Onderhoud met Breyten Breytenbach, kurator van Die Dansende Digtersfees

 

DANSENDE DIGTERSFEES, Spier Wynlandgoed 10 & 11 Mei 2013

Breyten, ten eerste van harte geluk met ’n uitsonderlike inisiatief … ’n Mens kan bykans nie meer wag om hierdie reuse van wêreldliteratuur op één verhoog en dit nog hier op ons voorstoep mee te kan maak nie. Daarom, by wyse van kontekstualisering, volg ’n paar vrae hieronder.

Ten eerste, die naam vir die fees: “Dancing in Other Words / Die Dansende Digtersfees”. Ietwat ongewone, dog inspirerende,  naam vir ’n poësiefees, is dit nie? Hoekom is daar spesifiek op dié naam vir die fees besluit? Brei sommer ook uit om die subteks van “saam-mekaar-andersmaak”?

Dankie, Louis. Die heel eerste opmerking moet egter wees dat hierdie inisiatief in die beste sin van die woord ʼn kollektiewe spanpoging is. Wat aangebied gaan word tydens die fees self sal die produk van ʼn proses wees wat uit verskillende bronne gevoed word, nog besig is om te gebeur, en verder as die saamkoms in Meimaand sal strek. Ek sal later meer daaroor sê.

ʼn Konsepdokument van Augustus 2012 het dit so gestel: “In wese beoog die Dansende Digtersfees om ʼn lewende ruimte van kreatiwiteit, interaksie en viering daar te stel – in die eerste instansie vir die deelnemende digters en die vertalers. Die beskutte omgewing, in fisieke en sosiale sin (die skulp van lig), en die feit dat daar gefokus gaan word op die digters en hulle onderlinge uitwisseling van ervarings en insigte, beteken dat ons die bestaansrede van poësie voorop kan stel – die omvormende en miskien selfs transgressiewe potensiaal, die verwantskap met die sakrale in die nastrewe van menswaardigheid en bevryding met die vermoëns en die voorbeelde van poësie as middel – en om aldus, al is dit ook net implisiet, die eeue-oue funksie as droom-aar in die gemeenskaplike liggaam gestand te doen. {-} M.a.w., dit gaan ʼn fees wees waar digters dans met woorde, tale,  vorms van uitdrukking, weergawes van hulle lewe, die geskiedenis van die land en sy mense, wind en klippe, en dit alles deel met die mense wat kom luister en kom deelneem. {-} Om die waarheid te sê, dit kan netsowel dancing in other worlds genoem word.”

Op die fees se webblad (en ook volgens die persverklaring) word die fees aangebied as ’n gesamentlike projek van Spier Wynlandgoed buite Stellenbosch en die Pirogue Kollektief (waarby jy betrokke is). Vertel ons ietsie meer van die Pirogue Kollektief en die projekte wat julle tot dusver geïnisieer het?

Die Pirogue Kollektief, heeltemal vrywillig, probeer uiting en rigting gee aan die kulturele mandaat van die Gorée Instituut: fasilitering van kunsskeppende inisiatiewe, bemiddeling van moontlikhede en vaardighede, vergestalting van ʼn eties-bewuste verbeelding, die erkenning van die maatskaplike rol en verantwoordelikheid van kulturele kreatiwiteit, dat ons die makers van ons eie bestaan en moontlikhede is – en ons doen dit, individueel en as groep met die moontlikhede, voorregte, ervaring en kennis tot ons beskikking aan die hand van werkwinkels, uitruil-samewerking d.m.v. ‘huise van skepping’ (residensies), publikasies, die bevordering van karavane… Soos die lewe self, gaan dit vir ons om prosesse van bewuswording, maar dan met die geskiedenis en behoeftes en moontlikhede van ʼn spesifieke topografie, Afrika, as ervaringsruimte – en teen ʼn agtergrond van verbruikersbarbarisme en politieke ontmagtiging.  

Dis belangrik om in gedagte te hou dat ons nie voorskriftelik te werk kan gaan nie en van geen doel of nut sal wees as ons nie die konneksies tussen drome en uitdrukkingsvorme en transformerende potensiaal en morele aanspreeklikheid kan identifiseer en artikuleer nie. Ons doen dit bv. in slypskole (soos die Taalifkat Tudunya, “skrywers van die wêreld”) op die eiland Gorée; opleiding in grafiese kuns beskikbaar gemaak in die Instituut se ateljee enig in sy soort in Wes-Afrika; die oprig van ʼn virtuele uitgewery (Island Position) absoluut verbind tot die bevordering van gehalte werk, erkenning van diversiteit en die uitlig van die konkrete vervlegting van estetika en die etiek; ons Imagine Africa publikasie (ons hoop om daarvan ʼn jaarboek te kan maak); ons verbintenis daartoe om in ʼn eerste siklus van 3 jaar 9 digters te publiseer in boekvorm, altyd met die oorspronklike taal naas die vertaalde teks, in ons Pirogue Poets reeks (die eerste, André Sahély se vertaling van Abdellatif Laâbi se gedigte is beskikbaar); besprekings wanneer en waar moontlik gekoppel aan die werk van ʼn belangrike digter soos Mahmoed Darwiesj (om hom nou maar as voorbeeld te noem) en dan veral die implikasies van sy lewe en sy werk soos afgewentel deur konsepte van vertaling, bv., waarby ek ʼn paar maande gelede tydens die Mail&Guardian Literêre Fees in Johannesburg betrokke was. Soos altyd is dit maar net die begin… 

Dat wynlandgoede, soos Spier byvoorbeeld, ook ’n beduidende rol wens te speel in die kulturele aktiwiteite van die gemeenskappe wat hulle bedien, vind ek bewonderingswaardig. Hoe het Spier by hierdie projek betrokke geraak?

Die Enthoven familie wie se kulturele inisiatiewe en bevordering van die kunste o.a. via Spier te gesien en ervaar kan word soos jy weet, is mense wat ook verbintenisse het met Gorée Instituut se doelstellings en geskiedenis, net soos hulle – diskreet, maar met hart en siel – betrokke is by allerlei ander kulturele en opvoedkundige en werkskeppende inisiatiewe en aktiwiteite, en nie net in Suid-Afrika nie. Daarby kom die oorweging (ek kan nie namens hulle praat nie maar glo dat hulle sal saamstem) dat wat jy nie bereid is om vir jouself te doen of self aan te pak nie, nie die moeite werd is om te loods nie.

Wat is op die spel? Dat skepping (die binnewerk van transformasie) altyd ʼn individuele projek is en daarom juis gemeenskaplik en sodoende miskien op die enigste aanvaarbare wyse ingebed en gewortel in ʼn gedeelde geskiedenis en geheue en verbeelding. Dat jy as enkeling gedagvaar deur die klippe en genagvaar voor wind en maan in daardie stukkende spieël van ons gedeelde mense-toestand moet kan kyk en die denkende riet herken, die aap raaksien, maar ook met ʼn mate van ordentlikheid rekenskap kan gee van jou rentmeesterskap teenoor die moontlikheid, ten minste, van transendensie. En dit binne die bestek van jou potensiaal.

Die Staat doen dit nie. Helaas. Selfs ander georganiseerde openbare instansies doen dit beswaarlik, al bestaan hulle ook slegs danksy die belastingbetaler se swaarverdiende geld. Spier, as uitdrukking en geleding van intelligente en omvormende betrokkenheid  vanuit die besigheidswêreld, of die wêreld van stigtings, doen dit wel. Dankie daarvoor.

Nog meer presies: die inisiatief vir hierdie spesifieke fees kom van Dominique Enthoven – as skryfster en as lid van die Pirogue Kollektief! – met volle en krities betrokke steun van die familie en haar medewerkers.  

Nog ’n interessante aspek van dié poësiefees is die vier “beskermengele” wat oor die fees uitgeroep is, te wete: Jalaluddin Rumi, Aimé Césaire, Cesaria Evora en Marthinus “Tao” Versfeld. Hoekom juis dié vier?

Elkeen van jou vrae vereis ‘n essay as antwoord!

Dis werklik belangrik om te weet dat hier geen versweë agendas op die spel is nie en ook geen ‘sleutels’ nodig om betekenisse of bedoelings te ontsluit nie. Binnekort sal dit alles – die besliste sleutelloosheid wat nié besluitloosheid impliseer nie! – duidelik gemaak word in die bekendmaking, juis, van ons “Dreaming Vein” waar elke beluit en alternatief en rede tot die besluit op die lappe gaan wees en geen doekies omgedraai gaan word nie.

Wat is ‘n huis tog sonder ‘n moeder? En ‘n tafel sonder brood vir die snoek? En ‘n singvertrek sonder engele en oermoeders en abbavaders? Hierdie vier (hulle kon netsowel tienduisend gewees het) is daar om ons te beskerm en te inspireer. Myns insiens het elkeen van hulle geweet hoe om met die lig en daarom met die donkertes om te gaan. (Ek neem volle verantwoordelikheid vir die ‘keuse’.)

Besonder treffend is ook die fees se lampliggedig “I wouldn’t want to die(Je voudrais pas crever) deur Boris Vian. Watter (moontlike) boodskap het dié vers, volgens jou, vir die fees wat op hande is?

Maar is so ʼn gedig – en daar is baie ander wat by mens opkom, en sommige sal ook opgeroep word – dan nie ʼn verwoording van al die dinge wat ons nog wil doen voor ons lepel in die teks steek nie? Elke gedig, waarskynlik soos elke digter ook, is generies en is allemansbesit en allervrouedroom, en tegelyk skrynend persoonlik en privaat en met groot opake stukke daarin. Miskien selfs vol oorbodige goed. Is dit dan nie hoekom ʼn gedig nooit doodgaan nie? Iewers in ʼn onderhoud sê Boris Vian dat hy ʼn lied in Portugees gekomponeer het omdat hy die taal nie ken nie en dit daarom so mooi vir hom is.

In die vroeë 1990s was jy ook as organiseerder betrokke by die jaarlikse “Africa Poetry South”-fees wat in Durban plaasgevind het. Is daar enige spreekwoordelike “lesse geleer” of ervarings wat jy uit jou betrokkenheid by dié fees oorgehewel het na die Dansende Digtersfees?

That there is no fool like an old fool en dat mens nooit te onbetrokke kan raak vir windmeulens-bestorm nie. Veral as jonger mense jou knol ʼn stewige klap op die boud gee. Meer tot die vraag se moontlike implikasie: dat minder meer is; dat digters genoeg tyd gegun moet word om hulself hoorbaar te maak, veral wanneer hulle van verre lande en oases kom.

Vervolgens, iets oor die program. Die elftal digters wat by dié fees betrokke is, is digter vir digter van die vernaamstes wat tans op die breë verhoog van die internasionale digkuns werksaam is. Hoe het jy besluit om juis dié uitgelese groep byeen te bring? En vergewe my asseblief indien dié vraag ietwat moedswillig voorkom, maar ek is tans besig om kort profiele oor elkeen van die digters voor te berei vir plasing op Versindaba en ek moet sê: Só ’n uiteenlopende groep digters het ek lanklaas op een program aangetref … Afgesien van die elemente van vervolging en “ontheemding” by die enkeles van hulle (jy, Tomaš Šalamun, Ko Un, Yang Lian en – tot ’n mate – David Shulman), vind ek bykans geen ander gemene deler buiten gehalte nie. Was dit die oogmerk?

Nee. Ek is seker mens sou veel meer uiteenlopendheid kon kry as dit die bedoeling was. In ʼn onlangse reaksie op iets wat Francis Galloway geskryf het, het ek op julle webwerf die ‘kriteria’ probeer uitstippel. Maar die antwoord is eintlik eenvoudig. (Soos Einstein glo gesê het moet jy alles wat ingewikkeld is so eenvoudig moontlik probeer maak, maar ook nie méér nie.) Ek hou van hierdie mense. Ek bewonder hulle werk. Hulle is gesout en hulle is die sout van die aarde. Hulle kan hul dop vat. Meeste is dwarstrekkers. Party, soos Hans van de Waarsenburg, dans ʼn riel wat jou kiewe sal laat kwyl. Ander, soos Joachim Sartorius, dra ʼn kennis van jarretelles se invloed op poësie wat ons nie beskore is nie. Ek beskou hulle as vriende en het met sommige van hulle saamgewerk of –geboer.

Maar vanselfsprekend kan mens onmiddellik aan ʼn duisend ander of meer dink wat eweseer genooi behoort te gewees het! En sommige mense is inderdaad genooi en kon tot hul spyt hierdie keer nie kom nie – John Berger, Michael Ondaatje, Akwasi Aidoo, Anne Carson, Yusef Kumanyaaka, Venus Khoury-Gata, Homero Aridjis… En van hierdies het hulle reeds verbind tot ʼn volgende keer.

Gehalte, ja, is die gemene deler. En relevansie. En persoonlike aanvoeling. Geen hiërargie. Geen politieke program. Geen ander oorweging – behalwe dat ons dit klein wil hou.

Ko Un. Hierdie Suid-Koreaanse digter was al verskeie kere as ’n gunsteling vir die Nobelprys vir Letterkunde genomineer. Trouens, volgens berigte was die media enkele jare gelede só oortuig van sy bekroning dat hulle letterlik op sy voorstoep kamp opgeslaan het in afwagting op die aankondiging … Wat ek wel op die internet raakgelees het, is dat sy optredes tydens feeste telkens uitgesonder word as ’n onvergeetlike  hoogtepunt. Wat is dit wat sy voordrag, volgens jou, so besonders maak?

Sy asemhaling. Die ritmes van sy frasering. Die wind wat deur sy strofes waai. Sy dans met sin van syn. Die feit dat hy jou so slim laat voel dat jy alles verstaan sonder dat jy ʼn woord Koreaans magtig is.

Ten slotte, twee meer persoonlike vrae. Die aanbied van ’n fees soos hierdie is inderdaad ’n geloofsdaad. Wat sal jou laat voel: “Ja, dít was wat ek gehoop het dit sal wees”?

Wanneer ʼn digter of ʼn saamdigtende luisteraar, selfs onder dié wat deelneem, sou omdraai en sê: “Ek het nie die vaagste verduideliking vir wat julle probeer doen nie, hoekom julle hierdie keuse gemaak het vir nou en op hierdie plek nie – en, by the way, was dit nou regtig nodig wanneer die poësie, soos almal weet, geen revolusie gaan veroorsaak en geen hond haaraf gaan maak nie? – maar ek het die gevoel hier hét iets beweeg al kan ek nie my vinger daarop lê nie.”

Met die onlangse publikasie van André P. Brink (as samesteller) se geblikte Groot Verseboek het hy dit beskryf as sy “liefdesverklaring” aan die Afrikaanse digkuns. Moet hierdie fees van dansende digters – en jou betrokkenheid daarby as ‘kurator’ – as iets soortgelyks gesien word?

Hier staan ek, ek kan nie anders nie, tot op die laaste kromme noot en weggooiwoord weggevrot van die niet en die verniet en die vernieting van poësie. En respek vir die digters, vir hulle wat met besete intelligensie totaal dwaas is, vir die dwaalvolk, vir hulle wat ʼn engel deur ʼn naald se oog kan trek asof dit ʼn alledaagse wonderwerk is. Afrikaans? Suid-Afrikaans? Afrika? Ons mense kan in die sterkste wind kers vashou, en sommer helder oordag ook. En ons mense verdien dit om blootgestel te word, hoe skrams dan ook, aan die vloeiende vuur van die digkuns in alle tale en deur die eeue heen. Hulle, julle, is reeds deel van daardie taal – die digtaal (los van watter landstaal dan ook) wat haar lê net so lekker in Afrikaans kry as in Mandaryns of Hebreeus. En presies op dieselfde manier verdien ons besoekers om kennis te maak met hulle familie hier te lande, met hulle wat so mooi sing dat ons die taal nie verstaan nie, en met onse klippe en wind en lig en seegeure.

Selfs met dit wat Boris Vian “l”écume des jours” genoem het.

Baie dankie, Breyten. As toegif plaas ek graag Boris Vian se aangrypende begeleidingsvers hieronder. Met ’n pertinente verwysing na die amptelike webblad en persverklaring vir meer inligting. A luta continua. Mag dit ’n Grote wees!

Hy sal, Louis – hy sal. So groot soos ʼn haikoe van Basho of ʼn boomvers van Hansjan. Dankie. Onthou, dis nie ék wat hierdie ding doen nie, en niks wat hier besluit of georganiseer is, is oorspronklik of eenmalig nie. Die sukses gaan afhang van hoé daar geluister word. Miskien van die besef dat hier baie verniet weggegee word. En dis daarom dat dit belangrik is.

***

I wouldn’t want to die

Before having known
The black mexican dogs
Who sleep without dreaming
The butt-naked monkeys
Gobbling up tropics
The silver spiders in
Webs riddled with bubbles
I wouldn’t want to die
Not knowing if the moon
Behind its fake nickel look
Has a sharper side
If the sun is cold
If the four seasons
Are really only four
Not having tried
To wear a dress
On the boulevards
Not having peeped
Through a sewer peephole
Not having put my dick
Inside weirdo corners
I wouldn’t want to end
Without experiencing leprosy
Or the seven diseases
One catches over there
Neither the good nor the bad
Would cause me some sorrow
If if if I knew that
I would get it firsthand
And there is also
Everything I know
Everything I like
That I know that I like
The green bottom of the sea
Where the seaweeds waltz
On the rippled sand
The burnt grass in June
The crackling earth
The smell of conifers
And the kisses of the one
She’s this and she’s that
The belle here she comes
My bearcub, Ursula
I wouldn’t want to die
Before having used up
Her mouth with my mouth
Her body with my hands
The rest with my eyes
I say no more one should
Remain polite
I wouldn’t want to fade
Without someone inventing
Eternal roses
The two hour day
The sea at the mountain
The mountain at the sea
The end of pain
Newspapers in color
All children happy
And so many other tricks
That sleep inside the brains
Of genius engineers
Of jovial gardeners
Of concerned socialists
Of urban urbanists
And of thoughtful thinkers
So many things to see
To see and to hear
So much time to wait
Searching in the dark
And me I see the end
It swarms and it comes closer
With its ugly face
And it opens its arms to me
Like a cripplety frog
I wouldn’t want to die
No sir no madam
Before having tested
The taste which torments me
The taste which is the strongest
I wouldn’t want to die
Before having tasted
The flavour of death…

© Boris Vian

 

 http://youtu.be/cg4h4ssZnnU

 

Bookmark and Share

9 Kommentare op “Onderhoud met Breyten Breytenbach, kurator van Die Dansende Digtersfees”

  1. Francis :

    Baie dankie Louis dat jy hierdie onderhoud met Breyten gevoer het. Die vrae getuig van nadink en -vorsing. Die antwoorde verskaf die konteks van die projek en eer die mense betrokke by die inisiatief. Dit is ‘n lusmaker en uitnodiging na die woord-dans. Hierdie fees staan met hoofletters in my dagboek geskryf.

    Francis

  2. Desmond :

    Breyten en Louis, ek hou van die titel, ‘Dansende Digtersfees’. Marx het van die kritiese teorie die volgende verwag: ‘We must force the frozen circumstances to dance by singing to them their own melody.’ Miskien kan die digters regkry wat die Marxiste nie kon regkry nie!

  3. Desmond :

    … en natuurlik, Nietzsche se dansende ster…

  4. Desmond :

    Om van Hendrik Susan se “Kliprivier Polka” nie eens te praat nie.

  5. Bittereinder se “Dinkdansmasjien”.

  6. Desmond :

    Marlise, Breyten: Die spanning (of dalk dialektiek) tussen noodsaak en nut waarna Breyten in die videogreep verwys is myns insiens een van die regtig belangrike kultuurhistoriese kwessies vandag. Ons leef in tye waar ‘nuttigheid’ verabsoluteer word; en waar niks meer op intrinsieke ‘noodsaaklikheid’ aanspraak kan maak nie. ‘Ultimate concerns’ is selfs uit die politieke diskoers verban; dit slaan nog net simptomaties uit in allerlei fundamentalismes en Hollywood se apokaliptiese verbeelding… Kyk na die fakulteite vir die humanoria aan ons universiteite: elke vak moet sy ‘nuttigheid’ kan bewys, terwyl kulturele, eksistensiele, psigiese ‘noodsaak’ gewoon nie op die balanstate figureer nie. ‘Poetry makes nothing happen’: ons het hier te make met ‘n nutteloosheid wat eintlik radikaal is, dalk juis omdat dit ruimte skep vir ervaring van en besinning oor die noodsaaklike. In hierdie opsig herinner die digkuns (juis in ‘n fisieke, ‘ritmiese’ sin, want dit is waar taal vandaan kom) ons ook aan ander (durf ek dit s^e: meer outentieke) kondisies van kommunikasie; aan ‘n verhouding met taal voordat ‘kommunikasie’ die naam geword het van die instrumentalisering van taal en menslike verhoudings.

  7. marlise :

    Dit lyk my hierdie wonderlike video van BB is verwyder. @JO PRINS: waarom is dit afgehaal of het die skakel verander!?
    @Desmond: “Poetry isn’t a profession, it’s a way of life. It’s an empty basket; you put your life into it and make something out of that.”
    Mary Oliver

  8. Desmond :
  9. Francis :

    Dankie vir hierdie skakel Desmond. Totale nutteloosheid // totale noodsaaklikheid. Hieraan kan mens vashou.