Resensie: Katalekte (Breyten Breytenbach)

Katalekte. Artefakte vir die stadige gebruike van doodgaan. Breyten Breytenbach. Human & Rousseau.  ISBN: 978-0-7981-5792-6;  Prys: R220;  213 bladsye; Sagteband.

Resensent: Zandra Bezuidenhout

 

“DIE GEHEUE IS ‘N BYEKORF VIR DIE AANDWORD VAN ONS DAE”

                                                                     Breyten Breytenbach

 

Omslag

Katalekte is ‘n bundel van bepeinsing, nabetragting en geïmpliseerde vraagstelling oor bestaan, digterskap en die vervlietende skaduwee wat die “ek” genoem word. Al hierdie temas wys uit na die element van beweging wat die gang van die menslike bestaan kenmerk. Hierdie beweeglikheid, die panta rei soos die Griekse wysgeer Heraclitus die ewige vloei van dinge beskryf het, is vir my die essensie van die bundel. Beweging kan onder meer geassosieer word met dinamika, stuwing, ritme en wording, en per definisie met voortgang, wat beteken dat nie net stoflike dinge nie, maar ervarings, vriendskappe, ontmoetings en herinnerings agtergelaat word en dreig om te vergaan. Aansluitend hierby sinspeel die bundelinhoud daarop dat die lewe self ‘n versameling van katalekte is; oorblyfsels of reste, brokstukke en fragmente, soos flarde van ou geskrifte – al die los drade waaruit die mens sy eie teks skryf om minstens tot ‘n voorlopige “verstaan” van dinge te kom.

Hiervoor is verbeelding en die geheue nodig; en asem om met behulp van woorde die bewussyn voor te stel as ‘n lopende aktiwiteit, ‘n voortdurende werksaamheid waardeur die digter in probeer om die onleesbare leesbaar te maak. Algaande skep hy nuwe versameling katalekte, ʼn nalatenskap van tekste wat opnuut deur lesers gedekodeer en, figuurlik gesproke, selektief geapproprieer sal word. Die eindigheid van ‘n digterslewe, en daarmee die naderende afsluiting van ‘n oeuvre, word egter omgekeer; dit word tot stof gemaak, maar gaan nie verlore nie. In Zen-terme, wat ‘n deurlopende onderbou van die Breytenbach-oeuvre vorm, word dit opgeneem in die groot Niet. Verganklikheid blyk ‘n illusie van die menslike gees te wees, en dit is hierdie paradoks van bestaan naas nie-bestaan, die “leefdroombeweging” (“stof”, 137) en die “bewegingsherinneringe” (“die eiland van verbranding”, 138) wat weer pertinent in Breytenbach se jongste bundel na vore kom.

Die produk van die digtersarbeid word in die bundel se newetitel aangebied as “artefakte vir die stadige gebruike van doodgaan”, ‘n ironiese manier om na afskeid te kyk as ‘n dinamiese maar langsame en durende proses waarby die kreatiewe insette van die kunstenaar-digter (en sy lesers) ‘n belangrike rol te speel het. Twee interpretasies van “gebruike” is moontlik: dit kan slaan op “maniere” waarop die sterwensproses hom aanmeld, maar ook op die “verbruik” of benutting van skryfsels om doodgaan te vergesel, te begryp, of selfs te troef. Die saambestaan van visuele en woordtekste in die bundel demonstreer hoe verskillende skeppende aktiwiteite, en artefakte as die produk daarvan, mekaar aanvul en ondersteun: afbeeldings van gemaskerdes, gevlerktes en skrywendes; naaktes en narre; persoonlike foto’s en dié van vriende, asook kunstenaarsgereedskap en selfs ‘n bobbejaan vind weerklank in sowel die gedigte as die motto’s. Daarby dra die kleurryke kunswerke by tot die aanskoulikheid en estetiese genot van die bundel.

Katalekte vorm die sluitstuk van ‘n drieluik waarin die gedagtegang van op-weg-wees ook in Die windvanger (2007) en Die beginsel van stof (2011) gefigureer het, en sporadies in die digter se vorige werk sigbaar was, en waarskynlik in die toekoms voortgesit sal word. Breytenbach se aandag vir die mens as ‘n instansie met ‘n persoonlike identiteit, tesame met die kwessie van sy sogenaamde sterflikheid, was reeds merkbaar in die openingsgedig van sy debuutbundel Die ysterkoei moet sweet (1964). Daarin het die digter homself in fisieke terme bekendgestel as die nou legendaries geworde “maer man met die groen trui” wat sy eie graf visualiseer as ‘n plek waar hy op ‘n reënerige dag in die modder begrawe sal word. Ook Katalekte open met ‘n gedig (“voorbereiding”, 11) wat as ‘n vooruitskouing op die dood en die menslike bestemming gelees kan word; die dag wanneer Charon as “die gids met die mus/ ons een vir een in die bark oor sal neem”. En in “nou kom hierdie mens” (135) neem die persoon ‘n ander identiteit aan; hy is reeds ‘n afskaduwing van die self en hy word sy eie reisgenoot; die “ek” neem afstand van homself, intens bewus van “hierdie mens/ met wie ek ‘n leeftyd afgelê het”. Identiteit word dus iets wisselends, iets wat voortbeweeg en nuwe name aanneem, soos blyk uit die digter se verskillende benamings vir homself, onder andere Stoftong Bobbejabach (196), asook Jan Afrika, Jan Blom, Blackface Buiteblaf in die slotgedig “agternawoord“ (212). Daar neem die digter die gestalte van ʼn nar aan, of “die gek van myself”, maar ook van ‘n meervoudige “ek” waar al die identiteite saamval in “Ons [wat] nie van ons/ ‘n spektakel [wou] maak” nie. Die voorlopige “ek” (of “ons”) neem afskeid en die spreker maak ‘n “laaste buiging” waarin die naderende vertrek en die afsluiting van ‘n vakmanskap as ‘n “suiwering van oorbodighede” voorgestel word.

‘n Groot aantal van Breytenbach se bekende temas, motiewe en gunstelingwoorde duik weer in Katalekte op, en so ook etlike van sy digterlike handgrepe, soos nuutskeppings deur woordverwringing (“lettergrype”) woordsamestellings (“koekeloerhoer”) en woorduitbreidings (“ekkerigsotiese”), wat almal staanplek kry in “die digter se manifes van meelewing” (159). Soortgelyke voorbeelde van ‘n idiosinkratiese uitbreiding van die leksikon word in feitlik elke gedig aangetref. Dit bring mens by die vraag of hierdie digter, ten spyte van sy posisie as oppermeester van ons poësie, nie sy eie clichés begin skep, en sy werk ‘n oorbekende toon en aanslag, en daardeur ‘n sekere voorpelbaarheid verkry nie. Maar beïnvloed herhaling noodwendig die trefkrag van sy werk? Moet ‘n digter se procedé altyd en ten alle koste vernuwend wees? Is dit nie enige kunstenaar se reg en voorreg om binne ‘n bepaalde styl te bly werk nie? Dit hang natuurlik af of variasie binne ‘n oeuvre as ‘n absolute voorvereiste geld, wat met vernuwing bedoel word, en hoe vindingryk die digter sy gebruiklike temas, truuks en skryfwyses aanwend. Wanneer mens egter die bundel in die geheel lees en herlees, kom jy tot die besef dat die verse so skerpsinnig en meesleurend is, dat ‘n hersirkulering van inhoude soos die dood, die skryfambag, naasbestaandes, vriende en die omgewing, of motiewe soos die nag, engele, maan, wond, mond, ens., afgesien van die digter se tipiese omgaan met taal, nie as ‘n belemmering gesien hoef te word nie. Dit kan ook positief beskou word as unieke stylkenmerke en gedagte-inhoude wat in die hande van ‘n groot kunstenaar ‘n deurlopende draad vorm waarmee daar steeds wyer, dieper en ryker geweef word.

Nog ‘n interessante aspek van Breytenbach se taalgebruik is die manier waarop hy ‘n alledaagse term ontyk deur woorde te laat “hommelby” (186). Hy sal byvoorbeeld die poëties oorwerkte “bloeisel” in ‘n werkwoord omskep en so ‘n nuwe dimensie daaraan gee. In “klein reis” (132) nooi die spreker ‘n vriend om te “kom kyk hoe bloeisel/ die sterre soos smeulende vuurtjies/ in ‘n donker boom – ”.  As die vriend sy misnoeë uitspreek, beantwoord die spreker dit met “en ek proe die brak smaak van te veel woorde in die mond”, wat kan sinspeel op die stortvloed van woorde wat skrywers voortdurend in die mond ronddra, en hulle mettertyd in die verleentheid stel. In ‘n ander vers word ʼn vars bloeisel-beeld deur ‘n oorspronklike woordsamestelling gevorm (186):

wanneer alle sien ontdooi

hoe swáár dan die bloeiselkyk van die dooie[.]

 

Hierdie verrassingspel met taal, beeld en klank kom deurlopend in die bundel voor. Vir die leser is dit louter genot om te ervaar hoe ‘n digter oorbekende dinge spelenderwys verby die grense van gevestigde betekenisse dra.

Afgesien van die prikkelende denklae en taalaanwending in hierdie en ander Breytenbach-bundels, is die vormgewing van die gedigte onkonvensioneel. Verstegniese vernuwing was uit die staanspoor tekenend van sy werk, en ‘n toonbeeld van hoe die vormdeurbraak van die Nederlandse Vijftigerbeweging ook in Afrikaans beslag gekry het. Hierdie aanpak word deurgevoer tot en met Katalekte; elke gedig is onvoorspelbaar in terme van die opbou en die wending wat die vers gaan neem, waardeur die digter nie alleen sy eie terrein verken en ontgin nie, maar lesers se belangstelling wakker hou. Die relatiewe ongewoonheid van woord-, versreël en sinskonstruksies, gepaard met ‘n oënskynlik natuurlike versbeweging, is die sjarme van hierdie digter se werk. By Breytenbach is die praat- of parlandostyl nie ‘n lukrake aaneenskakeling van woord en gedagte nie, maar ‘n fynbedagte skommelspel van klank en beeld, ingebed in die inherente ritme van die taal. Deur die asemhaling en deining van die vers word die leser op reis geneem na ‘n alternatiewe vorm van belewing en betekening. Die digter is berekend moedswillig; deur sy talige akrobatiek dwing hy die leser om wyer te kyk, te voel en te dink as die ooglopende. Daarom raak oningewyde poësielesers, en veral dié wat nog nie met Breytenbach se werk kennisgemaak het nie, soms ongeduldig as hulle nie dadelik die strekking van die verse snap nie. Hoewel Katalekte nie ‘n duister bundel is nie, gee Breytenbach, soos die meeste eietydse kunstenaars, tog nie die “betekenis” van sy werk aan luiaards prys nie. Op ‘n gesofistikeerde manier plant hy tekens of aanduidings in watter rigting die kopreis van die gedig plaasvind, maar laat hy ook toe dat die voetpad van die hart, of emosionele lading, die leser lei om selfstandig te interpreteer.

Die bostaande opmerkings mag die indruk skep dat Katalekte uit vermoeiende dinkstof bestaan. Dit is egter nie die geval nie, want die digter is ‘n closet-terggees, en byna sonder uitsondering ook speels en sensueel. Hy beweeg “tussen droom en vergeet” (“dagskrif”, 131) in ‘n sinnelike beskrywing van die nag: “…die hemel was gevul met die romerige skynsel/ van ‘n onsigbare maan/ swaar en soet in frangipanigeur”; en “soos ‘n ou asemhaling/ was die intieme vermenging van water teen die rotse/ en ‘n wind van ewige verganklikheid/ in die gordyne oor my oop venster. Saam met familie, vriende, minnaars en bemindes het hy “die soet en klam reuke ingeadem/ en gevoel hoe sweet of die glinsterlagie bloed afkoel […] tot kleur die vermompelvlakte aard van wegskryf mag ontbloot/ om die polsende wond van die nag te verbloem”. Hoeveel potensiële betekenis lê nie opgesluit in hierdie “vermompelvlakte” nie, moontlik ‘n uitgestrekte veld of staat van mompeling (nog ‘n Breytenbach-gunsteling) waarin die digter hom bevind voordat hy in die daglig die “polsende wond” of intieme, trieste donker van die nag van hom “wegskryf”.

Waar Breytenbach se humoristiese aanslag wissel van blatant tot meer bedek en ironies, word humor en erns vermeng in ‘n gedig met die titel “Moermikland” (161). In navolging van Allan Ginsberg se briefgedig aan Amerika, waarvan ander plaaslike digters se weergawes in Letter tot South Africa (Umuzi, 2011) gepubliseer is, rig die digter hom tot sy eie moederland waar hy hom onseker en ontredderd voel. “Mzanzi, hier staan ek oppie stasie en die fluitjie willie blasie”, haal hy aan uit die volksmond, terwyl die gedig in werklikheid ‘n skreiende aanklag is teen wanpraktyke in die samelewing. ‘n Mens sou by Breytenbach van diepsinnige humor of humoristiese diepsinnigheid kon praat.

Daar is kort en kragtige kostelikhede in die afdeling “frottages” met die newetitel “mondstof”. Die digter leen kwistig uit Afrikaanse volksliedjies, asook uit sy eie werk en dié van ander digters, waarteen hy letterlik én figuurlik aanskuur (of waarmee hy vry) om iets nuuts uit bestaande stof te maak, of nuwe energie in die mondholte te skep. Dit verleen aan die bundel ‘n genuanseerdheid en ‘n ligtheid as teenwig vir die swaarder element van nadenke. Sommige van hierdie fragmente, soos die onderstaande, herinner aan die werk van R.K. Belcher, maar Breytenbach se eie mondstof (173) klink so:

ek hoes gesond

ek kak ‘n pond

ons lewe saam

soos kat en hond

amen

 

Ander van hierdie brokstukkies of “oorblyfsels” is korter, meer gedemp en beeldend, en toon hoe sirkulerende motiewe soos geheue en dood selfs in twee reëls sinvol aangewend word:

 

Die geheue is ‘n byekorf

vir die aandword van ons dae[.]

 

‘n Prominente motief is dié van die reis. Dit word na alle vlakke uitgebrei, en beklemtoon die beginsel van beweging en ruimtelikheid. In “van vlerke gedroom” (207) staan die volgende treffende reëls:

verby die wegwyser van smeulende suiderkruise

is die reis ‘n spoor

is die reis ‘n stippellyn

is die reis ‘n neerlê van pandsteentjies

ook helder oordag […]

 

Die reis in hierdie gedig is ‘n versugting na vlerke, na ‘n vlug, soos die verlange na die geliefde:

 

na die lokvinkie van die liefde

in die gleufie warm en vogtige soetigheid

van jou hartjiesgras [.]

 

Selfs die dans is ‘n manifestasie van reis en beweging. In “die dans van die klippe” (134/135) sê die vriend:

[…] om verbeelding

op te tel soos klippe en uit te deel aan die broodnodiges

is ‘n beweging

en om te beweeg is die uitreik na ritme

dit is die dans [.]

 

In die daaropvolgende reëls word die dans van die gees as volg uitgebeeld:

 

dansende pas de deux van verdraagsaamheid

dis die gefluisterde woordhuis van vrygewigheid

wanneer jy slegs die ek het om weg te gee

en vergewe. kyk, die vryheid

van weeg-en-weggee beweeg heen en weer

tussen die spanning en ontspanning van verbintenis

en die ritmiese saamkrimp van ontspanning van die klopvoëlhart […]
 

Die digter, soos die “naakte malman” in die strate van Luanda, is ‘n “dansende opskrywer van die lewe”, iemand wat die leegheid van vorm “laat bewe” deur dit “vol [te] maak met die voëlskaduwees van woorde” – en by implikasie digter word. En in “die laaste gedig” (211) word die vers trefseker voorgestel as ‘n “beweegsing“, te wete “die sigbaar/ making van dansende tekens/ se oorgaan na die bevryding/ van onsigbaarheid”.

Die bostaande gedigte bevat etlike van die motiewe wat telkens in Katalekte (en ander bundels) ter sprake kom: die mond, klippe, sterre, nag, dans en beweging – maar hoe vindingryk gaan die digter nie daarmee om nie, ook wanneer hy verwys na die “klippiespraat van papegaaivisse/ onder water,” (135), of ‘n lewe as “verleefde beweging” (211).

Nog ‘n opvallende terugkerende motief is die wind, opvallend aanwesig in die bundeltitel Die windvanger en in die afdelingstitel “windklip” in Katalekte waar “wind” gekombineer word met die “klip”-motief. Getrou aan die beginsel van die Zen-filosofie wat so ‘n sterk posisie in Breytenbach se poësie inneem, gaan alle dinge in mekaar op en word dit een, soos wind en klip “windklip” word. Die wind kan ook in verband gebring word met die “asem” waarna die digter telkens verwys. Wind onderstreep nie slegs die beginsel van beweeglikheid nie, maar ook van lewensasem, en van die digter se vermoë om gedagtes as lug of asem deur die stemorgane te stuur; die “oopmaakwind” (135) waardeur hy die “wegvlieglied” (43) produseer of, soos in Die windvanger, die windharp bespeel.

Waar die skryfhandeling telkens die fokus van die gedig vorm, word dit ʼn objek van digterlike bepeinsing, onder andere oor die digter as mens en skrywende instansie wat hom in “’n lewe verjaar” (43) wy aan “die tongverewiging van drome […] wanneer die verbeelding se lettergrepe/ nog bewe in die vingers”. In die skeppende proses vorm die digter, die artefak, en die proses van singewing ‘n eenheid. Die gedig is ‘n “ruimte van totstandkoming” en ‘n “leefruimte vir taal” waar “woorde nog mompelend met mekaar praat” (157); dit is ook ‘n vergestalting van die digter se bewussyn, en die bewussyn is op sy beurt een groot gedig waarin disparate dinge uit die geheue opstoot om deur die digter gedistilleer en gestileer te word. Daarom vorm die geheue en die verbeelding so ‘n onmisbare onderdeel van die digter se gereedskap; daarmee droom hy, lê hy verbande en skep hy vir homself ‘n geheel of “verhaal”. Sy ervaring van homself as ‘n skeppende agent, maar ook as lewensreisiger wat hom voortdurend heg en ontheg aan familie, vriende, geliefdes en plekke, bestaan uit onvolledige en soms beswaarlik leesbare oorblyfsels van gevonde tekste. Al die konkrete elemente wat in die onderskeie verse benoem word, is eksemplaries van ‘n geleefde lewe. Dit is die materiaal wat deur die digter ontrafel en verbeeldingryk saamgesmee word om nuwe tekste tot stand te bring. In sy groot aantal poëtikale gedigte laat Breytenbach iets hiervan sien en word dit ‘n manier om die leser as mede-interpreteerder by die kreatiewe proses te betrek. Na die skryfdaad word daar onder andere verwys as “die sinkronisering van werklikheidsverbeelding// geknoop in woordlusse. dis die beweging van gaan.” (“digters neem afskeid reël vir reël”, 140). Die prosastuk “’n Besinning oor ruimte as katalisator van betekenisvorming” (155) sluit hierby aan, onder andere deur ‘n verwysing na die “vibrasie oor die vers se dekveld of die doek se oppervlak” waar sogenaamd onverwante elemente soos beelde, klanke, kleure en ritme met mekaar “gesels” en “baklei”.

Die Zen-denke waarna vroeër verwys is, word vir my versinnebeeld in ‘n afbeelding van die nederige pampoen in die bundel se voorwerk, en weer by die titel en motto’s ter inleiding van die afdeling “windklip”(129). Dit word aangevul deur ‘n beskrywing van die “vaalblou boerpampoen” in die gedig “16 september 2010” waar “’n lem […] die skil se stilte sal kraak/ om sonskyn oranje uit die vlees te laat straal”, waardeur dit ‘n byna  mistieke kwaliteit verkry. Daarby toon die pampoen ‘n ooreenkoms met ‘n mandala ten opsigte van die simmetries kartelende patroon en ronding, en die afgebreekte stingel as sentrum. Hierdie gegewe wek ‘n herinnering aan die kern of hart van die konsentriese roosvenster in ‘n katedraal, en die eenheidskeppende beginsel van oneindigheid en heiligheid wat dit versimboliseer. Maar ook elders in Katalekte word hierdie beginsel van versmelting en eenheid, wat kulmineer in die groot Niet, aan die orde gestel – onder meer in die volgende reëls uit “die dans van die klippe” (133) waar ‘n vriend (die alter-ego van die digter, en dus nog ‘n identiteit?) “die een verskynsel in die skyn van die ander wil lees”, en vra:

…die dood en die digkuns –

is dit nie één nie? en die voël en die wind –

kan die een sonder die ander se vlug bestaan?

 

Soos tevore, is Breytenbach se jongste bundel deurspek van ryk en oorspronklike beeldtaal. Die volgende voorbeelde kom uit ‘n enkele gedig getiteld “die eiland van verbranding” (138): “die wolke […] was silwer vlies en as/ ruimte is ‘n blou weergalming vir voëls se gewapper”; “donker mense met gedoekte gesigte”; “wanneer die wind haar asem opgehou het/ om te luister na die galmende gewelf”; “die middernagwaker se roeplied in die moskee/ om die ewigheid aan jou vergeet van name te bind”; “die môrester was ‘n vlammende duif/ uit ‘n spikkelnes van stokkies en die geklik van donker/ verminkte versreëls was linte in die grond”; en “die dooie lofsanger met ‘n mond vol geheime/ is met sy kora in die baobab gegrawe/ onder die kors van afwesigheid”. In “swem in die nag” (146) word die maan vergelyk met ‘n “opgeblase karkas/ van die bok wat versuip het”, en in “yltyd” (152) met ‘n “lewenslose oog”. Lesers sou hierdie bundel kon lees en geniet ter wille van die beeldspraak alleen, om daardeur in die ban te kom van ‘n digter wat die werklikheid tot ‘n droomwêreld transformeer, en andersom.

Katalekte is ewe veel ‘n viering van die lewe en die digkuns as ‘n bundel oor afskeid en vertrek, hoewel die bundel se newetitel en vele gedigte gewag maak van die dood – soms grappenderwys en selfs laf, asof dit ook gevier of gekoggel kan word, soos in ‘n fragment uit “frottages” (196):

grafwaar

hier vaar

Stoftong Bobbejabach

lank gewag

klaar gedig

 

In “ ‘n lewe verjaar” (43) stel die spreker dit prontuit: “die lewe is heerlik, heerlik, heerlik”. Die afskeid is bloot ‘n “ontbinding van herinnerde drome/ in tuimelende binding”; daar “bou die lig/ tussen water en wind: die wolke sal bly”. Die gewaande verlies aan lewe word in ‘n ander vorm voortgesit deur ‘n onvoorstelbare beweging wat die beperkinge van die menslike verstand te bowe gaan, en die “dood se naam [is] geboortedwerg” (179). Deur die digterlike taal, die eb en vloei van klank, die wisselende ritmiek en die uitsaai van betekenisse, kry ‘n mens ‘n glimp van die amulet waarmee die spreker die doodsvrees troef. Nietemin beken hy in “frottages” dat hy nie weet of hy “al gereed is/ om die hoer en rumoer van lewe/ te stol tot die stilte van woordstiksels nie” (185). Daarvoor het hy nog duidelik te veel plesier aan verse en flentertjies, met inhoud en al, soos dié een uit “frottages” (178):

haar borsies is soos siffies

en ek so lief vir tee

maar die lekkerste vir drink

bly maar die rooibosvissie[.]

 

Uit hierdie bundel, lywig en lekker, kry lesers ‘n stewige dis uit die Breytenbach-spens. Party van die flesse het miskien al ‘n bietjie kim op, maar die meeste glans met vrugte van ‘n nuwe seisoen. Katalekte lewer bewys dat die Ysterkoei nog lank nie dood is nie. Al het dit intussen herfs geword, weier die man met die langwerpige kop steeds om sy oë in te hok of sy swart tong te troos, en “fabriseer” hy nog ‘n gedig soos die volgende (192):

nou is trosse ryp aan die stok

pik voëls soos tonge die korrels

om reëls te skyt

en elke vers bring son se suiker

na die kies

want herfs is ‘n singender weergawe

van sterwenswyn

dankbaar[.]

 

As nagedagte vra mens jou af of die betekenis van “katalekties”, verwysende na ‘n versreël met ‘n ontbrekende laaste lettergreep wat aan ‘n digreël ‘n bepaalde maatslag sou gee, nie ook op hierdie Breytenbach-bundel toegepas kan word nie. Vermoed die digter dalk dat daar in sy latere werk iets ontbreek? Begin bepaalde “lettergrepe” (hier vertolkbaar as poëtiese middele of vermoëns) verdwyn, sodat die pols van die digwerk flouer begin klop? Of slaan dit gewoon op die paradoks van onvoltooidheid te midde van voltooiing? By Breyten Breytenbach is niks te vergesog nie; dit sou nie verbaas as die betekenismoontlikhede van beide “katalekte” (onvolledige oorblyfsels van ou geskrifte) en “katalekties” (wat ‘n onvolledige of onvoltooide klankpatroon in die prosodie beskryf) ‘n aanleiding was om die term Katalekte as bundeltitel te kies nie.

 

Hoofsaak is dat ‘n bundel is wat poësieliefhebbers en Breyten-aanhangers nie moet misloop nie, en een wat beginnende digters en letterkundestudente met groot vrug kan aanskaf – om goeie eietydse poësie raak te hoor, en dit van mindere werk te leer onderskei.

 

 

 Resensie geborg deur:

Bookmark and Share

12 Kommentare op “Resensie: Katalekte (Breyten Breytenbach)”

  1. Liesbeth van die Kaap :

    Wat presies bedoel die resensent met “flesse” wat “al ‘n bietjie kim op” het met verwysing na Breytenbach se digbundel? Ek sou graag met “vers en kapittel” wil hoor waarna sy verwys…

  2. Buiteblaf Breytenbach :

    Ek dink die resensent het “skimmel” bedoel.

  3. Liesbeth van die Kaap :

    wonder wat “skimmel” – die resensent dalk?

  4. Webmeester :

    Breyten, ja, “Kim” kan sekerlik gesien word as ‘n verkorting van die woord “skimmel” wat met verloop van tyd op konfyt ens. vorm. Of dat dit is wat die resensent bedoel het. Die woord “kim” se tweede betekenis (“skimmel”) word in die WAT en HAT verklaar en met voorbeeldsinne geïlllustreer. Pharos vertaal dit met “mould” op konfyt, ens. Ons het byvoorbeeld kim uit kiem wat uit Nederlands kom. Dit sluit aan by die resensent se beeld van die Breytenbach-spens, asook by die betoog in die resensie.
    @Liesbeth van die Kaap: Ons kan seker wel die resensent se mening (of kreatiewe gebruik van die woord) hieroor respekteer?

  5. Joan Hambidge :

    Die volgende resensie het ek vir FineMusicRadio gedoen in Kaapstad.

    Katalekte Breyten Breytenbach
    H&R Sagteband
    Isbn 978 0 7981 5792 6
    Resensent: Joan Hambidge
    Professor in Afrikaans & Kreatiewe Skryfwerk, UK

    Die digter met die narrekleed

    I

    Katalekte vorm ’n drieluik met Breyten Breytenbach se vorige twee bundels, Die windvanger en Die beginsel van stof. Die woordgoëlaar en oëverblinder is hier aan die woord in ‘n bundel wat die sub-titel dra:”artefakte vir die stadige gebruike van doodgaan”. By Breytenbach is die ewige verbintenis tussen lewe en dood ‘n deurlopende motief en hierom is daar dan ook ‘n gedig “bardo” (76) wat hierdie oorgange beskryf. Katalekte bevat weer Breytenbach-reëls wat op sy enorme verbeelding dui:

    wanneer verbeelding se lettergrepe
    nog bewe in die vingers (43)

    Verder speel gedigte in op mekaar én ou bekende (en reeds klassieke) verse word herdig en binne die konteks van hierdie bundel word dit gelaai met ‘n navrante siening van die einde-in-sig. Dit is ‘n bundel wat die leser opnuut bewus maak van die digter se besondere klank-gevoeligheid en die spanning tussen prosaverse en korter tekste.

    Ons vind hier die bekende Breytenbach-handtekening: die ontginning van bekende idiome wat hy nekomdraai:

    ons dra die gene van die dood / maar ook die dese van die lewe (118)

    aan stront is geen salf te smeer nie (188)

    Die plasing van foto’s (soos die digter wat ‘n pampoen vashou) neem ons na die werklikheid. Die digter dwing die leser om kennis te neem van komplekse sieninge van poësieteorie en die verwysing na die kora aktiveer Julia Kristeva se Begeerte in taal en hoe metafore geskep word.
    In die lang vers, ”Besinning oor ruimte as katalisator van betekenisvorming” (155 – 158) word die leser medepligtige en aktiewe grafi-leser. Trouens, hierdie bundel dwing jou van die posisie van epi-leser (om die gedig op sy woord te neem) na die ruimte van die grafi-leser as aktiewe, medeskrywer (medeskepper) van die gedig. Hier verneem ons:

    “Gedig is leefruimte vir taal” en die volgehoue proses in die digter se oeuvre om die digkuns te verminder, vind ons eweneens hier:

    Poësie kom van nêrens en gaan nêrens heen nie – en ondersoek dan daardie nêrens soek-soek
    soos ‘n hond na doodsbeendere (157, 158)

    Die digter van die paradoks, én die digter van die Oosterse verwysingsisteem; van die verdubbeling en terselfdertyd ónt-kenning van die self. Van die oomblik en tog ook die ewigheid.

    Die gesprekke met mede-digters is opvallend. Soms speels, soms ernstig. Ingrid Jonker, Boerneef, Peter Blum kom aan bod en die herdigting, ‘n skitterende parodie, van Boerneef verdien vermelding:

    ‘n kolgrans doodgery op die M3

    die kolgans het ‘n veer laat val
    van die hoogste roep van waarookal
    mits dese wou sy vir ons sê
    dis haar maat wat dood op die snelweg lê (…)
    (22)

    Herdigtings, ‘n self-bestekopname, kom ook aan bod soos in “die engelaar se verweerskrif’ (203) (“asof ek uit ‘n langwerpige kop gedigte kon fabriseer…”)

    In “waterbrief” (28) kan die leser ‘n demonstrasie sien van Breytenbach se vernuf as digter. Die tegelykertydaspek word in hierdie gedig ‘n demonstrasie van die ek-in-krisis, die ek wat nie finaal besê kan word nie, soos Kristeva dit beskou. Die beweging van geboorte-droom-werklikheid-gedig-dood word in omgeruil sodat die verskillende dimensies één word:

    in die nag is hy dikwels ‘n koevert
    hy skryf die dokumente van geboorte
    nietnotas, belydenisfragmente soos skrifsels
    wat aan moet dui waar ‘n fuik
    in die donker neergelaat is
    om more se witvleis te vang (…)

    II

    katalekte beteken “versameling fragmente van ou dig- of prosastukke”, aldus die digter in ‘n onderhoud.

    Die bundel bevat sewe afdelings met zen-agtige verse en boere-haikoes. Die selfgesprek (soos in “BB: Intieme en beknopte CV”, 57) is nou van Bittergesig Buiteblaf. Sy Bonnievale-jeug, verblyf aan die Goreé-instituut en skryfskool aan NY word gesinkopeer met ‘n beskrywing van sy werklike verbintenis met die “mooimoedige vrou” wat van die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans geïnspireer het. Die metamorfose word in hierdie bundel beskryf as ‘n katamorfose (59). Daar is (pynlike) nadenke oor die skryf van ‘n gedig en gesprekke met Nietzsche en Emile Benveniste (“frottage”, 60).

    Die gesprek met die ouers word eweneens volgehou in teer, liefdevolle besinnings in “ruikers woorde gepluk” (81) vir hulle.

    BB neem ook standpunt in teen die politieke toestande hier te lande in sterk “Moermikland” (161) wat in gesprek tree met Allen Ginsberg se magistrale “America”. “Of dit ‘n man sou wees”, 169 – wat hy tipeer as ‘n aanpassing uit Primo Levi – is eweneens ‘n sterk sosiaal-gerigte gedig, nes die lykdig vir Van Zyl Slabbert (143).

    III

    Dit is ‘n bundel wat as “laatwerk” kwalifiseer soos Helize van Vuuren dit skitterend behandel het op Litnet. Breytenbach bly in die digkuns ‘n baken. ‘n Mens haal die hoed af vir die volgehoue produktiwiteit sonder om gehalte in te boet. Van die kleinste optelvers tot die langer prosagedig of laagvers, bewys die meesterskap van Breytenbach wat die brokstukke van ‘n lewe se herinneringe sprokkel. Die Orpheus-mite, Isis-Osiris
    en ja, Pablo Neruda :

    Entre los labios y la voz, algo se va muriendo.
    Algo con alas de pájaro, algo de angustia y de olvido uit Poema 13

    met ‘n pragtige skets daarby, verklap ook iets verder van die rol van die digter.

    Die digter as besegger van die liefde, die digter wat deur die woord beseg word, die digter wat onreg verseg.

    Dit beslaan 212 bladsye en is besonder mooi uitgegee.

    Joan Hambidge
    Professor in Afrikaans & Kreatiewe Skryfwerk, UK
    November 2012

    Bronne:

    De Vries, Willem. Onderhoud met Breytenbach. Aanhou beweeg en gedigte maak http://www.dieburger.com

    2012-11-08

    Helize van Vuuren: http://www.litnet.co.za/Article/n-almanak-van-klippe-laatwerk-en-breyten-breytenbach-se-die-beginsel-van-stof-laat-verse (Besoek 15 November 2012).

  6. Joan Hambidge :

    Katalekt dui ook op versreël met ‘n versvoet wat ontbreek.
    So gelees, dui die titel daarop dat daar nog ‘n bundel op pad is!

  7. Webmeester :

    Om verdere onduidelikheid uit die weg te ruim: Boshoff en Nienaber gee die etimologie van kim soos volg: kiem — witterige beslag op vloeistowwe, ingemaakte vrugte, konfyt, ens.; Ndl. kiem/kim/kien naas kaam/kaan.

    Dankie aan dr. Willem Botha en sy span by die WAT wat die inligting verskaf het!

  8. Joan Hambidge :

    Gaan dit dalk vir Liesbeth van die Kaap oor die negatiewe konnotasie van ‘n fles met kim / skimmel op?

    Of moet ons dit ook lees as penisilin, ‘n ander betekenis, aldus Eksteen se Sinoniemwoordeboek.

  9. Liesbeth van die Kaap :

    Goed bekend is ek (as swak huishouer, en familie van swak huishouers) met die aard en geaardheid van kim, skimmel, penisilin op konfyt, groen brood en ingelegde perskes/koejawels/groen vye…Al die heerlikhede des aardses…Wat ek graag sou wou sien is ‘n uitspel van presies wáár u resensent die skimmel/kim/groen aanslag op die versflesse of fles-verse in katalekte gewaar. Ter aller duidelikheid…

    maar die omwenteling in die muwee spens van toet
    moet maar seker vir eers voldoet…

  10. Liesbeth van die Kaap :

    “muwwe spens” bedoel ek hierbo…vertrek nou na die varser domeine…

  11. Waldemar Gouws :

    Stywer in die warmbeurs: ek vermoed “katalekte” het nie met ‘n muwwe kat in die saak te make nie. Met iets jonks van Kanonkop tussen die ore, wonder ek waarom Cassandra soveel woorde (‘n hele helse druisende gespuis) op ons beste digter mors.

  12. Liesbeth van die Kaap :

    kim op die vers

    consolfles op consolfles
    blink gestop en vet:
    pienk koejawels ry op ry
    albertas boepens-geel en sy aan sy –
    daarnaas die donker groen van voorjaarvy

    sal ons ‘n perske eens probeer?

    o nee! dis wit van kim…
    die smaak van goue somergrond
    bederf
    vir hierdie mond