Resensie: Kom in, dit vries daar buite (Alfred Schaffer)

Alfred Schaffer. Kom in, dit vries daar buite. Uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo (Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-912-8. Sagteband, 106bladsye. R150)

Resensent: Zandra Bezuidenhout

  

Omslag

Alfred Schaffer is ‘n produktiewe en veelbekroonde Nederlandse digter wat tans in Suid-Afrika woon. Dit is vir ‘n digter van die jonger geslag ‘n prestasie dat daar binne die relatief kort tyd van 13 jaar ‘n keur uit sy vyf bundels saamgestel is, en ‘n bonus dat dit deur Daniel Hugo se vertalings vergesel word.

Schaffer se verse is vanselfsprekend in ‘n eietydse idioom en styl geskryf, en lyk geensins soos die Nederlandse verse van Kloos, Gorter, Achterberg en selfs Nijhoff wat ‘n ouer geslag op skool of universiteit so bekoor het nie. Wat nie beteken dat Schaffer se werk nie ook ‘n bekoring van sy eie het nie; inteendeel, dit is boeiende verse met ‘n vars aanslag wat jou onverwags tref en aan die dink sit. ‘n Tergende raaiselagtigheid maak die meeste gedigte meer ingewikkeld en spannend as die werk van De Coninck, Kopland en andere wat ook oor die afgelope jare deur Hugo vertaal is. Tipies van die moderne poësie, word daar inhoudelik nie soveel uitgespel soos die gebruik vroeër was nie. Schaffer werk eerder met suggestie. Die emosie word onder die oppervlak gehou en die versaanbod is subtiel, soms selfs afstandelik; sy werk is dus “onderkoeld”, soos die Nederlanders dit noem. Ten spyte van die oorwegend vaste strofebou, sluit die werk in toonaard aan by die verhalende geselstrant wat in die hedendaagse poësie so gewild is.

Die versameling bevat ook meer toeganklike gedigte (25),waarvan een in sy vertaalde vorm aangehaal word:

 Die situasie teen sluitingstyd

In die vlak deel van die swembad blaas ‘n man

klein wolkies in die aandlug.

‘n Paar meter verder omhels ‘n seun en meisie mekaar

vir die eerste keer – hulle skuur saggies met hul onderlywe,

 

hulle wil dans in ‘n nagklub, liefs tot die volgende oggend,

onder water na mekaar toe swem

en mekaar vasgryp soos wat hulle dit eenkeer in ‘n film gesien het.

Of waai en roep na die intens starende man

 

wat lyk of hy hom skielik bedink en maak of hy

versigtig uit die swembad klim noudat die trappelende bene

van die twee verliefdes allerlei vorms begin aanneem

in die voortdurend bewegende water.

Dit is nie altyd ewe maklik om vas te pen waaroor die gedigte presies gaan nie, omdat verbande dikwels ontbreek. Hierdeur gee Schaffer egter aan die leser die geleentheid om self betekenis te “maak”. Dis nou maar eenmaal hoe die eietydse hoofstroom-poësie werk, soos dit tewens met alle eietydse kunsvorme gesteld is. Geen vooraanstaande kunstenaar kan dit bekostig om staties te bly en in verouderde vorms vas te steek nie; en die leser wat werklik in poësie belangstel, sal daarmee tred hou.

Die oorwegende kenmerk van die gedigte is dat flarde van situasies en belewenisse op ‘n innoverende en onverwagse wyse in taal herskep word. Die digter konfronteer jou met omstandighede en verskuilde gemoedstoestande wat daarmee saamval, soos dié van samesyn en intimiteit (11, 25); of situasies van onmin (23) of verwarring (79). ‘n Bewussynstoestand word intens ervaar en, paradoksaal genoeg, met ‘n soort verwronge sekuurheid verwoord, onder meer deur die oomblik uit te rek en die gedig met ‘n reeks losstaande gegewens en gewaarwordinge te laai. “Vakansiemusiek” (17) met sy “uitruilbare beelde” is een so ‘n voorbeeld. Soms word die essensie van die gedig as ‘n nagedagte in die slotposisie geplaas, soos in “Wat hy besit, is waardevol” (27) met sy losstaande eindreël: “As sy sou omkyk, het sy hom nodig.” – veel bondiger as die Nederlands wat lui: “Zij heeft hem nodig als zij achterom zou kijken.” Deur die gesuspendeerde aard van die voorstellings gee die verse hul spreekwoordelike geheim nie maklik prys nie. Maar die leser wat ingestel is op assosiasies, suggestie, ironie en absurditeite kom algaande agter waarop die digter mik. Dit doen Schaffer gedissiplineerd en kundig, want die versbeweging stuur af op ‘n netjiese slot.

Vormgewys probeer hierdie digter nie in die tradisionele sin “mooi” of “poëties” skryf nie; hy soek eerder na ander vorms van poëtiese skoonheid, soos om woord en beeld op ‘n ongewone manier in te span of onverwante sake naas mekaar te stel, sodat sy leser onverhoeds in situasies gedompel word. Tog gaan dit om dinge wat ons almal een of ander tyd teëkom, maar deur die vernuf van die digter in eiesoortige omstandighede en taal aangebied en ingebed word. Op ‘n vervreemdende wyse systap Schaffer die digterlike clichés van minderes in sy vak. Ondanks, of dalk danksy sy ongewone skryfstyl, lei hy sy lesers om die vervlegte, durende, en soms verwarrende oomblikke van hul eie lewensloop te herken.

Die digter toon ‘n voorliefde vir uitgebreide of onwaarskynlike gedigtitels, soos “Oor die hele oppervlakte ‘n veld, dit is tyd om huis toe te gaan” (71). Dikwels word so ‘n titel teenoor ‘n alledaagse episode gestel om uiteenlopende sake te versoen en nuwe betekenisse te genereer. Dit is ‘n berekende werkwyse waardeur die digter ook ‘n ironiese afstand van sy stof verkry, en die indruk skep dat die spreker homself nie al te ernstig opneem nie. Dieselfde geld vir die bundel se titel, want Kom in, dit vries daarbuite nooi die leser met ‘n knipoog om saam met hom in sy gedigte te kom skuil, weg van ‘n banale buitewêreld wat per definisie as ongenaakbaar en onherbergsaam ervaar word. As mens die bundel goed lees en herlees, word die verhouding tussen ‘n gedigtitel en –inhoud duideliker, en op plekke vanselfsprekend. Dit kan as ‘n hebbelikheid van hierdie digter beskou word dat hy die leser opsetlik onkant vang, waardeur meer vertolkingsmoontlikhede oopgelaat word (moontlik ook vir die spreker self), en dit sodoende die impak van die gedig versterk. Een voorbeeld is “Die parallelle heelal” (31) waar die digter ‘n frase uit die natuurwetenskaplike jargon as ‘n metafoor gebruik. Op ‘n absurdistiese wyse word hierdie natuurgegewe ‘n versinnebeelding van ‘n dubbele lewe wat in normale omstandighede gelei word.

Die eerste strofe van die bogenoemde gedig kom op jou af soos Superman self:

 

In daardie tyd het Superman bekend gestaan as uiters vriendelik.

Aan die ontbyttafel het hy beleefd gegroet,

as gevra word, die suiker aangegee

en die asemrowende panorama geniet.

Hy het ou musiek gespeel as hy besluite neem

en daarna sy ma gebel.

Dieselfde idee van rolspel en die ervaring van ‘n buite- teenoor ‘n private binnewêreld, kom voor in die daaropvolgende gedig “Die leerling”, met sy enigmatiese slot:

 

Tot dusver is hy die enigste een wat dit op ‘n groot verhoog

kan waag om voorwerpe te gebruik wat net hy kan sien.

Schaffer se werk is lakoniek en gedug. Hy veins ‘n sekere opgewektheid en daag die leser uit om saam met hom losstaande oomblikke en landskappe van die gees te betree waar niks behoorlik sluit nie. Sy gedigte werk soos onduidelike fotobeelde of geknakte rigtingwysers. Die konstruksie van die verse is eiesoortig, maar weldeurdag, met geen woord te veel nie. Dit is die moeite werd om, soos die digter, te bespiegel oor die waarde van die gewoonste dinge soos die “toeklap van ‘n motordeur” (37), of ‘n beeld soos “[d]ie water kolk in sy liggaam” (39) wat na ‘n angssituasie verwys; of jou eie voorstelling te maak van ‘n man wat “…die meisie uiteindelik soen, sy oë toe,/ in haar pa se verlate kruidenierswinkel.” (41) In die digter se eie woorde klink die laasgenoemde frase so: “…en hij het meisje eindelijk zoent, zijn ogen gesloten,/ in de verlaten kruidenierszaak van haar vader.”

Die slotstrofe van “Land so ver as wat die oog kan sien” (43) is sprekend van die soort vrae wat die bundel by implikasie stel:

 

Moet iets gebeur? Of is dit al verby, die vinger op die sneller,

die spiralende rook – dit kon ek nie gedoen het nie, dink jy nog, dit

kon ek nie gedoen het nie. Al dié agterdog oor niks, geknie

uit die soort stof waarvan in ‘n verre verlede drome gemaak is.

Wat die vertalings betref, mis sommige van die versreëls vir my die ingeboude ritmiek van Schaffer se taal, wat te verstane is omdat Nederlandse woorde en sinne ten opsigte van die lettergrepe en sinstruktuur verskil van die Afrikaans. Tog sou mens meer moontlikhede kon oorweeg en klein verstellings kon aanbring om die vertalings vlotter en vloeiender te maak. In die digkuns gaan dit ook om die effek op die oor, wat deel vorm van die leser se totale belewenis van die teks. Waar die vertaler voorkeur gee aan die Afrikaanse vorm van ‘n Nederlandse woord, word die tipiese Afrikaanse segswyse nie altyd voldoende benut nie. Soms laat dit die vertaling te plegtig en formeel klink, of heeltemal vreemd, soos in die geval van “flaneer” (9) wat in die Afrikaans behoue bly, maar maklik met “drentel” vertaal sou kon word. Daar is talle gevalle waar so ‘n woord of sinsnede in albei tale nommerpas is – maar selfs hieroor is vertalers (en kritiese lesers) dit nie altyd eens nie.

As lesers self probeer om die Nederlands te vertaal, en ter wille van die spel hul eie pogings met Hugo se weergawe op die bladsy langsaan vergelyk, sal hulle gou ontdek hoe wyd óf skraal die moontlikhede in sekere gevalle is. Enige woord wat naasteby dieselfde betekenis dra, is nie goed genoeg nie. Bowendien moet die vertaler, afgesien van die inhoud, ook die styl, ritmiek, klankwaardes, beeldspraak en strukturering van die oorspronklike teks in ag neem. Die woordkeuses moet bowendien die instelling en moontlike woordspelings uitdruk wat die digter met groot sorg in die bronteks ingebou het. Miskien wil dapper lesers dit waag om te oordeel of “uitgekleed en doorgelicht” in Afrikaans die mas opkom as “kaal en ge-X-straal” (44/45).

Daar word doelbewus stilgestaan by die vertalingsaspek om te bevestig dat Hugo, in die geheel gesien, krediet moet kry vir die slim skuiwe waardeur hy die Nederlandse poësie Afrikaans laat praat. En Nicol Stassen van Proteaboekhuis en sy redakteur, Martjie Bosman, verdien lof vir hierdie inisiatief waardeur ‘n familiegesprek tussen verwante tale voortgesit word.

Ek sou die bundel vir fynproewersmaak aanbeveel; insluitende vir diegene wat in vertaling belangstel en ook hul kennis van die hedendaagse Nederlandse digkuns wil uitbrei. Maar die waarde van Schaffer se werk lê in die eiesoortige visie, tegniek en tematiek waaruit hy poësie maak. ‘n Beentjie om aan te kluif, voorwaar.

 

 

 Resensie geborg deur :

 

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Resensie: Kom in, dit vries daar buite (Alfred Schaffer)”

  1. charl-pierre naude :

    Ek vind hierdie resensie beligtend in bepaalde opsigte. Ek dink dit kan lesers beslis bystaan in die avontuur van ontsluiting van/ saamloop met,’n Nederlandse digter uiteindelik beskikbaar in Afrikaans.

  2. Zandra, dit is die insiggewendste stuk wat ek al oor Alfred Schaffer se digkuns gelees het. Jammer dit het nie as ‘n inleiding by die bundel verskyn nie!

  3. Zandra Bezuidenhout :

    Dankie Charl-Pierre en Daniel vir jul opmerkings oor die resensie van Schaffer se bundel.
    Zandra