Marlies Taljard: Gedigte wat met hanekraai ontstaan
Onlangs het ‘n paar nuwe digbundels op my lessenaar beland – een daarvan Daniel Hugo se Hanekraai wat ek met vreugde gelees het. Hugo is beslis ‘n meester van die kort gedig en sy vormbeheer is so ná aan perfek as enigsins moontlik. Sy gedigte is dikwels impressionisties van aard en herinner aan Moment Musicals wat op woordspel berus om, soos Ernst van Heerden dit sê, “blitssnel die swaartepunt [te] verstel”. Hanekraai is duidelik op die gewilde mark gerig – indien daar so ‘n mark van poësielesers bestaan! Dit is nie gedigte wat swaar dra aan literêre verdienste nie, maar gedigte wat onmiddellik en dikwels met die eerste lees plesier verskaf. Sommige gedigte neig selfs na die volkskuns.
Een van die belangrikste temas van die bundel het te make met die digkuns self, digters en die digambag – in hierdie blog wil ek kortliks op dié gedigte uitbrei.
Die titel, Hanekraai, word reeds in die motto en in die openingsgedig verantwoord: dit speel in op die oorgang van nag na dag. Die motto lui:
dit is tyd as die haan kraai
om van die nag na die dag
om te blaai:
In die eerste gedig konstateer die digter:
die gedig wat met hanekraai
ontstaan, skitter kortstondig
dan kom die son opgedaag:
die rooi vos wat die haan verjaag
Hierdie reëls verwys metafories na die persepsie dat gedigte lig werp op sake wat vir die mens “duister”, onverklaarbaar of onformuleerbaar is. Terselfdertyd raak dit egter ook aan die kortstondigheid van die insig wat deur middel van die gedig tot stand gebring word – wanneer die gedig aan die lig van die son blootgestel word, word dié insig “verjaag”. Dié beeld kan dui op die ongrypbaarheid van betekenis en die aard van gedigte om juis nie antwoorde te verskaf nie, maar vrae te vra en verwarring te skep. Die onvermoë van woorde (en van die digkuns) om betekenis oor te dra en die onverwoordbare te verwoord, word op velerlei wyses in die bundel aangeroer. Een van die gedigte waarin dié insig pragtig verwoord word, is Namibië III:
ek voel vreemd in dié woestyn waar
die stilte enjambeer van uur tot uur
en elke songeblakerde dag eindig
as ‘n volmaakte swygsonnet
hier staan die digter stom:
al wat in hierdie wydsheid rym
is die afwesigheid van klank
Wat my ook opgeval het, is hoe dikwels diere en dig met mekaar in verband gebring word. Die belangrikste is natuurlik die haan wat metafories aan die gedig gelykgestel word wanneer dit lesers uit hulle toestand van onverskilligheid ruk en tot insig lei. In Drieluik word die gedig eers met ‘n springbok vergelyk en daarna (in die kwatryn Baldspieël) met swaels:
swart teen die spierwit somerwolk:
sillabes van tuimelende swaels –
as jy sintaksis daarvan maak
skaal jy dit af tot iets banaals
En dan is daar die (vir my) onvergeetlike vergelyking in Selfkatkisasie tussen katte en digters: “katte (net soos digters) kan jy maklik krenk”.
Die skryfproses en selfrefleksiwiteit is ‘n verdere tema binne die gedigte wat oor skryf handel. In Seespieël lewer die digter tussen hakies kommentaar oor sy eie skryfwerk: “(my versreëls spoel nooit ‘n bladsy vol)”. In die gedig Namibië spreek hy die land aan en sê: “[jy is] ‘n onuitputlike bron / vir die talentloses wat wil skryf”. Die gedig Eggo probeer iéts beskryf van die skryfproses as sodanig:
vir sy stem wat
fluister of roep
skep die digter
met rymende reëls
‘n klankboemerang
wat oor die af-
grond eggo tussen
rou emosie en
versvormdwang
Getrou aan sy aard as meester van die ironie eindig die gedig Digter met die reëls;
digters is die edel-
smede van elke taal –
onsin: hulle is slinks,
selfsugtig en brutaal
Ook in die handvol gedigte oor ander digters kom dikwels kommentaar op die skryfproses as sodanig of op die styl van die betrokke digter voor. In die kwatryn wat hy aan Johann de Lange opdra (in Twee kwatryndigters) verwys hy byvoorbeeld na de Lange se bundel Weerlig van die ongeloof waarin 102 kwatryne voorkom (as ek reg onthou):
jy kom met die lewe
en sy stront in die reine
in die pront bestek
van ‘n honderd kwatryne
Die slot van Muse II is ‘n goeie samevatting van die bundel as geheel, maar spesifiek ook vir dié gedigte wat oor die skryfproses handel:
In hierdie bruisende woordekosmos
raak die stomme digter se lippe los.










Dankie Marlies. Ek is ‘n bewonderaar van Hugo se ekonomiese woordsegging.
Ek gee tans klas oor Klipwerk.
En Daniel Hugo kry iets reg: geen woord uit sy plek…
Ja inderdaad, Joan! Woordekonomie is nie elke digter beskore nie.
Baie dankie, Marlies. ‘n Bek soos joune moet jem kry! Een sin intrigeer my wel: “Dit is nie gedigte wat swaar dra aan liter^ere verdienste nie …” Bedoel jy dalk “liter^ere pretensie”?
Liewe Daniel, ja-nee jy sê dit so mooi in “Heil die Leser!” wat jy aan Nicol Stassen opdra: “A, wat is ‘n bundel verse sonder / ‘n setfout of twee?” … Wat ek wel bedoel, is sonder literêre pretensie, maar dit is ook gedigte van die lig sonder donker onderstrominge. Dat jou bundel literêre verdienste het, is nie te betwyfel nie, maar dit dra nie swaar daaraan nie – dit kom natuurlik sonder dat jy dit onnodig komliseer, soos ek die afgelope tyd so dikwels by digters sien. Jammer hieroor: mens kan dit wel as negatiewe kritiek verstaan, maar dis nie hoe ek dit bedoel het nie. Sal volgende keer beter formuleer. Baie geluk met ‘n bundel wat ek beslis weer gaan lees!
Ek is gerusgestel, Marlies!
@Daniel
:):)
[...] Volledige artikel: Versindaba [...]
Áfrika, my Afrika – muskiete kan ook vir pret sorg!
HvD
Beslis! in ‘n gedig soos:
die muskiet prospekteer met sy boor-
stellasie op die vlakte van my vel:
hy soek die minerale in my are
Maar die vlooi is ook nie afwesig nie:
die vervlakste, ratse vlooi is ‘n spring-
haas op die karooveld van my kooi
Dis my gunsteling.