweg na Indië so erg van koers gewaai dat hulle Brasilië ontdek het); Francisco d’Almeida, die vlootkommandeur, het in 1510 in ‘n skermutseling met plaaslike Khoi-Khoi omgekom.

  Die seevaarder se vraag “Wie is u?” ontlok ‘n vurige reaksie:

 

Met verwronge mond, die donker oë rollend en vervaard

En met ‘n uitsonderlike en roudiep skreeugrom,

Het hy geantwoord, droef en bitter het hy begin,

Soos een wat ‘n vraag moes aanhoor teen sy sin.

 

  Sy antwoord is woede:

 

Ek is die einde van Afrika se kus, waar dit gedwonge

Na die ooste knak: my voorgebergte sonder faam,

Ofskoon dit tot teen Antarktika in die suide daal,

Is nou onteer deur jul honger en beledigende praal

 

  Maar agter die woede skuil ‘n ontroerende verhaal van verbode liefde.  Adamastor, die gruwelike seun van Uranus en die Aarde en aanspraakmaker op die ryk van die seë, het sy hart verloor op die seenimf, Thetis, die “prinses van die branders” wat hom oorspoel het met hunkering “deur rede onbegrens“.  Hy het haar omhels, geliefkoos, net om te besef dit wat hy vashou is rots: sy het hom ontglip weens sy “groteske voorkoms en bruut gebaar“.

  Die wraak van die gode was genadeloos: vir sy verbode liefde is die verslane Reus verdoem tot ‘n lewende dood as die rotsagtige suiderskans tussen Afrika en die see.

 

“My vlees het teen die see gestol soos klei, ‘n barre muur,

En my lewendige gebeente het klipharde rots geraak,

Hierdie ledemate wat u aanskou en hierdie figuur

Is oor die verre waters uitgestrek, verlaat en naak:

My enorme lyf moes die ellendige straf verduur,

Ek is in hierdie Kaap verander en hier versaak

Deur hemelgode, en om al die wonde, een vir een

Te verdubbel, roer Thetis daagliks om my heen.”

 

  Die koketterige nimf was in die water wat om hom spoel, maar sy was vir ewig buite bereik.  Al wat hy in sy magtelose verankering kon doen was om wag te staan oor die onskendbaarheid van die suidelike oseane – totdat Da Gama en sy Portugese selfs daardie ryk kom binnedring het.

 

Sy storie klaar en met ‘n aaklige geween in ons ore

Het hy skielik in die skemer voor ons weggeraak:

Die donker wolk het verflenter en die sonore

Kreet het ver en ongebroke oor die oseaan gekraak.

 

  Party het in die Adamastor-verhaal die buitelyne van eeue se rasse-ideologie in Suid-Afrika bespeur: ‘n ontmoeting tussen ‘n wilde en vyandige – maar uiteindelik impotente – kontinent en die heroute van die Europese Verligting, waarin eersgenoemde onderwerp moet word om laasgenoemde se vooruitgang te bestendig.

  Miskien wel – interpretasie is immers ‘n geduldige dissipline.  Maar ek verkies om op ‘n onstuimige wintersdag aan die Stormkaap my oë op te slaan na berg en wolk, soos Da Gama en Camões van ouds, en my te verbeel die elemente is die uitdrukking van ‘n vasgekluisterde, woedende Reus wat ween oor die liefde wat hom ewig ontglip het en ontwykend om sy kranse bly spoel.

  ‘n Soort verbode liefde is ook die tema van ‘n ander episode uit Os Lusíadas.  Ek kom dit teë in die Quinta das Lagrimas – die “Huis van Trane” – aan die oewers van die Mondego-rivier in die ou universiteitstadjie van Coimbra, halfpad tussen Vila Real en Lissabon.  Na Coimbra het die Portugese Nobelpryswenner José Saramago in Journey to Portugal verwys as “that provincial town with two hats to wear: one of them its own, and the other on top, filled with knowledge and some immaterial prodigies“.

  Die Quinta is ‘n 18e eeuse herehuis wat deesdae ‘n luukse hotel huisves, maar die drama wat aan hom sy naam gegee het, het afgespeel in die park rondom die huis.  Die hotel se mure is oordek in heenwysers na daardie drama: in skilderye, afdrukke, rolprentplakkate, loketkennisgewings, etse, selfs ‘n afdruk van een van daardie ander plate in die Casa da Mateus word die tragedie van Pedro en Inês in herinnering geroep.

  Dom Pedro was die 14e eeuse troonopvolger tot sy pa, koning Afonso IV, en die beeldskone Inês de Castro was sy Spaanse minnares en ma van sy twee seuns.  Uit vrees vir haar twee seuns se aanspraak op die Portugese troon het die ou koning egter ‘n handvol edelmanne oortuig om Inês om die lewe te bring.  Hulle swarte daad is in die tuin van die Quinta das Lagrimas gepleeg en word onthou in kanto III, vers 132:

 

            So confronting Inês, the brute killers,

            In that neck of alabaster, which sustained

            The very features that transfixed

            The prince who afterwards made her queen,

            Plunged their swords…

 

  Die tuin is meer park as tuin: ‘n ruie bos teen ‘n hang, vol uitgelese bome.  Hier troon twee mammoetbome, aangeplant deur ‘n Engelse krygsheer, die Hertog van Wellington, toe hy hier vertoef het tydens sy veldtog om Napoleon se juk van Portugese skouers te lig.  In die donker bos borrel twee fonteine, die Fontein van Trane en die Fontein van Liefde:

 

            The nymphs of Mondego long remembered

            That dark death with mourning,

            And their tears were transformed

            To a fountain in eternal memory;

            Its name, ‘the Love of Inês’,

            Who wandered there, still endures

 

  Want die verspilling van Inês se bloed op hierdie turf was nie die einde van Pedro se liefde vir haar nie.  Daar is ‘n leidraad tot die epiloog in die reël “the prince who afterwards made her queen” en vers 118 onthul die makabere verhaal van Pedro se postume liefde vir sy Inês:

 

            But now the tragic history unfolded

            Of her whom men disinterred from the grave

            And, in a pitiful and macabre scene,

            Only after her death was enthroned as queen.

           

  Nadat hy die troon bestyg het, het Pedro glo sy gestorwe minnares laat opgrawe, haar as koningin uitgedos en haar langs hom laat kroon.  Die daad van ‘n gekke?  Gek met liefde, miskien.  Want Pedro het bepaal dat hy by sy dood saam met Inês begrawe moes word in die klooster van Alcobaça.  Maar nie net saam met haar nie: voet-aan-voet sodat hulle by die opstanding van die vlees die eerste sou wees wat mekaar sien.

  Dus koers ek suid met een van die spiksplinternuwe hoofweë na Lissabon wat met Europese geld gebou is in die rigting van twee beroemde kloosters.  Batalha is opgerig as ‘n soort Portugese “Voortrekkermonument”: ‘n bidplek uit danksegging vir die Portugese oorwinning teen ‘n oormag Spanjaarde in 1385 by Aljubarrota.

  Ek was egter eens tevore reeds daar, destyds weliswaar in effens ander omstandighede – twee-man tentjie, universiteitsvriend, daaglikse begroting van £20.  Maar selfs ná die frustrasie van tentpenne in hierdie genadelose aarde probeer slaan sonder ‘n hamer en die onvoorspelbaarhede van Portugese openbare vervoer, weerspieël my notas van destyds verwondering oor die Gotiese glorie van Batalha.

  Maar hierdie keer gaan ek net tot by Alcobaça.  Daar hang ‘n droefheid oor hierdie kompleks: eens was dit ‘n manifestasie van geloof en mag, van die geskiedenis wat Camões in sy epos besing, maar nou staan dit as ‘n toonbeeld van verganklikheid.

  Die klooster van Alcobaça is opgerig in die 12e eeu, ‘n geskenk aan St. Bernard van Clairvaux, die hoof van die Cisterciënsiese monniksorde – een van die magtigste van die Middeleeue – ter herdenking van die Portugese oorwinning oor die More by Santarém in 1147.  Die fasade het in die 18e eeu ‘n Barok-aangesig gekry – en vandag troon dit teen die blou lug – maar daaragter heers steeds die Gotiek.  Magtige suile mond uit in die ribbe van die dak, alles in klip, sonder die afleiding van skilderkuns, brandglas of beeldhouwerk.

Alcobaca

Alcobaca

  Die beeldskone eenvoud van naakte klip gevorm deur ‘n Middeleeuse geloofsbelewenis spoel deur ‘n sydeur na die klooster self, met sy eetsaal, sy slaapsaal waar die gelid van pilare nou waghou oor die skadu’s van die monnikbeddens wat nie meer hier staan nie.

  Want in die plek van die suising van monniksgewade in die koel kloostergange en die ritmes van liturgie in die kloosterkerk, klink daar nou maar net die murmeling van toeriste en kamerasluiters.    Op my rug sit Daniel en blaas ‘n andersoortige lewe in hierdie sober mure: sy een-jarige verstandjie werk uit dat hierdie Gotiek eggo as hy kraai “aa-hie!”.

  Die suilegang lok ons na die kruispunt van die kerk en in sy arms lê die volbrenging van die legende van Pedro en Inês: hier lê die twee geliefdes met hulle voete na mekaar, elk in ‘n ryklik-versierde marmersarkofaag.  Pedro se sluimerende beeld het die eeue beter oorleef: die delikate beitelwerk van sy kroon rus steeds op ‘n forse profiel wat spreek van koningskap, maar Inês het haar neus verloor; in dood, soos in lewe, is sy geskend.   Die wande van elk se sarkofaag word ingeklee deur Bybeltonele in die fynste marmerkerfwerk – sy het die Oordeelsdag aan haar voete.

  Die oorlewering dat die gestorwe geliefdes so voet-aan-voet lê ten einde by die laaste trompetgeskal die eerste siele te wees wat mekaar sien, blyk egter legende te wees: die huidige posisie van die kiste is nie hoe hulle ses eeue gelede geplaas is nie, maar die produk van eeue van onstuimigheid – Napoleontiese invallers was nie die enigste barbare wat hulle rus kom verstoor het nie.

  Maar miskien is legende soms interessanter as die waarheid: met Adamastor het Camões sy eie legende gestapel op ʼn antieke legende; met Pedro en Inês het hy ʼn historiese gegewe aangedik tot die legendariese.  Waarom dan nie ook maar glo dat die twee geliefdes so voet-aan-voet lê om eendag hulle verlore liefdes terug te vind nie?

 

* Os Lusíadas is nie volledig in Afrikaans beskikbaar nie.  Dié uittreksels is uit ‘n Afrikaanse vertaling van die Adamastor-sage deur Schalk W. le Roux en Edna Peres wat in 2008 in ‘n artikel van proff. le Roux en O.J.O. Ferreira in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe verskyn het.

** Engelse vertalings: The Lusíads deur Landeg White in die Oxford World Classics-reeks.

 

André Pretorius is die skrywer van twee bundels reissketse en woon in Cambridge, Engeland.

© André Pretorius

Coimbra

Julie 2012

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.