Onderhoud met Melanie Grobler

Melanie Grobler gesels oor haar nuutste digbundel met Heilna du Plooy

 “Daar is geen sekerhede vir dié wat na aan die paradoks leef nie.”

 

Heilna: Baie geluk, Melanie, met die bundel, Deur ruite van die reis, wat binnekort verskyn.  Die bundel het ‘n baie mooi titel. Verduidelik asb. Hoe jy by die titel uitgekom het en wat dit vir jou beteken.

Melanie: Ek haal graag die woorde van Orhan Pamuk aan: “Ek luister na die innerlike musiek, die misterie wat ek nie heeltemal verstaan nie en nie wil weet nie.” 

Die titel van die digbundel is onder andere geïnspireer deur ’n venster waarop die woorde Lovely Day gestensil is. Die foto is geneem tydens ’n besoek aan die Guinness Museum net af van Marrowbone Lane in Dublin. Die brouery, oorspronklik die St. James’s Brewery (Grúrllann Gheata Naomh Séamuis), is in 1759 deur Arthur Guinness gestig en is deesdae ’n belangrike toeristebestemming. Op een van die vele vloere is die merkwaardige venster waar ek stil staan en onseker deur die ruite kyk; is die ou stedelike strukture wat mens deur Lovely Day sien, die werklikheid of beelde van ’n droomwêreld?

Ek het vele lande besoek, begrippe gevorm en hul weer vergeet. Ek weet egter dat die reis die pad is, die natuurlike Tao: Slegs die Tao (om te skryf of te loop, m.a.w die vloei) kan Dharma (dit wat jy geleer het) uitwis. Die reisende ek skep myself oor en oor, telkens in ’n nuwe gedaante. Een van my gedaantes dra die resonansie van roetes en paaie, ’n ander rig bakens rondom onbekende gebiede op deur ’n gedig te skryf. Wie ek werklik is, lê buite tyd en ruimte. Soos ’n gevlerkte vlieg ek stratosferies hoog om op ’n lugstroom te rus. Het helder gekies om hier te vertoef, in die half-donker, op die buitenste grens van bewussyn waar ek deur die ruite van die hemel na die aarde kyk.

 Die titel in hierdie geval is bloot ’n wegwyser na die vuur van betekenis.

  

Heilna: Hoe belangrik is die poësie vir jou? Skryf jy byvoorbeeld op vaste tye of wag jy vir die gedigte om aan te meld?

Melanie: Roberto Bolaño sê: We tell ourselves that art runs on one track and life, our lives, on another, we don’t even realize that’s a lie. Wil myself met Bolaño vergelyk in dié opsig dat kreatiwiteit net so deel van my lewe is as om botter op brood te smeer of ’n glas water te drink. Ek skryf digbundels eerder as los gedigte en gaan dan in ’n stadige ritme in, sosialiseer min. Die beste gedigte kom as ek onderwater skryf. Ander gedigte meld hulself wel op ’n meer rasionele wyse aan.

 

Heilna: Jy lees duidelik baie wyd en jy lees lyk dit vir my graag eksotiese boeke van eksotiese skrywers, van mense en plekke ver van hier. Watter skrywers lees jy die graagste en waarom?

Melanie: Fiksie wat die bekende vars en nuut maak, maak my opgewonde. Ek hou ook van ’n eksperimentele benadering ten opsigte van die vorm van die roman. Miskien vind ek aanklank by skrywers wat grense oorskry. Trouens, ek word al hoe meer bewus van hierdie voortstuwende drif in myself.

 

Ek lees Orphan Pamuk veral vir sy obsessiewe aanslag. Sy boeke is gemoeid met die diep gewortelde spanning tussen die Ooste en die Weste, tradisie en modernisering, die kreatiewe kunste en die skilderkuns. Hy wissel graag gedagtes oor kreatiwiteit en sê dat hy verbaas is oor daardie momente wanneer hy dink dat die geskryfde bladsye wat hom so bly maak ’n geskenk van ’n ander krag is. Pamuk meen dat die roman gebaseer is op die menslike vermoë, alhoewel dit ‘n beperkte vermoë is, om met die ander te identifiseer. Dit vereis verbeelding, ’n selfopgelegde begrip van hoe verskillend die persoon waaroor hy skryf, van ons almal is. Die twee werke wat my na aan die hart lê is Snow en Museum of Innocence. In albei boeke beskryf Pamuk twee tragiese liefdesverhale waar opgevoede mans verlief raak op skoonhede wat geleidelik verander in afgeleefde vroue. Die verhoudings is intens, maar oppervlakkig in die wyse waarop hulle in die begin ontvou. Net soos die protagonis, Kemal, het Pamuk honderde klein museums wêreldwyd besoek en hy dra sy roman op aan al daardie leë ruimtes.  Later besluit hy om sy eie museum te bou. Alhoewel baie mense skepties was oor sy projek, het hy hom nie laat afsit nie. Die bou van die Museum van Onskuld was ’n heroïese kreatiewe daad en ’n voorbeeld van iemand wat luister na sy binnestem. Dis ook ’n boek, wat vergestalt word deur duisende fisiese objekte wat binne glashokkies uitgestal word. Ou kameras en foto’s roep die verlore kinderdae van Kemal en sy welaf ouers in die 1950’s en 1960’s se Istanbul op. Naaimasjiene, badkamers, en kabinette maak almal ’n bydrae tot Kemal se storie en sy verleiding van die winkelassistent, Füsen, en die kortstondige versameling wat Kemal ter herinnering van haar bymekaar gemaak het. Wie sou daaraan dink om sy eie roman in ’n openbare museum te verander? Pamuk is oor jare betrokke by die stad self en in die opsig is die magenta museum in Cukurcumastraat, sinvol. Hierdie kreatiewe daad oorskry die tradisionele grense van die roman en vergestalt gebeure wat nooit plaasgevind het nie. Die skryf van die roman, The Museum of Innocence, en die oprigting van die Museum van Onskuld, is uitsonderlike kreatiewe dade. 

Die klandestiene grootsheid van Javier Marías en sy neurotiese, obsessiewe aanslag laat my keer op keer terugkeer na sy boeke. ’n Joernalis het hom eens gevra of sy lewe rampspoedig is, waarop hy antwoord dat sy ma, wat die grootste invloed op hom gehad het, altyd bekommerd oor hom was. Die blyplekke en skryfplekke van Marías is opwindend. Hy huur tans twee woonstelle naby Madrid se bekende Plaza Mayor; die een donker gemeubileer en die ander het wit meubels en ’n groot biblioteek met Griekse, Latynse en Bisantynse boeke. Mense sê speelgoed, literêre memorabilia, briewe van Joseph Conrad en foto’s van bekende skrywers lê verstrooi deur die woonstelle. Hy skryf obsessioneel oor sekere temas; verraad, vertaling, vervalsing en die aard van tyd en herskep telkens die dun lyn wat illusie en realiteit van mekaar skei. Sy boeke herskep die beginsel van Nabokov dat die geheue onbetroubaar is. Die herhalende temas in sy boeke gaan oor die alledaagse. Dis roerend om te luister as Marías oor YouTube die eerste bladsy van a heart so white (’n selfmoordtoneel) voorlees. Soos Pamuk het Marías ook ’n speelplek. Hy is tans heerser van die Koninkryk van Redonda. Hy het die titel in 1997 van die voormalige koning, Jon Wynne-Tyson ontvang. Die eiland is minder as een vierkante myl groot en lê suidwes van Antigua in die Wes-Indiese Eilande. Die eiland behoort eintlik aan Antiqua maar Marías sê hy is nie bereid om in ’n dispuut met Antiqua betrokke te raak oor eienaarskap nie. Vir hom is dit eerder ’n fiksionele plek wat werklik bestaan want dit word op alle relevante kaarte aangedui. Sy bydrae as koning is om titels aan skrywers en kunstenaars toe te ken: aan Pedro Almódovar, die titel van Duke of Trembling; aan J.M.Coetzee, die Duke of Deshonra; aan Orhan Pamuk, the Duke of Multiflora. Marías se eiland laat mens dink aan Walter Battiss se Fook Eiland, die eiland van die verbeelding.

Roberto Bolaño word beskryf as die versteurde wraakengel en daarom lees ek sy boeke. Hy stel nie belang in die magiese realisme van Latyns-Amerikaanse skryfkuns nie en skep veral in The Savage Detectives en 2666 gemoedstoestande eerder as spesifieke plekke. Die apokaliptiese 2666 veral beeld die geweld van Latyns-Amerika uit. Daarvoor gebruik hy ’n magdom karakters en hulle misdade, dwelmverslaafdes, seks en korrupsie asook die verband tussen digkuns en misdaad; die essensiële menslike kondisies, jeug, liefde en die dood. Dit eis van die leser submissie, ’n gewilligheid om hom of haar te onderwerp aan die vreemdheid, die onophoudelike afgryse en ook die verveling wat soms intree. Die Sonora Woestyn word in albei boeke opgeroep en word ’n inkantasie van gruweldade. In 2666 word moeders en dogters, minnaars en vroue, almal inwoners van die dorp Santa Teresa, potensiële slagoffers. Hulle is die inkarnasie van al die onbekende slagoffers van die geskiedenis. Die boek word beskryf as ’n groot, onvolmaakte stortvloed wat voortstu op sy eie pad na die onbekende. Om so te skryf terwyl mens sterf is ’n heldedaad. (2666 is geskryf terwyl Bolaño in ’n stryd van lewe en dood gewikkel was weens ’n terminale lewerkwaal.)

 

Heilna: ‘n Mens se denke en gedagtes word sekerlik gevul met die inhoude van wat jy lees, maar ook deur jou werklikheid. Kom jou belangstelling in die letterkunde uit jou jeug? Het van kleins af baie gelees? Watter soort kind was jy?

Melanie: Alhoewel ek ’n boekie gekoop met my eerste sakgeld, glo ek dat gebeure in my primêre gesin ’n groot impak op my gemaak het. Ek het my pa, ’n prokureur en begaafde pianis, verloor toe ek drie was. My mooi ma, ’n onderwyseres, het van Warmbad na Rustenburg verhuis waar sy vir Engelstalige kinders skoolgehou het. Weens sy genialiteit het my broer spesiale begrip nodig gehad wat miskien nie altyd daar was nie. Ons ma het ons sterk aangemoedig om te leer maar daar was ook die paradyslike tuin met vele vrugtebome en loseerders, wat die kombuis oorgeneem het, het soms konfyt gekook. Ek het herhalend en ritualisties daagliks elke boom in die tuin besoek, my slim boetie het posduiwe gehad en ons ma skrophoenders. Daar was ook ’n dam en leivore waarmee die groentetuin natgelei is. My kleindae was pre-reflektief maar ook donker strome wat ek veel later eers sou verstaan. Ek het wel ’n tuiste gevind in die argetipe van die “verwonde kind” (the wounded child); sensitief en verwondbaar nie net weens die verlies van ons pa nie maar ook weens kompleksiteite en verwonding in die gesinstruktuur. Op laerskool het ek wel die biblioteek ontdek en het my lewenslange magiese verhouding met boeke begin.

 

Heilna: Jy het eers later in jou lewe gedebuteer as digter? Was daar ‘n spesifieke rede voor?

Melanie:  Vergrote uretras, ’n geboortedefek, het tot talle operasies in my twintigerjare gelei − ek was vyftig keer in die teater waarvan vyf groot nieroperasies was. Die geboortes van ons drie kinders het vele komplikasies vir beide die babas en my ingehou. Omdat ek jare lank in die bed deur gebring het en baie passief was, het ek weer begin studeer en weer my liefde vir die biblioteek ontdek. ’n Kunsgeskiedenisdosent en die wyse waarop hy ’n intens intellektuele wêreld vir ons oop gemaak het, het gelei tot ’n verbreding of verdieping van persoonlike bewussynsordes, iets wat ek broodnodig gehad het. Intussen het my broer internasionale aansien verwerf vir sy formule vir uraanverryking, my man het aktief tot die politiek toegetree en ek het my eerste bundel, Tye en swye in die lewe van hester.h gepubliseer. (My broer is kort voor die publikasie van die digbundel voortydig oorlede.)

 

Heilna: Is jy sensitief vir jou onmiddellike konkrete omgewing? Is die plek waar jy nou woon vir jou baie belangrik of is daar ander konkrete ruimtes uit jou verlede wat steeds sterk op jou denkwêreld en jou werk inspeel?

Melanie:  Die landskap van my kinderdae en die dorpie Rustenburg, veral die Magaliesberge, speel steeds in op my denkwêreld. Vele van my gedigte gaan ook oor die Kogelberg wat deur Unesco tot bewaringsgebied verklaar is, waar ons vir jare kom vakansie hou het en waar ons tans bly. Hier maak ons nie net kennis gemaak met die oseaan en die berge en die wind en die tydspore van die luiperd nie maar ook met die poëtiese noemname van ons plaaslike fynbos. In haar boek Wat die hart van vol is… noem Evette Weyers die bossies by die naam: steenbokkie-boegoe, aasbos, seeghwarrie, noem-noem, gonnabos, bietou, kanferbos, melkhout en bruin salie. Daar is ook die binnelandskap van die woestyn wat jare reeds nostalgies inspeel op my gemoed. Ook die twee poolstreke, die omgewings van Arktika en Antarktika, is binnelandskappe. In hierdie streke word binnewerk gedoen wat bydra tot bewuswording.

 

Heilna: Wat is jou mening oor die verhouding tussen inhoud en vorm van gedigte? Spandeer jy byvoorbeeld meer tyd aan die inhoud of is die poëtiese afronding vir jou belangrik? Ek sien inderdaad dat die gedigte baie afgerond is, maar ek wil graag hê jy moet jou mening hieroor uitspreek sodat ander dit kan hoor.

Melanie: Waaroor gaan digkuns? Gaan dit oor alliterasie, assonansie, allegorie, die vorm van die sonnet, die kwatryn of die sestina? Of soek die digter oop ruimtes of ambivalente  krake in die hoop dat beelde of metafore na vore sal tree?  Volgens Breyten Breytenbach is daar onderliggend aan die vloei en val van verse, natuurlike eenhede van bewussyn wat geskep word deur ritmes en beweging na betekenisgewing. Vir my beïnvloed hierdie strome van bewussyn nie net die inhoud van die gedig nie maar ook die vorm.

Aanvoeling, intuïsie, verbeelding en intellek sorg vir die balans tussen vorm en inhoud.

’n Ander kenmerke is dat diep impulse, herinneringe, emosies en die aard van syn tot die essensie gestroop word. Dit verg nie net toegewyde aandag nie maar ook ’n gewilligheid om jou oor te gee aan die vorm van die gedig.

 

die been van die gedig

is die verloop van tyd

 

Deursigtigheid ten opsigte van die inhoud, diepte van gevoel en ’n byna roekelose strewe na uitmuntende kwaliteit is belangrik.

Toevallighede, lyn, tekstuur, harmonie, dissonansie, stilte, en leegheid gee vorm van die gedig. Sonder inhoud kan vorm nie bestaan nie.

Die digter gebruik nie net inhoud nie maar ook vorm om dinge daar te stel wat buite die veld van woorde en hul betekenis lê.

 Die gedig vloei uit dit wat nie verstaan word nie of die stilte van dinge en is die padwyser na betekenis.

Deur die vorm baken die digter ’n betrokke gebied af.

Die gedig is klank wat vibreer in ’n gekose vorm.

  

Heilna: Een vragie oor die inhoud van die bundel: In die bundel is daar vir my tegelykertyd ‘n gebondenheid aan die aarde, ‘n aardsheid in verwysings na woestyne en na die strand, sand en see, en die spesifieke omgewing waar jy woon, maar jy is ook sterk kosmies ingestel. Is dit ‘n tweespalt in jou,  twee pole in jou lewensaanvoeling of lê dit vir jou op ‘n kontinuum? Hoe ervaar jy die aantrekkingskrag van hierdie twee pole van menslike bestaan?

Melanie:  Voordat ek die vraag van polariteite antwoord wil ek eers iets sê oor ’n kosmiese ingesteldheid. Vir my beteken dit dat iemand ’n kosmiese ingesteldheid het as hy bewus is van die goddelike teenwoordigheid in alles op aarde en in die hemel. Vader Richard Rohr, ’n Franciskaanse priester, praat van die Cosmic Christ, die Kosmiese Christus wat die ganse heelal vul (Efesiërs 1:23). Rohr sê verder dat hierdie Christus nie verwar moet word met die historiese Jesus nie. Dié Kosmiese Christus is tot lewe geroep tydens die oerknal en het Homself later aan die mens openbaar deur die geboorte van Jesus, die Seun van God en die Heilige Gees. Ja, ek hoop ek is kosmies ingestel, kosmies in die sin dat ek bewus is van die goddelike verbintenis tussen alles. Sommige van die keurders het kommentaar gelewer oor die mistieke inslag die digbundel. As dit wel so is, sien ek dit in terme van hedendaagse mistisisme, intuïsie en insig. Wat polariteite betref; die mens tydens sy aardse bestaan is afhanklik van taal en taal moedig polariteit aan: warm – koud, ver – naby, hoog – laag. Probleme kan opduik as mens onbewustelik een van die pole uitspeel en die natuurlike balans versteur. Maar polariteit roep ook kreatiewe spanning op. Dis wenslik om nader na die paradoks, wat die moontlikheid van kreatiewe betekenisskepping vir jou oopmaak, te beweeg. Die paradoks is ’n plek en ons is nie daar nie. Ons moet voortdurend beweeg in die rigting van daardie plek. Dis ook die speelveld van onsekerhede, ’n plek waar alles waar en onwaar is, ’n onsekere plek van vloei. Dis belangrik om te  vloei tussen wêrelde, tussen die realiteit en die irrasionele, tussen binne en buite, belangrik om hierdie moontlikhede te verken. Sonder die paradoks is dinge staties, sonder enige bewuswording. Daar is geen sekerhede vir dié wat na aan die paradoks leef nie.

 

Heilna:  Hoe sien jy die rol en die waarde van die poësie in ons post-postmodernistiese praktykgedrewe gemeenskap?

Melanie: Soos die voël sing omdat hy nie anders kan nie, so skryf die digter sy verse. Die digter kan egter as ’n brug dien om deur sy verse nuwe insigte en heling te bring. Dan staan hy of sy in diens van die gemeenskap om dinge en mense wat uit wans is, te heel. Stanley Kunitz sê dat as ons op enige oomblik  in die lang geskiedenis van die mens wou weet hoe dit voel om lewendig te wees, is dit ’n handjievol gedigte waarna ons moet draai.

 

Heilna: Watter raad kan jy aan jong digters gee?

MelanieSkryf omdat jy moet skryf en vir geen ander rede nie. Lees wyd en dikwels want dit sal jou bewussyn verruim. Lees veral die werk van ander digters, plaaslik en internasionaal.

 

strandhuis

 

As die maan wydoog oor die oggendsee sak
vou die oggendlig om die klaargevormde melkhoutbos
sterk en geweldig die weivelde van die nag wat nou rus
teen die berghange. waar ek skuil tussen ’n paar groot rotse
                                                           skryf ek ’n reël aan jou
dan neem ek die kronkelpaadjie huis toe
oorval deur blosende berge pluk ek slanke groen riete
lang ure sit ek op die kaartstoel tot die ruimte
oorgeneem word deur die ritseling van die siel
vanoggend sidder ’n hoë wind bokant die strandhuis.

Voor ek my linkerhand uitsteek
om die oggendson nader te wink
omhels die kring van jou afwesigheid my

                          Is dít alleenheid
hierdie oopbloei van gedagtes?

 

 

Bookmark and Share

13 Kommentare op “Onderhoud met Melanie Grobler”

  1. Desmond :

    Melanie, ek hou van jou beskrywing van die ‘klandistiene grootsheid’ van Javier Marias se kuns. Die Engelse vertaling van sy mees onlangse roman is volgende week op die rakke: ‘The Infatuations’.

    Geluk met jou nuwe bundel.

  2. Melanie Grobler :

    Baie dankie vir jou kommentaar. Sien so uit na ‘The Infatuations.!

  3. Lara Swart :

    Die onderhoud lees soos lemoensuig – eers vinnige teuge van soet en dan diep inasem van waarhede. Dankie Mamma dat jy met ons deel. Ek is baie trots.

  4. Johann de Lange :

    Boeiende onderhoud, Melanie. En die foto van julle pragtige strandhuis! Ek hoop die boek bring vir jou velerlei vreugdes.

  5. Buiteblaf Breytenbach :

    Inderdaad ‘n boeiende onderhoud, Melanie. Met die ligvlekke en somberder vlerkgefladder van baie wyshede.
    Voorspoed met die bundel!
    Breyten

  6. Louis Esterhuizen :

    Sjoe. Ek kan maar net beaam wat almal hierbo sê. En verskoning vra dat ek weens werksdrukte nou eers by die lees hiervan uitkom. Soos by alle besighede landwyd is einde Februarie die afsluiting van die finansiële jaar. En dis lank na slapenstyd terwyl ek hier in die winkel (skelmpies) sit en lees terwyl my dierbare administratiewe personeel doen wat hulle moet doen. En watter plesier! Dankie, Heilna. Dankie, Melanie. Watter inspirerende en insiggewende onderhoud …

  7. Melanie Grobler :

    Baie spesiaal dankie vir julle skrywe en goeie wense.

  8. Gerda Human :

    Lank en geduldig vir hierdie bundel gewag – weet dit gaan baie besonders wees! BAIE GELUK!
    Jou TROTSE lewenslange Vriende!

  9. Baie geluk Melanie sien daarna uit om die bundel te lees. Ons is trots op jou!

  10. Melanie, my siel sus sedert’47 omdat jy met woorde kon/kan toor! Veels geluk! En hou koers met nosce te ipsum, carpe diem en, natuurlik, niks sonder arbeid.

  11. Manie van der Spuy :

    Ek is dankbaar vir die voorreg om teenwoordig te kon wees by jou bundel se voorstelling in Eugenie se karaktervolle en pragtige huis in Stellenbosch. Ek is geen ekspert oor digkuns nie, maar ek glo hierdie is jou beste bundel tot dusver: soos goeie wyn word jy net beter met ouderdom! Moet dus nooit ophou nie en dig voort tot jy finaaal omkap – hopelik na nog ‘n paar dekades! Ek sien veral uit na die roman, wat ek graag wil lees voor ék omkap! Ek bewonder jou moed om die fisiese slagting van jou operasie met hoop tegemoet te kon gaan die dag na jou triomf met die bundel! Met al die geskiedenis wat ons deel, deel ons ook die feit on albei oorlewers van kanker is, ‘n boodskap van hoop wat ons kan uitgee aan al die kankerllyers van die wêreld! Ons vriendskap is vir my meer werd as goud en diamante!

  12. Evette Weyers :

    Wat ‘n besonderse onderhoud! Ook jou bekendstelling by Eugenie was geil aan verwondering, Melanie. Jy veras ons altyd. Sien uit na jou roman!

  13. Melanie Grobler :

    Baie dankie aan almal vir julle belangstelling!