Clinton du Plessis. Die groen ghoen

Die groen ghoen*

 

Nie brood nie

ook nie geld nie,

ek wou net

móés net,

dáárdie boekie

albastergroot-oog lees;

ek wou dit in my hande hou

met dit in die bed sit

by broos kerslig wou ek weer

die stem van die voorleser

op die radio hoor

dit is al wat ek wou hê.

 

Meneer Mike, het blank, maar ondermynend

die boekie uitgeteken,

dit vir my pa toegedraai, ek reken

dit was sy lojale verset:

“Ag, Here, Robert,” het hy gesê

 “dis tog net ’n kind, en ’n boek,

wie kan vir só iets nee sê?”

 

één man kan ’n verskil maak

één man kan jou ten volle mens maak

één man kan anderpad kyk.

 

Ek het my hande ontsmet

voor ek aan die boek wou vat,

en daar het geen spoor van my

tussen die bladsye agtergebly

miskien kon net my vingerafdrukke vertel

van my geheime omgang met die verbode boek van die bestel

 

maar dié boek het gereis

uit sy bleek, bang, benoude bestaan

in ’n blanke, blonde, blou-oog biblioteek

tot in die vaal lokasies van ’n kind

se wilde verbeelding, grense oorgesteek,

hom heel tuis in die veronderstelde vreemde bevind…

 

één man kan ’n verskil maak

één man kan, sonder vertoon verset,

één keer, God nee, skree!

Mike was ʼn goeie man, dis maar al.

 

 

 

(*Die gedig verwys na ’n insident toe ek, kleintyd, na die radio-voorlesing van P. H. Nortje se Die groen ghoen , dié boekie wou lees, maar die biblioteek op my geboortedorp was toe slegs vir een rasgroep gereserveer. My pa se werkgewer het egter die boekie uitgeneem en dit aan my geleen.- CdP)

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Clinton du Plessis. Die groen ghoen”

  1. Marthe :

    Dit is roerend en pragtig geskryf. Wel gedaan.

  2. Nicolette van der Walt :

    Jou gedigte is soos ‘n spieel, Clinton. Inderdaad “the applause of a single human being can change the course of a life.”. Goed!