Resensie: In die bloute (Johann Lodewyk Marais)

 

 

In die bloute

deur Johann Lodewyk Marais

 

Resensie:  Lucie A. Möller

 

Die teks van Johann Lodewyk Marais se nuwe bundel In die bloute word sinvol saamgebind met ’n skildery deur Lynnette ten Krooden op die voorblad van ’n dolfyn of blouwalvis, en op die agtergrond ’n paar verdwynende stertvinne in die golwe. Daar word al op sensoriese vlak ’n belewenis geskep van hierdie ‘bloute’, en wel met ’n gevoel van afwagting. Wat die leser vermoed, en dalk verwag van die bekende ‘natuur’-digter, is dat dit ’n besinning oor die lewensvorme en -wesens in en rondom die see mag inhou. En dié verwagting word nie beskaam nie: Hierdie bundel is vol opwindende, ‘nuwe’ ervaringe in elke gedigteks. Verder hou die titel iets van ‘n verrassingselement in wat mens terugvoer na die gesegde ‘uit die bloute’, maar dit word hier nuut ontgin om realisties (waarheidsgetrou?) te verwys na die oseaan as agtergrondgegewe waarbinne die digter sy gedigte plaas.

   By implikasie suggereer die subtitel ’n Seeboek en die afdeling Oseanaria ’n nugter, wetenskaplike benadering of kyk na die dinge en werk dit goed met die gedagte van ’n bergingsplek waar op sistematiese wyse te werk gegaan word om die seelewe te versamel, beskryf, bewaar en te beskerm, en bowe al toeganklik te maak vir die hele proses van ‘leer ken en benoem’. Dit word ‘n ‘bymekaarkomplek’ van persone betrokke met die see en sy opbrengste, ’n spesifieke versamelplek van seedinge en seemense. Dit is wat die digter hier, soos altyd, in netjiese versvorme verpak en aanbied.

   J.L. Marais werk hierdie keer met die see as ontginningsbodem waarin sy gedigte oor dié ‘bloute’ met al sy lewenswesens, veral gesien binne die opdrag en idee van die wetenskaplike navorser en versamelaar, tog uniek aan die woord kom:

 

“Al kom ek meer bedroë uit,

 wil ek ʼn bundel verse skryf

 met seesand tussen die blaaie,

die diepgang van die sloepe ken …”        (Uit: In see gaan)

 

Die bundel word sodoende as selfopgestelde onderneming of ontdekkingsreis, ‘n  herbesoek van die dinge (soos ons dit in sy voorafgaande bundels leer ken het: by die dinge, Palimpses, Verweerde aardbol, Plaaslike kennis, Aves, Diorama, ens.), tog hier op ’n heel ander terrein. In hierdie geval die lewende dinge, plante en diere van die see, ook die mense van die see, die ‘seelewe’ in al sy oordadigheid!

Die dinge in en om die see is dus waarop gekonsentreer word, maar wat veral opval, is dat die lewende taal terselfdertyd verryk word deur verse wat soortname, eiename, gesegdes en so meer aan die bod bring. Selfs die name van bekende persone, digters en skrywers, mariene bioloë, bewaardes in museums, die versamelaars van skulpe en seegoed – dié mense wat een of ander verbintenis met die see het, of gehad het: vissermanne, seevaarders, matrose, moderner ontdekkings- en seereisigers soos Jacques Costeau, figureer in ’n hele paar gedigte. Dan, die digter self met sy versameling verse oor die dinge van die see waarby allerlei nuut ontdekte seegoeters nou as plasing nuut en vars binne die Afrikaanse konteks van poëtiese oeste, in die ‘treilnet van die woord’ (Inkvis) gevang word. Dit sluit in die benoeming van seediere, skulpe, bome, ens. wat hy noukeurig beluister en as navorser-digter opteken van die kleinste tot die grootste, van die delikate Seeperdjie tot die gewigtige Stompneus en Duiwelvis, tot die Blouwalvis, en merk hy hulle elkeen by die naam, soos in die gedig Manatoka “Ek skryf die naam neer op my hand”. Hy bekyk en beskryf van die krioelende tot die vassuigende wesens tot die dooie skulpdoppe, tot die koraalriwwe of huise van hierdie “seebewoners”, wat in siening tot beeld kom as hy uitroep: “Ja, daar’s stede in die see”!

Die inhoudsopgawe toon al die verruiming van die kennis rondom die dinge wat verhelderend werk, en  kan mens vermoed hierdie bundel kan dalk aanspraak maak op ’n tema verwant aan die van die Fransiskaanse heilige, St. Bonaventura (1221-1274)¹, met sy filosofie: ‘of knowledge by illumination’. In hierdie bundel is beide nuwe en ou dinge van die see opnuut aan die lig gebring as titels of binne die tekste self: Bloublasie, Boosoog-blaasoppie, Bottelneusdolfyne, Klipmossel, Leerrugseeskilpad, Lemoenspons, Maanjellievis, hartmossels, mosselkraker, Rooiaas, Seskief-slymslang, Spinnekopskulp, ensovoorts. En in die besonder word skulpe bewonder en opgenoem soos Argonautskulp, Chinese hoedjies, knopies, muntskulpe, nautilus,  sleutelgatskulp, wenteltrappe, perdepootjies, harpskulpe, trompetskulpe, en so meer, so ook in die Laurie Smith gedig waar die skulpversamelaar elkeen uitwys en die broosheid van hulle doppe beskryf.

Die leser kan die seedinge met hulle unieke en uitsonderlike kenmerke opnuut waardeer en saam met die digter laat erken: “Die name klink nuut soos in die begin”. Hierdie opnoem van die seediere en soorte skulpe, juis met die besonderse ordeningsbeginsel, is die gedagte rondom die illuminerende ‘kennis as bemagtiging’- idee. Dis ’n intieme kennismaking en verklaring van die dinge self wat die verwondering in elke gedig inhou.

  Dit in sigself is ’n beduidende bydrae tot die taalskat binne die poësie in Afrikaans, van be-wonderbare dinge, ‘n nuwe kyk na die skepping ‘die see’; van die seelewe self, wat tot onlangs meestal onontdek en onontgin in Afrikaanse digwerke was, behalwe nou vir dié digters en skrywers wat hier as wegbereiders of voorgangers dien o.a. Uys Krige, Jan Rabie, N.P. van Wyk Louw, Dirk Opperman, T.T. Cloete en van elders Pablo Neruda, Hans Faverey, ens., wat intertekstueel as gespreksgenote ingespeel word.

Die subtitel ’n Seeboek  is oorspronklik en realisties in die digkuns ingespan, en dit kon, by ‘n andersoortige digter met ‘n totaal ander instelling, dalk gepaard gegaan het met ‘n ver-idealiserende siening van die seebedrywe, skeepsvaarders en matrose, liefdesverse oor die see, ensovoorts, maar hier word dit ontgin op baie verskillende werklikheidsvlakke: as gedurig veranderende tog blywende en beskryfbare leefbodem, as lewende ‘oseanioom’ soos ’n ‘bioom’ of leefarea van ‘n kosbare en bedreigde deel van die skepping, nl. dié van ‘n seelewe wat al hoe meer gesien in die lig van ’n ‘verweerde aardbol’ probeer oorleef.

Die digter vier inderdaad hierin “veral die lewende dinge” soos aan hom gestel is in die gedig Voor ʼn besoek aan Onrus, en waaraan hy gehoor gee en waar hy bewus word van en later let op:

 

“Die see skuur skouer met die strand

 en lê sy diepste geheime

reg voor my voete oop en bloot.”

 (uit Please let me wonder)

 

Sodoende word dit die digter se kreatiewe voedingsbron, nie net as versamelaar van seedinge waaruit verse ontspring nie, maar weer eens as fyn, wetenskaplike waarnemer. In hierdie bundel met eweveel toegewyde meelewing en betrokkenheid met die dinge!

Oor die algemeen sou die bundeltitel en die gedigte sekerlik heelwat ander vlakke van interpretasie laat uitgolf, binne en buite die agtergrond en situering van die verse binne die ‘bloute’ van die Seeboek. Hierin word egter ongewone én gewone alledaagse dinge in hulle natuur opgediep. Hier letterlik vadem vir vadem uit die see, en langs, en by die see, en daarmee saam al die verskillende karakters se belewing van die see, vergelyk Steve Irwin en Ellen Macarthur, Kenneth S. Norris, J.L.B.  Smith, en so voorts.

En hoe “dieper ik poog te delven”, hoe meer vind die leser die wonderwerk van elke gedigteks met homself gebeur; en in aansluiting by Neruda, dalk direk met sy bundel oor die see: “On the blue shore of silence: Poems of the sea”, maar dan, soos in Johann Lodewyk Marais se vertaling van die gedig van Pablo Neruda, “Ek sal terugkeer” (soos dit verskyn het in ’n vorige Versindaba-blog), kom in hierdie bundel ‘n totaal ander, verruimende kyk op dié aspek van die seelewe. Ons word saamgeneem om te besin oor wat ons andersins gerieflikheidshalwe nie raaksien nie: Die seelewe wat so bedreig en besoedel word op soveel vlakke  – en meeste daarvan totaal buite ons gewone ervaringswêreld, vergelyk gedigte soos Lemoenspons en Fulton se kourie, en dan dié wat so ‘gewoon’ is soos die Bloublasie en Rooiaas wat tog ’n ‘diepsinnige’ vers optower:

 

“Jy het na die rots afgesak

waaraan jy jou oorgegee het

en nou in die koue branding

liggaam en gees aan mekaar hou.

Wat is jy? Dit weet ons nog nie,

maar dat jy ʼn hart van klip het

na dié gekrenkte ineenkrimp

as ek aan jou raak, glo ek nie.”

 

Die bedoelde of onbedoelde teenpole wat geskep word deur gedigte van ligter en ernstiger luim, het opgeval in hierdie bundel: Die leser word aanvanklik ingelei in die proses van hoe daar gekyk word na die dinge, en dis eers ’n amper argelose, aanvanklik eensydige kyk na die dinge deur glas: Nog met die afstand, van iets wat daar tussen die digter of leser, en die seedinge staan, ʼn afgesonderdheid wat elkeen se afsonderlike leefarea aksentueer. Maar dat dit oorgaan in ʼn beskrywing met verwondering en besinning oor dié seedinge en die ineengestrengelde bestaan van alle lewende wesens, ook die mens s’n, word gou duidelik want, dan gebeur die voel en wonder van aangesig tot aangesig: Die dinge in hulle ongelooflike veelvoud, verwikkeldheid, afhanklikheid van hulle voedingsbodem en van mekaar. Vanaf die vraag: is daar ʼn ‘weet’ soos in Maanjellievis: “Wat weet in hom?”; van die voetstuk wat vassuig en “klou op lewe en dood vas” in die Klipmossel, tot die mond, tot die kiewe, van die “tandmerke aan die kant” wat “deur die weerbarstige lippe … van die sikloon gesidder het” (in Bloublasie), tot die ‘hart’ (soos in Rooiaas); tot die spreekwoordelike verklaring van ’n “gewete” hê oor die dinge; tot ’n geroepe voel om die uitwissings te keer (byvoorbeeld in die ontroerende Blouwalvis, en Save our planet); om dit nog te beskryf en dalk te red deur die woord, die poësie, soos gesuggereer en verwoord in Vangs I Geelvintuna:

 

“Ek word lankal nie meer verlei

deur die nuttige blikkies nie

(stukkies of gevlok), want ek gru

by die wete van dolfyne

wat in die seën getrek word

en tussen tuna moet verdrink.”

 

en in Vangs II Bottelneusdolfyn:

 

“O, laat ook die dolfyne vry

uit dié nousluitende seën”.

 

 Vanaf hierdie sterk standpunt oor sake, tot die amper wanhoop aan die vernietiging, kom die besef dan om tog suiwer soos die lewe self daar te staan: Om die “gekarring van die water/see” te wees; die brander wat net aangaan en aangaan en miskien daarmee saam die eindeloosheid van die heelal, die lewenskrag daarvan; beeldend suggereer; daarby die “klip en stilte” as simbole, dus terug tot die begin, terug tot eenvoud, tot nadenke oor die oorsprong.

 Ten spyte van die teenpole en kontrapunte wat gestel word, d.w.s die veelvoud teenoor die eenvoud, die stemme (in hierdie konteks selfs die verwysing na ‘The Beach Boys’ waarna hy saans wil luister soos by In see gaan) versus die stilte, en die gedruis, gekarring en gebreek van branders teenoor die stilte, is hierdie gedigte elkeen ʼn leerkurwe binne die suiwer belewenis van die dinge self. Dis asof ʼn soort evolusionêre progressie, groei, ontwikkeling tot die volle bewuswording in hierdie verse ook op daardie vlak geantisipeer was dwarsdeur die bundel.  Die digter begin by “afloer van die haaie”, die versamel van en intensiewe kyk na seedinge, die beskryf daarvan, die mense wat betrokke met die lewe van die see saamleef, vissermanne, bioloë, en so meer. Dan word die mens uiteindelik nie net bewus van die see (en die skepping) se “ongebroke hart” nie (uit sy vertaalde teks van Neruda hieronder), maar word self deel daarvan.

Die digter neem die leser saam op ʼn  reis om so te vorder vanaf kyk tot die toestand vanaf ‘weet’ tot ‘wees’ voltooi word. Of is dit ooit voltooi? Gaan die ontdekkingsreis net aan en aan soos die branders, soos die “ongebroke hart” van die see wat aanhou die dinge oplewer en voor ons voete plaas?

Hy laat die leser die seelewe en al sy kreature vars beleef, van die oënskynlik onbeduidendste, saam herontdek in sy eie taal, nie net vanuit die oogpunt van die skerp oplettende en wetenskaplike waarnemer nie, (soos mens by sy voorganger Eugène N. Marais die ander wesens in die wildernis van die Bosveld en elders in die natuur waargeneem en wetenskaplik opgeteken gevind het), maar in hierdie bundel self as ‘wondewerker’ van die taal. Hier is die alledaagse taal besig om verryk te word met soveel woorde en name wat ‘opgeluister’ word in digvorme oor die see.

Die subtitels by sommige gedigte wat die wetenskaplike name gee van spesies en tipes diertjies, ens., kan as ʼn andersoortige ‘laai’ beskryf word wat vir die insortering en berging daarvan dien. Dit gee aan die gedigte ʼn eiesoortige versamelingsraam. Elke skulp en seedier, seewiere en bome, word eers in die titel in die gewone spreektalige Afrikaanse volksnaam opgenoem met daarnaas die subtitel in die Latynse ordeningskonvensie.

 ʼn Gedagte hier (op ʼn ander vlak as net die poëtiese): Die boekstawing van dié benaminge in Afrikaans met die aanduiding van die orde-, spesie- en soortname in die wetenskaplike tradisie, vorm hier ’n interessante onderlaag van intertekstuele verwysings. Dit vorm nou met die verwysings na persoonsname van ontdekkers, beskrywers en benoemers van hierdie spesies van diere en plante – elkeen na sy soort, byvoorbeeld bernardus, fultoni, reynaudii,  honkenii, pompilius, setchelli, en so meer, ’n kategorisering in sy eie klas. Die vraag onstaan by ’n belangstellende leser: Wie was hierdie persone, wat was hulle bydrae? Dit vorm ’n verwysingsraam binne die teks van die bundel wat in die digkuns of ander letterkundige werke, gewoonlik verswyg word, en sou vergete raak as dit nie pertinent deur hierdie digter so deeglik geboekstaaf word nie.

Daardeur dat J.L. Marais hierdie name en spesiename toegewyd neerskryf  in die Afrikaanse digkuns, sodoende die dinge en hulle name bly deel met sy lesers; mededeelsaam is met sy waarnemings en daardeur die kennis rondom hierdie dinge versprei, bemagtig hy die leser met nuwe kennis. Dit val vir my saam met die gedagte van die filosoof St. Thomas Aquinas na sy teorievorming (geput uit Maimonides, 1135-1204)² wat lui: “that immortality consists in participation in knowledge (i.e. in the eternal ‘active intellect’)”. Die reeds bogenoemde heilige St. Bonaventura het dit beskryf as die “new urge to discover truth” wat spruit uit die studie van ander denkers, skrywers en natuurkundiges; ook deur optekening van die mens se ontdekkings en ervarings in sy eie onmiddellike omgewing, maar ook in die wyer konteks van sy wêreld, met eksperimente in die natuur en wetenskaplike afleidings daarvan. (Vergelyk die rol van Eugène N. Marais in dié verband). Dit alles kan lei tot nuwe werke soos in hierdie geval, en as ons dit so beskou, inderdaad J.L.Marais se hele oeuvre, wat as gedigwerke ’n kragtige byvoeging tot ’n meer moderne taal- en literatuurbeskouing kan vorm. Natuurlik is die onderwerp van naamgewing al op verskeie ander akademiese en wetenskaplike vlakke benut. Hier In die bloute staan dit egter midde-in die poësie van J.L. Marais as natuurdigter, en kan dit as waardevolle bydrae gesien word waaruit nuwe studietemas vir studente geput kon word.

Verder vind mens in hierdie bundel veel meer van ’n oop ingesteldheid, ’n filosofiese besinning wat  verhelderend werk (soos o.a. Maanjellievis “Wat weet in hom?”), en in Spinnekopskulp waar eers die seedier/skulp (die ding in sigself) bekyk word, dan die dier se kortstondige bestaan ingedruk as patroon op die skulp, en waaroor die digter tot die slotsom kom:

 

Egte en oorspronklike denke

is denke oor die oorsprong.

Ek soek geen verklaring nie …”

 

 Dit laat mens wonder hoeveel kan net gekyk word na die dinge, sonder om daaroor te  wonder, te besin, verklarings te soek en name toe te ken nie?

 

Totdat dit in ‘n gedig soos Inkvis met sy ars poetiese inslag (na N.P van Wyk Louw se ‘fyn, fyn net van die woord, waarmee ons blink en vet visse uit baie waters haal?’ – Raka, p.16), maar hier dalk met ’n ironiese kyk na dinge, uiteindelik ’n verdere ontginning van die dinge impliseer:

 

“Die inkvis word in die treilnet

van die woord  ….. gevang.

Swyg sou nie onvanpas wees nie;

jou sien en weet bra nutteloos.

Maar met die diefstal van sy ink

bring jy hom nou aan die lig.”

 

Die verskillende intertekstuele verwysings na persone wat aan die bod kom – almal met ʼn see-“betrokkenheid”, word in meer as een gedig ingespan, o.a. Pablo Neruda in die gedig Wenteltrap, Laura Riding in Maanjellievis, T.T. Cloete in Tier-kourie, Derrida in Leerrugseeskilpad, ens. Dit alleen is ’n hele versameling name van figure, en daarby kom nog Norman Mclean, Steve Irwin, en dan, Uys Krige, Jan Rabie (Voor ʼn besoek aan Onrus) en Opperman – laasgenoemdes dalk die “Onrus-digters”, as mens hulle so mag noem. Dit vind goeie aansluiting by die seegedagte, alhoewel mens nie alle raakpunte dadelik raaksien nie. So word byvoorbeeld selfs ʼn binnelandse meer in Afrika bygebring met titel Op ver strande waar die digter ʼn landdier (die gazelle) en see-elemente saam besin(g). Mens vra jouself af: Hoe voeg dit? Wys dit op die ineengestrengelheid van die lewe in al sy vorme, dalk na ervaringe van die kunssinnige, maar ook bio-wetenskaplik-bewuste mens en sy verwikkelde verhouding met beide die dinge en die muse ?

 Daar is ook veel meer gedigte in ligter trant en klank soos Suidooster, alhoewel ironies-wrang soms in Stompneus, Duiwelvis en Sandhaai. ʼn Paar gedigte is meer modern geneig, vol atmosfeer soos by In see gaan of Durban 1990; soms vol pret en speels hier en daar soos by Seeperdjie en Skroefpalm. Dit alles gee ʼn rykdom van verskillende gevoelsuitinge wat wissel van betrokke waarnemer na nonchalante toeskouer.  

In hierdie bundel is egter ook ’n diep godsdienstige beskouing aanvoelbaar, maar onopgesmuk en onopgedis, tog treffend soos in die gedig Klipmossel verwoord:

 

“Die slym aan die suieragtige voet

van die dier klou op lewe en dood vas

en al voel en druk ek met al my krag,

hy sit onbeweeglik en gevestig

in die skuilplek van die Allerhoogste.”

 

Mooier poësie, mooier godsdiens het lanklaas so ontroer.

Die waarnemings in hierdie bundel is in verskeie gedigte ingeklee met meer persoonlike betrokkenheid en gevoel as in sommige van J.L. Marais se vorige bundels. Hier is ’n meelewing of aanvoeling vir en met die oseaan(e), met die lewenskrag daarvan, selfs met die ander lewensvorme, wesens in en om die see, ’n eenwording met dit alles (amper soos in die panteïstiese lewensbeskouinge, Boeddhisme en andere gelowe, maar nooit eng nie). Vergelyk ʼn gedig soos Patagoniese tandvis:

 

“Die oënskynlik nuttelose swem

…..

bring ʼn onpeilbare ontroering mee

groter en dieper as die daaglikse

verslind van tjokka, vis en garnale

en só word die o so nuttelose,

die onaantreklike, die reisiger

na eilande van die ysige maan

ʼn moment in die voortvloei van die tyd.”

 

Dié kyk op die ewigheid binne die moment, dit merk mens ook in die ongelooflike vertaalde vers van J.L. Marais Ek sal terugkeer, wat hierdie ‘meelewing en meewees’ suggereer. Al is dit ʼn vertaalde werk van Pablo Neruda (en mens aanvaar dat dit die sienings van Neruda bevat), is dit ʼn werk wat sekerlik J.L. Marais se eie belewenisse weerspieël, en vir die leser sekere interpretasies toelaat. Dit bly immers ʼn belangrike rigtingwyser in die beskouinge van Marais self oor die see, en wat deur die sensitiewe leser by die lees van In die bloute beleef word. Dit vorm deel van die hele ervaring van wat ‘in die bloute’ en rondom dit lê. Wanneer die gedigte die een na die ander gelees word, kom elkeen as aparte teks in eie reg, tog binne die ‘fyn net’, al is dit hier die ‘treilnet’ van Marais se woorde, op verskeie vlakke weer by hierdie vertaling van hom in gedagte:

 

“’n Ander keer, man of vrou, reisiger,

later, wanneer ek nie meer lewe nie,

kyk hier, soek na my

tussen klip en oseaan,

in die lig stormend

deur die skuim.

Kyk hier, soek na my,

want hierheen sal ek terugkeer, woordeloos,

sonder stem, sonder mond, suiwer,

hierheen sal ek terugkeer om die gekarring

van die water te wees, of

sy gebroke hart,

hier, sal ek ontdek en verlore wees:

hier, sal ek, miskien, klip en stilte wees.”

 

Hier is ’n herbelewing van die lewe self, ʼn verwondering oor hoe net die lewe alleen, kan voortbestaan. Miskien word meer bedoel as net die lewensvorme, dit is inderdaad daardie ‘indomitable life force’ waarvan mens bewus word in die natuur met al sy wonder, daardie wildernis wat soms onbegryplik, maar fassinerend is, soos Martjie Bosman dit in die openingsgedig Op die spoor van haar onlangse bundel Toevallige tekens (2010) verwoord het: “Wildernis is nie eenvoudig nie.”

 Dat die leser dit alles in verwondering in hierdie bundel kan ‘gadeslaan’ so te sê, as ’n openbaring van die lewe self ervaar, is die wins van die nuwe bundel met sy verse oor die see. Dan miskien ook dat die mens se gewaarwording daarvan nie net in die gewone sin van ’n reïnkarnasie of herlewingsgedagte in die godsdienstige sin is nie, maar soos hier gesuggereer in die vertaalde gedig Ek sal terugkeer herontdek moet word: Wat word hier “ontdek” en sal “verlore” wees – die digter, die spreker? Die seedinge, die skulpe, wiere en rooiaase, plante en diere, die mens self? Of die skepping in al sy eenvoud en veelvoud, sy broosheid en verganklikheid, sy vitaliteit en voortbestaan – soos dit in feitlik elke gedig van Marais weerspieël word? Of is dit daardie verlore wees en gevind wees: terug tot die oorsprong, daardie onbeskryflike iets – dit wat ons nie werklik kan versamel in kaste, en in laaie wegbêre en klassifiseer met wetenskaplike soortname en ander aanduidings nie, selfs nie in ʼn gedig kan vasskryf of vasvat in ’n versvorm nie. Nog minder in ʼn critique oor sulke werke nie. Miskien is dit daardie ontwykende, daardie enigste ‘waarheid’ van elke gedig.

 Die digter bly deurgaans “by die lewende dinge”, soos sy opdrag aan die begin gestel was, wat goed is, maar bring meer nadenke, bepeinsing, filosofiese en godsdienstige gedagtes, hier en daar met meer emosionele vlakke en persoonlike belewenisse in. Een van die mees aangrypende verse is Please let me wonder, waar die persoonlike impak op die menslike verhoudings (mens tot mens dalk?) die leser tref. Hier is ʼn gewone mens wat praat, tog met ʼn mate van gelatenheid:

 

“Ek wil nie fondament wees nie –

eerder ʼn steier teen die buitemure

waarteen die suidooster ruk en pluk.

…..

’n Brander is net ʼn brander as hy breek.

As hy klaar is, hou hy op bestaan,

maar soms gaan die brander net aan en aan.”

 

Weereens met die gedagte van oneindigheid in die “onrus” van die see. Hier is die deurdagte digter in gesprek met die voorgangers, alhoewel soms in teen-kaatsing met hulle: Daar kan gekyk word na die gedig van Pablo Neruda in Engels vertaal as “In the wave-strike over unquiet stones”, en wonder in hoe ’n mate daarby aansluiting gevind kan word in J.L. Marais se nuwe bundel en spesifiek by hierdie gedig. Soms span dit dalk net ’n delikate stramien waarop Marais van sy gedagtes in verse ingeweef en gevorm het, soos bg. Please let me wonder, maar miskien werk die gedigte (soos meermale uit Pablo Neruda se “On the blue shore of silence: Poems of the sea”),  in tot meer as bloot ʼn agtergrondgedagte:

 

In the wave-strike over unquiet stones

the brightness bursts and bears the rose

and the ring of water contracts to a cluster

to one drop of azure brine that falls.

O magnolia radiance breaking in spume,

magnetic voyager whose death flowers

and returns, eternal, to being and nothingness:

shattered brine, dazzling leap of the ocean.

… seal the silence

while the sea destroys its continual forms,

collapses its turrets of wildness and whiteness

because in the weft of those unseen garments

of headlong water, and perpetual sand,

we bear the sole, relentless tenderness.”

                                    (vertaling deur Alistair Reid)³

 

Hierdie nuwe bundel gedigte van Marais is terselfdertyd hedendaags, modern en vars uit die see, maar ook vooruitskouend: Die digter is steeds op sy reise van ontdekking, die waarheidsoekende, ten volle bewuste mens aan die woord vir/namens/met die lewende dinge: mens in heelal, mens in natuur ingebind, inderdaad die verligte mens met gewete, moreel gebonde aan die “Save our planet’-gedagte, deel van die “enlightenment” in ’n wetenskaplike en filosofiese sin, nie net in die nou verband van ʼn “groen digter” of  in ’n godsdienstige siening alleen nie.

Dit bevat meer sulke gedigte as die voorafgaande bundels van J.L. Marais wat soms afsydig en selfs sinies aangedoen het. Hier het hy van nomade of rustelose reisiger nou volledig mens geword, en wel sonder apatie; wat die ‘heilige dinge’, die dinge wat daar is (o.a. in die natuur, die see) in sy verse benoem en aan die mens kommunikeer (soos die filosoof Martin Heidegger dit eens gestel het), en so vorder tot by eenwording met die dinge, met die lewende dinge, die lewenskragtigheid van die skepping in al sy vorme. Dit is ʼn digter wat self gekom het vanaf kyk en wonder, beskryf (navors en kennis deel), van ‘weet’ van iets tot oorgaan na ‘eenwees’ met iets, én dit kan bedig (in wese dalk soos deur Rainer Maria Rilke verwoord as ware ‘Verinnerlichung’); tot die mens wat homself moreel verantwoordelik voel teenoor die lewe self  (miskien in gedagte en beskouing soos by Immanuel Kant).

Met hierdie verruiming het Johann Lodewyk Marais sy plek as vernuwende digter in die Afrikaanse letterkunde vasgemaak, en is die Cordis Trust-toekenning, (asook  die onlangse SALA-prystoekenning vir sy voorafgaande bundel Diorama), reeds gepaste erkennings.

  

Lucie A. Möller

Navorsingsgenoot, Department Linguistiek en Taalpraktyk

Universiteit van die Vrystaat.

  

Verwysings

  1. 1.    Encyclopaedia Brittanica, 1968, vol. 18, p. 876 (St. Bonaventura), http://en.wikipedia.org/wiki/St Bonaventura
  2. 2.    Encyclopaedia Brittanica, 1968, vol. 18, p. 875 (St. Thomas Aguinas), http://en.wikipedia.org/wiki/Thomas_Aquinas
  3. 3.    http://www.poemhunter.com.poem/in-the-wave-strike-over-unquiet-stones

 

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Resensie: In die bloute (Johann Lodewyk Marais)”

  1. Johann Lodewyk Marais :

    “Beyond all things is the ocean” (Seneca, 4 v.C.-65 n.C.).

  2. Lucie Möller :

    Daardie ‘primordiale’ oorsprong dalk?