Joan Hambidge. My suster se skoene

My suster se skoene

 

Ek leen my suster se suede-skoene

vir ‘n uitstappie

met my ouers en Tante

deur die Blyderivier-canyons.

My Tante, op besoek,

uit die Strand

met haar Bolandse bry.

Ek leen my suster se suede-skoene

vir die fynfamiliewals

met ‘n enigste blou-oogbroer,

glo as loods verongeluk

waaroor hulle murmureer

en hul pa word ‘n stilte-afgrond.

Ek leen my suster se suede-skoene

onwetend toe

hoe ek vir altyd die spoor

sou vat deur familie-dongas

roepend roepend verdwalend

na versakings, verstillings:

vlugtend vérvandaan. 

 

© Joan Hambidge, 2012

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Joan Hambidge. My suster se skoene”

  1. Dis ‘n baie mooi gedig, Joan, wat die soek na herkoms en toekoms subtiel verwoord.

  2. Evette Weyers :

    Heerlike gedig Joan! Die herhaling en dan klimaks van insig an afstand

  3. En het jy nie ‘n mooi sussie nie, ek onthou ek het een aand langs haar gesit op ‘n gedigte aand by Tukkies. Ek was juis saam met my sussie daar. Lekker gelag en gesels en jy het van jou gedigte voorgelees.

    Ja, hierdie tyd van die jaar dink mens maar aan familie. En is ook maar bly vir vryheid…