Resensie: Teen die lig (Hennie Aucamp)

Teen die lig  – Hennie Aucamp  (ISBN 9781869197643; sagteband , pp 64, R150; Protea Boekhuis, 2012)

Resensent: Joan Hambidge

 

Ek leun teen die hoekpaal, my hart klop sterk:

Hiér vind ek heiligheid, hier is my kerk.

 

I

 

omslag

omslag

Hennie Aucamp is ʼn gevestigde kortverhaalskrywer, teoretikus, aforis, dagboekskrywer, kabarettis én digter. Trouens, hy is besonder veelsydig en die afgelope paar jaar het hy ʼn paar aangrypende sonnette gepubliseer. Sy gedigte het in alle waarskynlikheid nog nie genoegsame kritiese aandag geniet nie, omdat ons binne die Afrikaanse letterkunde so genre-bewus is. Die digters staan aan die een kant; die prosaïste aan die ander kant. Dit is egter so dat vele groot skrywers – ʼn mens dink hier onwillekeurig aan Borges – beide genres met gemak en geesdrif bedryf.

Die jongste bundel staan in die teken van “afskeid en vertrek”, maar ons vind nie hier ʼn sentimentele bestekopname nie. Die gedigte is ʼn terugkyk op ʼn lewe en jeugherinneringe aan “Rust-mijn-ziel” word in verskeie verse, sonnette en veertienreëlige verse, onder die loep geneem. Die verskillende fases van die ervaringe op ʼn plaas soos bakdag, slagdag, skeertyd, ensomeer word in die gedigte bewaar soos die afstof van kiekies en daarmee saam, herinneringe aan ʼn vervloë tyd. Daar is humor soos in “Bakdag” met sy Bybelse verwysing én seksuele toespeling. Maar vele van die mense is reeds oorlede soos ons verneem:

 

Almal is dood, net ek is nog hier,

om ʼn plaas en sy vreugdes met woorde te vier

 

(12, “Slagdag op Rust-mijn-ziel”).

 

Die tematiek van vreugde en die gedagte van die “carpe diem” is iets wat ons terugvind in die kortverhale en ʼn navorser behoort uit te wys in welke mate Aucamp die ervaring van die gay-mens, in al sy geledinge, sonder skuldgevoelens beskryf het. Die mens se lot (fata) word in die gedig oor skeertyd verbind aan Jason se goue vlies. Daar is ‘n huldeblyk aan Topsi Venter, daardie priesteres van kookkuns en “Spyskaart” (18) is vir enige kosskrywer ʼn les van hoé om dit te doen! Die nostalgie kom aan bod, maar sonder verwyt of verdriet:

 

Trek daar ʼn nárook waar ons vure was?

En is die slaggoed vanjaar weer mooi deurwas?

 

(“Vlei toe op ʼn winterdag”, 19)

 

Reuke, smake én sig rig die verse sodat die leser ingetrek word in ʼn ou, vergange wêreld. Maar terselfdertyd word verse ook iets méér: hulle vra vir ʼn dieper, selfs psigoanalitiese lees soos “Snuf in die neus” (20) en die aangrypende “Ma se resepteboek” (14) met sy kelders en ʼn kosboek as dagboek. Die gevoel van rus, selfs die numineuse, word geaktiveer in “Hoekbaken” (21):

 

Ek leun teen die hoekpaal, my hart klop sterk:

Hiér vind ek heiligheid, hier is my kerk.

 

wat weer inspeel op Coenie de Villiers se bekende lied. Die hele bundel aktiveer ʼn Derrideaanse spanning tussen absence en presence met die gedig wat telkemale alles behou.

 

Heerlike, aardse humor vind ons in die volgende “Boeretroos” (30):

 

 

Die voorbok mors met sy ghitaar,

die vedel is uit wans,

maar dit hou niemand teë nie

in die papkoejaweldans. (30)

 

Hier speel Aucamp natuurlik in op die punt-digte van A.G. Visser wat Van Wyk Louw later moes erken, belangriker is as wat hy aanvanklik geoordeel het. (Kyk afdeling III). Waar Aucamp dikwels meer verliteratuurd gedig het, gee hy nou in hierdie laatwerk meer aandag aan die natuur (“Geen kunstenaar kan beeldhou / soos die oernatuur”, 34) wat ʼn aweregse gesprek word met TT Cloete se pragvers “God die digter” en weer Neruda aktiveer. 1. “Die sneeu van voorverlede jaar” (35) speel in op Villon en Uys Krige. In kort spitsverse (wat apart gelees kan word of as onderafdelings van die gedig) ontluister hy die gang van sake en hoe die ouderdom mense en kunstenaar ontmasker:

 

 

Diva

 

 

Op haar dag ʼn groot sopraan

wat tierelier en kweel,

maar tyd, die wrede rower,

het haar talent gesteel (36).

 

Die digkuns, ironies genoeg, is wel ʼn kunsvorm (anders as sang en dans) waarin die kunstenaar verbeter.  Die genoeglike “Diereriem” laat ʼn mens glimlag. Aucamp se belangstelling in die Namas, Boesmans en Himbas word verwoord in slim verse soos in “Swymelary” (44):

 

Boesmans het altoos

dwaalbos gerook

en jantwak oor ʼn misvuur

tot tinkture verkook.

 

Beelde gaan kop toe,

okkult surreëel:

En dis hoe sjamane

bestaansbreuke heel.

 

 

Netjies die “Boesman-I.D.” (47):

 

Sy handdruk teen ʼn rotswand

wou nooit ʼn grot versier;

bevestig bloot, en oor en oor;

Eenmaal was ek lyflik hier.

 

Hoe vindingryk om die Cheetah met die Koningin van die Nag te vergelyk. Gepas is daar ʼn lykdig vir George Weideman waarin die digter se geloof in – en aan sy woorde – geloof word. Die chanson – met sy refrein – “Lalie in die riete” (61) is Aucamp op sy stukke. Essensieel is hierdie vers: met die ironiese “maar swanger was sy nie” wat juis beklemtoon dat sy wel swanger was en vermoedelik vermoor is. Hier ontgin die digter die poëtikale taal tot sy uiterste met inversie, herhaling en oordrywing. En luimig word ou knorrige Barend J Toerien (“Aan Barnie ʼn paar vrae”, 62) ter take geneem oor wat nádoods gebeur. Hierom in die bundel ʼn spel met anderkant / deuskant, ʼn wete dat die finale vertrek om die draai is.

 

 

II

 

Natuurlik aktiveer so ʼn herbesoek aan die vergange wêreld altyd in die spreker tog ʼn “argeologie van triestigheid” (23), omdat daardie wêreld vir ewig verby is. Op die solders van die geheue is daar ʼn “verleefde tyd” opgesluit waarvan die spreker in die hier-en-nou bewus bly. “Eenmaal was daar Nietvoorbij” (26) word verruim met sy toespeling op Tsjechof se kersieboord.

 

 

Ou woorde word afgestof en tot nuwe lewe gewek soos beduimeld, smeuïg, adret, vedel, onverhoops, boen, tinkture, liemaak, buryn, baroe, ensomeer.

 

III

 

ʼn Bundel soos hierdie laat ʼn mens nadink oor die ars poëtika en die digter se posisie binne die kanon. Die volgende punte is tersaaklik:

 

 

1 Dit sal die leser loon om Helize van Vuuren se skitterende artikel op LitNet te lees oor laatwerk (“‘n Almanak van klippe”: Laatwerk en Breyten Breytenbach se Die beginsel van stof (laat-verse, sprinkaanskaduwees, aandtekeninge) en haar besondere siening oor die laaste werk van ʼn digter te lees. Sy wys op die spanninge in die gemoed van die ouerwordende digter wat o.a. minder toeganklik dig of meer aandag gee aan die speelse en vreugdevolle wat ʼn digter beleef (soos by Opperman) wat terugkeer het uit die dode. By Aucamp is daar ʼn terugkeer na die jeug, die ongeskonde plaaslewe en ʼn bestekopname soos hy dit verwoord in “Nature morte” op bladsy 8:

 

Die ware stillewe

is ʼn essay:

altyd metafisies, altyd

deurtrokke van sterflikheid.

 

 

2 Die gesiene kritikus Frank Kermode se An appetite for poetry is eweneens hier tersaaklik: hoe ʼn digter in wese ʼn besondere wyse van lees (en interpretasie) opeis. Trouens, die titel verwys na Valéry se uitspraak dat daar mense is wat die literatuur bestudeer, wat geen aptyt (smaak) of sal ons skryf, smoel het daarvoor nie, maar tog oordele uitspreek. Aucamp se vormbeheer imponeer hierdie leser en die outo-gesprek met temas al aangespreek in die kortverhale verruim die bundel. Ek bewonder vormbewuste digters soos Aucamp en Daniel Hugo, wat die aard van die digvorm ken en eiewys toepas. 

 

3 In Van Wyk Louw se bekende essay “Geestigheid in die poësie” verwys hy na die kelk-vaas-urne beelde in Visser se digkuns wat my laat besluit het dat ʼn mens na hierdie gedigte van Aucamp as ʼn urne kan verwys (1972: 116).

 

Die oorgang tussen lewe en dood word met nuwe beelde gelaai in die slotvers:

 

Aandlied

 

Dood kom oor die bulte,

ʼn ou man in ʼn kros,

en hy is in die leegte

moet ek my pen laat los

En eers ons padkos regkry

-die ou sal honger wees, gewis –

twee flessies duineheuning,

ʼn broodjie en ʼn vis.

 

Die bundel word opgedra aan Johann de Lange.

 

 

Joan Hambidge is professor in Afrikaans & Kreatiewe Skryfwerk aan die UK.

 

Oktober 2012

 

Bronne:

 

Frank Kermode. 1990. An appetite for poetry. Essays in literary interpretation. Londen: Fontana Press.

 

N.P. van Wyk Louw. 1972. Opstelle oor ons ouer digters. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

Helize van Vuuren: http://www.litnet.co.za/Article/n-almanak-van-klippe-laatwerk-en-breyten-breytenbach-se-die-beginsel-van-stof-laat-verse  (Besoek 3 Oktober 2012).

 

 

Endnote:

 

1. T.T. Cloete (geb. 1924)  

God die digter

Chili is deur ‘n digter gemaak – Neruda

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie

as in die letterkunde en baie meer poësie

in die miskruier in die toktokkie

in die meteorologie en entomologie

in die moremis en in die bergpiek

die horison wat in die hemel wegraak

in die rooswolk is daar baie meer liriek

  die aarde is deur ‘n digter gemaak.

 

 

 

Bookmark and Share

18 Kommentare op “Resensie: Teen die lig (Hennie Aucamp)”

  1. Kobus Faasen :

    Die term ‘Boesman’ is rassisties, seksisties en vorm deel van die kolonialistiese terminologie waarmee inheemses ontmenslik en verdierlik is. Bogenoemde professore en die uitgewersmaatskappy geniet egter die klank van die woord op hulle tonge, want dit rol so rassisties lekker. Wat sal dan nog lekkerder wees as om die herogliewe van rassisme so oop en bloot, sonder skroom of medemenslikheid aan te wend? So heerlik gewetenloos.

  2. marcelle :

    Kobus, jy het wel ‘n punt ten opsigte van die rassistiese agtergrond van die term ‘Boesman’, en ek dink dit is ‘n regverdige een wat gerespekteer moet word. Ek voel tog ek wil hier intree, met ‘n opinie vanuit n antropologiese en argeologiese hoek. Die term is al vir jare onder bespreking in akademiese kringe, en daar is steeds nie ‘n ‘regte antwoord’ ten opsigte van die gebruik daarvan nie. In die vroeë 90s veral het mense hittig hieroor gepraat en geskryf, bóéke vol, en op ‘n stadium was net ‘San’ aanvaarbaar, toe weer net ‘Boesman’, en selfs vir ‘n kort tydjie slegs ‘Basarwa’ (totdat diegene wat met Botswana Basarwa-groepe werk hierteen beswaar gemaak het – om dieselfde rede waarom jy nie die Sotho, Xhosa kan noem nie.) Die issue is meer veelvlakkig as regstreeks rassisties, want ons moet o.a. groeps- en taalaffiliasie inagneem, geskiedenis, en lewenswyse. Ons moet inagneem of sekere Khoisan groepe (hierdie term verwys na sprekers van Khoi- en Santale, taalgroepe wat natuurlik verskil en verskillende oorspronge en invloede het) die benaming aanvaar; en natuurlik of daar slegs ‘n koloniale en post-koloniale lees van die term kan of moet wees? Self gebruik ek, in argeologiese en antropologiese akademiese konteks, ‘n groepsnaam wanneer ek kontekstualiseer (b.v. Ju/hoansi), en die woord ‘Bushman’ wanneer ek alle suider-Afrikaanse historiese jagterversamelaar-groepe in ag neem – maar nooit natuurlik wanneer ek die prehistoriese jagterversamelaars bespreek nie: mens kan nie ‘n kultuurkontinuiteit sommer net aanvaar nie. Ons gebruik bv ook die benaming Bantu-sprekers, want dit is ‘n akademiese term vir die unieke taalgroep waaraan die meerderheid van suider-Afrikaanse mense behoort, teenoor b.v. die Nilotiese-sprekers van noord-oos Afrika. As gevolg van ons Suid-Afrikaanse politiese-swaar agtergrond, mag ons die woord ‘Bantu’ negatief interpreteer, maar nie die woord ‘Niloties’ nie, ten spyte van die feit dat dit in die akademiese sfeer waarin dit gebruik word as gelyk en onemosioneel gesien word. Dus, miskien is jou punt meer geldig vanuit ‘n sosiale as ‘n akademise konteks, en ja, ons kan natuurlik vir ure argumenteer oor die interaksie en regverdiging tussen die twee. Ek wil maar eintlik net sê dat dit kompleks is, maar dalk ook meer simplisties as wat ons geneig is om toe te gee.

  3. Johann de Lange :

    Kobus, ek dink jy is die kluts heeltemal kwyt, & is duidelik oningelig wat betref Hennie Aucamp se kennis van & deernis met die boesman. Ek dink jy geniet dit net om die “professore” so bietjie kleiner te maak, ne.

  4. Joan Hambidge :

    Ek dink dat Aucamp ‘n vervloë tydperk aktiveer en ek lees beslis nie ‘n vermindering van hierdie mense nie. Inteendeel. Hy gaan in die diskoers in en gebruik dit as metafore vir sy eie reis! (Kyk na die slotgedig). Dankie vir Marcelle se kundige verheldering. Miskien kan Helize van Vuuren dalk as letterkundige kenner kommentaar lewer?

  5. Kobus Faasen :

    p.973 HAT Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal

    San s.nw. Enigeen van die jagtergroepe wat nog in die 17de eeu en later aan die Kaap en verder die binneland in gelewe het, vroeër “Bosjesmans” of “Boesmans” genoem, name wat tans as rassisties beskou word en dus vermy word.

  6. Joan Hambidge :

    Jy bly die punt mis. Gaan lees die bundel en kyk wat Aucamp met die gegewe maak. Jy lees ook nie Marcelle se uiteensetting nie.

    Tans?

  7. Kobus Faasen :

    Etimologie van “Bosjesman”:

    1. Mid-17de eeu vertaal Nederlandse koloniste “oran utan” as “Boschjesman”.
    2. Jan van Riebeeck verwys in sy Daghregister na ‘n bobbejaan as ‘n oran utan, op grond van sy ontmoetings met die aap in Asië.
    3. Vryburgers en hul slawe uit laasgenoemde streek verwys na Eerste Mens as orang utang (in Nederlands met diminutief ‘boschjes’ omdat ter plaatse nie oerwoud (Bosch) is nie.
    4. Via Nederlands en Duits raak die term “Bossiesman” en wisselvorme (“Bosjesman”, “Boessiesman”, “Buschmann”) gevestig en dit word deur Engelse regering oorvertaal as “Bushman”. In vroege Afrikaans terugvertaal as “Boesman”.

    Die punt is: Dit is nie ‘n term waarmee die inheemse bewoners hulself beskryf het nie, nes “Hottentot” en “Kaffer”.

    Jammer Professor, maar die meeste afstammelinge van die Eerste Mens is ook nie gelukkig oor die gebruik van hierdie pejoratief nie. Dit is seksisties, omdat die vrou ook as ‘n “-man” beskryf word. U en u mede-Boesmannifiseerders is ongelukkig in ‘n volslae, verslane minderheid.

  8. Maar, Kobus, watter benaming stel jy dan voor? “Eerste Mens” verwys vir die meeste mense na Adam. En dan is dit mos ook seksisties?

  9. Helize van Vuuren :

    Die heer Faasen se gekibbel getuig van oningeligtheid – kenners van die terrein gebruik ‘n wye spektrum van benamings – deesdae in eietydse rotskuns artikels, soos van die hand van Lewis-Williams, “San Bushmen”. Duidelik is die beste om die spesifieke groep se benaming te gebruik (soos /Xam of !Khwe) maar in Namibie noem die /Ju hoansi hul self ruiterlik en trots “Boesmans”: “Ons is Boesmans!” as ‘n trotse eiebenoemingm, soos wat Steve Biko se swart bewussyns wekroep was om trots te wees op jou eie identiteit: “Black is beautiful!”.

    Die punt wat Faasen mis, is die skoonheid van hierdie laatwerk van Aucamp – waar kry ‘n mens nou ‘n mooier vers as hierdie pragtige “Aandlied” waarin die digter homself, soos Opperman indertyd in “Oud-digter” met ‘n ou Kalahari jagter-versamelaar vergelyk, en so alle etnografie uitwis – voor die groot gelykmaker van die tyd:

    Aandlied

    Dood kom oor die bulte,

    ʼn ou man in ʼn kros,

    en hy is in die leegte

    moet ek my pen laat los

    En eers ons padkos regkry

    -die ou sal honger wees, gewis –

    twee flessies duineheuning,

    ʼn broodjie en ʼn vis.

  10. Johann de Lange :

    Helize, “Aandlied” is ook my gunsteling En dié wat Hennie ken, sal sy gulhartigheid (die padkos) ook dadelik herken.

  11. Kobus Faasen :

    onkunde-ontkenningskunde:
    eish, lat literati Naaste so pejorativeer,
    moedertaal-etimologie ignoreer, net negeer,
    namens “Ander”, vir “Ander”, praat, weer,
    rug ys-kil op mede-Mens-likheid toekeer

  12. Maar, Kobus, jy beantwoord nie my vraag nie. Watter benaming verkies jy?

  13. Waldemar Gouws :

    As ek ‘n Boesman was, sou ek eerder met Hennie Aucamp en Helize v. Vuuren saamgeloop het en dinge gedeel het, as met die drukkoker-vol-medemenslikheid Kobus Faasen, wat selfs vir Van Riebeeck as rigsnoer aanhang en sy moraliteit blykbaar op woorde skoei.

  14. Johann de Lange :

    Dis ook hoog tyd dat skrywers ophou om op eiers te loop rondom sekere woorde. Binne ‘n kreatiewe konteks is géén woorde taboe nie. Hoe kan ‘n akkurate beeld gegee word van ‘n era, of ‘n karakter, as die skrywer gemuilband word?

    Ek stem met Helize saam dat die appropriasie van hierdie woorde deur die groepe & individue wat daarmee benoem word, die woorde van die vermoë om te kwets ontneem. So het sommige gays hulle die woord ‘moffie’ toegeëien, sodat niemand hulle ooit weer daarmee kan kwets nie. Dis ‘n stadige proses; nie álmal binne ‘n spesifieke groep sal ooit dieselfde oor soiets voel nie.

    @Daniel, Faasen luister net na die klank van sy eie stem. Hy het nie ‘n antwoord vir jou nie, & wat die gebrek aan medemenslikheid aanbetref waarvan hy ánder beskuldig… by hom funksioneer dié duidelik baie selektief. Dis ook te veel gevra om te verwag dat hy Hennie se boek sal lees, óf enige van die vakliteratuur wat deur mense soos Helize van Vuuren e.a. rondom die boesmans & hulle kuns gelewer is. In stede daarvan het hy sy woordeboeke byderhand. Wat is tydeliker & meer voorlopig as ‘n woordenboek. Taal verander vinniger, & is meer genuanseerd as waarmee woordeboeke kan byhou.In ‘n sekere sin is woordeboeke voortdurend besig om argeologie te word. Die liggaam van taal is voortdurend besig om te vervel.

  15. Helize van Vuuren :

    “San” beteken rondloper, vabond, skelm, kwaaddoener in Khwekhwe…
    Die ook ‘n woord met negatiewe duiding.

    Ope uitnodiging aan Kobus Faasen: lees Gordon se The Bushman Myth – dis ‘n uitstekende inleiding in die kompleksiteite van die benaming, asook die geskiedenis v d Eerste Mense…

  16. Leendert Dekker :

    Ek weet mie wat Kobus se lees is nie, maar hy moet hom nie by die etimologie hou nie. Die verbande wat hy lê, raak nie kant of wal nie. Orang Oetang beteken letterlik in Maleis Bosmens. Dat koloniste die San(?) Bosjesmannen genoem het, is tog heel begryplik. Dit het niks met orangoetangs uit te waai nie. Daar is geen oortuigende taalkundige gronde vir die verband wat Kobus lê nie. Jy kan enigiets met ‘n paar feite “bewys” vir die wat nie die kennis het nie.

  17. Leendert Dekker :

    Nog een opmerking: Wat kan neerhalender klink as om ‘n volk “Basters?” te noem? Die Rehobotters eien hulleself die naam met groot trots toe.

    Baie van ons was trots op die eertydse Engelse skeldnaam “Boer.” Dieselfde het met ons voorouerlike skeldname “Geuse” (uit die Frans vir “bedelaars”) en Hugenote (Eidgenossen, “samesweerders”) gebeur.

    Vandag is ons erenaam “Boer” verknoei. Mense wat hulleself “Boere” noem, het dit besoedel met wanopvattings, wangedrag en waansinnige politiekery. Hulle het presies bevestig wat die oorspronklike skellers te kenne gegee het.

  18. engemi ferreira :

    Dis sekerlik ook belaglik om ‘n argument te voer in naam van enige iemand anders as jouself; hoe weet jy wat jy nie weet nie. Dawid Kruiper, ontslape leier van wat genoem word die Khomani San van die Kalahari het aangedui dat hy ‘n Boesman is en niks anders genoem wil word nie, dat die ander benaminge soos San Koi ens ewe veel uitgedink en afgedwing word op die ‘Boesmans’.
    Hoewel nie alle ‘Boesmans’ dit eens is met die naam nie, was daar tydens die lewe van Dawid nie argumente te lei nie.
    Sy uitsluitsel was dat hy as natuurmens gebore is, en almal wat dié ingesteldheid het is Boesmans; hulle wat leef uit en met die natuur soos hulle broers en susters die diere, In ‘n onderhoud na die voltooiing van die film THE SILENT KILLER het hy o.a. gesê: Ek is ‘n Boesman (…) “a natural born. I have something inside of me that no one can take away. I am there always for my community, but I do things the natural way.”
    Miskien sal daar ‘n tyd kom waarin meer en meer ‘Boesmans’ ‘n ander naam verkies, en dan is dit hulle besluit en keuse watter naam. Waar ons deesdae staan is hulle reeds ontneem van veels te veel.
    Ek het waardering vir die deernisvolle wyse waarop Hennie Aucamp sy respek toon met die benaming Boesman/s in die betrokke gedigte.