Johann Lodewyk Marais. Op ver strande
OP VER STRANDE
Malindi, Kenia
Ek het uit die binneland gekom
en ‘n Thomson se gaselle
het opgespring en soos ‘n dolfyn
in die lugspieëling verdwyn.
Nou duik ek in die warm see
agterna tot by ‘n oorhang
in die rif waar dit rondwemel
van steen-, blink- en papegaaivis
so bont soos ‘n tropiese lap.
Terug op die strand hurk ek neer
en met my vinger teken ek
in die wit sand ‘n halfmaan, kruis
en sirkel met pyle deur getrek.
© Johann Lodewyk Marais









‘n Lieflike gedig, Johann. Ek verstaan net nie reël 2 se verwysing na “Thomson se gaselle” nie? Ook nie die meervoud (“gaselle”) wat in die volgende reël as enkelvoud (“‘n dolfyn”) verdwyn nie … Die slotstrofe is treffend.
Ivan Mocke, “gaselle” is ook enkelvoudig (kyk “WAT” III, 1972, p 33). Ek verklaar egter nie graag my eie gedigte nie …
Dankie, Johann … Nie geweet dat “gaselle” ook enkelvoud is nie. So leer ‘n mens elke dag, nè.
Dankie vir die vriendelike woorde, Ivan.