Nawoord: Michel Houellebecq se gedigte in Afrikaans

 

Om in waarheid te bly

 

La poésie est le moyen le plus naturel de traduire l’intuition

pure d’un instant. Il y a vraiment un noyau d’intuition

pure, qui peut être directement traduit en images, ou en mots.

Tant qu’on demeure dans la poésie, on demeure également

dans la vérité 1.

 

Wat my in die eerste plek aangetrek het in Michel Houellebecq se werk, was nie soseer sy woorde nie, maar sy stiltes.  In al sy romans soek karakters na hulle woorde of swyg wanneer hulle niks te sê het nie. “Ne sachant que dire, Jed garda le silence.2” In ’n wêreld van toenemende institusionele wantroue waar konkrete aktiwiteit minder gewig dra as die geslaagde verslagdoening daaroor en woorde gevolglik selfs nóg meer as in die verlede ingespan word as uitgeholde lakeie vir die kosmetiese ontwikkeling van “reputasiebestuur” of “veranderingsfasilitering” en selfs skrywers gedweë die weg volg van die polities korrekte en die intellektueel aanvaarbare, was Houellebecq vir my ’n roerende andersheid. Dieselfde fenomeen is merkbaar tydens onderhoude met die skrywer. In ’n taal waar die kwaliteit van mondelinge uitdrukkingsvermoë veral gemeet word aan “le débit”, dit wil sê die spreektrant wat verkieslik reëlmatig en snelvloeiend eerder as stadig moet wees, was Houellebecq se stem opvallend met sy stiltes en stamelinge en die kenmerkende binnensmondse dreunbrom wanneer hy nadink en soek na die regte woord. Hierdie soeke na die regte woord het my beïndruk. En hoe meer ek gelees het – nie net fiksie nie maar ook essays en ander geskrifte – en die geleentheid gehad het om met die skrywer te gesels (op wisselende vlakke van nugterheid), hoe duideliker is hierdie indruk afgeëts. Gaandeweg is my vermoede bevestig dat ek in Houellebecq ’n mens gevind het vir wie woorde nog sin eerder as net sinne maak:

 

[…] les mots sont au fond de même nature que le cri. Dans la poésie

ils se mettent à vibrer, ils retrouvent leur vibration originelle ; mais

cette vibration n’est pas seulement musicale. À travers les mots,

c’est la réalité qu’ils désignent qui retrouve son pouvoir d’horreur ou

d’enchantement, son pathos premier. L’azur est une expérience

immédiate. De même, quand la clarté du jour décline, que les objets

perdent leurs couleurs et leurs contours, se fondent lentement dans

un gris qui s’assombrit, l’homme se sent seul au monde. Ceci était

vrai dès ses premiers jours sur terre, ceci était vrai avant même qu’il

ne soit homme ; ceci est beaucoup plus ancien que le langage. Ces

perceptions bouleversantes, la poésie cherche à les retrouver […]3

 

Hierdie primitiewe verhouding tot en met die woord moet nie verwar word met ’n nostalgiese verlange na geborgenheid nie. Ontsag vir woorde spruit nie daaruit dat die woord die wese self is of die afwesigheid daarvan nie, maar dat dit ’n verbintenis daarstel tussen die mens en die mense en dinge om hom. Die verwoording van ’n persoonlike werklikheid op só ’n manier dat dit die “suiwer intuïsie van ’n oomblik” nie alleen vasvat nie maar kan oproep en herskep, sodat dit oorgedra en herken kan word deur ’n leser, kom neer op ’n sameswering, ’n eenwording. Eenwording van die skrywer met sy leser maar ook ’n beweging na interne koherensie namate die self hierdie ontmoeting met ’n ander bewussyn verwerk in ’n ondersoekende konfrontasie van vertroue en veronderstelling. Soos geliefdes wat in hulle kontak met mekaar hulleself ontdek.

 ’n Mens kan bepaald nie die ontologiese werking in Houellebecq se gedigte miskyk nie. Elke gedig ondersoek die ervaring van wees, die samestelling van die wese. En ’n mens sou verkeerd wees om hierin ’n ongebreidelde narsissisme te wil sien. Die ‘ek’ is intens bewus van die waarneembare wêreld waarin hy beweeg, van die grense van menswees en die beperkings van verwesenliking. Selfs in die uitdrukking van intieme lyding bly daar dus steeds die aanvaarding dat die individuele bewussyn hom bevind in ’n groter konteks – van moontlikheid, van verset, van begeerte – en nie na willekeur met die waarheid kan handel nie. Daar is geen solipsistiese selfversekering in Houellebecq se digterstem nie. Hy verloor homself nie in ’n waas van nostalgie of sielswroeging waar die woord en die wese hulle aan die wêreld onttrek nie. Kritici soos Nancy Huston wat Houellebecq (saam met Thomas Bernhard, Samuel Beckett en ander) kategoriseer as ’n “doemprofessor” waarvan die “nihilistiese denke” gegrond sou wees op ’n “afsku in die lewe” en ’n “walging vir die vroulike”, sit die pot heel mis. Dit is selfs meer waarskynlik dat sulke kritici die Pierre Bayard metode gevolg het om te praat oor boeke wat hulle nie gelees het nie. Dit neem nie veel om te begryp dat Houellebecq skryf as vervloekte uitverkorene nie, net soos die gedoemde digter, die onterfde kind, in Baudelaire se Bénédiction. Dat lyding ook hier, maar in ’n eietydse konteks van kantoorblokke en inligting en seks en ander verslawings, ’n heilige middel word teen onsuiwerheid, die beste en suiwerste essens wat die sterkes voorberei op goddelike verrukking.

Ek het Houellebecq se gedigte begin vertaal as deel van ’n gesprek. Die oorsprong van die vertaling was dus nie in die eerste plek esteties nie, maar het teruggewortel na die ontstaansrede van vertaling: die begeerte om die sin wat ek in hierdie woorde gevind het oor te dra, verstaanbaar te maak, met dieselfde helderheid en krag te vestig in die begrip van my skynheilige leser, my naaste, my broer. Die woorde het goed gereis en dit het my aangemoedig om die vertalings te deel met my derdejaar klas met wie ek besig was om Houellebecq se roman, La Carte et le territoire, te behandel. ’n Handjievol studente was werklik begeester deur die gedigte en wou meedoen. So het ons aanvanklik bloot vir die uitdaging en die plesier daarvan tydens middagete bymekaar gekom met HATte en WATte en gedigte uit ’n bondel gekies om te vertaal en die vertalings dan indringend bespreek. So stilletjies en organies het die versameling gerank tot dit in die idee van ’n boek verander het en middagetes het lang wintersaande met wyn in my beboekte kantoor geword. Die gedigte in hierdie versameling kom in min of meer gelyke mate uit Houellebecq se drie gepubliseerde digbundels: Le sens du combat (Die sin van die stryd); La poursuite du bonheur (Die strewe na geluk); Renaissance. Ons het die chronologiese volgorde van publikasie en die opeenvolging van die gedigte binne elke bundel behou. Die twee essays is oorspronklik in 1999 gepubliseer in Rester vivant et autre textes.

Van vertaalteorieë en diverse strategieë was daar nie doelbewus sprake nie. Soos Gavin Bowd in die voorwoord verduidelik, is Houellebecq se prosodie besonder uiteenlopend en wissel dit van aleksandryne tot aglettergrepige versreëls, vrye vers, prosagedigte en hibriede vorms. Franse prosodie word nie deur heffings en dalings bepaal nie omdat daar geen noemenswaardige aksent op lettergrepe geplaas word nie. In Frans gaan dit oor die aantal lettergrepe en die manier waarop die lettergrepe getel word is ’n redelike subtiele oefening. Die klassieke versreël in Frans is die twaalflettergrepige aleksandryn; ’n wonderlike soepele reël waarvan die ruspunt klassiek in die middel val (6 || 6), maar vanaf die negentiende eeu willekeurig verskuif is na 3 | 3 || 3 | 3 of 4 || 4 || 4 of selfs ander ongelyke dele. Rym in Frans is ook prettig. Nie alleen moet manlike en vroulike rym volgens die klassieke reëls afwissel nie, daar moet ook gelet word op ryk, voldoende en arm rym. Houellebecq gaan kreatief met die reëls om en die leser moet kophou by die tel van die sillabes om die metrum te identifiseer en die ruspunt korrek te plaas. En dan is die gedig nog steeds in Frans.

Om te vertaal is in die eerste plek om keuses uit te oefen en ons het wel diep en deeglik besin oor die mate waarin ons in die vertalings aan die oorspronklike vorm en rym wil uiting gee. ’n Eerste vraag was: indien ’n mens Houellebecq se gebruik van die klassieke Franse aleksandryn in Afrikaans wil weergee, sal ’n mens dan van ’n “klassieke” Afrikaanse vorm soos die jambiese vyfvoetige versreël gebruik maak? Of die aleksandryn annekseer? Met die plasing van die ruspunt op dieselfde plek? En hoe hanteer ’n mens manlike en vroulike rym? Ons het ’n paar weergawes met verskillende oplossings aangepak. Hier is een voorbeeld:

 

Middag

 

Vlugtige bewegings wat eindig in swaarkry

Na die op en af loop sou jy eerder wou gaap,

In jou lewensverdriet swelg en dan maar gaan slaap

Want die liggaam van pyn is swaar en só naby

 

Buite is dit warm, die hemel is pragtig

Die lewe se luste laat die jong lywe tol

As die natuur hulle roep na die lentejol

Jy is allenig en die leegte spook lastig.

 

En jy voel die gewig van jou enkelingvlees

Hoe glo mens dat daar lewe op aarde kan wees

Jou moeë hart klop wild en pols homself disnis

 

Om die bloed te forseer in jou tam ledemate

Jy het heeltemal vergeet van seks as ’n bate

Die nag val oor jou soos ’n duister doodsvonnis.

 

Die uitslag van hierdie oefeninge het ons nie oortuig dat ons Houellebecq se gedigte die beste sou dien deur te hou by die vaste prosodie van die oorspronklike nie en ook nie deur die prosodie te domestikeer nie. Op die ou end het elke gedig sy eie strategie bepaal. Ons het ons in die eerste plek laat lei deur die ritme en die klanke en probeer om daardeur uiting te gee aan ons vertolking van die bronteks. Want dit spreek vanself dat ’n mens alleen dit wat jy met jou verstand begryp en in jou siel voel onkreukbaar kan vertaal.

Die gevoel in Houellebecq se gedigte ontstaan veral in dit wat verswyg word, in die ellips. Dit is ’n weerklank eerder as ’n direkte klank wat spruit uit die spanning tussen binne en buite, tussen begeerte en vrees, tussen moontlikheid en onverskilligheid. Die “wit wat alles bedek” is nie ’n steriele afwesigheid nie. In Benaderinge tot verwarring verwys hy na die “poësie van gestolde beweging”. In die nimmereindigende mobiliteit van die moderne lewe glip daar soms oomblikke van bewegingloosheid wat dui op ’n swewing, ’n onsekerheid. Dit is ’n interval wat die estetiese moontlik maak; ’n stille revolusie wat die lewe kans gee om in te haal. “Waar menslike aktiwiteite ook al onderbreek word, waar daar niks op die kaart geteken staan nie, skuil die ou, ou gode, gereed om weer hulle plek in te neem.4”

Gevul met die ideaal om die ou gode uit hulle skuilplek te lok, het ons onsself by tye sekere vryhede veroorloof en besit geneem van die woorde soos bloed op papier of ink op ’n vel. Hierdie toe-eiening het dikwels die vorm aangeneem van literêre sinspelings. In ’n Namiddag van valse vreugde, byvoorbeeld, is “désunion” vertaal met “splyting” in verwysing na die laaste reëls van Hugo Claus se gedig Met schaterend haar uit die siklus Een vrouw: “Zij splijt mijn kegel | In de bekende warmte”. Die generiese “voitures blindées” in Die see se onthou is doelbewus vertaal met die rare maar mooi “sarasene” uit Die Kind van Ingrid Jonker. In dieselfde gedig het ons ook ’n verkaapsing gepleeg deur “bedelaar” met “bergie” te vertaal. Dit kom miskien neer op ’n klein verraad en ’n moontlike verlies na die verwysing van Baudelaire se bedelaar-lappiesmous. Maar dit was mooi vir ons om te dink dat ons broer ’n bergie is. “Waarom beweeg en geraas maak?” is natuurlik geïnspireer deur die verhaal van Jan Rabie. Maar “aanhou beweeg en geraas maak” is reeds so vasgelê in die volksmond dat dit skaars nog op intertekstualiteit neerkom. Die teks is verder deurspek met woorde wat intiem sinryk is, klein klippies wat ’n mens in die woud gooi om jou verbygang te merk. Liggies, skaars merkbaar, bioafbreekbaar. Ons het ook ’n nuwe woord geskep omdat ons gevoel het dat Afrikaans nie langer sonder “behorenheid” kan klaarkom nie.

Soms was daar onoplosbare dubbelsinnighede, soos die woord “parabole” in die frase “La parabole du désir | Remplissait nos mains de silence”. In Frans kan die woord óf parabool óf gelykenis beteken en in die konteks sou beide betekenisse sinvol kon wees. Myns insiens het die vertaler in só ’n geval nie die reg om ’n eie interpretasie voor te stel terwyl die skrywer lewe en bereid is om ’n verklaring te bied nie. In hierdie gevalle het ons dus Michel Houellebecq om hulp gevra. Soortgelyk was ook die openingsreël van die rare gedig “La respiration des rondelles”. Watter “skyfies” haal asem? Wortels? Komkommer? Of sou die daaropvolgende reël met sy “vleisetende vlinders” na salami verwys? Die beskrywing van die kamer het ons meer laat dink aan Apocalypse Now en die fluisterende rondings van die dakwaaier. Maar die digter het ons heel prosaïes terugverwys na meganiese onderdeeltjies; wassertjies.

Houellebecq en sy woorde het ons lewens hierdie jaar op ’n vreemde manier deursyfer. My medevertalers is jonk en hierdie was hulle eerste ervaring van die intieme verhouding met woorde wat ’n mens ontwikkel deur vertaling. Ek het my verwonder aan die intensiteit waarmee hulle die gedigte aanvoel, hulle suiwer genot in woorde en die verbintenis aan hulle taal wat nie losgemaak kan word van hulle verbintenis aan hierdie land en hierdie kontinent nie.

Frances het eenkeer opgemerk dat sy nog nooit so lewend gevoel het as wanneer sy met hierdie tekste werk nie. “Om Michel Houellebecq te vertaal na Afrikaans was aanvanklik net interessant vir my, maar dit het deurentyd al hoe meer relevant begin voel. Ek het gevoel asof ek die middelmatiger se evangelie aan Afrikaanssprekendes oopstel. Meer nog het die vertaling vir my terapeuties geword in daardie tye waar ek deurskynend gevoel het. Houellebecq se woorde het soos ’n wrang smaak in my mond kom lê en ek kon hom saggies hoor mompel: ‘Ek sien jou, Frances. Ek SIEN jou.’”

Joubert het Houellebecq op ’n seldsame manier toegeëien. Wanneer betekenis en sin op so ’n manier in ’n vreemde taal oorgedra kan word, staan ’n mens voor die wonder van die lewende woord in aksie. Dit is letterkunde as volmaakte kommunikasie, ’n nuwe verbintenis waardeur sluimerende moontlikhede gewek word: “Michel Houellebecq is woes. Sy werk is hard. Sy wêreld rou en steriel. Hy blyk in ’n hoë mate gemaklik met die lewe te wees. Daar is per slot van sake ’n opmerklike verskil tussen dit wat die wêreld en dit wat die lewe uitmaak. ’n Mens kán die lewe liefhê en die wêreld verag. Die wêreld is maklik om te manipuleer, die lewe onmoontlik. ’n Mens kan nie vir die lewe jok nie. Die lewe volg sy eie weg en twyfel nie. Michel Houellebecq weet dit, hy voel dit. Bowenal, hy erken dit. Hy skryf omdat hy moet. Die lewe verlang van hom iets, verwag van hom iets, en hy antwoord. Hy verlang van homself iets. Om te kan leef, lief te kan hê en te kan waardeer. Die mens en sy wêreld is kompleks en veelsydig, die lewe aan die ander kant, is eenvoudig. Houellebecq skryf nie om te sê wat hy dink nie, maar omdat sy ervaring van die lewe so akuut en sy begrip daarvan so ver strek, dat hy nie anders kan as om dit op papier te sit nie en sodoende gedeeltelik daarvan ontslae te raak, dog terselfdertyd ’n nuwe ruimte te skep waarin hy in staat gestel word om die lewe opnuut te herinterpreteer. Ons is ewig dankbaar, nie dat hy besluit het om dit te doen nie, maar dat die lewe hom daartoe gedwing het. Dit is nie Houellebecq wat die lewe daarstel nie, maar die lewe wat homself deur Houellebecq daarstel. As een van die ware literêre argitekte van ons tyd, sal Michel Houellebecq ons nie net laat besef en laat ervaar nie, maar ons in staat stel om te kan aanvaar hoe absoluut beeldskoon en absoluut boos die lewe eintlik is. Die lewe is implisiet onvolmaak en ook volmaak spesifiek as gevolg van sy onvolmaaktheid. Dis daardie balans wat mense soos ons ontglip, wat mense soos Houellebecq ontglip. Nie in terme van begrip nie, maar in terme van handeling. Ons is nie almal vir die lewe gemaak nie. Ons kan ontspan. Of kan ons?”

In die intensiteit van ons ervaring het ons – weliswaar as vertalers eerder as digters – presies gedoen wat Houellebecq aanbeveel in “Om te bly lewe”. Ons het ons vingers op oop wonde gedruk. Hard. En op ’n manier het elkeen van ons met ’n bietjie meer deernis na onsself en na die lewe begin kyk. Dit is hierdie ervaring wat ons graag deur ons vertaling van Houellebecq se gedigte wil deel.

 

Au fond, si j’écris des poèmes, c’est peut-être avant tout pour mettre l’accent

sur un manque monstrueux et global (qu’on peut voir comme affectif, social,

religieux, métaphysique; et chacune de ces approches sera également vraie).

C’est peut-être aussi que la poésie est la seule manière d’exprimer ce

manque à l’état pur […]5

 

Catherine du Toit

 

NOTAS 

1 Michel Houellebecq, Interventions 2, 2009, p. 61. “Poësie is die natuurlikste middel om die suiwer intuïsie van ’n oomblik te vertaal. Daar bestaan werklik ’n kern van suiwer intuïsie wat direk in beelde of woorde vertaal kan word. Solank ’n mens in poësie bly, bly jy ook in die waarheid.”

2 La Carte et le territoire, 2010, p.75. “Aangesien hy nie geweet het wat om te sê nie, het Jed stilgebly.”

3 Interventions 2, op. cit. p. 77. “[…] woorde is in werklikheid van dieselfde aard as die kreet. In gedigte begin hulle vibreer, vind hulle weer hulle oervibrasie; maar dit is nie alleen ’n musikale vibrasie nie. Die werklikheid wat hulle aandui, verkry deur woorde weer sy mag van afgryse of betowering, sy eerste patos. Asuur word ’n onmiddellike ervaring. En wanneer die daglig kwyn en voorwerpe hulle kleure en buitelyne verloor, stadig versmelt in ’n verduisterende grys, voel die mens alleen in die wêreld. Só was dit vanaf sy eerste dae op Aarde, dit was waar selfs vóór hy mens geword het; dit is veel ouer as taal. Poësie wil hierdie rukkende gewaarwordings terugvind […]”

4 H.P. Lovecraft. Contre le monde, contre la vie, J’ai lu, 2005, p31.

5 Interventions 2, op. cit. p156. “In wese skryf ek miskien veral gedigte om aandag te vestig op ’n monsteragtige universele gebrek (wat beskou kan word as affektief, sosiaal, godsdienstig, metafisies; en elkeen van hierdie benaderinge sal ewe waar wees). Miskien is dit ook omdat poësie die enigste manier is om hierdie gebrek in sy suiwerste vorm uit te druk […]”

 

VERTALERS

Natasha Blignaut

Le jardin aux fougères

Tabitha du Plessis

L’appartenance de mon corps ; Les antennes de télévision ; Une vie, petite ; J’aimeles hôpitaux, asiles de souffrance ; L’amour, l’amour ; Un matin de soleil rapide ; Incapable de nostalgie

Elizma Briers

Midi ; L’insupportable retour des minijupes ; L’Éternité en pension complète ; Système sexuel martiniquais ; Comme un week-end en autobus ; Vacances ; Moments de la fin de journée ; Chevauchement mou des collines ; Comme un plant de maïs ; Ce soir en marchant dans Venise ; Au bout du blanc

Catherine du Toit

Rester vivant ; Approches du désarroi

Au long de ces journées où le corps nous domine ; Après-midi ; Les moments immobiles que l’on vit presque en fraude ; L’instant d’une renonciation ; Fin de soirée ; Derrière mes dents ; La lobe de mon oreille droite ; Bouche entrouverte, comme des carpes ; Les insectes courent entre les pierres ; Le but de la vie, c’est d’aimer ; Avant, il y a eu l’amour, ou sa possibilité ; Nous devons développer une attitude de non-résistance au monde ; J’ai toujours eu l’impression que nous étions proches ; Quand la pluie tombait en rafales ; Le sens du combat ; J’ai peur de tous ces gens raisonnables et soumis ;Il est vingt-et-une heures, l’obscurité s’installe ; Après-midi de fausse joie ; Vivre sans point d’appui, entouré par le vide ; Fin de parcours possible ; Derniers temps ; Confrontation ; La disparition ; Je m’éveille et le monde retombe sur moi comme un bloc ; Ce n’est pas cela ; Perception-digestion ; Le vieux taré ; On se réveillait tôt, rappelle-toi ma douce ; L’anneau de nos désirs ; Il y a un chemin, une possibilité de chemin ; Doucement, le ciel bleu clair

Joubert Gildenhuys

Le jour monte et grandit, retombe sur la ville ; La respiration des rondelles ; L’exercice de la réflexion ; La Route ; Le calme des objets, à vrai dire, est étrange ; Nous avons établi un rapport diagonal ; Soir sans brume ; La première fois que j’ai fait l’amour, c’était sur une plage

Annelien Robberts

Il existe un pays, plutôt une frontière ; Les couleurs de la déraison ; Précoce comédien, expert à la souffrance ; La nouvelle année nous engage ; Les marronniers du Luxembourg ; La vérité s’étend par flaques ; Avec un bruit un peu moqueur ; L’indifférence des falaises ; La permanence de la lumière

Frances Strooh

Chômage ; Il marche dans la nuit, son regards plein de mort ; Je ne reviendrai plus jamais entre les herbes ; Maison Grise ; So long ; La memoire de la mer ; Naissance aquatique d’un homme ; Nature ; La fêlure ; Apaisement ; Cette envie de ne plus rien faire et surtout ne plus rien éprouver ; Les semaines du calendrier

 

MEDEWERKERS

Hierdie onverwagte en onverhoopte publikasie sou nooit die lig kon sien sonder die medewerking en sameswering van ’n groepie seldsame mense nie. Michel Houellebecq kan seker nie as ‘medewerker’ kwalifiseer nie. Hy is per slot van sake die oerstem van hierdie gedigte en gedagtes. Maar hy is ook nie

’n dooie digter nie en het lewend en sonder versuim en geduldig geantwoord op ons versoeke en vrae. Ons aanvaar hierdie soort interaksie met ’n skrywer nie as vanselfsprekend nie en waardeer sy tyd en aanmoediging. Verder bedank ons ook die volgende medepligtiges (in streng alfabetiese volgorde):

Jaco Alant vir sy nougesette redigering onder moeilike omstandighede;

Gavin Bowd vir ’n ryk en insiggewende voorwoord, vergesel deur die volgende versekering: “To be in Afrikaans would be a dream come true!”;

Jérôme Chevrier vir sy ondersteuning met burokratiese kompleksiteite en sy aktiwiteit as koppelvlak met die geldmagte;

André Crous en Stefan van As vir hulle jeugdige rooikatoë en die tyd teen tyd;

Tienie du Plessis vir sy vestigende geesdrif, tyd, geduld en kennis;

Ryk Hattingh vir sy inspirasie, sy netjiese, waterdigte redigering en die vertaling na Afrikaans van Gavin Bowd se voorwoord (Michel Houellebecq – ’n supermark Baudelaire);

Anton Kannemeyer vir sy estetiese insig, die edele gawe van sy tyd en die voorbladontwerp.

 

© Catherine du Toit (2012)

 

 

Michel Houellebecq

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Nawoord: Michel Houellebecq se gedigte in Afrikaans”

  1. Desmond Painter :

    Belangrike publikasie; pragtig uitgegee. Die twee essays is fassinerend. Hoop die boek vind wyd byval onder Afrikaanse poësielesers.

  2. Joan Hambidge :

    Ek het met Catherine du Toit ‘n onderhoud gevoer vir Skrywers & Boeke en ek sal laat weet wanneer dit uitgesaai word.