Heilna du Plooy. Die jag

 

Die jag

* “I love it. God help me I do love it so. I love it more than my life.”
Generaal George Smith Patton na ’n veldslag tydens die Tweede Wêreldoorlog.

“War is natural. War is unnatural.”
James Hillman

 

 Bushman – Maureen Quin

 

I

die man

 

hy is skraal
die man, so skraal
tot die essensiële been
en spiere afgeskaal

die regop rugstring
soos ‘n palmstam kaal
geskub die blaaie enkelarm
dyspier en een skeen

met uitgestrekte nek klein kop
soos van ‘n hotnotsgot
wat waarneem fyn bespied
is die liggaam uitgehol
en afgestroop elke gewrig
‘n hefboom wat werk
om in sy onskuld oop
te staan min te verberg

tog onmiskenbaar mens
het hy ‘n instrument
‘n kierie staf ‘n stok

dit is ‘n stut waarteen hy leun
wat soos ‘n speer so skerp word
wanneer hy hom verweer

 

 

Hunters – Maureen Quin

 

II

Die jagter

 

Dit is normaal, die jag,
want mens en dier moet eet.
Albei staan skuldig en onskuldig
as hulle moor om te oorleef.

Hy is gemaak vir spoed, die dier,
vir grasie: hy beweeg in  ʼn golwende lyn.
Sy krag lê latent in elke leniger as lenige spier.
Hy is sensitief en effektief. Hy weet niks van pyn.

Op die dier se kruis sit ʼn klein figuur. Die man
balanseer. Hy weet dat hy weet van reg en verkeerd.
Tot een rugstring van werwels vergroei vir sukses,
bring hy die dodelike voortreflikheid onder beheer.

Van trillende neusvleuel tot stertkwas is die een natuur,
die ander dra in homself die toksiese vonk van kultuur.

 

 

The chase – Maureen Quin

 

III

Jag

 

Die grens tussen die noodsaak
en wil om te jag word so gering,
die spel telkens opnuut vervolmaak:
Iets of iemand moet val.
Dis nodig en dis mooi.
En jammer vir die prooi.

Weer en weer kom daar ʼn vyand,
soms ʼn versoeking van olie of goud.
Almal omhels die geleentheid
want vrede verveel en rus raak oorbodig.
Oorlog is ten slotte onnatuurlik natuurlik:
met reëlmaat kry mense dit broodnodig.

Die gewete oor noodsaak
en wil eindelik afgelê,
word die spel suiwer stryd.
Beplan voed konfrontasie
die verslawing, die ekstase,
die euforie van mag in die kryt.

 

The hunted – Maureen Quin

 

IV

die prooi

 

hoe verskroeiend
ook al die hitte van die geveg
hoe loeiend
ook al die geluide van doodslag
tussen swaarde en perde
kanonne en gewere
vliegtuie en missiele
sal die jagter
as sy aanvoerder skree
in die donderende brand
in die verterende rumoer
weer en weer
sy boog terugtrek,
sy pyl afstuur
sekuur
na die bors
in die hart
van enige
een
aan
die
ander
kant

wie se arms oopruk
voordat hy val
en wat roep na hulp
omhoog omlaag
vanwaar dit nie meer
sal kom nie

en in die pandemonium
is dit uiteindelik
die perd wat sy bek
erbarmlik
wyd ooprek
en hartverskeurend skreeu.

 

The kill – Maureen Quin

V

Nawee

Ná die geveg staan die jagter
vervreem vanweë die aller-
innigste stilte.

Sonder luister hoor hy die kreun
van sy eie soort om yskoud te weet:
ons is nou een.

Onder die las buig hy af van sy setel
op die rug van die tier, op soek na steun
uit die aarde.

Miskien, iewers dieper as weet,
smag hy na ouwêreldse woorde
van ʼn kanonieke profeet:

 

Piéta – Maureen Quin

 

“Voordat jy omdraai
en wegloop, sal jy
jou slagoffer opneem.
Jy sal hom op jou skouer dra
of op jou rug, en waar jy sit,
sal hy lê op jou skoot.

“In jou huis sal hy saans
oor jou bene hang,
om jou knieë vou
soos ʼn swaar koue karos,
sy slap en leë lewensvel
jou doodskleed van verwyt.

“Jy sal oor hom buig
en treur, jou skouers
krom geknakte vlerke.
Ver vooroor sal jy hang
vanweë jou wonde
en sy pyn sal jy dra.”

Sou jy, in die aanloop,
by die aanhef van die stryd
jouself só kon vooruitsien?
Jy, in hierdie diepste rou?
Jy, wat so goed geweet het wat jy wou?
En kán jy dit wel dra, die smart van ’n piéta?
 

 

V

Anagnorisis 

 

Hoe vou ʼn mens sy liggaam
in die vorms van woorde
uit  ʼn vergete woordeskat?
Hoe wys ʼn mens se slim
slim hande smart?
Hoe sê ʼn mens se slim
slim mond verslaenheid?
Is daar woorde vir die maaksel
van ongeborgenheid
en onherbergsaamheid
wat voortspruit uit die mens se wil?

Was daar in elk geval ooit iemand
eerlik in die lengte en die breedte,
die hoogte en die diepte
van oerwoorde soos berou,
belydenis, boetedoening
en verootmoediging?

“Woordeloos sal jy jou skuld
moet toelaat om jou te oorspoel.
Totdat die storm uitgewoed is,
sal jy vergeefs jou arms oopgooi
om die verlorenes te kan vashou.
Op jou knieë sal jy vra
dat jy vergewe word.
Teen die grond sal jy huil
omdat jy weerloos is.
Jy sal jou handpalms
oop hou, omgedraai na boontoe
want as jy nog wil lewe,
sal jy moet versoening soek
oor mense en oor diere.”

 

 

Sacrifice – Maureen Quin

 

VI

Pathos

 

Maureen Quin se reeks sluit
af met hierdie laaste beeld:
‘n Vrou sit lenig op ʼn stoel,
gewoon asof in  ʼn kombuis.

Sy strek haar arms vorentoe uit
en in haar hande is daar  ʼn kind.
Sy hou hom wég, ver van haar af,
asof hy nie meer van haar is nie.

Die beeld van die kind is klein,
maar die liggaam is volwasse.
Hy hang daar soos ʼn man
en sy liggaam vorm ʼn kruis.

 

 

* Gesprek met die beeldereeks “The hunt” van Maureen Quinn.

 

© Heilna du Plooy, 2012

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Heilna du Plooy. Die jag”

  1. Rene Bohnen :

    Baie dankie Heilna, hierdie gesrpek (en beelde) is aangrypend met ‘n onmiddelike trefkrag – ek moet net dadelik reageer. Nou sien ek daarna uit om dit stadig, oor die verloop van ‘n paar dae, deeglik te herlees, te voel insink. Werklik besonders.