Amanda Lourens. Daardie dekselse papierknippie

Met die nuwe jaar alreeds byna ’n maand lank op dreef, is dinge soos goeie voornemens en slegte gewoontes nog steeds in my gedagtes.  Alhoewel ek die nare gewoonte om nuuskommentare te lees gelukkig so twee jaar gelede kon afsweer, het ek hier vroeg in 2013 die wete dat ek steeds byna kompulsief allerlei volslae nuttelose brokkies en uitsprake lees.  Ek lees gruwelberigte op Nuus24 oor die verskriklike dinge wat mense en diere oorkom, diverse brokkies skindernuus oor mega-irriterende rolprent- en popsterre, voedselinligting op tweeminuutnoedels, doodsberigte, motorregistrasienommers, fortuinvertellers se advertensies in die grootse Afrikaanse gesinstydskrif, die etiket op my hond se vlooimedikasie.  Miskien word navorsingsresultate nog eendag gepubliseer wat bewys dat die lees van nuttelose stukke teks dalk vir jou brein kan doen wat rooiwyn vir jou hart kan doen.  Intussen probeer ek stellig nie hard genoeg om die gewoonte ’n nekslag toe te dien nie, en het ek eerder ’n nuwe genre ontdek: swak internetgedigte. 

Vele oorloë is in die afgelope maande oor hierdie teer punt geveg, en ek gaan dus nie weer die hele sage oprakel nie.  Eintlik wil ek my eie lastige, tydrowende gewoonte voorhou as vertrekpunt vir die dinge wat soms deur my kop gaan wanneer ek vrotsige pennevrugte tydens ’n middaguur oor my toebroodjies bekyk. 

Ek lees gister hierdie besondere poging raak, met die titel “Wag vir die finale uur”, wat ek anoniem aanhaal:

Wag vir die finale uur

Sit met my rug teen die vuil muur

Mond proe na lemoen suur

Tyd stap stadig aan

 

Hoor harde geskree oorkant die stoep

Mense staar verbaas aan in ’n groep

Pa lees koerant soek na die beorep

Altyd geraas in oms straat

 

Bedruk voel ek in my siel nou

Loop weg! Daar loop ek gou

Voete is rooi en rou

Stilte is vergete hier

 

Karre is koper bruin geroes

Boemelaar gee ’n harde hoes

Waar is my goue oes?

Hoop op beter dae

 

Donker middenag breek blou aan

Staar op na die helder wit maan

My tuiste sal ek na terug moet gaan

Lewe met geloof op elke nuwe dag

Nou ja.  Die lees hiervan grens sekerlik aan die kyk na Keeping up with the Kardashians, of die lees van vrouetydskrifte met suikersoet artikels.  Dit is só grusaam dat jy dit skoon geniet.  (En waarom, wonder ek, geniet ek heimlik hierdie soort irritasie?  Maar dit daar gelaat.) 

Waaroor ek éintlik wonder, is die hele sielkunde van die wannabee-digter.  Wat op aarde is dit wat mense laat dink hulle kan skryf as hulle regtig, hoegenaamd nie kan nie? Juis nou met die nuwe skooljaar en al die atletiek-uitdunne, tesame met my spruit se geweeklaag oor wáárom sy tog juis vir die hele skool moet gaan wys dat sy glad nie kan hardloop nie, reken ek dat ’n redelik maklik afleibare beginsel hier geld: Gewoonlik haat mense dit waarvoor hulle regtig geen talent het nie, en geniet hulle dit wat hulle darem redelik goed kan doen.  Hoe op dees aarde is dit dan te verklaar dat volkome talentloses gedig na gedig produseer en met groot gebaar op Facebook of waar ook al plaas vir die hele wêreld om te aanskou? 

En ek kan my lysie vrae aanvul: Hoekom wil ieder en elk wat nie eens kan spel nie, so graag ‘n groot digter wees – wat is vir diesulkes die bekoring? Wat weet hulle ooit van digterskap? Wat op aarde laat hulle dink dat hulle skryfseltjies enigsins aan moderne gedigte verwant kan wees?

Ek is kortom vervaard aan’t soek na die motiverings agter swak – nee, verleentheidswekkende poësie.

Ek het by ’n paar kennisse gaan kers opsteek en van hulle het interessante verklarings.  Dit is moontlik die sogenaamde Idols-sindroom: Werklikheidstelevisie – soos die sosiale media – kan dalk net van jou ’n ster maak.  Jy kán mos as jy net graag genoeg wil (soos sekere tydskrifte ons so graag vertel).  Kuns is vir sulkes dalk die groot gelykmaker, want álmal is talentvol en daar durf nie goed en sleg wees nie.  En hoe durf die nare literêre establishment dan tog dink dat hulle dalk net ’n bietjie beter weet?  Roem op kennis is deesdae immers so polities inkorrek.  Mense se ego’s is dalk net groter as hulle begeerte om te leer (en word aangevuur deur laerskooljuffrouens wat spelfoute met ’n ligte rooi dotjie merk – ’n kruisie is darem so ’n skandemerk). 

Daarby laat hierdie gruwelgedigte my wonder of die skoolstelsel enige skuld het aan die soort poëtika wat duidelik in die geledere hierdie soort digters geld.  Die meeste van hierdie wannabees is waarskynlik deel van die veertigplussergroep, en ek kan my darem herinner dat ons werklik goeie digkuns op skool behandel het (weliswaar “mak” gedigte, maar ons het wel deeglik geleer waaruit goeie gedigte bestaan).  Wat op aarde is dan daarvoor verantwoordelik dat die produktiewe modelle (in Even Zohar se jargon) wat tans daar buite werksaam is, net blote rymelary en brouwerk is?  Waarom word goeie eietydse digkuns nie gelees en dan ten minste dalk net nagevolg nie? 

Dit is sekerlik te laat vir die meeste van hierdie brou-digters.  Tog wonder ek watter profilaktiese salf daar is om te keer dat ons nie nog ’n generasie taalgebruikers grootmaak wat dink dat ’n skepping soos “Wag vir die finale uur” poësie is nie? 

Of kasty ek my met hierdie soort vrae net soveel as met my bisarre leeskompulsies?  Miskien kan ek weer Breyten se verhaal gaan lees oor die karakter wat kompulsief papierknippies opgetel het.   

 

Bookmark and Share

34 Kommentare op “Amanda Lourens. Daardie dekselse papierknippie”

  1. Marlise :

    Genotvolle blog! Ek hoop iemand (Louis, Joan, Desmond, Andries, Marlies?) kan al hierdie skerpsinnige en relevante vrae beantwoord…

  2. Gisela Ullyatt :

    Ek moes omtrent ‘n glasie Eno’s gaan afsluk het nadat ek daardie versie onder oë gehad het. Ek ril sommer in die middel van ‘n hittegolf…
    Uitstekend geskryf (die blog, nie die versie nie).

  3. marthe :

    Amanda, ek het jou skrywe baie geniet. En Sjoe Gisela, ek hoop die glasie Eno’s het gehelp. Maar om terug te kom na die onderwerp – ek wil in eenvoudige leketaal my mening gee. Ek dink gedigte skryf is soos rugbyspeel. Nie almal is Springbokke nie. Daar sal altyd outjies wees wat in die D,E of F span speel. Nou hoekom hou hulle dan aan met speel as hulle so ontalentvol is? Want dit is pret – hulle geniet dit. Dis dieselfde met die wannabee-digters (vergeet van poësie – dit is nie eens in hulle gedagtes nie). Hulle hou van rymelary – dit is pret. Hulle geniet dit. Dit is dan ook die doel van die internetgedigte (groepe). So word elkeen (van die F-span tot die Springbokke) ‘n plek onder die son gegun. Elkeen kan tog kies waar hy sy gedigte wil opsit en so kan elkeen ook kies watter groep se gedigte hy wil lees (ook op facebook). Jy hoef jou nie aan swak gedigte bloot te stel nie – veral nie as dit jou ontstel nie.

    Die 100 gewildste gedigte was vir baie ‘n skok – dit wys net hoe groot die gaping tussen die man op die straat (leser)en die hedendaagse digters is. Hoekom is daar feitlik geen gedigte van die laaste 30 jaar nie? Is dit omdat die meeste van die gedigte deesdae onverstaanbaar is of so ingewikkeld is dat ‘n mens al by die 4de strofe verveeld raak? Of is dit omdat rymelary uit die mode is en dit vir die publiek net soveel meer sin gemaak het?

    Viva Joan Hambidge en Johan de Lange – julle gedigte is darem nog verstaanbaar sonder die onnutsige rym.

  4. Gisela Ullyatt :

    Goed gesê, Marthe. Wat my altyd opval by gedigte soos dié is dat dit spreek van ‘n agterstand. En die grootste agterstand wat die rymelary ‘poets’ het, is gebrek aan lees. Die lees v afr digbundels. Nie die sillabus wat hul moes doen op skool in negentien-toet nie. Jy kan onmoontlik gedigte skryf wat publiseerbaar is as jy nie lees wat nóú in die afr digkuns gebeur nie. Dis soos die mediese beroep. N spesialis of GP moet tog hulself vergewis v die nuutste farmokologiese middele, mediese joernale en nuwe behandelingstegnieke. Anders gaan hulle dit bloot nie maak in die bedryf nie. Dieselfde geld vir digters en veral voornemende digters.

  5. Louis Esterhuizen :

    Eintlik sal die aangehaalde gedig ‘n wonderlike liriek wees vir nog ‘n Afrikaanse treffer. Ek vermoed dat iemand nog navorsing sal moet doen oor die impak van liriekskryf op die hedendaagse digkuns; juis vanweë die oormatige klem op toeganklikheid en “catchy phrases”.

  6. Dankie vir almal se reaksies! Ek kan heeltemal verstaan dat mense dig vir die blote lekkerte daarvan, en dit is sekerlik nie verkeerd nie. Ek waag my hand dan soms aan koekbak en my pogings is sekerlik die soort wat ‘n bedrewe kok sal laat terugdeins. En ja, mnese mag sekerlik hulle halfgebakte pogings iewers op ‘n Facebook-groep plaas. Dit pla my waarskynlik meer dat toeganklikheid, soos Louis skryf, so n skynbaar absolute norm geraak het. Wil ons nie meer uitgedaag word nie? Ek lees juis Tom Gouws se resensie van Marius Crous se bundel, waarin hy hierdie einste sake aanraak. En dit bly my omkrap dat mense so traag is om hulle te laat blootstel aan, mag ek maar sê poëtiese draadwerk? Wat het geword van die avontuur om die drade te probeer loswoel, betekenis te gaan soek?

  7. Leon Retief :

    Amanda: Wat het geword van die avontuur om die drade te probeer loswoel, betekenis te gaan soek?
    Leon: Omdat mense soek na kitsoplossings en lui is om te dink.

  8. Amanda Lourens :

    Leon: Juistement. Ek wonder net wat op aarde gedoen kan word om hierdie “ship of fools” om te draai? Dit voel soms vir my asof ons byna-byna terug is in die Middeleeue, tegnologie ten spyt. Soos die grappie oor die die “ontwikkeling” vanaf volksgebruike tot by eietydse kruiedoktery: die oplossing vir alle kwale is “chew a root”.

  9. Pageboy :

    Hallo Amanda, So baie gelees en so baie geskrywe en andersom dat’n fabriek se hele produksie papierknippies nodig is. En so min geluister na wat hedendaags gebeur op grondvlak. Is dit nie hoogtyd, Amanda, dat jy meer luister en minder lees nie? Is dit nie hoogtyd nie, dat jy luister na wat straatlopers voortbring as kletsrym? Is dit nie hoogtyd dat jy besef dat “wrap” is deel van die tydgees van die hedendaagse nie? Is dit nie tyd dat jy besef “wrap” kletsrym, rammelrym, het inslag by jonger mense nie?
    Is dit nie hoogtyd dat jy te wete kom dat dit elders op ander kontinente op moeder aarde al lank aan’t gebeur is en ook hier op die Suidelike punt van Afrika nie? En dat mense die reg het om dit te doen?
    Is dit nie hoogtyd dat jy besef dat die mense wat die grootste “wrappers” is, het nie sleutelborde wat hulle verhef tot digters nie, slegs tonge en ‘n hoogs ontwikkelde gevoel vir ritmiese vertolking en voordrag van taal wat emosies en gedagtes
    kunstig saamvat.

    Is dit nie hoogtyd dat jy besef dat taal is daar om gepraat en gehoor te word, en nie net om gelees te word nie? Is dit nie hoogtyd dat jy die prag van gepraat in vinnige rym en ritme ontdek nie? Is dit nie tyd dat jy besef dat indien jy nog vrae te vra het, dit beter is om nie kritriek te lewer nie, tensy jy sodanige kritiek konstruktief bedoel en uitboer? So nie, word dit net ‘n gekla, sonder ‘n begrip van waaroor jy eintlik kla. Voorstel: volgende geleentheid om onderwerp te kies om te fototgrafeer en oor te skryf, luister eers of die onderwerp klanke voortbring en hoeveel, en hoe groot is die verskeidenheid klanke. Papierknippies kan nie: praat nie, hulle kan nie sing nie, en kan nie skree nie, kan nie juig nie, kan nie murmer nie. Papierknippies is vir dowes. Talle geskrifte wat verskyn, vind nie byval by oningewydes nie,want sodanige geskrifte is “papierknippies-geskrifte” wat gelees word, maar nie voorgelees word nie, en nie gehoor word nie. Gedigte en kletsrym is vir ore. Wie ore het om te hoor, hoor!

  10. Amanda, dit lyk my jy word hier bo oor die vingers gewraps!

  11. Buiteblaf Breytenbach :

    Amanda, mens veronderstel die hofknaap (sug, weer eens ‘n anoniem wie se gesis skynbaar weggevreet is van te veel kyk na die klippies wat clichés aanmekaarstring…) bedoel in alle hartstog “rap” en nie “wrap” nie. QED. Want “wrap” is darem tog seker vir diesulkes wie se vingers stomp geknibbel is en daarom nie meer met die woord langs die stawe kan rinkel van stasie tot stasie – soos die aalwynplukker Coetzee met sy teelepeltjie oor die snare van sy kitaar nie.

  12. Buiteblaf Breytenbach :

    Dit moet “gesig” wees. Soos in die woord “gesiglose”. Jammer vir die onbedoelde gelispel.

  13. Desmond :

    Die aanlyn Urban Dictionary se verklaring vir QED:

    “1) From the Latin ‘quod erat demonstrandum’, a mathematical term meaning that a proof is complete.

    2) A mathematician’s way of saying ‘OH SNAP BITCH!'”

    Sien, Homeboy (ag ek meen Pageboy), dis rap wrapped in Latin!

  14. Fanie Marais :

    In die onderwerp is hoor beter as praat. Solank daar uit die hoogte (agterstand!)gepraat word asof die antwoord (nie die groep nie)daar beskikbaar is, gaan n wonderlike geleentheid verby om n reuse groep (oningewydes) te help bemagtig sodat die bevordering van skeppende Afrikaans sigbare resultate lewer. As die ingewydes nie die oningewydes nodig het nie gaan hulle nie verdwyn nie. Cordis Trust gebruik n piramied van skeppende mense wat van n gegewe basis deur drie sye van behoeftes gesamentlik die hoogste bydrae nastreef. Hierdie sye kan nie afsonderlik staan nie. Die groepe is net vir eie beplanning en toewysing van hulpbronne as die erkende/bewese ; die aspirant-groep wat reeds publiseer of mede-publiseer het (ongeag waar); en die vloedgolf oningewydes. As fasiliteerder (en glad nie taalkundig)van skeppende Afrikaans glo ek dat al drie groepe nodig is om die beste moontlike resultate te behaal.Daarom skaar Cordis Trust hom nie by enige groep nie, maar ondersteun volgens vermeende behoeftes al drie, maar in terme van befondsing meer die aspirant en oningewydes. Wanneer fondse aan die bewese groep toegewys word, is dit in die ononderhandelbare verwagting dat dit aanvaar sal word in n poging om die agterstand te verklein.Ek is dankbaar om uitstekende vordering hierin te kan bevestig. Versindaba is n voortreflike platform van hoë gehalte om gebalanseerde gesprek te bevorder.
    Die webblad, http://www.projectsforlife.co.za (n Cordis inisiatief) se siening is: YOU HAVE MADE YOUR MARK IN LIFE. WHAT CAN YOU DO TO IMPROVE THE LIFE OF MANY OF THE LESS FORTUNATE? Dit is n deernis-bewusmakings inisiatief en vra nie geld nie. As u die skeppende kundigheid het, gee dit vryelik vir die wat dit met ope arms sal aangryp. Tot dan loop Cordis Trust die pad met vrywilligers wat soms meer begeestering as talent het (soos ek).

  15. Waarna aspireer reeds gepubliseerde “aspirante”, Fanie?

  16. Desmond :

    Daniel, moet nou maak asof jy nie aspireer om ‘n rapplaat op te neem nie!

  17. Fanie Marais :

    Daniel daar is honderde “self-publikasies” vir n bepaalde doel of omdat die aspirasie is dat dit nuwe deure kan oopmaak en raakgesien word. Tans is die hemel nog om by een van die erkende uitgewers uit te gee of iewers in n saamgestelde bundel van n erkende digter opgeneem te word.

  18. Desmond :

    Breyten, jy gaan vir Pagebro’ om verskoning moet vra. Volgens Urban Dictionary is ‘n “wrap artist”:

    “A person who is significantly more talented but somewhat less annoying than a rap artist. A wrap artist is that person who goes plumb ape shit popping bubble wrap. May even have a cool wrapper name like Luke Warm P.

    — ‘Look at the shit eatin’ grin on that wrap artist. He’s in hog heaven poppin’ those bubbles.'”

  19. Mellet Moll :

    Nou ja toe.

  20. Amanda Lourens :

    Fanie, ek het baie deernis met die aspirerendes, ook die aspirerende publiserendes en selfs die aspirerende oningewydes. Ek ken heelparty mense wat aan’t werk is om te kan dig of beter te dig. Van hulle plaas hulle gedigte of Facebook, en daarmee het ek geen probleem nie. Hulle is immers op daardie ding met die lelike naam van ‘n leerkurwe. Hulle verwelkom kommentaar ek kritiek; hulle koop nuwe bundels, lees dit; hulle leer waar hulle kan. Vir hulle: Bravo.
    En ja, dit is goed dat mense hulle na die digkuns wend. Maar die Afrikaanse letterkunde gaan nie regtig floreer omdat mense prulle skryf en wag vir die “likes” nie. Dit is vir my jammer dat daar skynbaar so n groot groep is wat gewoon net nie wil kennis neem van die groter digwêreld nie, en aanhou om gediggies te “publiseer” wat net op geen vlak as “goed” bestempel kan word nie. So ‘n willense en wetense oningewydheid laat my sowaar met ‘n vaal kol op die maag.

    Te goed besef ek maar dat digters lesers nodig het, en ja, daar is beslis werk om te doen – daar waar lesers en aspirerendes aan die werk is. Maar hierdie steekse teenstand teen lees (oeps, ook luister, daar kom die wraps) en leer maak my vingers en gemoed deeglik en bloederig stomp.

    Daarom sal ek my waarskynlik aanhou verstom dat mense klaarblyklik net gewoon nie besef dat n skryfsel soos die een wat ek in my blog aangehaal het, nie kan saamgesels met moderne digkuns nie. Daar is – mag ek maar reken – nie eens aspirasie daarin nie. Dus wonder ek – hoekom is so ‘n digter doodtevrede met die tientalle “likes” wat hy/sy op Facebook kry? Gaan dit regtig oor die digkuns of raak die gedig eerder ‘n middel tot iets anders? ‘n Ego-ding? ‘n Nuwe soort pick-up line? Hoekom nie gaan lees (of luister, wraps) hoe goeie eietydse gedigte klink nie? So Fanie, dit klink my of die mense waarvan jy praat, hulle tog in ‘n ander groep (mag) bevind.
    Hofknaap, ek vermoed “Wag vir die finale uur” is nie eintlik ‘n voorbeeld van die kletsrymgenre nie. Maar miskien kan jy die toonsetting waag?

  21. @Desmond. Wat dan van “wrock around the clock”?

  22. Fanie Marais :

    Amanda, soos in my kommentaar gemeld kan ek my nie soos jy uitspreek oor gedigte wat op geen vlak as goed bestempel kan word nie.Ek ken ook nie die groter (Afrikaanse) digwêreld nie. Daarom omring ek my met mense wat wel oor die kennis beskik. Sedert 1990 deur beurse vir skeppende Afrikaans aan RAU; die RAU/Mardene Marais toekennings vir debuutwerk (Nini Bennett, Nanette van Rooyen en Marius Crous); die Orde van die Goue Pen 2012 toekennings aan 12 presteerders onder andere Johann-Lodewyk Marais en Susan Smith wat op hierdie blad verskyn en deel van n raadplegingsgroep vorm. Ek vind in hierdie situasies professionele sieninge en n wil om in die fasiliteringsproses te help.Ek sal nie die gedig wat jy aanhaal publiseer by Cordis Trust Publikasies nie, maar ek wonder wat jou reaksie sal wees as van die “skryfsels” in talle tale vertaal word.

  23. Pageboy :

    Amanda,
    Pageboy lees alle nuusberigte oor Facebook en Twitter (asook enige ander kommentaar oor sosiale e-media) wat Pageboy voor sy bakkies kan sit, want Pageboy stel besonder belang in hule groter verskynsel binne hedendaagse samelewing,(insluitende Facebook se ontwikkeling, sukses en platval as maat- skappy op ‘n effektebeurs) maar Pageboy maak pesoonlik glad nie gebruik van Facebook of Twitter nie. Trouens, hy vermy Facebook en Twitter asof hulle seepsoda wat uit die bakkie geval het, is.
    Die lewe is erg genoeg sonder om nog meer swartgallig te word, aldus jongste navorsing oor Facebook se negatiewe uitwerking op mense se gemoedstoestand. Pageboy stel voor dat Amanda liewer googel (Pageboy kan daai handelsnaam in Engels ook spel – so al die vingerwysers op Versindaba hoef nie dadelik aan ‘het skrywe daaroor te gaan nie) vir digkuns en die bestes daaruit kies kies om te geniet- ongeag Afrikaans,Engels of watter ander tale Amanda ook al magtig is, eerder as om opgeskeep te sit met rymelary (soos wat iemand – man in sewentigerjare – vir my genoem het “ek pleeg rymelary” en dan bedruk en benoud te word oor sodanige eentonige herhaal van klank, sof dit die bure se brakke is wat kef en tjank sonder ophou.

    Maar, die volgende is nie mooi van jou nie, Amanda. Om iemand se werk (al dink jy ook dit is hoe vrot) op die internet aan te haal sonder om te noem wie dit geskryf het, is nie reg nie. Dit is skinder in die openbaar. Elders op moeder aarbol raak internet liefhebbers – om goeie redes besonder boos oor die einste ding. Die doen van jou Amanda los ‘n swak indruk by my. As dit is wat Versindaba se beleid is, of as dit die goedkeuring van Versindaba se bestuur wegdra, is Versindaba nie vir Pageboy nie, want selfde is besig met uitsoek van beste uit moontlike bestaande geleenthede vir joernaal hou, oor skeppend skryf.

    “Om onder dekmantel van onbekendheid te spioeneer oor waar om te woon of om te bestee, is die allerbeste beleid” het my ma my geleer.

    “Gooi ‘n paar klippe in die bos” was my pa se raad.

    Laaste, Amanda, Pageboy doen allerlei skeppende goeters, (selfs kinders maak), toonset is ongelukkig nie een van sy vaardighede nie. Pageboy soek self na skeppende persoon op die gebied vir ‘n projek wat “horror movie” musiek kan saamstel.

  24. Pageboy, Amanda wou die “digter” beskerm deur sy/haar naam te verswyg. Om watter rede verswyg jy joune?

  25. Buiteblaf Breytenbach :

    Hoofknaap: Breytenbach sê hy weet g’n waarvan Desmond praat in sy verwysing na boomklimmers en piesangskille nie. Maar hy sê (dis nou Breytenbach) bittere hoofpyne het hom geleer die enigste feillose voorbehoedmiddel – selfs Fysboek beaam glo – is om ‘n aspirine styf tussen die knieë vas te knyp en nie te hard asem te haal nie. Aspirasie en nig inspirasie, veral saam, veroorsaak dat die mees onskuldige knippie lei tot kinders maak vir Afrika, en dis dan weer aanleiding daartoe dat die sensitiewe digters die geraas uit die lokasie verwar met opstande. Daarom, reken Breytenbach, hou vas wat jy het en moenie laat los nie. Dink aan Boland rugby. Verder sê Breytenbach sy pa het hom aangeraai: “Voorbehoed is huidiglik goed vir die gemoed van die nasie. Selfs met die wêreld se koerasie op knip sal jy moet keer vir jou wickets as jy onverhoeds sonder hoed in die agterhoede betrap word”

  26. Buiteblaf Breytenbach :

    Desmond: ek het gewéét Bubbles Schroeder is nie veilig in die hemel nie, dank jou die duiwel.

    Maar ernstig nou – julle mense moet ophou jil. Julle sal maak dat Andries die wraps van sy kitaar afhaal en begin twitter dat die kromme note julle haal!

  27. Petrus Boshoff :

    Dag, Pageboy. Jong hier tussen die mindervoudig gelaagde digter-‘wrappers’ so lyk dit my, gaan jy nie hond haaraf maak nie….jys beslis in n ander mark . En jou te veel op duimpies op gesigboek is beslis n kolossale bron des aanstoot…Jys met n gefrustreede klassieker se radar uitgevang om gefisuleer te word en te ‘voorbeeld’ binne n ‘klassiek’ formele ontledingsraampie.
    Sien jy moet eerder mik vir die volgende soort van gelaagdheidheid…dit werk beslis !!!!!

    DE WITTE PISBAK
    Rivieren die lopen gedwee naar benee.
    Want water verplaatst zich nu eenmaal naar zee.
    Alleen in de kunsten stroomt water omhoog.
    Daar spuit zelfs ‘t water omhoog uit de plee.
    (Let in dit gedicht vooral op de meervoudige gelaagdheid, het unieke rijmschema en de subtiele verwijzing naar de pisbak van Marcel Duchamp.
    NB….. Het kunstwerk is in 2004 door een panel van 500 kunstkenners verkozen tot invloedrijkste kunstwerk van de 20e eeuw…….EN die Surealisme, Dalaisme en Moderne kustvorms staan as toegif….. vol in die blom !!!!!

    Voorspoed wrapper !!!!!!

  28. Desmond :

    Breyten, jy is reg. Hier sit ek soos ‘n internetaap en virtuele bubble wrap bars; asof mense nie die reg het om swak gedigte te skryf nie! Dis die testosteroom: kyk die klomp mans wat hier ingestorm het om Amanda se eer te verdedig…

    Urban Dictionary se ‘woord van die dag’ is ‘Piss Window,’ en dit laat my dink aan die genre van die internetkommentaar:

    “The ability to poop in the amount of time it would normally take you to piss, so as not to alert guests or hosts as to what you’re truly doing. Making the Piss Window is most critical when dining out with friends, entertaining guests in your home, or visiting the home of another. Failure to make the Piss Window will usually result in bouts of awkwardness as you exit the bathroom, because everyone will know… you just took a shit.”

  29. Christo van Staden :

    ” … And, as usual,
    the fight as to the nature of poetry
    – Shall the philosophers capture it? –
    is on. …”
    William Carlos Williams

    ‘n Opstand van die miskruiers teen die beeste (of is dit nou andersom) is tog altyd vermaaklik. Bring die mielies!

  30. So van wrappers gepraat, ek hou nogal van hierdie ouens – Bittereinder. Hulle wrap nie net goed nie, maar speel ‘n mean piengpong. Dan is daar verwysings na bv. Eliot, nogal. (Weet nie wie hierdie Eliot is nie, dalk Tupac se neef.) http://www.youtube.com/watch?v=BiJQolbCMFA .

  31. Amanda Lourens :

    Ek dink hierdie blog se rakleeftyd is nou verstreke, met van die oorspronklike vrae nog onopgelos so tussendeur al die ander gestaltes wat intussen opgduik het. Maar Louis se nuwe inskrywing beantwoord tog ‘n hele paar vrae – dankie Louis, ek gaan graag die volledige artikel lees.

  32. Mellet Moll :

    Stunning gesprek gewees, Amanda.

  33. Marko van der Colff :

    Inderdaad ‘n ‘babelse’ gesprek…
    Vir ‘n wyle het ek gedog Kitchen Boy (wyle Braam kruger) het herrys!
    Toe’s dit al die tyd Pageboy wat geblaai word…
    My Hartstog-prys gaan aan… Pageboy(!?)wat homself so sonder omhaal of ‘pretensie’ toe waaragtig teen die naaste grafiti-muur gaan ‘wrap’…
    Viva! – Tot die bubble ‘bars’!

  34. Nikita :

    Liewe Amanda

    Ek het jou artikel deurgelees. Ek stem saam dat daar baie mense is wat gedigte skryf, selfs professionele mense! – wie se gedigte nie goed is nie, maar waarom mense so afkraak en neerhalend praat/skryf daaroor. Ek voel dat juis mense soos julle, ander moet aanmoedig om die taal te beoefen en eerder help en opbouende kritiek gee en vir hulle [gratis?] werksessies aanbied oor hom om te verbeter. Ek dink nie baie van mense wat net daarop uit is om ander af te breek oor wat hulle *probeer* doen nie. Ten minste probeer hulle, drie hoeras daarvoor! Ten minste word die taal nog benut op daardie manier. Ons wil almal graag he {kappie op die ‘e’] dat die taal moet voortbestaan. Hoe kan dit voortbestaan as ons mense in ons taal het wat net daarop uit is om ander op so ‘n manier af te breek? Ek kry eerder skaam vir hierdie inskrywing, as ‘elite’ {??] Afrikaanssprekende, as die persoon wat *probeer* het.

    Dan, my vraag: Waarom word daar *elite* pryse, soos die Eugene Marais prys – aan ‘digters’ toegeken wat die taal meng, aan digters toegeken wat onsmaaklike Afrikaanse woorde in hul gedigte gebruik? Dit is vir my ‘n verleentheid om so ‘n persoon as ‘n *goeie* digter voor te hou aan ‘n Russiese persoon wat Afrikaans wil leer. Ek slaan my hande saam en sug. Soortgelyke gedigte kom van die *pryswenner*-digters en dan vra ek my af, hoe kraak jy die mense af, maar *daardie* ouens kry die pryse? Nee wat, laat mense dig en skryf, hulle het woorde/gedagtes/gevoelens wat hulle wil neerpen. Dit gaan nie daaroor dat hulle ‘n *idol* wil wees nie. Inteendeel!
    Lekker dag vir jou. Jy moet verkieslik nie die gedigte op my blog kom lees wat ek *probeer* skryf nie. Jy sal slegs jou tyd mors. Lees eerder meer van Opperman/Celliers/Totius ens. in jou Opperman Verseboek.