Robert Schall. Ons witmuurlegplekwoninkie

 

Ons witmuurlegplekwoninkie

(of: Die praktiese nut van ‘n Boerneef-vers)

 

Ek is allesbehalwe ‘n boer, maar dit was nog altyd my droom om ‘n plaas te hê – die spreekwoordelike “plaas in Afrika” vir hierdie Duitser wat homself in Suid-Afrika gevestig het. Die plaas moes gróót wees: vanaf my droomplaas se plaashuis se stoep kon mens die grensheining nie sien nie, want die plaasgrense was dóér.

‘n Redelik groot plaas kon ek net in ‘n droë deel van die land bekostig waar die hektaar grond nie so baie kos nie. Geen probleem nie, ek het nog altyd van die dorre dele van ons land gehou. Maar ek het lank – jare lank – na my droomplaas gesoek. Op ‘n dag so drie jaar gelede sien ek op die internet ‘n advertensie vir die plaas Karooruggens in die Cereskaroo waarvan die eienaar ‘n 50% aandeel wil verkoop. Die foto’s lyk belowend, maar ‘n plaas “Karooruggens” kan ek nêrens op ‘n kaart of Google Earth of waar ook al opspoor nie. Ek bel toe die eienaar en sê vir hom ek kan hierdie “Karooruggens” van hom nêrens kry nie. Ja-nee, “Karooruggens” is die plaas se nuwe naam, die ou naam is laat vaar want dit was “Kafferskraal”.

As ‘n ou Boerneef-bewonderaar het ek dadelik besef dit moet Boerneef se Kafferskraal wees, die van der Merwe’s (van Boplaas in die Koue Bokkeveld-faam) se legplaas in die “Seressekaroo”. In die ou dae het die Koue Bokkeveld en ook die Roggeveld se boere aan die begin van die winter hul kleinvee na hulle laagliggende en warmer legplase in die Cereskaroo geneem. Boerneef verwys telkens na Kafferskraal in sy werk, en in sy verhaal”Oor Swartrug” (in die bundel “Boplaas”) beskryf hy die tog vanaf Boplaas Karoo toe: “Dwarsberg oor, Rietrivier deur, Katbakkies uit, by die Rondeberg verby, Speserykloof af, en jy is op die Karoovlak.” Die verhaal se laaste sin lui: “Die Karoosterre blink helder en hoog oor Kafferskraal”.

Ek het toe my droomplaas gekry, d.w.s. die 50% aandeel. Die plaas se ou huis was lank nie bewoon nie en moes opgeknap word. Jürgen – die plaas se eienaar en nou my venoot – dink die huis kan so ‘n honderd jaar oud wees, wat sou beteken dat dit in Boerneef se jeug al bestaan het. Ek kan my egter nie aan ‘n verwysing na ‘n plaashuis op Kafferskraal in Boerneef se werk herinner nie. Ek blaai – redelik oppervlakkig – deur sy Versamelde Prosa, ek ken mos Boerneef se verhale en sy verwysings na Kafferskraal, maar ek kry vir eers geen verwysing na ‘n plaashuis nie; dieselfde met die Versamelde Poësie: baie verwysings na Kafferskraal en ander plekke in die Cereskaroo, maar niks oor ‘n huis op Kafferskraal nie. Dan, op die tweede laaste bladsy in die Versamelde Poësie, d.w.s. die vyfde laaste gedig in sy laaste bundel, die postuum gepubliseerde “Sesde Hoepel”:

 

Weet jy hoe skyn die wintermôreson

teen bos en klip en rots en krans

op Kafferskraal in Seressekaro

waarskynlik nie die plek lê ver en wreed

weet jy sal jy soos ek dit nooit vergeet

die heerlikheid van winterson op winterryp

die son se skyn op klip en rots en krans

en op jou witmuurlegplekwoninkie

met wit en blêr van moflam sommer hier

kan jy nou glo dat so ‘n Kroherinnering

so ryk so vars kan bly in hierdie stedeling

 

Daar is hy, ons “witmuurlegplekwoninkie”, in Boerneef se poësie, en op die foto in lewende lywe (na ‘n bietjie opknappingswerk en witkalk). Al is die “woninkie” werklik baie klein, net drie klein kamers, is ons verskriklik trots op hom: wie anders het ‘n plaashuis wat in ‘n vers van een van Afrikaans se grootste digters besing word? Watter plaashuis het ‘n wonderliker naam as ons “Witmuurlegplekwoninkie”? Ek moes eenvoudig hierdie gedig in Duits vertaal:

 

Weißt du, wie die Wintermorgensonne

auf Busch und Stein und Fels und Berge scheint

auf Kafferskraal in der Karoo?

Wahrscheinlich nicht, der Ort liegt fern und wüst.

Weißt du’s jedoch, wirst du, wie ich, es nie vergessen:

die Pracht der Wintersonne auf dem Winterreif,

der Sonnenschein auf Stein und Fels und Berg,

auf deinem Winterlagerhäuschen mit den weißen Mauern:

das Weiß der Lämmer und ihr Blöken um dich her.

Wie sonderbar dass die Karoo der Jugendzeit

so reich, so frisch in diesem Stadtmensch bleibt.

 

Eintlik is ek heel tevrede met my vertaling, behalwe dat ek ongelukkig geen bondige ekwivalent vir “witmuurlegplekwoninkie” kon kry nie (enige voorstelle sal hoogs welkom wees).

Die vers bewys dan ook dat poësie soms van praktiese nut kan wees: nuttig met my “historiese navorsing” oor die plaashuis wat deur die vers duidelik in Boerneef se tyd en spesifiek in sy jeug geplaas word.

 

Naskrifte:

1. Later het ons, of eerder ons seun Philip (toe 13 jaar), tog ‘n verwysing of twee na die plaashuis in Boerneef se stories gekry. Philip is versot op Boerneef se stories en het binne ‘n jaar die Versamelde Prosa minstens drie of vier keer deurgelees, en uiteindelik ‘n lys van al die verwysings na Kafferskraal gemaak.

2. Die foto van die plaashuis is natuurlik in die lente geneem, vroeg Oktober 2011, geen “winterson op winterryp” nie. ‘n Mens kan sien dit was ‘n uitsonderlik goeie jaar vir blomme. Soos Boerneef in ‘n ander gedig (in die bundel “Pallissandryne”) beskryf, díe jaar het die hele “Kro pers oop[ge]breek en blom”:

 

Die dagbreek tintel deur die ouderdom

Swartrugseberg staan donker teen die rooidagrooi

‘n oomblik net verbeel die ou man hom

hy sien die Kro pers oopbreek en blom

 

(‘n Vertaling van die vers kan hier http://versindaba.co.za/2012/01/30/boerneef-vertaling-in-duits/ gevind word.) Die foto onder wys wat gebeur wanneer die “Kro pers oopbreek en blom”: die pers tapyt strek oor die hele Tankwa-kom, van die Swartruggens in die Weste, aan wie se voet die fotograaf staan, tot by die Roggeveldeskarp in die Ooste oor meer as 50 km.

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Robert Schall. Ons witmuurlegplekwoninkie”

  1. Bernard Odendaal :

    Dankie, Robert, dat jy ‘n Duitse venster op die Afrikaanse digkuns oopmaak. Ek hou styf duim vas dat jy nog eendag ‘n bundel kan maak van jou vertalings, en dit gepubliseer kan kry.