Beeldgedig 11: so dan (Joan Hambidge)

René Magritte: Perspektief (Le Balcon de Manet)

 

So dan

 

Ek staan voor jou geslote kis:

hoe broos en klein het jy nie gelyk?

Die begrafnisbrief, ‘n laaste lykskouing.

Soveel verydeling, soveel verdriet.

Jou oë dra weerhake, jou mond gestop

met watte en blinde kruissteek versier.

Soveel verydeling, soveel verdriet.

Jou hande dig gesluit op jou moeë bors,

naels geknip, jou trouring ‘n wit band.

Soveel verydeling, soveel verdriet.

Jou wit lyksrok verklap jou somber toon;

Krismisrose in ‘n blombak ter versiering.

Soveel verydeling, soveel verdriet.

Nou gaan jy lang bome toe, soos dit hoort,

ek staan voor jou sittende, bruin kis

langs ander vertrekkendes op die bo-balkon.

Voel vir oulaas jou priemende blik,

plaas hierdie gedig ongelees vir jou beskouing.

Soveel verydeling, soveel verdriet.

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.