Resensie: Tagtig gedigte en twee essays (Michel Houellebecq)

 

Tagtig gedigte en twee essays – Michel  Houellebecq. Vert. deur Catherine du Toit en medewerkers.

(Hond Uitgewers, 2012, ISBN 9781874969181, Sagteband, 216 ble., R180.00)

  

Ons is gevangenes van ons eie deursigtigheid. – Michel Houellebecq

 Resensent: Joan Hambidge

 

I  Die digter as lewende selfmoordenaar

Tagtig gedigte en twee essays, so heet hierdie boek, vertaal deur Catherine du Toit en medewerkers. Houellebecq (Uitspraak: Houellebecq = [wElbek]) is waarskynlik vir meeste Suid-Afrikaanse lesers eerder bekend as romanskrywer as digter. In Frankryk het hy die gesogte Prix de Goncourt in 2010 gewen en geniet hy geweldige kritiese aandag, dikwels weens sy omstrede uitlatings in die pers. Hierom het hy waarskynlik ʼn tyd lank buite die grense van sy geboorteland vertoef. Dit is egter so dat die Franse glo ʼn skrywer moet eers goed dood wees voordat gekanoniseerde studies geskryf sal word. Dalk ʼn mite, maar die werklik deurtastende studies oor Camus en Jean Genet kom nou eers na vore. Tog is daar al ʼn uitgebreide kongres in Frankryk oor Houellebecq gehou en die skrywer geniet veral onder jong mense ʼn geweldige aanhang.

Ek onthou toe ek die eerste keer sy gedigte gelees het. Onmiddellik was ek aangetrokke tot die sober, aweregse blik. Die aanspraak op my psige het sy lê gekry in Lot se vrou met begeleidings van hierdie digter. Die gedigte is boeiend – so onthou ek met die eerste kennismaking juis vanweë die dwars, siniese blik. Die Eiffeltoring word onttroon en ʼn mindere toring neem sy plek in. Die Baudelaire van die supermark is hierdie digter al genoem. Simbolisme-op-sy-kop-gekeer. Défaitisme en Nihilisme. Maar om te dekonstrueer, so weet ons uit Derrida, moet jy wesenlik die impak van die simbool verstaan. Die digter is teen “le libéralisme” en ons lees van sy ongelukkige jeug, sy studies in die landbou en aan ʼn filmskool en sy besoeke aan sielkundige inrigtings. 

“Daar is dus ’n verskeidenheid ruimtes in Houellebecq se ontwikkelingsjare: die tropiese eiland, die helse kosskool, die gebroke en ongelukkige kinderjare, die natuur en ’n volwasse lewe verdeel tussen ’n enkelingbestaan en ’n knooppunt van kommunikasie en populêre vergestalting. Die tyd was ryp vir ’n eietydse weergawe van die Baudelairiaanse drama van spleen en ideal,” aldus die voorwoord. Die 1968-opstande sien hy anders: hy onthou met plesier hoe die stakings die sosiale masjien aan bande gelê het in daardie tyd, wat hy sien as ʼn verergering van die liberalisme.

ʼn Bekende uitspraak is: “Letterkunde aanvaar alles, pas by alles aan, vroetel in die vuilgoed, lek die wonde van ellende. ’n Paradoksale poësie van angs en beklemming kon dus verrys omring deur hipermarkte en kantoorgeboue (13)”.

Die noue verwantskap met Schopenhauer en die Situasioniste (Guy Debord en Raoul Vaneigem) word behandel. Die strydlustige, provokatiewe essay “Om te bly lewe” (“Rester vivant”) word betrek. Enige leser wat vir die eerste keer met hierdie digter kennis maak, sal kan getuig van klap op die derdeoog en as toegif, een in die maag. Hy keer letterlik alles op sy kop.

“Om te leer om ’n digter te word is om die lewe te ontleer,” is so ʼn onvergéétlike stelling. Vermy selfmoord, want ʼn dooie digter dig nie meer nie, troef hy sy leser nogmaals met sy veglustigheid. En:” bly lewe.” En: “Struktuur is die enigste manier om aan selfmoord te ontsnap.” En hier bedoel hy digterlike struktuur. Die digter is die lewende selfmoordenaar, tier hy voort in sy woedende siening van die lewe wat net pyn en lyding inhou met die liefde wat alle probleme kan oplos, maar nie gevind kan word nie. By elke stelling waarin hy skel op sy ellendige, verworde jeug, staan ʼn mens met bewondering en ontsteltenis stil. Hy is ʼn verloorder in die sosiale hipermark en sy redakteur Sorin het hom tereg beskryf as die “Baudelaire van die supermark”; ook in sy gebruik van die tradisionele prosodie, en veral met betrekking tot die gebruik van die Aleksandryn. Hierdie nuttige inligting word deur Gavin Bowd verskaf. Hy is die vertaler van die skrywer se romans en doseer Frans aan die Universiteit van St. Andrews.(Ryk Hattingh was hier die kundige vertaler.) Om te bly lewe: ’n Handleiding is die digter aan die woord. Leser, my broer, my suster, my ewebeeld, wees gewaarsku! Maak jou sitplekgordel vas, want hierdie man sal jou kop laat spin.

So begin hy, hierdie hardekwas, hierdie ou turksvy met die soetste hart:

 “Die wêreld is lyding in aksie. Dit word voortgebring uit ’n knoop van lyding. Elke bestaan is uitsetting en vergruising. Alles ly, tot dit begin bestaan. Die niks bewe van pyn tot dit tot wording kom: in ’n jammerlike paroksisme” (19).

En:

“Wesens varieer en word meer kompleks sonder om iets van hulle oorspronklike aard te verloor. Wanneer hulle ’n sekere vlak van bewussyn bereik, word ’n kreet geproduseer. Daaruit kom poësie voort. So ook geartikuleerde taal” (19).

 

Nou wil ek die leser aanspoor om hierdie stuk nihilisme in sy volledigheid te ervaar en nie in ʼn geredigeerde of verkorte weergawe nie.

Wag, miskien nog een:

“Ontwikkel ’n diep wrewel teenoor die lewe. Hierdie wrewel is nodig om enige ware kuns te skep” (21). Ouch.

 

En dan gaan hy verder in Om te artikuleer ’n Krag word beweging wanneer dit ’n aksie word en in tyd ontwikkel.

“As jy nie daarin kan slaag om jou lyding in ’n gedefinieerde struktuur te artikuleer nie, is jy gefok. Pyn gaan jou rou opvreet, van die binnekant af, nog voor jy tyd gehad het om enigiets te skryf. Struktuur is die enigste manier om aan selfmoord te ontsnap. En selfmoord is nie ’n oplossing nie. Stel jou voor as Baudelaire se selfmoordpoging op drie-en-twintig suksesvol was.

Glo in struktuur. Glo ook in oeroue metriese ritmes. Versbou is ’n kragtige stuk gereedskap in die bevryding van die binnelewe.”(22).

En die digter is ʼn heilige parasiet, leer hy ons in ʼn verdere essay. “Om te oorleef” (25). In “om te slaan waar dit tel,” artikuleer hy dieselfde siening oor die verhouding tussen poësie en filosofie as Opperman in sy raad vir jong digters:

 “Hierdie ooreenstemming van die doel van beide filosofie en poësie is die oorsprong van die geheime sameswering wat hulle verbind. Dit manifesteer nie hoofsaaklik deur die skryf van filosofiese gedigte nie; poësie moet die werklikheid op sy eie manier ontdek, suiwer intuïtief, sonder om deur die filter van ’n intellektuele rekonstruksie van die wêreld te beweeg. En nog minder deur filosofie wat digterlik uitgedruk word want dit is dikwels net ’n miserabele oëverblindery. Maar ’n nuwe filosofie sal altyd onder digters sy ernstigste lesers vind, die mees oplettende, die mees vrugbare. Op dieselfde manier sal slegs sekere filosowe daartoe in staat wees om die verskuilde waarhede in poësie raak te sien, te ontbloot en te gebruik. In poësie, net soveel as in direkte waarneming – en baie meer as in vorige filosofieë – sal hulle die stof vind vir nuwe uitbeeldings van die wêreld. Respekteer filosowe, moet hulle nie na-aap nie; jou pad is ongelukkig elders” (26).

 

Die digter se werk is om die wond in sy samelewing te vind en hard daarop te druk, aldus Monsieur H.

  

II Die aandeel van Hond en ander subversiewes:

“Letterkunde aanvaar alles, pas by alles aan, vroetel in die vuilgoed, lek die wonde van ellende. ’n Paradoksale poësie van angs en beklemming kon dus verrys, omring deur hipermarkte en kantoorgeboue. Hierdie poësie is nie vrolik nie; dit kan nie wees nie” (43). 

Dit is ʼn versameling van vertaalde werk, uitgegee deur Hond met Ryk Hattingh wat Gavin Bowd se inleiding vertaal het. Reeds die voorblad van Anton Kannemeyer wys op die subversiewe aard van die digter se werk. Ons sien ook die medewerking van Ryk Hattingh hier as vertaler en redigeerder. Twee alternatiewe stemme binne die Afrikaanse letterkunde. Rook sal uit jou ore trek!

 ʼn Sentrale vers in hierdie bundel klink so:

 

Die dag klim en groei, val weer oor die stad

Ons het die nag deurleef sonder verlossing

Ek hoor die busse en die subtiele gedruis

Van sosiale verkeer. Word deel van die teenwoordigheid.

 

 

Vandag sal gebeur. Die onsigbare oppervlak

Omgrens in die lug ons wesens bestaande uit swaarkry

Vorm en verhard teen ’n verskriklike spoed;

Die liggaam, die liggaam is nogtans ’n behorenheid.

 

 

Ons het vermoeienis en begeertes deurreis

Sonder om weer die smaak van ons kinderdrome te vind

Daar steek nie meer veel agter ons glimlagte nie,

Ons is gevangenes van ons eie deursigtigheid (47).

 

 

III Die vertalings:

 

Daar is al vele studies geskryf oor die transportasie van ʼn gedig van een taal na ʼn ander. Vertalings is verraaiers. Dis ook, soos onder andere Uys Krige ons geleer het, om ʼn ander man se bruid deur ʼn sluier te soen. Dit is ook (taal)moord en in ʼn belangrike studie skryf Richard Higgs oor al die aspekte van vertaling na aanleiding van Anna Akhmatova se “The last toast” asof dit ʼn moordsaak is wat ʼn speurder moet oplos.  

Wanneer werk ʼn vertaling wel? As dit reg klink in die nuwe taal. En wanneer die vertaler die vorm eerbiedig van die oorspronklike gedig. Dit is bepaald ʼn moeilike taak en een wat Robert Frost sinies beskryf het dat dit wat verlore gaan tussen die oorspronklike vers en die vertaling die werklike gedig is.  

Die leser kan beweeg van die oorspronklike teks na die vertaling. Om ʼn gedig in vertaling te lees, is soos om na ʼn film in onbekende te kyk met onderskrifte. Jy hoor en lees tegelykertyd. Dikwels kan ʼn mens selfs by tweede kykslag ʼn ander taal se onderskrifte kies om die vervreemding te versterk. Jy fokus elke keer op iets anders. Met ʼn film dikwels op die beelde as die taal onbekend is. 

Ek het hierdie vertalings op reis geneem na Venezia en elke dag na ʼn paar verse gekyk. Dit hardop voor gelees.

 

Die kraak

 

In die onbeweeglikheid, die ontasbare stilte,

Is ek daar. Is ek alleen. As iemand aan my stamp, beweeg ek.

Ek probeer om iets bloederig en rooi te beskerm,

Die wêreld is ’n bepaalde, onversetlike chaos.

 

Ek is omring deur mense, ek voel dié wat asemhaal

En hul meganiese treë kruis mekaar op die maasdraad.

Ek het nietemin weer smart en woede gevoel;

Baie na aan my, teenaan my, ’n blinde sug.

 

Ek oorleef alreeds ’n lang tyd. Dis snaaks.

Ek onthou só goed die tyd van hoop

Net so onthou ek ook my vroeë kinderjare,

Maar ek dink hierdie rol is nou my laaste.

 

Jy weet ek het dit vanaf die eerste sekonde begryp,

Dit was effens koud en ek het bloed gesweet

Die brug was stukkend, dit was sewe-uur

Die kraak was daar, stilswyend en diep (141).

 

Hoe praat hierdie vers nie met my in Hotel Antigo Trovatore nie, ʼn hanetree van die San Marco-plein! Dit inspireer my selfs om ʼn gedig te skryf 1.

 

Reis is ʼn ruimte van eensaamheid en waarskynlik praat hierdie verse hard en duidelik met my tans.

 

Berusting

 

Stoksielalleen in die dagbreek – ’n helder eensaamheid

’n Mantel van mis daal neer van die rivier

Die hartseer het uiteindelik die haat verdryf,

Ek is reeds nie meer deel van die wêreld van dinge nie (143)

 

was so:

 

Apaisement

 

Tout seul au point du jour – solitude sereine

Un manteau de brouillard descend de la rivière

La tristesse a fini par dissiper la haine,

Je ne suis déjà plus du monde de la matière.

 

En nou kom die vertalers nie heeltemal die mas op met die verbluffende ryme en halfryme nie. My Eksteen-sinoniemwoordeboek lê tuis en ʼn wonder watter sinonieme daar vir

“helder eensaamheid” sou bestaan? Hoe sou die digter Daniel Hugo hierop gereageer het? En die opposisie tussen “tristesse” en “haine”?

 

Tout seul au point du jour – infinie solitude

La rivière charrie des monceaux de cadavres

Je plane à la recherche de nouvelles latitudes,

Un caboteur poussif remonte vers Le Havre.

 

Stoksielalleen in die dagbreek – ’n oneindige eensaamheid

Die rivier karwei stapels kadawers

Ek sweef op soek na nuwe koördinate,

’n Hygende kusvaarder kry weer koers na Le Havre.

 

Die metriese patrone is eweneens nie eerbiedig nie. Vertalende digters soos Johann de Lange en Charl JF Cilliers vertaal net verse as hulle die vorm perfek kan naboots. In die nawoord skryf Catherine du Toit insigryk oor die prosodiese probleme en hoe ingewikkeld dit is om die Aleksandryn na Afrikaans te transporteer en moeilike kwessies met betrekking tot die metriese patrone.

In Du Toit se eie woorde:

“Franse prosodie word nie deur heffings en dalings bepaal nie omdat daar geen noemenswaardige aksent op lettergrepe geplaas word nie. In Frans gaan dit oor die aantal lettergrepe en die manier waarop die lettergrepe getel word is ’n redelike subtiele oefening. Die klassieke versreël in Frans is die twaalflettergrepige Aleksandryn; ’n wonderlike soepele reël waarvan die ruspunt klassiek in die middel val (6 || 6), maar vanaf die negentiende eeu willekeurig verskuif is na 3 | 3 || 3 | 3 of 4 || 4 || 4 of selfs ander ongelyke dele. Rym in Frans is ook prettig. Nie alleen moet manlike en vroulike rym volgens die klassieke reëls afwissel nie, daar moet ook gelet word op ryk, voldoende en arm rym. Houellebecq gaan kreatief met die reëls om en die leser moet kophou by die tel van die sillabes om die metrum te identifiseer en die ruspunt korrek te plaas. En dan is die gedig nog steeds in Frans.

Om te vertaal is in die eerste plek om keuses uit te oefen en ons het wel diep en deeglik besin oor die mate waarin ons in die vertalings aan die oorspronklike vorm en rym wil uiting gee. ’n Eerste vraag was: indien ’n mens Houellebecq se gebruik van die klassieke Franse Aleksandryn in Afrikaans wil weergee, sal ’n mens dan van ’n “klassieke” Afrikaanse vorm soos die jambiese vyfvoetige versreël gebruik maak? Of die Aleksandryn annekseer? Met die plasing van die ruspunt op dieselfde plek? En hoe hanteer ’n mens manlike en vroulike rym? (210)”.

 Of hierdie kwessies werklik sorgvuldig opgelos is, sal daar kritiese onsekerheid heers. Daar is ook by die outeur aangeklop vir raad met die vertalings om die presiese betekenis uit te vis.

 

IV Lees dit:

 

Dit is ʼn versameling wat elke poësie-liefhebber beslis moet lees. Dis ʼn besliste voorgeskrewe werk vir studente in kreatiewe skryfwerk en ʼn moet vir jong digters wat meer aandag gee aan hul openbare optredes as die dwingende eise van die digkuns.

Wat beslis opval, is die toegewydheid waarmee jong mense meegedoen het aan hierdie vertalingsprojek onder die kundige leiding van Catherine du Toit. Ons sien ook uit na H.J. Pieterse se vertalings wat in die pyplyn is.

  

Bibliografie:

Higgs, Richard. 2012. Translation of poetry as homicide, with reference to Anna Akhmatova’s ‘Last Toast’. Dissertasie Kreatiewe Skryfwerk, UK.

 

Eindnote:

 

1. Dood in Venesië

 

What fresh hell is this?

-Dorothy Parker

 

 

In ʼn Venesiaanse stegie

loop ek my vas in haar:

lank terug, ʼn ewebeeld

van my,

in hierdie stad

van vergissing

en begoëling.

 

Koop ʼn masker toe

om my

ontreddering

te maskeer.

 

ʼn Masker

word ʼn gesig,

soos spotspraak

ʼn gedig verweer.

 

Hoe broos

hierdie stil herwinning.

Bykans twee dekades later,

ja, teen dusketyd,

haal ek my masker af

en goël met haar woorde:

“die liefde se verdwaaltyd

bly my steeds agtervolg.”

 

Venezia

9/12/2012

(Hierdie publikasie is moontlik gemaak deur die finansiële steun van die Nasionale Kunsteraad van Suid-Afrika, die Franse Ambassade in Suid-Afrika en die Institut Français.)

Joan Hambidge

Desember 2012

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.