Resensie: Vol draadwerk ( Marius Crous)

ʼn Welluidende en beduidende stem

 

Vol draadwerk, Marius Crous

(Protea Boekhuis, 2012; R150.00, ISBN: 978-1-86919-766-7,  213 x 317 mm, Sagteband, pp 84)

Resensent: Tom Gouws

 

Hierdie nuwe digbundel van Marius Crous het so saam-saam met die bekendmaking van die 100 beste gedigte in Afrikaans verskyn. ʼn Paar interessanthede val op uit hierdie resepsieverslag, maar bepaald die mees skokkende uitkoms is – nie één gedig wat die laaste dertig jaar gepubliseer is, verskyn op die lys nie! Dat dit ʼn duidelike heenwysing is dat die breë leserspubliek poësie verkies wat geheel en al sónder draadwerk is, by spreke van wyse, is onteenseglik bewys.

Die bekendmaking van die sogenaamde 100 beste gedigte gebeur ook in ʼn jaar wat bes moontlik as een van die beste kroonjare in die Afrikaanse poësie in literatuurgeskiedenisse opgeteken sal staan. Minstens 24 uitsonderlike digbundels verskyn in hierdie jaar, wat uitwys dat die Afrikaanse poësie meer lewenskragtig is as ooit tevore. Maar stel daarnaas byvoorbeeld die ontsaglike gewildheid van webwerwe waar (aspirant-)digters hul gedigte sonder keurdershand kan publiseer, wys dit duidelik ook uit dat daar ʼn bykans onoorbrugbare afgrond is enersyds tussen wat as literêre produksie gereken word en andersyds die algemene smaak van gewone (poësie)lesers én die populêre produsente daarvan.

Ek gee dié aanloop tot Marius Crous se derde digbundel omdat dit ʼn teks is wat helaas nie aangenaam sal val op die palet van die breë leserspubliek nie. Dit is tawwe digkuns dié, wat miskien die beste gekarakteriseer kan word in die aanhaling van Julia Kristeva se motto by die eerste afdeling: “… unnameable, improbable, hybrid, anterior to naming …” Dit is poësie hierdie wat, soos Van Wyk Louw in sy indertydse credogedig gesê het, die “nooit-gehoorde / dinge sê, waarvoor die mense / huiwer, en wat om die grense / flikker van my duister woorde”.  Hierdie raak formulering van die hartslag van suiwer poësie, meer as tagtig jaar terug geskryf, is ook ʼn goeie kensketsing van Crous se bundel. Ironies genoeg is bevreemding in die poësie dikwels ʼn kwalifisering van poëtiese uitnemendheid. Crous sal in hierdie lig nie gemaklik die volgende millenium se lys van die 100 gewildste gedigte haal nie, helaas.

Die mooi buiteblad van Charles Tait vertoon die torso van ʼn man wat vasgewikkel is in doringdraad. Dit sinspeel sydelings op die idioom wat die bundeltitel probeer uitbuit: vol draadwerk, wat volgens die HAT  beteken om vol fiemies, aanstellerigheid en veral nukke te wees. Orals in die bundel kry die leser spore hiervan in die onderliggende lewenshouding van die abstrakte outeur: ʼn ironiserende sarkasme, ʼn geïrriteerde somberheid, ʼn takserende intellektualiteit, ʼn sardoniese kyk na die lewe. Dít is hoe die abstrakte outeur klaarblyklik bedraad is.

Maar draadwerk dui ook op filigraanwerk, met ander woorde: kuns van fyn edelsmeewerk, veral uit goud en silwer, wat die voorkoms van kantwerk het. Die gedigte vertoon soms hierdie arabeske knutselwerk, veral in die diggeweefde verwysingsnetwerke wat in die gedigte geïnkorporeer is. Deurgaans, maar veral in Afdeling II, vra die gedigte groot insette van die leser om die mitologiese en intertekstuele stramien na behore te ontsluit. Vir die meeste eietydse lesers wat gewoond is aan die moeitelose verbruikerskultuur sal die bundel met sy windsels doringdraadverwysings helaas toegesluit bly.

‘Draadwerk’ is ook ʼn sinonieme term vir ‘geleidingsdrade’, en hiervan is die tekste vol. Die meeste gedigte herlei die leser na ander geleidende inspelende tekste, kontekste en intertekste, wat die leesproses bemoeilik en met tye erg verliteratuurd aandoen, maar wat die speurende leser altyd verrassend beloon.

Tematies gesproke, ook in die lig van sy oeuvre tot dusver, is daar nie veel van ʼn dramatiese ontwikkeling nie. Crous se twee vorige digbundels, naamlik Brief uit die kolonies en Aan ’n beentjie sit en kluif, het Marlies Taljard uitgewys, “vertoon die digter se byna obsessiewe bemoeienis met die gruwelike detail van die dood en die seksdaad”. Dit sou eweneens ʼn goeie taksering kon wees van hierdie nuwe bundel, en in ʼn sin is dit jammer dat dit weer die geval is. Miskien is dit so dat die meeste digters ʼn beheptheid met ’n bepaalde gegewe het, maar die aanbieding daarvan behoort minstens voortdurend geskakeerd en uit verskillende objektiveringshoeke te kom, anders vang die eenselwigheid van aanbod die leser op die duur. Was dit Bruce Springsteen wat gesê het: “Every good writer or filmmaker has something eating at them, right? That they can’t quite get off their back. And so your job is to make your audience care about your obsessions.” Ek is nie seker of dit met Crous se werk gebeur nie.

Maar dan, om dié “sort of subject-matter (a writer) is fated to choose”, soos Sigmund Freud dit in sy voorwoord tot Marie Bonaparte se Edgar Poe gestel het, na behore te begryp, vra die leser om eerder die psigologiese diepgang van ʼn oeuvre te ondersoek as die oënskynlik oppervlakkige tematiese variasie. Hierby sluit die motto van die bundel ten nouste aan: “Everywhere I go I find a poet has been there before me.” Die feit dat ʼn aanhaling van Freud as motto van die bundel gebruik word, toon die seminale (en spesifiek dié woord) verhouding tussen Crous se digkuns en die psigoanalise aan.

Uit hierdie oogpunt gesien, vertoon die nuwe bundel van Crous ʼn bepaalde poëtiese sjarme asook ʼn digterlike vernuf, en diepgang, wat my deurgaans regtig beïndruk het. Benewens miskien Joan Hambidge se bydrae tot hierdie veld in die poëtiese diskoers, is hierdie van die belangrikste (bewustelike) bydraes tot nog toe in Afrikaans.

Vanaf die eerste stemvurkgedig: ‘Gesonke katedraal’, word dit vooropgestel dat die bundel baie sterk gerig sal word deur die on(der)bewuste en die psigologiese stramien van alle ervarings. Derhalwe is die ongesêde dieptes meer meesprekend as die blote woorde op papier:

die katedraal sak af in die water

soos valstande in ʼn glas     wit grimas van steen

uit ruite en deure

van gate en openinge

van kantelende kandelare

altare wat oopkraak onder die water

die kruis wat wieg soos seebamboes

losgehaak tussen die dobberende mariabeelde

wanneer hy neergeplof het op die rug van die see

sal ek in en uit by hom kan swem

sal ek die timbre en die seegroen toonkleur van debussy

nog kan hoor

 

Die gedig kom uit die eerste afdeling, getiteld ‘Chora’, ʼn term wat Julia Kristeva gemunt het en wat dui op die vroegste stadium in psigoseksuele ontwikkeling (0-6 maande). Uiteraard is dit ʼn prelinguale stadium van ontwikkeling waar jy gedomineer word deur ʼn chaotiese vermenging van persepsies, emosies en behoefte. Jy besef nog nie waar jy eindig en jou ma, of die wêreld, begin nie. Dit is ʼn stromende ervaring waarbinne die baba die plesierbeginsel (waarvan Freud ons bewus gemaak het) vestig, sonder dat daar van enige grense sprake is. Lacan het dit ”the Real” genoem, die naaste wat die mens aan ʼn suiwer vorm van eksistensie kan kom. Kristeva het met die begrip ‘Chora’ ook dan aangetoon dat hierdie ontwikkelingsfase deur die Eros- en Thanatosdrif gedomineer word.

In die openingsgedig gebruik Crous ʼn religieuse simbool, die katedraal, wat deur die eeue voorgehou is as ʼn argitektonies-simboliese konstruksie van die ontvouende verlossing van die Christengelowige. Crous probeer nie soos T.T. Cloete in Driepas ʼn katedraal in taal bou nie, nee – hier by hom sink die katedraal en die religieuse parafernalia onder die kollektiewe droomwaters in, soos Debussy se Sunken Cathedral (La Cathédrale engloutie). Die religieuse spanning wat hierdeur geaktiveer word, is ʼn belangrike kode in die digbundel wat veral in Afdeling 5: ‘Aufhebung’ aan bod kom. Die Duitse woord “Aufhebung” het verskeie moontlike betekenisse, maar beliggaam in die bundel veral die betekenisse van om “te vernietig” (spesifiek “to abolish”), maar ook om “te transendeer”. Gelees teen die agtergrond van ʼn Hegeliaanse dialektiek en Sartre se gestelde spanning tussen Being en Nothingness (wat deur “Aufhebung” bewaar én verander word), is die betekenismoontlikheid wat in die teks homself opdwing dan ook “wording”. Later meer hieroor.

Die dialektiese disillusie met geloof, eksplisiet benoem in die gedig ‘Apostase’, word veral sterk verwoord in die knap gedig ‘Susterlike gesprek met Margery Kempe’, wat uiteraard heenwys na die klassieke Book of Margery Kempe, waarin indertyd die religieuse en seksuele met mekaar gejukstaponeer is. Hier word die religie “’n oop wond wat nooit genees nie” genoem, en is dit deurgaans in die bundel ʼn dwingende onderliggende gegewe. Ironies genoeg eindig dié gedig met die versreëls: “maar as god jou eers uitlos / kan daai wond maar klop”, waar die gesublimeerde seksuele begeerte, á la Kempe se godsontsette gewete, die kloppende wond van religie word. Al het die katedraal by Crous gesink, is dit durend dáár, like a splinter in his mind.

[Terloops: ʼn Saamlees van hierdie tema uit die bundel met Carolyn Dinshaw se Getting Medieval: Sexualities and Communities, Pre- and Postmodern kan ʼn uiters boeiende studie tot gevolg hê.]

Interessant genoeg is die onderliggende spanning rondom hierdie saak nie ʼn evolusie (soos in die gedig ‘evolusie’ benoem) nie, maar eerder ʼn terugglip tot, soos Opperman dit in ‘Glaukus klim uit die water’ genoem het, “jakopeweroog”:

hande viervoet in ʼn vreemde man se kamer

is ek die aanhoorder van sy monoloog

oorgeklank uit ʼn kristen bjorn-film

praat ek maar die taal van die aapmense

diep gekerm en die uh-uh-uh uit my keel

 

in ʼn vreemde man se kamer

herspeel ons die oerknal en die oorgawe

op sy luiperdmotieflakens en –kussings

in sy sfeer sonder sinskonstruksies

stort hy die sap vir sy nasate

in ʼn oerbrei met metaangas

 

Hierby sluit die slotgedig, ‘Endumion’ dan ook ten nouste aan. Die “jakopeweroog” word die “oerbrei met metaangas” die oeroorsprong, die sluitsteen (ook van die bundel), waarvoor die digterlike persona sy knie in erotiese hagiografiebuig:

endumion in jou calvin kleins

gebruik my

scat op my en vee jou af

aan my gesig

laat my bakhand staan

vir jou warm urine

dwing my om dit soos balsem

in te vrywe

endumion laat my jou aanbid

terwyl jy gym

laat my jou sweet aflek

prop jou sokkies in my mond

jou jockstrap oor my gesig

as jy uit die toilet stap

wag ek vir jou met my uittong

 

Benewens die eksplisiete verwoording van koprofilia (“from Greek κόπρος, kópros—excrement and φιλία, filía—liking, fondness), also called scatophilia or scat  is the paraphilia involving sexual pleasure from feces” – Diagnostic and Statistical Manual of the American Psychiatric Association) en die onderspeelde aanwesigheid van submission and bondage, is die meer interessante hoe die gedig verby die banale detail strek en die psigologiese spanningswêreld waaruit die vrug van seksuele passie spruit, terugbind tot die dieperliggende “oerbrei” van die bundel. Uit Bulfinch Mythology: The Age of Fable verstaan ons die volgende oor Endumion: “We see in Endymion the young poet, his fancy and his heart seeking in vain for that which can satisfy them, finding his favorite hour in the quiet moonlight, and nursing there beneath the beams of the bright and silent witness the melancholy and the ardor which consumes him. The story suggests aspiring and poetic love, a life spent more in dreams than in reality, and an early and welcome death.” Al sou dit ʼn perspektiefprobleem in die gedig meebring, is Bulfinch se kensketsing van Endumion interessant genoeg ʼn baie raak beskrywing van die digterlike spreker, wat byvoorbeeld dan beslag sal gee aan Leanne Payne se tese in Crisis in Masculinity dat homoseksualiteit psigologies dui op ʼn narcissistiese fiksasie op die verbeelde of geïdealiseerde self. Ek noem dit, ook terloops, want die digbundel bied verskeie teoretiese, filosofiese en populêr-kulturele perspektiewe op gay beleërdheid (in simboliese ooreenstemming met die voorblad), soos die verwysings na/gedigte oor Sigmund Freud, Julia Kristeva, Simon LeVay, David Halperin en Ludwig Wittgenstein dan ook getuig. Daar kan ʼn duidelike Clear and Queer Thinking (vergelyk Laurence Goldstein se gelyknamige boek) in Crous se digwerk agterhaal word.

Aanvanklik uit die veld geslaan dat Crous sy digbundel met ʼn gedig soos ‘Endumion’ afsluit, besef die leser dan dat die gedig onmiddellik teruggryp na die eerste gedig van die bundel, om jou as ‘t ware te dwing om geen gedig of gegewe los te maak van die onderbewustelike stramien waarbinne die teks gesitueer is nie. In hierdie lig word verskeie gegewens in die bundel mee(r)sprekend ten opsigte van die “nooit-gehoorde / dinge … waarvoor die mense / huiwer”. Die ontstellende, wrang gedig: ‘Um Schlimme Kinder Artig Zu Machen’ (‘geneem uit ʼn Duitse volksrympie, en wat beteken: “om stoute kinders te leer om soet te wees”), byvoorbeeld, roep desnoods Mahler se Des Knaben Wunerhorn op, wat hier met onvanpaste maar briljante suggestie eroties ge(l)aai word:

en ek onthou sy hande te onstuimig vir my see

sy boot te groot vir my hawe

sy mond wat kon vloek soos ʼn matroos

onthou hoe ek my lyf gesmeer het met die verf

tussen my bene gaan grou het om sy boot daar uit te haal

nou nog kwas ek as ek skilder met my vingers

oor die snymerke an my maag en bene

steeds net toesmeer en toeverf

 

Gelees as ʼn teks wat volgens die motto gegenereer is uit twee skilderye van Marlene Dumas, besef ʼn mens dat die “layers of narrative potential” (soos Molly M. Breckling die komponis Mahler se werk kenskets) ook baie spesifiek op Crous se digkuns van toepassing is.

 

[Weer terloops: Die tyd is bepaald ryp om Dumas se enorme invloed op Afrikaanse digters na te vors. Saam met Judith Mason is sy miskien die mees verwysde skilderfiguur in die Afrikaanse letterkunde.]

 

Hierdie digbundel van Crous het dieselfde psigologiese gedraenheid as Pieter van der Lugt se indertydse kortverhaalbundel Sê dit in die donker. As ek reg kan onthou, was die motto van hierdie bundel ʼn Nederlandse aanhaling wat naastenby soos volg gelui het: “O! my kindertyd, kyk tog nie so na my met sulke blou oë nie.” En die leser voel dikwels so. Dieselfde patologiese diepgang as by Van der Lugt maak Vol draadwerk ʼn uiters ontstellende, maar uiters lonende leeservaring. [Dit sou baie interessant wees om die spesifieke seksuele psigologie wat in die bundel ter sprake kom, veral die verband tussen seksuele trauma in die kindertyd, die gevolglike seksuele fiksasies wat dit in die volwasse lewe meebring, en die rol van simboliese of gesublimeerde geweld daarin te vergelyk met die insigte wat byvoorbeeld Greg Hallet daaroor het in die hoofstuk  ‘Hitler’s Sexuality’, in sy boek Hitler was a British Agent.]

Daar is verskeie aspekte van die bundel waaroor ʼn mens nog sou kon skryf, byvoorbeeld oor die invloed wat die Franse Simboliste het op die dink- en digwyse van Crous; die abstrakte outeur se bewustelike vestiging van ʼn idiolektiese dharma (vergelyk die gelyknamige gedig), wat ʼn poging is tot die persoonlike “wording” van die self (waarvan vroeër gepraat is); die sterk gesprek met Homeros is veral dwingend, maar die resensie het reeds sy grense van ordentlike lengte oorskry. Laat ek in hierdie opsig net volstaan met Scott A. Belsky wat Homeros noem: ”the poet who sings through us” – ʼn formulering wat besonder raak gebruik kan word vir hierdie digter. Wat ʼn wonderlike studie kan die volgehoue digterlike gespek met Homeros in die Afrikaanse letterkunde nie lewer nie! 

Susan Howe het gesê: “If history is a record of survivors, Poetry shelters other voices.” Dit sou ʼn motto van hierdie bundel kon wees. Hierdie resensie moet ʼn bewys wees van Crous se ontsettende bewustheidvan metatekstualiteit, soos ook duidelik uit sy knap gedig, ‘Metateks’, blyk:

op hierdie krans waar die digters vergader

glase ink wegslaan saam met die rooiwyn

praat hulle met gevlekte lippe

oor die massa van die aksioma

of hoe groot die hartkamers opblaas

as die een hand glip oor ʼn ander se bobeen

of die manlike pubishaar krul of nie

 

hier word die metrum en die aleksandryn

gesoek in die rangskikking van takkies

of ʼn klip aangespreek as mevrou

 

op die krans wat afkyk na die vallei

sien die skeppendes

die mense aan vir skape

van silikoon

 

maak die brandwagdigter sy potlood

in sy geswelde beringde hande skerp

met ʼn papiermes van vlekvrye staal

hoor hy in die bossies sy ondergeskiktes

soos pienkgat-uintjiegrawers skarrel

uitwerk teen watter hoek

hulle hom moet bespring

met ʼn klip moet kap moet oopsny

of hom finaal van sy rotspunt afstoot

sy laaste kreet in jambes opgedeel

en in die vallei gaan verkwansel

 

In die geheel gesien, mis die bundel vir my transendensie, myns insiens een van die belangrikste karakteristieke van ware groot digkuns.

In die duisend heuwels van die silikonvallei van die Afrikaanse digterlandskap is Marius Crous miskien nie die brandwagdigter nie, maar hy is bepaald ʼn welluidende en beduidende stem.

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Resensie: Vol draadwerk ( Marius Crous)”

  1. Evette Weyers :

    Tom, dankie vir hierdie diepgrondige en openbarende resensie! Dit het diep getref.

  2. Joan Hambidge :

    My repliek op hierdie insigryke resensie:

    Die voorblad van Vol draadwerk dra ‘n kunswerk, “Ongetiteld” van Charles Tait. Die torso van ‘n man word deur skerp drade bedreig en omvou. Draadwerk aktiveer die idioom van dwars-wees. Vol knope dan, in Lacan se sin van die woord.
    Die bundel open met Freud se bekende stelling (“Everywhere I go I find a poet has been there before me”) en word opgevolg met Kristeva se siening van die chora waar digterlike taal sig skuilhou, d.w.s., in die pre-simboliese orde. “Anterior to naming”, maar ook hibridies oor die posisie ten opsigte van die naam-van-die-vader.
    Dit is ‘n bundel van die abjekte – Kristeva het eweneens oor die aard van abjeksie geskryf, as synde ‘n paradoksale toestand van afsku én aantrekking. Die slotvers “Endumion” (80) aktiveer hierdie toestand waarin die digter sowel die mitologie as die skoptofiliese verenig. Dit is balsem vir die spreker in die vers en hiermee wil die gedienstige, gedweë, mooi liefdesvers gedekonstrueer word.
    “Ná die lees van Simon LeVay” (79) word die rede vir obsessies en abjekte gesoek. Hier is ‘n sardonies-kritiese soeke vir “waar slaap die onderbewussyn soos ‘n skone / lyf…” Bekend vir The sexual brain (1993) en Gay, Straight, and the Reason Why: The Science of Sexual Orientation (2010) behandel hierdie Brits-Amerikaanse neurowetenskaplike die verskille tussen straight en gay mans se neurostrukture. Hierdie omstrede studies gaan lynreg in teen Freud se sieninge van die prosesse van oedipalisering. Dis ‘n verdere “draadwerk”-motief in die bundel waarmee die digter die Freudiaanse onderbou waarmee hy begin het, dekonstrueer. So gesien, wil die bundel die “skemergebiede” van die homoseksuele bestaan nog verder vat as sy voorgangers in die digkuns. Digterlik nie altyd so sterk as Johann de Lange nie, maar beslis dáár.
    Daar word verwys na ‘n derde oog van plastiek (10), wat die siniese, wráng toonaard van die bundel bepaal. (Nie derdeoog!) Die hart se draadwerk teenoor die geloof wat gesien word as ‘n draadwerk van matryse (59). Niks is enkelvoudig nie en hierom word ‘n sterk mitologiese raamwerk opgeroep om die gevoel van ontheemding te verduidelik. Die naam van die vader is ook die nee van die vader: hier word Lacan pertinent aangehaal (53, 54, “Vaderland), wat sowel die Freudiaanse rol van die moeder onttroon as die Vader/vader as heerser. Oraloor vind ons die blik van die obsessiewe kyker, die fetisj-bedrade, die liefhebber van die “golden shower”.
    ‘n Afdeling heet nie om dowe neute nie “Aufhebung” en hier word beweeg van die (oer)mitologie (waarop Freud geteer het), na Freud, na Lacan, na LeVay, na die Sex Pistols. Verskillende denkrigtings word gedekonstrueer. Vandag se wetenskap is more se mitologie. Moderne “mitologie” word ook onder die loep geneem: die selfdood van Sylvia Plath in “Lupercal”(44): hier is die toespeling op The white goddess opvallend en hoe die feministe na haar dood Hughes die verwyt gemaak het vir haar selfdood. En hoe dit weer in die tyd verander het, aldus Janet Malcolm in The silent woman. Boonop speel die film Sylvia ook tersluiks hier in: die James Bond-swembroek.
    Daar is ‘n opposisie tussen ‘n Blakeaanse “Song of Innocence” en “Song of Experience”, wat regdeur die bundel loop.
    Onderliggend bly die leser bewus van ‘n melancholiese draad, wat ons opnuut terugneem na Freud se seminale essay hieroor.
    Dit is ‘n vooruitgang op die vorige bundel, Om aan ‘n beentjie te sit en kluif, juis omdat die leser uitgedaag word om mitologies spits te lees en uitdagende psigoanalitiese toepassings te maak.
    Teenoor die apostase of afwysing van religie staan die mitologie van o.a. Anchises se liefdesavonture. Dit word weer geplaas teenoor die banale seksuele avonture van die ek. Homerus teenoor Vergilius. Ons vind Dido en Carthago. Die ghat in Varanasi of die trappies na die heilige rivier waar lyke verbrand word.
    ‘n Ryk verwysingsveld oor die verhouding tussen lewe en dood word hier uitgewerk: die Odusseia, die Aneid en die Bengali-siening van die dood.
    Ook die Ogygia, die eiland in die Odusseia word weergegee. Soos die gedeifieerde Antinous.
    Daar is onthutsende portrette soos “Wawielstraat” (68) en ‘n meedoënlose bevraagtekening van die Reële in Lacan se terme. ‘n Sentrale vers is dan ook “Hades” (24) waar die lot van die “onbegraafdes” beskou word. Die catch-22 van hierdie bundel is dat die digter júis in sy poging om die mitologie of religieuse sake te onttroon, dit ook erken. Die spreker bly dus vasgevang in die “kamer van katse en kettings” (24).
    Dit is ‘n bundel wat uitdagings stel aan die leser met vele verwysings (en verswygings) en ‘n siniese blik gee op die invloed van die gode, ook in die digkuns soos beskryf in “Metateks” (63) waar die digters rooiwyn en ink drink.

  3. Johann de Lange :

    Marius, ‘n vers oor Anton LaVey sou nie onvanpas gewees het nie?

  4. Joan, dankie vir die bronnerykdom in jou repliek. Bewys maar net dat Marius se bundel nie in ‘n resensie, ‘n onderhoud of selfs ‘n enkele artikel uitgeput kan word nie – goeie begin vir ‘n nagraadse studie!

  5. Clinton V du Plessis :

    Ek vind ook in die slotgedig eggo’s van ‘n vers deur Allen Ginsberg en Peter Hale, getiteld Violent Collaborations wat opgeneem is in Ginsberg se Cosmopolitan Greetings.Puik resensie.

  6. Joan Hambidge :

    Tom Gouws skryf:

    “Die gedig kom uit die eerste afdeling, getiteld ‘Chora’, ʼn term wat Julia Kristeva gemunt het en wat dui op die vroegste stadium in psigoseksuele ontwikkeling (0-6 maande)”.

    Kristeva het die term gemunt na Plato. Sy skryf hieroor in Powers of horror (1982: 14).