Andries Bezuidenhout. Skildery in reaksie op ʼn skildery

Ek geniet Versindaba se huidige kompetisiefokus op gesprekke tussen woorde en beelde. Daar is reeds ʼn hele rits nuwe gedigte wat met skilderye of foto’s in gesprek tree. Dan het Breyten Breytenbach ʼn brief aan ʼn karakter in ʼn skildery gestuur. Ek wil verdere liberties vat met ʼn skildery in reaksie op ʼn skildery – darem met ʼn paar woorde ter verduideliking. Soos Breyten se brief is dit nie ʼn inskrywing vir die kompetisie nie.

Die skildery hier bo se titel is “Bellevue”. Dis ʼn vroeë werk deur die Suid-Afrikaanse landskapskilder Walter Meyer. Die onderwerp is ʼn dubbelverdiepinghuis met ʼn motorkar op die sypaadjie geparkeer in Bellevue, ʼn driehoekige woonbuurt wat tussen Yeoville en Observatory ingewig is. In Johannes Kerkorrel se lied oor Koos Kombuis, getiteld “Revolusie”, word na die woonbuurt verwys. Ek neem aan die skildery kom uit die middel-1990s, toe Walter Meyer in Yeoville gewoon het. Baie van sy werke het toe oor voorstedelike tonele in Johannesburg gehandel, ook een getiteld “Huis met witboom”, wat op James Phillips se album “Sunny Skies” gebruik is. Marlene van Niekerk se “Triomf” het ook ʼn skildery deur Walter Meyer op die omslag.

Toe ek nog in Johannesburg gewoon het, het ek soms met een van my kortpaaie van die werk af huis toe deur Bellevue gery en die huis op die skildery herken. Ek het opgemerk dat die palmboom op die sypaadjie heelwat gegroei het. Die idee het toe reeds by my posgevat om ʼn skildery van dieselfde toneel – twintig jaar later – te maak. Ek wou dit deels as huldeblyk aan Walter Meyer aanpak, maar ook om iets uit die proses te leer – amper soos om die gedig van ʼn meester te vertaal, of bloot met die hand oor te skryf.

Ek het die toneel ʼn paar keer besoek, maar het besef dat dit net gaan werk as die jakaranda sonder blare is. Die huis is amper nie sigbaar met ʼn boom vol blare nie. Die toneel op Walter Meyer se skildery is waarskynlik in die winter. Die gras voor die huis is vergeel, maar dit lyk asof die jakarandaboom voor die huis nog ʼn paar blare het. Ek hou van die manier waarop die boom se takke in die skildery deel word van die donker lug. Kenmerkend van Walter Meyer se werk, is dit die kwaliteit van lig wat die skildery so goed laat werk. Ek hou van die skaduwees teen die muur en op die pad. Jy wil amper jou oë toeknyp teen die helder lig as jy na die skildery kyk.

Uiteindelik het ek ʼn kans gekry om ʼn aantal foto’s te neem wat ek as model sou kon gebruik – die impressioniste se gebruik om in die natuur te skilder het ek nog nie bemeester nie en ek het ook nie die tipe fondse om ʼn sekuriteitswag aan te stel om in die strate van Johannesburg oor die middelklasse se artistieke prosesse te waak nie. Ek moes wag vir die son om reg te val. Ek kon agterkom dat Walter Meyer se toneel waarskynlik in die middag vasgevang is, weens die hoek waarteen die skaduwees van jakarandatakke teen die tuinmuur val.

Die Hoëveld se middaglig het ʼn ander kwaliteit as oggendlig – dis skerper, maar dieper en minder bleek. Soos reeds genoem, is Walter Meyer se skildery waarskynlik ʼn wintertoneel. Ek was in die vroeglente daar. Van die gras op die sypaadjie was reeds groen en die eerste Hoëvelddonderstorms het met die laaste jakarandablare afgereken.

Ek het besluit om nie net die verskil in tyd vir my huldeblyk te gebruik nie – m.a.w. groter bome, die feit dat die motorkar op die sypaadjie nie meer daar is nie – maar ook die verskil in seisoen en die tyd van die dag. ʼn Huldeblyk gaan immers nie oor na-aap nie, maar ʼn eie interpretasie as antwoord op ʼn oorspronklike werk.

Hier is my poging dus – “Bellevue herbesoek”, olie op doek, 75.5 x 61 cm. Dieselfde toneel, maar twee dekades later, effe later in die seisoen en vanuit ʼn ander hoek.

Bookmark and Share

10 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Skildery in reaksie op ʼn skildery”

  1. marlise joubert :

    Interessant! Albei skilderye baie mooi. Ek wonder of die mense wat nou daar bly, darem jou skildery gesien het, Andries? Dis asof die jakaranda nie veel groter gegroei het nie – die palmboom wel.

  2. Marlise, ek dink die huis staan leeg en is in die mark. Ek wens ek kon die oorspronklike skildery deur Walter Meyer opspoor. Ek kon nog net na weergawes op die web kyk. Ek bewonder die beweging in sy skilderye van die mees statiese tonele – ook in hierdie een. Sy boom het persoonlikheid!

  3. Estelle Bester :

    Hi Andries, Dis so ‘n lekker verkenning van ‘n omgewing waar ek soms kom. Watter straat is dit?

  4. Estelle, ek het op Google Maps gaan kyk en dit lyk vir my na St Peterlaan 28, waar St John in St Peter doodloop, van Louis Bothalaan af. ‘n Mens kan die huis op Google Maps se “street view” sien. Op daardie noot: Ek skat dis net ‘n kort tydjie voor landskapskilders van Google se “street view” gebruik gaan maak vir onderwerpe. Dalk doen iemand dit reeds – bv. ‘n Argentynse kunstenaar wat spesialiseer in skilderye van Turkse modernistiese woonstelblokke, sonder dat hy Turkye ooit besoek het. Daar’s sekerlik ‘n mark vir so iets in New York.

  5. Fanie Marais :

    Andries,dit is wonderlik dat waar die klem van die kompetisie op digkuns is na aanleiding van skilderye dit tot n verbreding (tema binne n tema) soos jy hier toelig,lei. Dit voeg waarde toe. Dalk kan digters ook die gaping wat ouer en veranderende woonbuurte skep aangryp en kry ons n kunstenaar met n esel en n digter met n notaboek daar.
    n Skildery van n jong meisie (oorlede) deur Laraine Campbell gebruik as voorblad van n publikasie het in n gedigte-kompetisie waaraan buitelandse deelnemers nie die persoon geken of met haar werk vertroud was nie verstommend beskrywende gedigte opgelewer asof hulle die persoon geken het. Is beelde gedigte of is gedigte beelde?

  6. Estelle Bester :

    Dankie vir jou volledige antwoord. Die skildery is baie besonders! Dankie daarvoor. Doet so voort met die poëtiese bewaring saam met die skilderye.

  7. Dankie Andries, daar is soveel mooi plekke wat eindelik vir die argitek of wereldreisiger eenvoudig sou wees, ek is gek na die huis. In een van jou songs sing jy van ‘n diesel Benz, so een onder die boom sal ook werk gegewe Walter ‘n Mustang daar verewig het.

  8. Christo van Staden :

    Andries, dis ‘n mooi skildery-antwoord. Meyer se lug is baie donker – en tog is dit die waarheid van Johannesburg se laatherfs/vroegwinter. Iets aan jou hoek is effe anders – of is dit daardie uitskieterpalm? Werk Meyer direk of ook van ‘n foto? Dit het ‘n groot impak op die lig wat van oomblik tot oomblik verander.

  9. Joan Hambidge :

    Study after Velázquez’s Portrait of Pope Innocent X” is Francis Bacon se “antwoord” op hierdie groot skilder se werk uit 1650. Gaan kyk gerus na Linda Hutcheon se A theory of parody (1985).
    ‘n Uitstekende gesprek hier op die Versindaba tussen twee skilders.
    Een van my plesiere met my afgelope reis, was Peggy Guggenheim se huis in Venezia en daar te kyk hoe die skilderye in die huis, onderling met mekaar in gesprek tree.
    Die antwoord moet egter net so goed wees as die oorspronklike; iets bybring.

  10. Dankie almal vir insiggewende kommentaar. @Christo: Opmerkings en vraag van ‘n skilder van Johannesburg! Ek dink Walter Meyer werk soms van foto’s af, maar ook in die natuur. Daar’s ‘n mooi doccie oor hom deur Lloyd Ross waar Meyer in sy kombi sit en verf in die veld naby Bethulie. As hy in hierdie geval van ‘n foto af gewerk het, het hy sy knieë gebuig of gesit toe hy dit geneem het – ek neem so aan oor die posisie van die tuinmuur teenoor die huis se deur en vensters. @Joan: Baie dankie vir die verwysings. Die een van Bacon ken ek & hou baie daarvan. Ek stem heeltemal saam met daai laaste sin van jou, maar dit laat my broek ook bewe!