Annemarié van Niekerk: Judith Herzberg

Vir poësie om ’n houvas te kry op die breë publiek, moet dit sigbaar wees, energie uitstraal, deelneem aan die lewe. As mens nie gereeld ’n mooi gedig teëkom nie, kan jy ook nie daardeur bekoor word nie, kan jy geen smaak daarvoor ontwikkel nie. So bly dit ʼn ontoeganklike paradys waarvan net ingewydes die toegangskode ken. Dit is nie net poësie in die algemeen en digters en hul werk wat hierdeur skade ly nie, maar ook gewone mense wat nooit die krag van poësie leer ken nie.

‘Trouw’, die Nederlandse koerant waarvoor ek resenseer, is uitgesproke in sy waardering vir poësie. Elke week word daar in die ‘Letter&Geest’-blad (waarvan die boekeblad deel is) twee volle bladsye aan poësie bestee. Die eerste bladsy plaas ’n spesifieke digter in die kollig en op die tweede bladsy verskyn ’n gedig van hom/haar. Met pragtige uitleg en ʼn mooi lettertipe vul die gedig ’n hele bladsy – so uitnodigend dat dit moeilik is om dit nie te wil lees nie. Boonop gee dit die leser die gevoel dat poësie deel is van die alledaagse lewe, net soos sport, geldsake, gesondheid, vermaak, politiek, wetenskap, wat ook al.

Getrou aan sy liefde vir die digkuns het ‘Trouw’ onlangs weer met ’n nuwe idee gekom om poësie sigbaar te maak. Hierdie keer is dit ʼn 10-delige poësie-versameling waarvoor die Trouw-redaksie ’n seleksie gemaak het uit die mooiste gedigte van die beste Nederlandse digters. Die resultaat is 10 pragtig versorgde sagteband bundels, elkeen met ʼn omslag in ’n skakering van steen. Die omslae het so ’n heerlike tekstuur dat jy nie kan help om daaroor te streel as jy dit in jou hande het nie, jy’t ook nie lus om dit gou weer neer te sit nie. Die 10 digters gekies vir hierdie versameling is Judith Herzberg, Remco Campert, Eva Gerlach, K. Michel, Gerrit Kouwenaar, Ester Naomi Perquin, Lucebert, Ingmar Heytze, Rutger Kopland en Ida Gerhardt.

Judith Herzberg

Die eerste bundel wat sopas uit is, word gewy aan Judith Herzberg, een van die mees geleesde en mees geliefde Nederlandse digters, deur Komrij beskryf as ʼn ‘ware koorddanser’: “Door haar aftasten en verbaal haperen schept ze ruimte tussen zichzelf en de lezer. Ze creëert een spanning door te doen of ze alles geeft en door tegelijk een strenge structuur te hanteren van herhaling, echo en climax waarbij ze persoonlijk buiten schot blijft. Ze beheerst het wankelen.”

Herzberg (1934) wat behalwe gedigte, ook toneel, filmscenario’s en joernalistieke prosa skryf, is die dogter van skrywer en regsgeleerde Abel J. Herzberg, wat net soos sy ook die P.C.Hooftprijs (1972) ontvang het. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Judith by verskeie gesinne geskuil toe haar ouers weggevoer is na die konsentrasiekamp Bergen-Belsen, waar hulle gelukkig oorleef het. Die nagevolge van die oorlog is die tema in haar trilogie ‘Leedvermaak, Rijgdraad en Simon’, wat ook verfilm is deur Frans Weisz.

Herzberg debuteer in 1961 met haar eerste gedigte in ‘Vrij Nederland’ en word in haar lang digtersloopbaan verskeie kere bekroon, o.a. met die Jan Campert Prijs en die P.C. Hooftprijs in 1997. Haar gedigte is oop, vragend, bespiegelend, behoedsaam. Haar toon is natuurlik, asof sy met iemand gesels, soms selfs asof sy al pratende na woorde soek, hul betekenis op verskillende manier toets. Kyk maar na die eerste strofe van LIEDJE:

 

Lieg alsjeblieft niet tegen me

niet over iets groots niet over iets

anders. Liever hoor ik het

vernietigendste dan dat je liegt

want dat is nog vernietigender.

 

Alledaagse dinge fassineer haar, daardie dinge wat sy om haar sien, hoor, voel en beleef. Hieruit skep sy haar gedigte, uit klein en versigtige maar tog presiese observasies van dinge wat haar omring: kinders, ouers, vriende, vreemdelinge op straat, objekte, woorde, voëls, pyn, noem maar op. Haar poëtiese verhouding met alledaagse dinge skep ook dikwels ’n vergelyking tussen haar en die Poolse Nobelpryswenner, Wislawa Szymborska. ‘Brieven’ is ’n mooi voorbeeld van haar besinning oor klein dinge:

 

BRIEVEN

 

Wij wisten niet, toen wij nog lange brieven schreven

op papier, dat wij de laatsten waren

die nog op die manier van elkaar hielden

met langzaam overdachte woorden

die we meenden.

 

So skryf sy ook ’n treffende gedig oor die woordjie ‘ja’, soos deur ’n onbekende man op straat uitgespreek.

 

            JA

 

            Hij loopt met iets zwaars voor haar uit.

            Zij blijft staan.

            Zij roept, van de straat, hem iets na,

            hij, terwijl hij een huis binnengaat,

            een kort ‘ja’.

 

            Niet het jaha van moeders die zich vervelen

            niet het ja van oja goed want bijna vergeten

            niet het ja van wees maar gerust

            niet een ja als een knal

            niet een ja uit twee delen

            zo’n ja waar een nee onder schuilt

            niet een ja van: ik ben zo terug

            niet een ja van: hou me niet tegen.

 

            Niet een ja half als vraag:

            dat zien we nog wel

            een misschien, een vermoeden –

 

            Maar een dag-in dag-uit ja

            een ja ten overvloede.

 

En een oor sneeu en pyn:

 

            EN OF HET HIER GESNEEUWD HEEFT

           

            Eerste sneeuw. Ja eerste sneeuw,

            maar wie heeft ogen voor de laatste,

            de laatste sneeuwpop, het smelten

            van de voeten, wie let daarop?

 

            Zo gaat het ook met pijn.

            Je voelt het onbarmhartige

            begin maar het verdwijnen

            maak je op uit het verdwenen zijn.

 

Die raaisels wat Herzberg besig hou wanneer sy die dinge om haar betrag, word ook in haar gedigte rondgerol. Sy kom nie met klaar uitgewerkte, vasgelegde antwoorde nie, haar gedigte dink en wonder saam met haar eie vraende blik. Vir Herzberg is dit wat groots is te vind in die kleine, terwyl sy weer die groot dinge maklik reduseer tot ‘vat’bare grepe. Sy het ’n keer gesê: “Ik geloof niet zo in god, wel ken ik soms een veel te groot gevoel, naar aanleiding van een kleinigheid.” Dit merk mens onder andere in dié pragtig weemoedige en relativerende gedig waarin die paradyslike en die eet van ’n pakkie slaptjips mekaar se maats word:

 

HIERNAMAALS

 

Als ik, nadat ik dood ben, nog

ergens rond mag dolen, laat het dan

op de markt zijn, in geur en kleur.

En mag die markt dan open zijn

onder de blote hemel. En mag ik dan

als vroeger met mijn moeder

zo ’n puntzak gloeiend hete frites

(met veel zout uit zo’n gebutste

strooibus) met haar delen.

 

As iemand wat nog nie die kans gehad het om voor poësie te swik nie, toevallig die gedigte van Judith Herzberg teëkom, is die kans groot dat daar iewers ’n luik sal oopgaan. Goeie poësie maak nou eenmaal iets in ʼn mens oop wat toe was.

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Annemarié van Niekerk: Judith Herzberg”

  1. pierre-marie finkelstein :

    Annemarié, dankie dat jy Judith Herzberg se poësie nou ook vir die Afrikaanse leser “sigbaar” maak!
    Hier is nóg ‘n gedig van haar:

    “De zee”

    De zee kun je horen
    met je handen voor je oren,
    in een kokkel,
    in een mosterdpotje,
    of aan zee.

    NS: Insider tip: Haar pa (Abel J. Herzberg) se werk is ook die moeite werd om te lees…

  2. Annemarie van Niekerk :

    Pragtig, Pierrie-Marie, die gedig oor die see! Dankie!