Clinton V. du Plessis. Vrypas

Vrypas

 

Pa, onthou jy ons in derde klas

(met die harderige banke,

of soms in die oop rywa, bombela,

sonder kompartemente)

 

die swart passasiers met  

die gevlegte rietmandjies

op die heel boonste sitplek

hoe gasvry hulle die tuisgebraaide werfhoender,

bakbrood en koffie uit ’n fles 

eerste vir ons aangebied het, my eerste les

in ubuntu,

 

daar was baie stasies

knus klein plekkies met nostalgiese name

Poupan, Kraankuil, Beskuitfontein, Bletterman,

jy’t hulle almal geken,

elke stasie het sy eie storie gehad,

 

sommige met kafees,

gebakte vis en stomende moerkoffie

vir die leë fles op koue winternagte

daar was groot kruisings, Noupoort noorde toe

en Touwsrivier na die Kaapse kant,

netjiese groen akkers gras

by die ingange,

bont blombeddings wat gepas

het, by rooi-gepoleerde stoepe,

 

drywers met blinkgepoetste kostrommels,

 trotse manne met werk en vername beroepe

 lampman, sinjaalbeampte, rangeerder en stoker,

die stasiemeesters, gesiene menere,

 manne wat elke jaar of twee die nuutste model kon ry

Opels, Fords, en, voor die koms van 4×4’s

Ranchero-bakkies en El Camino’s met die netjies toegeritste

leerbedeksel oor die laairuim.

 

De Aar het vertak na alle plekke

’n polsende aorta van voortsnellende treine,

vol jong troepe om iemand anders

se heilige oorlog in ’n onbekende land

te gaan veg, trollies gelaai

met springbokkarkasse,

geskiet deur ministers en hulle gevolg

vername manne wat braai,

biltong kerf by kampvure en bosberade

net hoe wyd was die Heer se genade?

tot by die perron se gatkant moes ons loop,

amper heel onder die dak uit,

op die rand, weg soos lastige onkruid,

om te kon mag sit, op die gemerkte

nie-blanke banke,

 

 

Pa, ek reis nog, enige klas wat ek wil,

met ‘n skerm en ‘n muis,

saans sit ek met boeke

lees nuwe wêrelde oop,

en nou maak ek vir jou ‘n boek

probeer met woorde op jou spoor loop

 

soms sien ek jou in die nou gang

staan, die venster oop en die roet

wat teen  jou wang

kom sproet,

ek hoor weer die wiele rol,

sien die kole voor gloei, ‘n vlamrooi gesig,

sien weer ‘n windpomp in die maanlig

draai en die helder sterre wat soos oë

van die dooies stol, die hemelruim vol.

 

Pa, die dood is ‘n boemeltrein wat niemand kan verpas nie.

 

 

© Clinton V. du Plessis, 2012

Bookmark and Share

29 Kommentare op “Clinton V. du Plessis. Vrypas”

  1. Joan Hambidge :

    Aangrypend hierdie gesprek met die vader. Opvallend hoeveel gedigte tans op hierdie webruimte met die ouers in gesprek tree.

  2. Clinton V du Plessis :

    Joan ek waardeer die lees en kommentaar, dankie

  3. engemi ferreira :

    Clinton, jy het ver gereis van daai heel eerste slanke grys boekie wat jy vir my aangestuur het iewers in die jaar toet. Nou het jy my ook op die treinrit meegeneem – ons deel soveel herinneringe – en tog soveel waens uitmekaar. Dankie

  4. Clinton V du Plessis :

    Engemi, lekker om weer spore te kruis…groete

  5. Joan Hambidge :

    http://www.dieburger.com/By/Nuus/Die-100-gewildste-gedigte-in-Afrikaans-20121201

    Miskien moet ons ook hieroor praat? Hoe kan daar iets soos 100 beste gedigte wees, eerder ‘n 1000! Danie Marais het ‘n belangrike gesprek begin.

  6. Johann de Lange :

    AL wat daardie steekproef bewys het, is dat Afrikaners nie poësie lees nie, & niks op eie stoom ná skool bygewerk het nie. Die gemiddelde ouderdom van die gedigte is 30-40 jaar! Skoolgedigte gekies deur wit ooms van die Nasionale Party. ‘n Sinnelose opname met ‘n voorspelbare uitkoms. Wanneer digters soos Blum, Rousseau, Stockenström & Cloete ontbreek, om maar net ‘n paar te noem, is daar ernstig fout. En dan praat ek nie eens van die moeite wat die nuwe generasie digters gedoen het om meer toeganklike, plat op die aarde verse te skryf nie.

    En as leeskring/RSG sotlik genoeg is om dit in boekvorm uit te gee, sal hulle sien dat hulle steekproef ook nie Afrikaanse poësie koop nie.

    My opmerkings hierbo het nié betrekking op die klein korps poësieliehebbers & -lesers nie. Hulle hou eiehandig ‘n genre aan die lewe.

  7. Joan Hambidge :

    Ek stem met Johann saam. Dit is duidelik dat die lesers hoofsaaklik na reeds gekanoniseerde verse gekyk het. Dit wat hulle onthou as gedigte en enigiets wat hiervan afwyk, het hulle waarskynlik nie eens van kennis geneem nie. Wie gaan hierdie boek koop? Die dosent wat probeer om nuwe tendense te verduidelik? Waar is die onlangs (bekroonde) name? Die werklik opwindende digters? Nie dat ek die klassieke bydraes wil verminder nie, maar dit klink of die keuse gemaak is deur ‘n Rip van Winkel-leser.

  8. Desmond Painter :

    Metodologies is hierdie ‘opname’ in elk geval betekenisloos. As hulle ‘n bietjie moeite gedoen het (aan betekenisvolle navorsingsvrae gedink het; die steekproeftrekking enigsins beplan het, ens.) het hulle dalk met iets interessant vorendag gekom. Maar nee.

  9. marlise :

    Ek onthou toe hierdie versoek deurgekom het, wou ek ‘n gedig van gilbert gibson instuur, maar het gou besef dat die massa hier gaan besluit wat gekies word en wat nie en dat dit onwaarskynlik is dat nog 50 mense of so dieselfde gedig gaan aanvra as ek. My verwagting was dat dit wel die reeds oorbekende en gekanoniseerde verse gaan wees. Miskien moet hulle dink aan ‘n opvolgbloemlesing waarin slegs verse gekies moet word wat die afgelope dekade verskyn het…

  10. Desmond Painter :

    Dit is ook ‘n tipiese voorbeeld van die vals demokrasie van sg. ‘user generated content’. Hier is dit net erger: hulle het nie die eintlike ‘users’ (poësielesers) gevra nie. Dis natuurlik nuttig vir die Afrikaanse Media- en Uitgewersmagnate: as ons nou weer kla oor boekeblaaie, publikasies, borgskappe en so meer, kan hulle net s^e: volgens ons opname BESTAAN jy nie eers nie, so sjarrap! 🙂

  11. Desmond Painter :

    Die verksil tussen DJ Opperman se ‘Groot Verseboek’ en Koos Bekker se ‘Groot Verseboek’ is dat laasgenoemde s’n demokraties is. Uiteindelik! Ook die Letterkunde word bevry van outoritere heerskappy! Deur dit direk te koppel aan die mark, word die filosofiese kwessies rondom smaak, kwaliteit en kanonisering ook uiteindelik uit die weg geruim. Ons moet die bevrydende modernisering van ons kultuur nie teenstaan nie. Dit is kontra-revolusioner. Afrikaans is amptelike (kapi-)taal.

  12. Johann de Lange :

    Desmond, die ironie bly dat die mense wat (dalk, uit lojaliteit) hierdie demokratiese bundel sal koop júis dié is wat uitgesluit is uit die proses. Dié wat verantwoordelik is vir die inhoud deur hulle antikwariese keuses sal nié die boek koop nie. Mark-gerig & demokraties kan nie in dieselfde sin gebruik word nie.

  13. Desmond Painter :

    Johann, ek stem absoluut met jou saam. My kommentare is wrang en sarkasties bedoel: ‘bevryding’ beteken deesdae ‘vrye keuse tussen produkte in die supermark’ en ‘demokraties’ is verskraal tot ‘almal het die reg om onbemiddeld kommentaar te lewer oor alles’. Alle waarde word deur die mark bepaal; die gedig wat die meeste stemme kry is die beste gedig; die boek wat die meeste verkoop die enigste een wat bestaansreg het. Die hele kultuur is Pop Idol. Hoe lank voor Afrikaans as sodanig nie meer winsgewend is nie? Voor dit te veel begin opvreet van Naspers se Sjinese wins? As hulle eerlikwaar die digkuns wil bevorder, is daar tog heelwat ander projekte wat geloods kan word?

  14. Desmond, daar is gestem vir die “gewildste” gedigte, nie vir die “beste” nie.

  15. Desmond Painter :

    Daniel, ek weet. Dit is in ‘n sekere sin ook ‘n heel onskuldige oefening, en ek oordryf polemies (nie dat dit enige effek het nie!). Nogtans: ek verwys na ‘n kulturele logika, en waarvolgens daar nie eintlik meer ‘n wesenlike verskil aan te dui is tussen “gewildste” en “beste” nie. Die bemarkbaarheid en winsgewendheid van dinge word op die ou end die enigste waardeoordeel wat saak maak. Enigiets anders kan afgelag word. Dit is waarom die boekresensies korter word; waarom die bladsye in die BY minder word; waarom simfonieorkeste moet opbreek en museums toemaak; waarom letterkunde op universitet die knie sal buig voor ‘kommunikasiekunde’ en filosofie voor ‘toegepaste etiek’. Soos Freud geweet het, die superego is die sielkundige uitdrukking van ‘n kulturele dinamiek, en ons s’n is: maak soveel wins as moontlik, ongeag die natuurlike en kulturele ekologiee wat jy in die proses verwoes. (Daar oorreageer ek alweer…)

  16. Buiteblaf Breytenbach :

    Doen dit, Desmond! (As ek so mag stafrym.) Lê die roede in en moenie ophou oorreageer nie. Hierdie goed moet aanmekaar gesê word al luister niemand werklik nie. En natuurlik het Daniël gelyk en kan ons nou nie juis ‘n peeroes verwag aan die doringbome nie al wil die samestellers nou ook voorgee dis kruithorings wat daar hang. Persoonlik dink ek dit is ‘n lawwa reklamefoefie wat niks aan niks gaan verander nie; Ook, en dis tog belangrik, dit sal goed wees om te onthou dat die digters wie se werk op hierdie manier verteer (en verrinneweer) is nie enige sê in die proses gehad het nie. (Wel, dié wat maak asof hulle nog lewe is darem om toestemming genader.)

  17. Johann de Lange :

    Daniel, hulle moes eerder gestem het vir die oudste gedigte. Ek sweer die gemiddelde ouderdom lê by 30-40 jaar rond. En een vers per digter sou hulle ‘n groter verskeidenheid toegelaat het.

  18. Ek het ‘n paar ander voorstelle vir die bemarkers. Wat van: “Lekker stoutgat gedigte”? Of “Sokkiegedigte”! Dit sal SO verkoop! (Lees met Paris Hilton-aksent, as sy Afrikaans kon praat.) “Gedigte wat stamp (vir die braai)” is ook ‘n moontlikheid. Dan sou mens nostalgie vir die verlede se onskuld kon uitbuit: “Gedigte oor Boeregeneraals wat moerse lekker rym”.

  19. Louis Esterhuizen :

    Hel, Andries, hoe laat jy my nóú lag! Dan’s daar nog die erotiese bundel “Springbok Treffers – Van toeka tot tokka” of so iets. Selfs “Kafoefelverse tussen lakens” kan werk. Maar – in alle billikheid teenoor die samestellers van die 100 gewildste gedigte: Blykbaar was daar glo heelwat genomineerde gedigte uit resente tye, maar vanweë die seleksieproses het hulle natuurlik nie genoeg stemme verwerf om die “goue treffers” te lig nie.

  20. Louis, as die volgende gedig dit nie gemaak het nie, is die boek se papier nie die ink werd nie:

    Mevrou Viljee, skarumba
    loop langs die see, skarumba
    met haar twee, skarumba
    piepie joi joi honde.

    Ek het aan nog ‘n moontlikheid gedink: “Skud jou gedig.” Of dalk eerder: “Skud jou digter.”

  21. Andries en Louis, het Hennie Aucamp dan nie alreeds ‘n bundel getitel “Teen lakenstyd” op sy naam nie?!

  22. Buiteblaf Breytenbach :

    Ek wil net nou reeds bekend maak dat ek hoop om binnekort ‘n klip uit te stal met die titel: “Steen des aandstoots”.
    Jan Rockspider

  23. Johann de Lange :

    Daniel, Hennie se boektitel is TEEN LATENSTYD, maar ek hou van jou TEEN LAKENSTYD – dalk kan ek my koshuisjare onder daardie hofie bespreek…;-)

  24. Aaaaaaa! Studentejare, toe mens nog die stamina gehad het om meer as een steen des aandstoots teen lakenstyd rond te rol! Laat my nou aan Kundera dink, oor humor as laaste verweer.

  25. Andries, Hardt en Negri skryf in Commonwealth: “In the face of this arrogance of power, the most adequate response, rather than lamenting our poor lot and wallowing in melancholy, is laughter. Laughing, mind you, is a very serious matter. It is not the consolation for our weakness but an expression of joy, a sign of our power.” (p. 382)

  26. Marlise :

    Andries! JY is net die regte persoon om Breytenbach se eenklipuitstalling te open! Desmond kan die rondleiding (met slegs ‘n laken om die lyf) aan besoekers deur die saal doen. Die moontlikhede is legio. Vir ‘n bietjie kleur uit ‘n vroulike perspektief sal ek dan met graagte die volgende gediggie van Jenny Joseph wil voordra:

    Warning

    When I am an old woman I shall wear purple
    With a red hat which doesn’t go, and doesn’t suit me.
    And I shall spend my pension on brandy and summer gloves
    And satin sandals, and say we’ve no money for butter.
    I shall sit down on the pavement when I’m tired
    And gobble up samples in shops and press alarm bells
    And run my stick along the public railings
    And make up for the sobriety of my youth.
    I shall go out in my slippers in the rain
    And pick flowers in other people’s gardens
    And learn to spit.

    You can wear terrible shirts and grow more fat
    And eat three pounds of sausages at a go
    Or only bread and pickle for a week
    And hoard pens and pencils and beermats and things in boxes.

    But now we must have clothes that keep us dry
    And pay our rent and not swear in the street
    And set a good example for the children.
    We must have friends to dinner and read the papers.

    But maybe I ought to practice a little now?
    So people who know me are not too shocked and surprised
    When suddenly I am old, and start to wear purple.

    (Jenny Joseph)

  27. Marlise, hier’s iets van The National om saam met die gedig te gaan, al gaan dit oor jeug: “We’re the heirs to the glimmering world.” Die ganse in Beverlylaan waarna verwys word is blykbaar motoralarms wat skree as ‘n bende jeugdiges (in SA bekend as “joefs”) die straat af hardloop en met hulle hande op karneuse slaan. Benewens lag is dit seker ook verweer – die sinnelose gansgeraas van “ons was hier, ons was hier”.

    http://www.youtube.com/watch?v=02tWZNQ6n38

    (Clinton, ek bied verskoning aan vir die afdwaal van die onderwerp van jou lieflike gedig. Ek het al ‘n skramse idee gekry van die tipe musiek waarna jy luister & ek dink jy sal van The National hou – dis nou as jy hulle nie reeds goed ken nie.)

  28. Buiteblaf Breytenbach :

    Clinton – ek beaam Andries se kopknip in die rigting van jou gedig. Maar dit het darem ook baie klippe aan die rol gesit, selfs al het die joef oënskynlik die nut van klippe verleer. (Die Chinese sal wel die gaping sien.) Ek hou van Desmond se Toni Negri & al aanhaling en natuurlik ook van Marlise se voorstel dat jy, Desmond, eintlik mooi sal lyk in ‘n purper toga.
    Tja, laat ons in alle erns lag. Dit herinner my aan die soldate in Uys Krige se gedig wat by die graf van ‘n makker nie meer die begrafnisformulier kon onthou nie en toe Sarie Marais by ontstentenis gesing het – maar dan “dêm sêd”.

  29. Clinton V du Plessis :

    AB en BB, ‘n knipoog vir die kopknip…

    “serve me the sky with a big slice of lemon”