Resensie: Bleek Planeet (Dolf van Niekerk)

Bleek Planeet – Dolf van Niekerk (Protea Boekhuis. PRYS: R140; ISBN: 978-1-86919-921-0, Sagteband; 60pp)

Resensent:  Heilna du Plooy

 

Omslag

Hoewel Dolf van Niekerk waarskynlik meer bekend is as romanskrywer, is Bleek planeet sy vyfde digbundel. Trouens, die jongste drie publikasies van hierdie skrywer wat reeds as Sestiger bekendheid verwerf het, is aldrie digbundels. Dolf van Niekerk is dus een van daardie besondere groep skrywers in Afrikaans wat ‘n hele lewe lank skryf: hy het oor nie minder nie as 55 jaar produktief gebly, dit wil sê, sedert die publikasie van Gannavlei in 1958.

Van Niekerk is ‘n sensitiewe en fynsinnige skrywer, gevoelig vir stemmings en ingestel op die emosionele en psigologiese ervarings van die mens. Hierdie eienskappe kom weer na vore in Bleek Planeet, waarin daar onder meer gefokus word op die stand van die aarde waarop ons woon, maar dan vanuit ‘n empatieke belewenis van die planeet se dilemma.

 Die bundel open met ‘n aanhaling van ‘n uitspraak van Václav Havel:

Without a global revolution in the sphere of human consciousness , nothing will change for the better in die sphere of our being as humans, and the catastrophe towards which the world is headed – be it ecological, social, demographic or a general breakdown of civilization – will be unavoidable.

 In die eerste gedig word die aarde dan ook inderdaad beskryf as ‘n “museumstuk in die ruim” (p.11). Die herfstoneel waarin die geel herfsblare val  in ‘n “najaarsbieg”,  lei die gedagtes na die wyer toneel waarin die blare wegdwarrel in die wind oor “oorverhitte landskappe”, waarin woude “verskrompel” onder suurreën en hierdie “seisoen van stilte” wys heen na die verslegtende stand van die aarde. In die volgende gedig word die gedagte verder gevoer en gesuggereer dat al die “berade met akronieme en Kioto” nie die ramp sal kan afweer nie. Hierdie gedagtegang word in pragtige metaforiese taal beskryf – “Antarktika word misrook/  in die ingewande/  van verspuwende berge” (p. 12) – wat ‘n besondere aanvoeling vir die poëtiese verwoording van stellings met selfs ‘n wetenskaplike en logiese onderbou vertoon.

Die lamentasie oor die teloorgang van die aarde en die versugting na ‘n nuwe begin word uitgewerk in ‘n klein siklus van drie gedigte “Nuwe  seisoen” (p. 13-15). Die drie gedigte begin telkens met die eerste reël van die eerste drie strofes van Dylan Thomas se gedig “The force that through the green fuse drives the flower…”. Die eerste gedig gaan dan oor ‘n verwarring van seisoene en hoe alles uiteindelik terugkeer tot “alge en swamme ” soos aan die begin. Die tweede gedig  onder die motto “The force that drives the water through the rocks…” handel oor waterryke plekke wat droog geword het en droë streke wat versuip in te veel water. Die laaste gedig onder die motto “The hand the whirls the water in the pool…” verwoord die versugting na ‘n wonderwerk om die aarde te herstel:

Ander hande beroer

die hart van die planeet

en oë loer tersluiks in die ruim

na ander woonplek as hy

uiteindelik voos en seer

nie vraag en aanbod

kan balanseer.

 

Dit is vir my interessant hoe hierdie motief van die behoefte aan ‘n nuwe begin telkens in die onlangse Afrikaanse literatuur opduik. Horrelpoot van Eben Venter eindig met ‘n beskrywing van ‘n leë landskap waaruit die mens verdwyn het. In Daniel Hugo se jongste bundel (Hanekraai) kom dieselfde gedagte voor in verskeie gedigte maar eksplisiet in die gedig “Weg” waar die vernietiging van die aarde deur die mens se vernielingsdrif lei tot ‘n nuwe leegheid met waterpoele waarin niks weerspieël word nie. Dieselfde behoefte aan ‘n nuwe begin kan ingelees word in die slot van Alexander Strachan se Dwaalpoort en so kan daar sekerlik meer voorbeelde gevind word in die kontemporêre Afrikaanse literatuur maar ook in die wêreldliteratuur.  Die vernietiging van die aarde se hulpbronne deur die mens se sug na ontwikkeling en ekonomiese en politieke heerskappy en mag in welke vorm ookal, lei klaarblyklik tot ‘n byna apokaliptiese behoefte aan vernuwing wat in hierdie tekste na vore kom. Hierdie verskynsel vra eintlik om meer deeglike navorsing.

Wat Van Niekerk se hantering van hierdie tematiek kenmerk, is die liriese verwoording daarvan en ook die religieuse perspektief. Die sterrewag by Sutherland word so beskryf (p. 19):

 

met spieël en lens en rekenaar

die melkweg buig

tot wiggelstok

en elke nag

die helder donker in

soek na die oog van God

  

Verskillende fasette van dieselfde tematiek word ontgin in gedigte soos “El niño” (p. 16), “Garob” (p. 24). “Oikonomos” (p. 28) en “Osoon” (p.30). Hierdie gedeelte van die bundel sluit af met ‘n reeks gedigte, die lament van die hoofman See-at-hl oor die verlies aan sy bekende stuk aarde nadat hy deur die Amerikaanse president in 1854 aangesê is om sy mense in ‘n reservaat te hervestig. See-at-hl was ‘n Christen en hy verwyt die Amerikaner in terme van hulle gedeelde geloof as hy die stelling maak dat onnatuurlike ingryping van magtiges die natuurlike balanse versteur en daarin setel die dood (p. 40):

 

Elke wond wat ek nou slaan,

al die pyn wat ek die aarde ly

sal eendag in my lyf kom staan –

dat ek te laat sal weet: die aarde

is nie van my nie, maar ek is van sy stof.

 

Hy eindig die lament met die aanklag:

 

Groot witte, Hy maak los en Hy maak vas,

Hy vra jou na die edelhout

en soek die arend en die hagedas.

Groot Witte, kan jy Hom hoor?

Dood is die aarde en dood is jou oor.

 

Hoewel die bundel nie in definitiewe afdelings ingedeel is nie, word groepe gedigte wel telkens deur ‘n wit bladsy geskei. Die laaste twee dele van die bundel bevat meer eksplisiet religieuse gedigte wat sterk meditatief en besinnend van aard is. Veral die gedigte wat werk met die metaforiek van gebrandskilderde glas is baie mooi. Die kleurrykheid van hierdie vensters , die “vensters in die brein” laat die digter anders sien (p. 45):

 

In puntige skakerings

van blou en rooi

die buitelyne van ‘n stralekrans

of doringkroon.

 

Beeld en musiek en mistieke aanvoeling word in hierdie gedigte vervleg sonder om swewend te raak. Die digter verwonder hom oor hoe daar in die “Missa solemnis” (p. 50) die “note met grense op papier/ deur instrument en stem perkloos/ na die brein en hart en elke vesel/ transformeer”.  Die laaste aantal gedigte is ook uiters sensitiewe en liriese verse oor aspekte van menslikheid; hoe die wit skoelapper wat in hom vasvlieg die digter bewus maak van die saambestaan van blydskap en verdriet, van “groei en blom en sterf” (p. 53). Die gedig “Mastos” handel oor die vroeggestorwe moeder, ‘n figuur wat telkens in Van Niekerk se oeuvre terugkeer, en die “onwetende groet” van die kind wat agterbly. Mastos is die Griekse woord vir die vroulike bors en die woord dui dan ook onder meer ‘n antieke Griekse drinkbeker in die vorm van ‘n vroulike bors aan. In die gedig wat die kernbeeld van moederlikheid as titel neem, is die gedagte van die kind wat “skop na lig en vryheid” maar nie weet “van bande verlange en die pyn van afskeid” in die onwetende groet nie, hier so ontroerend soos elders in Van Niekerk se sketse en in die gedigte in Nag op ‘n kaal plein (2006) .

 Hierdie bundel bevat pragtige gedigte en stem mens tot nadenke, maar altyd steeds in poëtiese vorm. Van Niekerk se poësie is beleë en ryp en lê soos ou wyn sag op die oor en die oog en die tong.

 

Resensie geborg deur

 

Bookmark and Share

Comments are closed.