Breyten Breytenbach. “this is the way the song was sung”

“this is the way the song was sung”

 

ek het gedroom ons het die toekoms

soos ‘n dooie hond begrawe

teen die hang van die berg

waar ander heilige grafte

ook lankal toegegroei lê

en net die letsels dat iets hier

toegekrap en vergeet is

nog met ‘n klip of ‘n handjie vergruisde skulpe

die skaduvlek van afwesigheid in die aarde onthou –

 

wind kom nooit hier nie.

newel rol af en toe oor die pieke

na benede om ‘n weeklag te dans

of die aardruik van kruie gemeng met son

waai anderkant in die kloof verby

 

en winters die genadige mis

uit die see se skoot opgestoot

soos ‘n waas van vergiffenis en verdwyning

 

hier is die helling te steil

en te blootgestel

vir die dekking van enige horison

 

die lyk was swaar en lomp

toe ons dit met snikkende moeite

uit die blou deken

in die sloot wat ons gegrawe het neerlaat.

die tande nog wit in ‘n gryns van blindheid

maar die tong was reeds weg

en ‘n paar brommers het soos trane

om die fynkyk oë wat geen vyand meer

af sou skrik

geblink

 

gelukkig is die stank van ontbinding

nou onder die grond

stof tot stof

het een van ons gesê toe ons opstaan

met gevlekte knieë en ‘n lagie vuiligheid

onder die naels

byna asof ons die rou nie kon verwerk nie

 

om gebukkend teen die skuinste

af te beweeg

na waar die skyn van lewe

hervat kon word

 

en mettertyd sal daar geen alfabet

en omega van been meer wees om te lees nie

het die ander geantwoord

 

niemand het die formulier geken

vir die inspit en gelykmaak

van die toekoms nie

en waarvan sou ons ook tog kon sing

met tonge so swaar soos doodgebore werpsels

in die mond?

 

was dit dan verbeelding

toe die droom ophou dans

daardie gedempte getjank

soos van ‘n weggooihond met ‘n bek

vol grint en insekte en donkerte

iewers in die koelteklad van ‘n aalwyn

verstik met ‘n tou om die keel?

 

maar toe ons omdraai om berg-op te kyk

met ‘n hand bo die oë teen die weerkaatsende lig

was daar reeds niks meer te sien behalwe stilte nie

en hoog die swart treurlinte van wolke se geluidlose vlug

 

 

© breyten breytenbach. 2013

 

Bookmark and Share

9 Kommentare op “Breyten Breytenbach. “this is the way the song was sung””

  1. Gisela Ullyatt :

    “Swart treurlinte van wolke”. Wat ‘n beeld, Breyten! Dankie.

  2. Marlise Joubert :

    Maar Gisela, dis ook die ‘wolke se geluidlose vlug’ wat daardie linte in die verbeelding in ‘n ander ruimte ingooi!

  3. Gisela Ullyatt :

    Absoluut Marlise! Maar ek meen die lint-beeld het my voor die bors gegryp…en toe die slotreël.

  4. Evette Weyers :

    Breyten Deur die jare betree en verdig jy in woorde so ‘n enorme spektrum van emosionele landskappe; verlate valleie, afgronde en pieke. Dikwels meer en meer die valleie van doodskaduwees.
    Jou verbeelding is inderdaad grensloos.
    Soos Rumi dit beskryf
    “When I die I will soar with the angels
    and when I die to the angels what I will become you can not imagine.”

    Ons is verstom oor wat jy alles word in gevoel en woorde.

  5. Anita de Kock :

    Absoluut briljant!

  6. Buiteblaf Breytenbach :

    “Geen haas nie,” sê die gids nou die dag vir my naby een van die heilige grafte. “En ook nie meer konyne of dassies of veldmuise nie,” hoor ons toe gemompel van agter ‘n bos, “want die hongerte het ons ingehaal.” (En ek het nie eens geweet die dooies het ook behoeftes nie.)

    Dankie vir jou waardering, Evette. En nog meer dank vir jou lieflike boek. Ek verkneukel my aan die onverwagse dieptes en roepklanke van “Wat die hart van vol is.” Wat ‘n heerlike ervaring!

    Met groete van hart tot hart – ook vir die mense en naasmense in jou omgewing, en natuurlik veral vir jou skamerige kêrel met die baard.

  7. Evette Weyers :

    Baie dankie Breyten. Die skaam man met die baard stuur groete.

    Jou hart is amper net so groot soos jou verbeelding.

  8. ek sit en wonder:
    maak woorde beelde makker/makliker om te verwerk?
    gestel iemand/jy sou tonge wat soos dooie werpsels uitpeul of brommers as trane skets of verf-
    wat sou die indrukke dan wees?
    afhangende van die konteks?

  9. Marlies Taljard :

    Dankie Breyten! Ek het weer kom lees, hy spook al heeldag by my.