Onderhoud met Clinton V. du Plessis

 Clinton V. du Plessis in gesprek met Alfred Schaffer

RANGEER deur Clinton V. du Plessis

“Miskien skryf ek om te onthou”

 

Hallo Clinton, geluk met jou nuwe bundel Rangeer! ’n Digbundel wat amper lees soos ’n persoonlike Groot Verseboek – omvattend, uitputtend, veelkantig. Hoe kyk jy terug op jou eerste digbundels en gedigte, vanwaar jy nou staan? Verstaan jy nog die ou gedigte, sou jy daai jonger weergawe van jouself nog herken?

Rangeer is definitief anders. Eerstens is dit omvangryk, by die 140 bladsye, en die verse is veel langer as byvoorbeeld die van my vorige bundel, Flitse. Ek het met die skryf van Rangeer probeer teruggaan en –gryp na die dinge wat net onder die vel sit, onder die naels ingekruip het, soos ’n tabaksakkie albasters in die broeksak van die geheue bly klingel. Hierdie is ’n ode aan my pa, iets oor ’n leeftyd en –wyse waaroor ek nog nie voorheen so intensief geskryf het nie. Daar was nie die behoefte om enige grand statements te maak of die Afrikaanse poëtiese sneltrein te probeer ontspoor nie, ek wou net stories vertel via gedigte. As jy Rangeer langs ’n bundel soos, in god’s country: no 2-21, sou neersit, wel, dan sal dit bitter moeilik wees om die twee te vergelyk. Eersgenoemde straal, byna, berusting uit.

 

Jy bly op Cradock, en werk as ’n rekenmeester. Waar kom die poësie in? Lees jy baie poësie? Het jy baie kontakte met mede-digters? Hoe dikwels het jy tyd om gedigte te skryf?

 Jy ken die storie van dat daar net twee sekerhede in die lewe is, naamlik belasting en die dood. Om den brode werk ek met die eerste sekerheid, en via die poësie, probeer ek met die tweede stoei en vrede maak. Ek het weinig kontak met mede-digters (behalwe die af en toe Face-book interaksie of die nou en dan se fees), maar ek lees baie, het ’n omvangryke versameling bundels. Ek lees ook veral literêre artikels, verhandelings, blogs deur en oor digters en die digkuns, resensies, polemieke, ens. Met hierdie bundel het ek ’n paar gedigte gehad wat ek spesifiek vir my optrede by die Boekbedonnerd-fees op Richmond geskryf het, en na my optrede daar het ek begin werk aan ’n bundel en net eenvoudig die tyd gemaak om dit te klaar te skryf. Jy wag nie vir die muse nie, jy gaan net sit en skryf – doelgerig en dwingend.

 

Jy het Rangeer in eie beheer uitgegee. Ook in Nederland kies ’n uitstekende digter soos Martijn Benders vir uitgee in eie beheer. Hoe verskil dié uitgeeproses van uitgawes by ’n reguliere uitgewer? Het jy gewerk met ’n redakteur, of met iemand wat saam met jou lees?

 Ek is ’n rekenmeester, dus het ek my somme gaan maak en dit betaal om jou eie fondse in ’n publikasie te stoot, die risiko te neem en die groter wins in jou sak te steek. Met hierdie boek het ek ook die omslag ontwerp en jy staan dus veel nader aan die boek, is meer kreatief betrokke by die hele proses, maar jy moet ook pa staan vir die knaap bakore en -bene. Die tegnologiese veranderings het dit moontlik gemaak dat jy selfs kleiner oplae relatief koste-effektief en vinnig gedruk kan kry en ook weer regstellings in die daaropvolgende uitgawes kan maak. Jy moet egter steeds ’n goeie produk – waarde vir geld – aan die potensiële koper bied, en ek maak gebruik van die dienste van een van die land se voorste drukkers. Met sosiale netwerke kan jy jou eie bemarking doen, 90% van my voor-publikasieverkope het op hierdie manier geskied. Ongelukkig het ek nie die dienste van ’n redakteur nie en dit is ’n leemte waarna ek beslis moet kyk.

 

Eintlik bestaan Rangeer uit twee bundels; Rangeer, en gedigte, talk show hosts & reality shows, uit 2009. Wat was die besluit om dié bundel uit 2009 by jou nuwe een te voeg?

Die 2009-bundel het in pamfletformaat verskyn en daar was ’n weerstand uit sekere kringe om selfs net die bundel bekend te stel, wat nog te sê, probeer resenseer. ’n Boekeredakteur het ’n resensie-eksemplaar aangevra en ek het nooit weer van die heer gehoor nie. Maar ek wroeg nie meer oor sulke dinge nie. Ek het onlangs weer by bekendstellings en feeste begin lees en die mense het van die verse uit die bundel gehou en wou dit graag in die hande kry. Op ’n manier gee dit dan ook die leser wat vir die eerste keer met my werk te doen kry, insae in die tipe skryfwerk waarvoor ek bekend of dan miskien, berug geraak het.   

 

Voorin skryf jy: “Sommige van hierdie gedigte is verwerkings van rubrieke.” Hoe skryf ’n mens sulke gedigte?

Ek het voorheen al kort-kortverhale gepubliseer en ek wou net eksperimenteer om die dikwels ryk en oorvloedige gegewe van ’n rubriek af te slag totdat dit net in die geraamte van ’n gedig kon pas – die bloederige hart en derms behou. Jy gooi die hele tyd weg, maak die koffer ligter.

 

Jou gedigte se handelsmerk was nog altyd die ander kant van die blink en sorglose lewe – die van outcasts, dwelms, prostitusie, armoede, marginalisering. Waarin lê vir jou die poëtiese krag van dié soort onderwerpe?

Die eerlikheid en ook die manier om, ten spyte van die oorwig dinge wat teen jou tel, uit elke dag nog ’n stukkie bestaan te probeer kerf, dit is wat vir my kragtig is aan hierdie sy van die lewe. ’n Gedig, gebou op die wankelende rand van bestaan, staan my veel meer aan.

 

Jou gedigte lees heel maklik, soos praatverse. Hoe beluit jy op die vorm van ’n gedig, wat is die ambagtelike proses, voor ons as lesers jou gedigte te lese kry?

Ek het op ’n vorige vraag opgemerk dat ek hier “stories” wou vertel, in gesprek wou tree met ’n leefwyse en dit is net die vorm wat die gedigte spontaan aangeneem het.

 

Dit klink vir my asof Rangeer onder andere in gesprek tree met byvoorbeeld om te lewe is onnatuurlik, veral in die eerste afdeling. Daar is ook talle ander verwysings na literêre tekste en popliedjies. Is jy steeds “in gesprek” met ander digters, of is dit iets van die verlede? Wat beteken mense soos Bukowski of Springsteen nog vir jou?

Daar is nie ’n doelbewuste poging tot gesprekvoering nie, dit het maar weer net spontaan gebeur. Gedigte trek mekaar soos dye aan (as ek die beeld mag leen by Krog en De Lange), knoop onwillekeurig gesprekke aan. Ek vind nog steeds inspirasie uit Bukowski se rou eerlikheid oor die lewe, oor digters wat dink hulle kan met woorde of vroue wat dink hulle kan met liefde of seks die wêreld verander. Springsteen gee my hoop as daar weinig oor is om in te glo.

Smeul

Arm is soms net ’n gebrek aan oorvloed

niks minder, niks meer,

 

met elke spoorweghuis

kom die stoof, ’n Welcome Dover

swart, op vier pote, kom katstaan hy met

rug geboggel

die kaggel vol,

 

wyd was hy, met plek vir vier potte,

’n ketel vir koffie- en waswater,

’n oond vir bakbrood,

gemaak vir gesinne,

winters kon ons maklik vier-vyf

voor hom inskuif

op die lang bank,

 

dit was voor televisie

ek kon fabels in die vlamme lees

sien hoe die kole rooi gloei

om later tot as dood te bloei

soms het ek só gebrand om

weg en uit te kom,

 

baie kere was daar net brood

en moerkoffie, gebakte kerrie-uie, of brood

met uitgebraaide skaapvet

maar altyd-altyd was daar iets, al was dit net-net,

 

eendag het ma die grammofoon verkoop

met die hele hoop

plate waarna ek so graag geluister het,

 

dit het my hart gebreek,

fyn, soos antrasiet,

ek het maande lank daaroor getreur

eers ’n leeftyd later het ek dit verstaan:

 

hulle móés net oorleef,

soos daardie vasberade vuur, in die kaggel

elke uitputtende dag,

 

aanhou brand,

aanhou smeul,

vir ons.

 

Jou bundel lees soos ’n persoonlike reis wat die leser saam met die digter beleef, van sy jeug tot en met die hede. Daar is ’n interessante mengsel van nostalgie en ontnugtering in gedigte soos ‘Vrypas’, ‘Smeul’ of ‘Harlekyn’, waar dit lyk asof daar ’n soort van verlange is na die ou dae, hoewel dit glad nie ideaal was nie. Is daar inderdaad so ’n verlange na die verlede, en is daar na jou mening sprake van ambivalensie in die gedigte ten opsigte van wat was?

Soos ek ook voor in die bundel vermeld is hierdie boek opgedra aan my pa, wat in 1996 oorlede is. Ek was onlangs by die Boekbedonnerd-fees in Richmond. ’n Groot deel van die feesgangers was mense van gevorderde leeftyd en hulle het later kom vertel hulle hou van die trant van die gedigte. Ek het gewonder hoe beleef ouer mense die veranderinge waaroor hulle weinig of geen beheer het nie, wat hulle nie kan verstaan, nie kan verwerk nie. Hulle soek na iets wat bekend is, bakens, spore of stasies. As jy kyk na ’n gedig soos, ‘Gewaarwordings’ sal jy egter sien dat daar ook op ’n nugtere, skeptiese wyse met die verlede omgegaan word – die skep van “bloeiende helde” uit die era, (die boksers en die rugbyspelers) totdat die Kerkstraatbom ons dwing om te vra, “wat wen jy deur te bloei.” Dit is dus nie net ’n blote romantisering van die verlede nie, maar ’n her-interpretasie van ’n skynbaar onskuldige era, ’n kortstondige seisoen in die paradys van die sluipende slang.

 

Jou gedigte lees deels soos outobiografiese verse. Is dit moeilik om die privaatheid oop te skryf, of voel jy eintlik nie jy stel jouself heeltemal bloot nie?

Die skrywer/digter is ’n hoer: en as jy goed is kan jy gereeld jou bene en soms jou oë oopmaak, sonder dat jy jou hart of jou siel ooit oop hoef te maak. Dit was soms moeilik om oor sommige dinge te skryf wat ek liewer net sou wou laat gaan het. Soos die gedig oor die boek, Die Groen Ghoen (sien hier), maar dit is klein gebeure soos daardie wat enersyds my afsku laat groei in die mens se vermoë om selfs ’n kind te benadeel in die naam van ’n stelsel , maar ook andersyds my geloof versterk in die goeie, in die enkeling wat teen die stelsel gaan en “nee” sê.

 

In die afdeling ‘Haltes’ word daar reële en mentale plekke besoek. ’n Reële plek is byvoorbeeld Amsterdam, in die gelyknamige gedig. In hierdie, maar ook in ander gedigte, lyk dit asof daar, ondanks die ellende in Suid-Afrika, nie ’n verlange is na ontsnapping, na ’n ander land – ook Nederland is nie die hemel op aarde nie: “’n hotel op die plein, / laat my in – die naam, Atlanta: / die kamer klein, / kompak, donker en prakties / nes die res van die land: / alles georganiseerd; / té georganiseerd, / “lekker wippen” in die classifieds: / legitieme graffiti walls”. Ontnugtering word so die subteks deur die héle bundel. Stem jy saam?

Jy lees dit heeltemal korrek. Daar is nie ’n “paradys” iewers op ’n ander plek nie. Op die agterkant van die poskaart van Kaapstad se magiese Tafelberg is die netjies uitgeblokte hel van Mannenberg, daar tik die tydbom, word die drome van die digters en die kinders verkrag, lê: “die blasoen van ’n verbryselde, haarlose poes” waarvan Wilma Stockenström skryf.

In die slotreëls van ‘Durban’ skryf jy: “skryf word die ongewapende weerstand / die woord, ’n onopsigtelike motorbom.” Wat dryf jou skrywe? Woede, angs? En is poësie werklik subversief, of net ’n edele hobby?

Ek luister juis verlede week na Billy Joel se ‘Prelude/Angry young man’: “He refuses to bend, he refuses to crawl / He’s always at home with his back to the wall / And he’s proud of his scars and the battles he’s lost / And he struggles and bleeds as he hangs on the cross / And he likes to be known as the angry young man.”

Jare gelede was dit woede, ek dink ek het dit ontgroei, ons almal ontgroei die woede op ’n stadium. Angs? Ek was nooit bang nie. Miskien skryf ek om te onthou. Poësie wou nog altyd subversief wees, teen die grein draai, maar soms is dit tog die man wat die motorbom aktiveer wat die bebloede boodskap tuisbring waar dit hoort?

 

In watter mate is die reël “ek, die minor poet met geen major literary ambitions” uit ‘Aan die gatkant van die maan’ ironies?

Ek het werklik die punt bereik waar ek moeg is om te baklei: teen of vir Afrikaans, ek skryf, kry my werk by die mense wat dit wil hê, en te hel met die res.

 

’n Gedig soos ‘Aan die gatkant van die maan’, maar ook gedigte soos ‘Die rewolusie begin op die plase’ en ‘Nuwe alfabet’ klink asof dit uitstekend kan werk op die verhoog. Skryf jy jou poësie met die oog op die publiek, of het jy ’n sekere ‘ideale leser’ in gedagte?

Ek en ’n vriend het nogal gegrap dat van die gedigte kan werk met musiek en as rap, maar dit is nie my scene nie, ek geniet dit nie om in die openbaar op te tree nie. Ja, hierdie bundel is geskryf met ’n bepaalde leserspubliek in gedagte.

 

In die afdeling ‘Kruisings’ is daar, soos in van jou vroeëre werk, ’n groter fokus op die meer bekende ‘Du Plessis tema’s’: die donker kant van die mens – die hoere, die dwelms. Voel dit vir jou of daar nog nuwe paaie is om te ontdek binne hierdie tematiek?

Natuurlik, dit gee jou altyd ’n blik op hoe mense probeer ontsnap: die wat te veel het asook die wat te min het.

 

Drie gelykenisse

 

1)

Betlehem was moontlik so vol

soos Jeffreys in seisoen,

met Koos Kombuis by Potter’s Place

en Billabong branders wat skuimkuif maak.

 

2)

Die verkeer was moontlik chaoties

die sterre het roekeloos die hemel

vol gespoed, soos minibus taxi’s.

 

3)

God is ’n drywer met ’n swaar liksens

ry met ’n Oshkosh en leunwa deur die melkweg

op Oukersaand trek Hy af by ’n stal – die kneg

word weerloos, mens.

 

Kyk mens na ’n gedig soos ‘Drie gelykenisse’ of ‘Blanco, 2012, ’n besoek’ met die reëls “teen die berge sit die laaste / oorblyfsels soos skeerroom / aan die vergeetagtige snor van ’n Alzheimer-gesig”, val die beeldende kwaliteite van jou gedigte op. Soek jy bewustelik na vergelykings, of kom dit amper vanself, tydens die skryf van die gedigte?

Nee, ek soek nie bewustelik na vergelykings nie. Hierdie bundel het my net gejaag, elke oggend het die gedigte by my kom aanmeld, moes ek skryf.  

 

In jou gedigte neem jy dikwels standpunt in op politiek gebied en op maatskaplike vlak, soos byvoorbeeld in “Room with a view”, wat my laat dink het aan reëls van die Nederlandse digter Menno Wigman, in “Kamer 421”:

 

Mijn moeder gaat kapot. Ze heeft een hok,
nog net geen kist, waar ze haar stoel bepist
en steeds dezelfde dag uitzit. Uitzicht
op bomen heeft ze, in die bomen vogels
en geen daarvan die zijn verwekker kent.

 

Ik ben al bijna veertig jaar haar zoon
en zoek haar op en weet niet wie ik groet.
Ze heeft me voorgelezen, ingestopt.
Ze wankelt, hapert, stokt. Ze gaat kapot.

 

[…]

 

Jou reëls klink amper sinies: “ons sal kom kuier ma, elke week, ma / en as ma twyfel, wel, lui net die klokkie, / jammer, maar ons móét nou gaan / en, ja ons sal die kat laat uitsit, ma. / en die meenthuis weer op die mark sit”. Is die digter in jou oë ’n kritikus van die samelewing, ’n kommentator? Dit lyk asof jy min hoop sien, min opregte liefde of empatie onder die medemens.

Die digter kyk deur ’n teleskoop na die samelewing, hy weet, soos Leonard Cohen:  “everybody knows that the boat is leaking/everybody knows that the captain lied.”

Die moderne mens het hom losgemaak van al sy fabels, hy het niks meer om in/aan te glo nie, niks wat hom (in die woorde van Kerkorrel) “meer kan fassineer” nie. Ons skep kits-sterre wat soos verskietende sterre weer aarde toe plons, ons jaag soveel fokkol, met soveel ywer na. Verbruik, verbruik mense, alles het ‘n “best before date.” Ons beleef die era van interaktiewe afstandelike medemenslikheid – “Jou medemens is dood,” het die Buckfever Underground immers verkondig.

 

In die afdeling ‘Seinwagter’ is daar verskeie gedigte wat die belang van poësie verdedig, gedigte waaruit ’n groot vertroue in die krag van die poëtiese taal spreek. As ek ‘Defence of Poetry’ lees, is daar uiteenlopende negatiewe kwalifikasies vir mense wat nie belangstel in poësie nie: “dan is jy ’n onafgewerkte halwe mens / wat bloot bestaan vir die behoefte van die pens”; “dan is jy ’n lewende lyk / ’n kitsch-model van plastiek met ’n weggooipruik”; “dan is jy net ’n pompende massa bloed / en spier”; “dan is jy maar net nog ’n vraatsige vark by die trog”. En so verder. Die gedig voer die ‘belang’ so ver deur, dat mens wonder of hier nie ook ironie ter sprake is nie. Watter rol sien jy nog vir die poësie, as ons weet dat wêreldwyd al hoe minder mense werklik belangstel in gedigte lees?

Inderdaad is dit ironies, die poësie is op die sylyn gerangeer. Dit is maar net hoe dit is, maar daar is tog nog ’n handvol besetenes wat glo in hierdie medium en op Facebook is daar verskillende blaaie waar mense ywerig lees en publiseer. Die werke is van wisselende gehalte, maar ten minste is daar aktiwiteit. Van die voorste Afrikaanse digters het ook maar in die little magazines begin en destyds is daar ook op hulle neergekyk, so miskien kom hier nog iets uit hierdie stortvloed. 

   

Twee nagte in Stellenbosch

 (na sheryl crow se liedjie, the book)

 

ek het gaan gedigte lees op stellenbosch

met die room van die afrikaanse kulturatti

die bruin basterbroer

het deur die skreef kom inloer

almal was daar,

elke digter met ’n bundel, sommige met

’n stapel onder die arm

jonk & vonkelend

ander oud en

met stotter

& onvaste stem agter mikrofoon

met te min of te veel testosteroon

soos bysiende lesers het ons

verby mekaar gewurm

ons wat hoer met die woord

ons wat lê kry by lettergreep

& vers maak met dieselfde passie soos diere.

ek het ’n kamer gedeel met ’n groot bekroonde digter

& besluit om liewer nie ’n gedig daaroor te skrywe nie.

 

Met verwysing na ‘Twee nagte in Stellenbosch’ en ‘Die Taal’: wat is tans jou (poëtikale) verhouding met Afrikaans, en die Afrikaanse establishment? Hoe skryf jy in ’n taal wat vir jou so problematies is?

Dit is ’n problematiese verhouding. ’n Haat-liefde verhouding met Afrikaans, want ek is in my diepste wese Afrikaans. Maar ek het nooit enige erg gehad aan die hegemoniese hekwagters, die belese bysiendes, die selfvoldane sinjaalbeamptes nie. Ek het met my skryfwerk in Afrikaans eerstehands marginalisering beleef, maar soms moet jy daar op die rand staan, ’n middelvinger wys en nie ’n dooie duit omgee nie, want jy het nie jou siel verkoop nie.

 

Baie dankie vir jou antwoorde, Clinton, en ek hoop jou bundel vind sy bestemming na baie lesers!

Alfred, dankie vir die geleentheid om met jou te kon gesprek voer. Die blik van buite is altyd ’n ruimer blik.

 

Gesinskring

 

Pa ploeter met ses Shoprite-sakke

kort-asem bebliksemd die straat oor

sussie skarrel opgewonde voor

met die kersboom met Chinese plastiektakke,

 

boetie agter, sleepvoettraag met iets taai en koud

aan sy mond en vingers en hare,

mammie blaas met die waatlemoen

sy dra, ses maande se swangerswaar.

 

  

Die taal

 (vir ampie coetzee, na ingrid jonker se, die kind)

 

die taal is nog nie dood nie

die taal draai sy gekneusde gesig na sy moeder

afrikaans skreeu skreeu die kleur

vol van verwyt & verbittering

in die taalrepubliek van die gekoesterde tong

 

die taal draai sy gekneusde gesig na sy vader

dra die sonde van die geslagte

afrikaans skreeu skreeu die kleur

van ongeregtigheid & suiwer bloed

in die kerkhowe van die stommes sterf die klank

 

die taal is nog nie dood nie

nog by magersfontein nog by kammieskroon

nog by pella nog by kakamas

nog by die konstitutionele hof

waar hy lê met ’n strop aan die nek

 

die taal is die murg in die bene

maar die taal is ook tenger & weerloos

die taal is uitgesluit by al die vergaderings & wetgewings

die taal staan buite, kyk deur die tralies van die land in die oë

van die moeders

die taal wat net wou soepel lê in die mond van ’n mens is

nêrens,

roggel, weifel, vergeefs…

 

die taal wat ’n boom wou word met baie wortels, wat wou tak

en blaar oor afrika

die taal wat ’n beitel wou word, kan nie meer reis nie

sterf, met sy meulsteen, sonder ’n paspoort,

sonder ’n land.

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Onderhoud met Clinton V. du Plessis”

  1. Joan Hambidge :

    ‘n Goeie onderhoud en die gedig “Smeul” ruk aan die hart. Geluk aan die digter!

  2. Clinton V du Plessis :

    Joan, dankie vir die waarderende lees.