Onderhoud met Susan Smith

 

 Susan Smith in gesprek met Amanda Lourens :

in die afwesigheid van sin

“Ek vind aanklank by taal wat ’n vrou se denkwyse reflekteer.”

 

 

1.       Susan, baie geluk met die verskyning van jou debuutbundel!  Jy het egter reeds in 1997 in Nuwe Stemme I gedebuteer, en intussen het van jou gedigte in Versreise, Raamwerk 11&12, Groot Verseboek 2000, Versjoernaal, Pret met Poësie en die 2008-uitgawe van Groot Verseboek verskyn.  Vertel ons dus meer oor die ontstaan van jou debuutbundel: Het jy doelbewus gewerk in die rigting van ’n selfstandige debuut?  Ek vra dit veral omdat die bundel besonder heg gestruktureer is, met verbande wat bykans deur die hele bundel gelê kan word. 

 

Dankie Amanda. Ek het verwag dat hierdie vraag oor die tydsverloop sou opduik. En eintlik het ek nie regtig ’n antwoord daarvoor nie. Ek skryf nog altyd, van jongs af. Net voor Nuwe Stemme 1 het ek ’n manuskrip voorgelê, waaruit 10 gedigte vir die bundel gekies is. En kort ná Nuwe Stemme (as mens vier jaar kort kan noem) het ek ’n nuwe manuskrip voorgelê – maar in daardie jare het nuwelinge maar moeilik gepubliseer gekom. Die tyd was nie reg nie. En die gedigte was natuurlik ook net eenvoudig nie goed genoeg nie. So het die bundel in die spreekwoordelike laai beland, is afsonderlike gedigte hier en daar in saamgestelde bundels opgeneem. Ek het egter steeds bly skryf, herskryf, weggegooi, oorbegin, moedeloos geraak, weer moed geskep.  Dit was ’n eensame pad.  Jy moet onthou dat ek myself in ’n Oos-Londense afgeslotenheid bevind het, op myself aangewese vir kritiek, vir oordeel.  Selfs nou nog voel hierdie plek vir my soos ’n eiland, omring deur die digte groen Oos-Kaapse bos, met niemand wat hierlangs kom nie, geen woord wat my bereik uit die wye Afrikaanse wêreld daar buite nie. Die onmiddellikheid van die moderne platforms het nie bestaan nie. Die inligtingsontploffing en geredelike beskikbaarheid van kennis en van ondersteunende netwerke sou nog kom. En daarmee saam die gevoel dat jy gelees word. Dat iemand iewers daar buite aanklank vind by wat jy skryf.

 Intussen het die bundel haar eie draaie begin loop – nuwe rigtings ingeslaan, van kleur verander, die lewe het gebeur en so het die blourokvrou uiteindelik tot stand gekom.  Maar vir eers het ook die vlugvrees (om Erica Jong hierby in te sleep) my lam gelê. Die bundel was reg om te loop, jare gelede al, maar ek kon nie laat los nie. Ek kon nie kláár skryf nie. Is waarskynlik steeds nie klaargeskryf nie. Maar dalk is die tyd nou uiteindelik reg.

 

2.       Jou gedigte skep die indruk dat jy jou woorde baie noukeurig oorweeg en die individuele woordkeuses baie goed oordink. Vertel ons dus iets oor hoe ’n gedig uit jou pen ontstaan en uiteindelik as afgeronde produk in die bundel staan? 

 

Die prosesse van gedigmaak kan ek nie in een patroon vasvat nie, dit gebeur nie altyd dieselfde nie. Soms skryf ek vlugvoetig, lig op die wind, impulsief en vry. En selfs die skaaf en afrond is vinnig en lig. Ander kere is dit langsaam, durend, herhalend, swaar. Die gewig daarvan solied, die twyfel ’n tasbare ding.  Die uiteindelike redigering, oorweeg, heroorweeg, weggooi, oorbegin – jare. Wat dalk te lank is. Maar een aspek wat wel altyd teenwoordig is, is die impuls van klank, die kernbegin van elke gedig. Dit is die klank, meer as beelde, meer as gedagte, meer as idee of dink waaruit alles spruit.  Ek put ’n fisiese genot uit woorde en hoe hulle saamklink.

  

3.       Die titel is besonder intrigerend, en die leser se belangstelling word dadelik geprikkel deur die veelvuldige betekenismoontlikhede wat (op byna ironiese wyse) daardeur geopen word.  Hierdie frase (“in die afwesigheid van sin”) word raakgelees in die openingsgedig “graffiti” (p.11) wat klaarblyklik as programgedig geposisioneer word.  Is dit wel die bedoeling, en dink jy hierdie gedig is ’n belangrike sleutel tot die res van die bundel?

 

Die “graffiti-gedig” is inderdaad bedoel om ’n oopmaakgedig te wees. Van die vroegste tye af was die inskripsies en tekeninge op grotwande en later in katakombes en ruïnes ’n narratief van die mense wat daar was. Die gedig wil inspeel op die gedagte dat alles wat geskryf staan, eintlik maar graffiti is. Dit is die tekens van ons bestaan, van ons kultuur, ook van die donker onderkant van die mensdom. Dit is die afbakening van wie ons is, waar ons vandaan kom, hoe die wêreld vir ons sin maak, of nie sin maak nie. Dit is ons geskiedenis. Watter woorde ons kies om te gebruik, is die merke op ons voorkop, waarin ons identiteit lê. In ons eie klein kring is ons beide skrywers en soekers: op soek na wat reeds geskryf is en aan die oorvertel, byskryf en redigeer, van geslag tot geslag. Aan die sin maak uit wat tot ons beskikking is. Dit doen ons met woorde, wat uiteindelik die mees onvolmaakte en onbetroubare van alle tekens is. Dit is juis die paradoks: dat woorde dalk al is wat bly; dat woorde juis nie durend is nie, nooit volledig sin kan maak nie.

 

4.       Jou laaste antwoord oor die paradoksale aard van woorde is baie betekenisvol ten opsigte van die lees van die bundel as geheel.  Dit is juis hier wat die motto van Erica Jong sterk na vore kom: “Since flesh can’t stay, we pass the words along”.  Hier bo verwys jy ook terloops na Fear of Flying.  Is jy ’n Jong-aanhanger? 

 

Ja, veral Jong se poësie, waarvoor sy minder bekend is as haar prosa. En nie net Jong nie, maar ook Anne Sexton, Margaret Atwood, Sylvia Plath, Anne Michaels. Hierdie digters het een ding gemeen: hulle skryf vanuit ’n ander plek – uit die lyf, uit die murg, uit die hartklop – “from the howling chaos / of the heart”, sê Jong in een van haar gedigte. Dit is emosionele, meesleurende poësie, “maternal and material”. Kragtig en aards en eerlik. Dat dit ook slim is, is bykans bysaak.  Ek identifiseer sterk met die vroulike stem en met Hélène Cixous se konsep van die écriture féminine, veral ten opsigte van ’n vroulike skryfwyse. My doktorale tesis het jare gelede (vroeg negentigs!) gehandel oor feministiese teorie en kritiek – ek is eintlik ’n óú feminis!

 

Ek vind aanklank by taal wat ’n vrou se denkwyse reflekteer, wat eerder kontekstueel en narratief is as formeel en abstrak, wat skakeling bewerkstellig, eerder as skeiding.  En ’n sin vir tyd wat eerder herhalend en siklies is as lineêr.  Dit beteken vir die digter om gegrond te wees in eie ervaring, om uit die lineêre en logiese sfere van diskoers te beweeg na dualistiese modelle van dink en lees en skryf. Dit sluit natuurlik ook aan by die metaforiese komponent van taal waardeur eenduidige interpretasie van tekste verwerp word.

 Wat ek raaklees by Jong en haar susters is wat deur teoretikus Josephine Donovan en voor haar, Sara Ruddick, “maternalthinking” en “keeping” genoem word, essensieel vroulike eienskappe, eerder as die meer manlike eienskappe van “acquiring”. Herhaling, klanknabootsing, stilswye, kwalifisering (eerder as konstatering), tweegesprek eerder as diskoers, aaneenskakeling, gelyktydigheid, sintuiglikheid en vloeibaarheid – dit is alles kenmerke van so ’n poëtika.

 

5.       Ek wil graag nog ’n bietjie stilstaan by jou baie noukeurige besinning oor woorde, oor skryf wat so ’n belangrike kode in die bundel vorm.  Die motto van Dale Spender by die eerste afdeling wys juis op die – sal ek dit noem Adamlike? – benoemingshandelinge van die mens, soos ook in die eerste gedig in die afdeling “noem” na vore kom wanneer die  inhoud van die eie ruimte in taal benoem word.  Die afdeling word dan egter vinnig ontwikkel en die gedigte “voorbode”, “toktokkie”, en “vergis” ontgin die tema van die boodskap of kode, wat hier spesifiek ’n boodskap van bedreiging word, waardeur die eie benoemde ruimte se heelheid verbreek word.  “inbraak” se slotstrofe lui immers: “iewers breek iets / iets breek / in hierdie ruimte van my / in”, terwyl “skrik” se slot dieselfde suggestie van geweld bevat.  ’n Gedig soos “huisarres” ondersoek ook die effekte van ’n kultuur van geweld.  Word sosiale kommentaar miskien in hierdie afdeling geïmpliseer?

 

’n Mens se lewe is ingeweef met al die fasette: van liefde, van geweld, van angs, van blydskap. Dis deel van ons daaglikse bestaan.  Dat ons omgewing ’n invloed op ons het, op hoe ons na die wêreld kyk, is onontkombaar. As ’n gedig kommentaar lewer op ’n bepaalde situasie, is dit bloot deel van ’n groter geheel, een steentjie van die mosaïek.  Dit kom ook terug na die tasbaarheid van wat ons daagliks omring. Die plek waar ons is, waar ons veilig behoort te wees en waarvoor ons woorde probeer vind, onvolmaakte woorde. Want niks is eenvoudig nie en taal is nie eenvoudig nie.

 

6.       Ek kan eintlik nie help om te glimlag wanneer jy jouself as ’n “ou feminis” tipeer nie.  (Self onthou ek watter openbaring, eintlik keerpunt, die feministiese teorie vir my as student was.)  Duidelike spore van feministiese teorie en kritiek is sigbaar in jou bundel, soos in die talle gedigte wat oor ’n vroulike wêreld handel; in die besonder ook die bande tussen ma en dogter en die voortsetting van sekere soorte vroulike kennis.  Dink jy dat jou teoretiese kennis help vorm het aan van die gedigte en uiteindelik die bundel? 

 

Omdat hierdie bundel oor ’n lang tyd geskryf is, is daar noodwendig ’n groot verskeidenheid van invloede, sekerlik ook teoreties van aard. En ek was vir baie jare besig met die feministiese teorie, vanaf my vroeë universiteitsdae tot en met die afhandeling van my tesis. Maar die denkwyse daaragter is nie iets wat jy afstof nie; dit kan nie saam met die naslaanwerk in ’n lêer gepak en vergeet word nie. My ingesteldheid was nog altyd op die unieke aard van vroulike belewing, en dit sal vir altyd deel wees van wie ek is.

 

Onlangs het ek my voet in die water gesit met ekokritiek. Alreeds kan ek sien hoe my nuutste gedigte hierdie spoor naloop, en selfs hoe van die vroeëre gedigte ook elemente daarvan dra. Miskien is die akademiese besigwees met teorie en die kreatiewe prosesse nie altyd so ver verwyderd as wat mens dink nie.  Ek is egter nie bewustelik besig met teorie as ek ’n gedig skryf nie. Die tasbare, die reële kom vir my eerste in die gedig.

 

7.       Vertel ons ’n bietjie meer oor die voorblad van die bundel.  Dit wil lyk na foto’s van nabye familie – wie is die vroue?  En iets oor hulle rol in die bundel? 

 

Lekker vraag! Die kunswerke is gedoen deur Kaapse kunstenaar Alex Hamilton. Ek het redelik onlangs kennis gemaak met sy werk en was dadelik versot daarop. En het geweet dís wat ek wil doen met die buiteblad!

Ek sien sy kunswerke as ’n teruggryp na die ‘pop art’-beweging van die Vyftigs, van mense soos veral Andy Warhol, waardeur die onderwerp uit sy bestaande konteks verwyder en in ’n nuwe, onverwante konteks geplaas word. Die invloed van die populêre kultuur soos die massamedia en die advertensiewêreld was ’n sigbare komponent van hierdie kunsvorm.

 Die gevoel wat ek deur Alex se kunswerke kry, is dat hy bykans die rol van argivaris en geskiedskrywer vervul. Die kombinasie van ikone wat hy bymekaarvoeg, gee aan elke skildery ’n unieke narratief. En sy onlangse ikone van Prince Albert versterk juis soveel meer hierdie idee van opteken en bewaar.  Die skilderye van mense word ’n vertelling van die verlede, maar ook ’n refleksie van die hede. Dit sê egter ook iets van die kyker: wie ons is, wie ons ikone is. Dit word ’n bril waardeur die verlede in vars konteks geplaas word, Einstein langs Charlie Chaplin, Marilyn Monroe aan Nelson Mandela se sy, gereed vir ’n geselsie, met Riaan Cruywagen en Shakespeare wat glimlaggend toekyk. Die bykans facebook-styl lewer sekerlik ook kommentaar op die globale gespreksmoontlikhede wat internet en die sosiale netwerke bied, ’n betekeniskomponent wat ek probeer aktiveer deur die buiteblad.

 Alex was besonder opgewonde oor die opdrag. Ons het gesels oor die sentrale tema, waarna hy die proses in verskillende stadiums van voltooiing gefotografeer en gemanipuleer het om die tema visueel te reflekteer.  Uiteindelik het die onvoltooide beelde deel geword van die “gesprek” tussen die vier vroue: my ouma, my ma, my dogter en ek.  My uitgewer, Martjie Bosman (by Protea Boekhuis) het ’n oop gemoed en luisterende oor gehad en my ruim geleentheid gegee om my eie ding te doen, tot by die kleure! Daarvoor is ek baie dankbaar. Ek kan my nie indink dat iemand anders keuses vir my sou moes maak nie. Hoe die bundel lyk is net so belangrik vir my as wat bínne staan.

 

8.       Susan, baie dankie vir jou insiggewende antwoorde.  Wil jy dalk ter afsluiting ’n gedig met ons deel om as leesprikkel vir die bundel te dien?

 

Amanda, ek deel graag die gedig “patroon”. Die Xhosa-motto by die gedig, umbalisi webali, verwys na die proses van storievertelling en is natuurlik ook ’n verwysing na brei.

 

 

patroon

umbalisi webali

 

mamma

jy brei in mossteek en kabels

vir my ’n arantrui

steek vir steek trek die drade ons

hegter bymekaar

só, met die woldraad

om pinkie en wysvinger gehaak

brei jy stories en familievertelle

uit die voortye los

 

regs en aweregs alternatiewelik

en eindig altyd weer

die laaste steek regs

herhaal die ry – mossteek –

en wanneer jy drie steke

op ’n derde naald glip

en die volgende drie regs brei

dan die derde naald se drie

regs bo-oor die ander brei

begin ’n kabel vorm kry

hou vir ses rye by die vaste patroon

en glip dan weer soos hierbo aangetoon

 

met die aangee van die patroon

van jou na my

word ons aard soos geboortereg

aanmekaar vasgebrei

 

*

 

ek brei vir my dogter ’n trui

in patrone van my ma af oorgeërf:

 

regs en aweregs alternatiewelik

en eindig altyd weer

die laaste steek regs

herhaal die ry – mossteek –

en wanneer jy drie steke

op ’n derde naald glip

en die volgende drie regs brei

dan die derde naald se drie

regs bo-oor die ander brei

begin ’n kabel vorm kry

hou vir ses rye by die vaste patroon

en glip dan weer soos hierbo aangetoon

 

maak nou toe jou oë my patroon my kind

laat jou hande oor die knobbelkabels gly

voel die breidrade praat

want elke stekie is met boodskappe en wense vir jou ingevul

(kyk, hierdie klein stekies maak ek

hierdie bidstekies

is vir jou, dit maak jou sterk)

 

jy sal verander

aanstons is die trui te klein

maar onthou: jy spruit

uit bloed en hoort en uit elke woord

deur geslagte aangegee en ingewerk

 

*

 

ek leer my kind die steke brei

oorgegee van hand tot hand

ingewikkelde patrone in vrouetaal

wat soos naelstring bind

en in sinjaalrooi wol brei sy

die ou patroon saam met al die voorvroue in die ry:

 

regs en aweregs alternatiewelik

en eindig altyd weer

die laaste steek regs

herhaal die ry – mossteek –

en wanneer jy drie steke

op’nderde naald glip

en die volgende drie regs brei

dan die derde naald se drie

regs bo-oor die ander brei

begin ’n kabel vorm kry

hou vir ses rye by die vaste patroon

en glip dan weer soos hierbo aangetoon

 *

 

(Lees ook Marlies Taljard se resensie oor die bundel hier. )

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Onderhoud met Susan Smith”

  1. Joan Hambidge :