Resensie: in die afwesigheid van sin (Susan Smith)

in die afwesigheid van sin deur Susan Smith. (Protea Boekhuis, 2012;  R150.00 (BTW ingesluit); ISBN: 978-1-86919-807-7, 137 x 213 mm, Sagteband, 100pp)

Resensent: Marlies Taljard

Vir my is een van die essensiële kenmerke van poësielees die ervaring van die leser dat mens telkens jouself raakloop, in jouself vasloop as’t ware, skielik voor ‘n spieël te staan kom – om Ezra Pound se woorde te gebruik wanneer hy oor Hardy skryf: “No man can read Hardy’s poems collected but that his own life, and forgotten moments of it, will come back to him, in a flash here and an hour there. Have you a better test of true poetry?” Dié kriterium geld myns insiens beslis vir Susan Smith se debuutbundel, in die afwesigheid van sin.

Net soos Marius Crous se bundel Vol draadwerk wat ook pas verskyn het, steun Smith swaar op die bo-sintuiglike en pre-verbale belewenis wat in poësie geaktiveer word deur die representasie van sensoriese belewing (byvoorbeeld deur metaforiek, metonimia, musikaliteit, ritme ensovoorts) wat sinchronies met die tradisionele (grammatikale/logiese) prosesse van singewing verloop. Julia Kristeva assosieer hierdie aspek van poëtiese taal met die Chora (die Grieks vir uterus) en noem dit die semiotiese dimensie van taal. Vir haar verteenwoordig dit nie-verbale kommunikasie wat taal voorafgaan, daardie kommunikasie wat staat maak op liggaamlikheid en wat iets van die mistieke en die misterieuse aan hom het, die betekenis wat uit die timbre, modulasie en intonasie van woorde voortspruit en waarin die klankaspek van woorde ‘n belangrike funksie vervul. Kristeva se semiotiese taalgebruik neig dikwels na die nostalgiese: dit oorskry die grense van ruimte en tyd deur insluiting van temas soos lewe en dood waarin die affektiewe ‘n belangrike rol speel.

Hierdie “vroulike” dimensie van taal, soos Kristeva dit ook noem (maar wat by beide manlike en vroulike skrywers voorkom), is ‘n belangrike kenmerk van die bundel in die afwesigheid van sin as geheel, en word reeds deur die opdrag geaktiveer waarin klem gelê word op ‘n soort “geheue van die liggaam” wat in Kristeva se teorie belangrik is:

aan die Susanna Catharinas

my ouma

my ma

my dogter

omdat ons mekaar se woordeskat en geskiedenis is

 

Dit word verder opgeroep deur buitengewone klemlegging op donker, vloeibare, ontasbare dinge in ‘n hele aantal gedigte soos “voorbode”, “skrik” en die onheilspellende “kinderspeletjies” en “siembamba-narratiewe”, asook die aangrypende “by die dood van ‘n kind”. In die gedig “inbraak” word die gevoel van onheil vergestalt deur dubbelsinnige en vervreemdende woordgebruik, gebruikmaking van sinestesie wat sinspeel op bo-sintuiglike belewing, herhaling van donker vokale en stemlose of dowwe konsonante, die afwesigheid van leestekens en gevolglike ineenvloei van die diskoers en die verbrokkeling van versreëls teen die einde:

inbraak

 

die vertrek vibreer van bang lug

luister na die angstige vensters

die bewende deure

die gordyne wat liggies

in die donker sug

hortend trek die huis haar asem om my in

spitsoor om die geluidspoor na te hoor

 

‘n deur val dig in sy slot

‘n ruit weerkaats die laatlig

my vingers stiplees die braille

van stoel se rand

tot rand

van tafel na kas en

versigtig terug

 

luister ingespanne vingerpuntgetuit

na dit wat morsekodes deur die meubels tik

 

                        iewers breek iets

iets breek

in hierdie ruimte van my

in

 

‘n Verdere tema wat dikwels met die semiotiese aspek van taal in verband gebring word, is die wyse waarop singewing plaasvind, soos deur die titel gesuggereer word. Die gedig “graffiti” wat los van die res van die bundel voor afdeling I staan, lewer belangrike kommentaar op die wyse waarop die mens sin gee aan sy bestaan op aarde: “ons is die mitemakers” is die heel eerste reël in die bundel. Die gedig eindig dan met die slotsom:

in die afwesigheid

van sin is ons die Tekensoekers

die glomakers     die fynkykers

wat voor ons vertrek

teen die heelalmuur se mosaïek

ons onthoumerke maak:

 

die betekenis

van ‘n onbelangrike mens

 

Hierdie gedig, wat weens sy plasing in die bundel as ‘n soort motto-gedig beskou kan word, gee ‘n oorsig oor die tematiek van die bundel as geheel: eerstens word die verhale van die mens aan die hand waarvan hy sin maak van sy bestaan op aarde binne ‘n kosmiese (spirituele) konteks geplaas, maar tweedens word ook klem gelê op die gebrek aan sin, ongeag hierdie handelinge, asook op die nietigheid van die mens deurdat dié nietigheid in die bevoorregte slotposisie van die gedig ingeskryf word. In die voorlaaste gedig van die bundel, “sinkry”, word verskeie betekenisvariante van die begrip “sin kry” en “singewing” binne die liefdeskonteks ondersoek:

sinkry

 

in jou het ek sin

gekry, beminde, en jy

in my

ons behoort aan mekaar:

ons is mekaar s’ne

 

snags as ons slaap

hou ons hande vas

voel ek my palm

in jou palm pas

ek het jou lief

soos hoe dit nog altyd was

 

ons is mekaar se eindes

en beginne

ons voltooi mekaar

se sinne

 

Woorde, praat, skryf en ander handelinge van singewing, benoeming en identiteitsvorming (of die onvermoë daartoe) is ‘n verdere tema wat binne die bundel beslag kry. Die motto-gedig van die eerste bundelafdeling verwys eksplisiet na die gekonstrueerdheid van identiteit:

waar ons vandaan kom

is van woorde

ons het dit gemaak

 

Woorde as skeppers van identiteit kom ook in verskeie ander gedigte voor, soos in “die besoek”:

my naam is susan

ek is nie ‘n kenner

van driftig en onbevange leef nie

ek kies versigtig elke woord

ek speel regter

oor elkeen van my sinne

 

Hoewel dit soms geforseerd en oordadig voorkom, is die voortdurende dubbelsinnige gebruik van die woord “sin/sinne” veral interessant binne die psigoanalitiese konteks van die bundel, waarin die “sin” enersyds verwys na ‘n logiese grammatikale konstruksie wat met patriargale praktyke verbind kan word, teenoor die ander betekenisonderskeiding waarin die woord “sintuie” beteken – ‘n begrip wat op sy beurt geassosieer word met semiotiese kommunikasie. Hieruit blyk duidelik dat Lacan se sogenaamde simboliese kommunikasiemodus en die semiotiese aspek van taal in poësie in simbiose tot mekaar bestaan; dat poësie nie deur grammatika en die kognitiewe proses alleen kan bestaan nie, maar afhanklik is van sensoriese prikkels wat deur die liggaam geïnterpreteer word.

Die gedigte “afasie” en “woordslaai’ wat op pp 88 en 89 langs mekaar afgedruk is, is ‘n ikoniese illustrasie van die bogenoemde teoretiese waarneming: die gedig “afasie” staan in die vorm van ‘n logiese argument, terwyl in die gedig “woordslaai” die woorde en die klanke waaruit “afasie” saamgestel is, deurmekaar geklits word. Sodoende word die oorspronklike betekenis ondermyn en nuwe betekenis word geskep. Die nuwe betekenis wat uit dié “slaaimaakproses” ontstaan, word hoofsaaklik gegenereer deur middel van sensoriese belewenisse soos woordklank en bladbeeld.

Soos afgelei kan word uit die bostaande bespreking van enkele poëtikale aspekte van die bundel, het ons hier te make met ‘n uiters gesofistikeerde poësiebundel. Die struktuur van die bundel is eweneens kundig saamgestel en dra by tot ‘n sinvolle leesproses, maar lê terselfdertyd interessante verbande tussen gedigte en temas wat naasmekaar gestel word en in dieselfde afdelings saamgegroepeer word. Die bundel is formeel verdeel in 4 afdelings. Afdeling 1 bevat gedigte wat met naam- en singewing te make het, afdeling II sou die tema “vroue” kon hê, afdeling III bestaan uit twee gedigte oor woorde, terwyl afdeling IV fokus op donker dinge en die afwesigheid van sin.

Ek het die bundel in die afwesigheid van sin een van die sterkste bundels gevind wat die afgelope jare in Afrikaans verskyn het – ‘n meesterlike debuut. Die gedigte het waarskynlik oor ‘n lang periode ontstaan, is weldeurdag, deeglik afgerond en ‘n seleksie wat spreek van ‘n deeglike keurproses is uiteindelik gemaak. Die meeste gedigte is op ‘n besonder hoë standaard en voldoen aan die verwagtinge wat aan goeie poësie gestel word. Metafore vloei natuurlik, die meerduidigheid van taal word optimaal ontgin, die vrye vers word met dissipline beoefen … Hierdie bundel illustreer die noodsaak van selfbeheersing in die publikasieproses en is ‘n voorbeeld waarna jong digters wat tog te graag elke jaar of twee ‘n bundel wil publiseer, kan streef.

In die afwesigheid van sin is sowel ‘n leeservaring wat mense met gemiddelde poësiekennis sal verryk, as ‘n gesofistikeerde teks waarin die teoretikus diep en lonend kan delf.

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Resensie: in die afwesigheid van sin (Susan Smith)”

  1. tallie :

    opvallend …ek ken altwee van julle baie goed
    Marlies en Susan
    groete
    Tallie