Karen Kuhn. Kaváfis – In Vreemde Tale.

Die Griekse digter C.P. Cavafy (Konstantínos Pétrou Kaváfis) is op 29 April 1863 in Alexandrië, Egipte gebore. Hy het 154 gedigte gepubliseer en nog heelwat verse onvoltooid gelaat. Na sy pa se dood het die jong Kaváfis saam met sy ma en broers van 1872 – 1877 in Londen en Liverpool gewoon. Buiten vir ’n kort periode ook in Konstantinopel, spandeer die digter die res van sy lewe in Alexandrië. Daar werk hy eers as joernalis en later as ’n klerk en besoek Griekeland slegs vier afsonderlike kere.  Kaváfis sterf op 29 April 1933 en teen die tyd was sy poësie sowel in Griekeland as in die res van die wêreld al bekend en het ook vir heelwat kontroversie gesorg.

Aanvanklik ontvang Kaváfis min erkenning weens sy unieke styl wat verskil het van die hoofstroom Griekse digkuns.  Eers teen 1919 begin ’n nuwe generasie nihilistiese digters soos Karyotakis inspirasie in Kaváfis se werke vind. Hy was instrumenteel in die herlewing van Griekse digkuns. Sy gedigte getuig van intieme vertellings van ware of letterkundige figure en die milieu waarin dit in Griekse kultuur afgespeel het.  Onsekerheid oor die toekoms, sensuele plesier, die morele karakter en psige van die indiwidu, homoseksualiteit en ’n fatalistiese eksistensiële nostalgie is van die tematiek. Die gedig: “Waiting for the Barbarians” (1904) is van sy bekendste werke.

Die Departement van Moderne Griekse Tale en Letterkunde aan die Universiteit Adam Mickiewicz in Poznań, Pole vier hierdie jaar Kaváfis se 150 jaar bestaan. Die vrystelling van die gebeurtenis het plaasgevind op 21 Maart 2013 – ‘Wêreld Poësie Dag’. Die tema van die geleentheid: “In a foreign language our sorrow and love fade away” en het begin met ’n lesing deur die Poolse skrywer en vertaler van Kaváfis se digkuns; Antoni Libera.

Hy het ook van sy vertalings in Pools voorgelees waarna Kaváfis se digkuns deur meer as 16 ander tale gelees is. Onder andere: Grieks, Frans, Kroaties, Bulgaars, Spaans en ook Afrikaans.

Veertig gedigte is sonder onderbreking voorgelees en het eindelik soos een lang universele gedig in verskillende tale, maar met dieselfde ritme en gevoel voorgekom.

Na my kollega: Mathilda Smit en ek met Paschalis Eythymiou en Christos Bintoudis (wat ook verantwoordelik was vir die organisering) ontmoet het en van verskeie Engelse vertalings gewerk het, is die volgende twee Kaváfis verse in Afrikaans aangebied:

Hul Ontstaan

 

Die vervulling van hul vreemde genot

is volbring. Hul staan op van die matras

en trek aan, gejaagd, stil.

Een-een verlaat hul die huis, skaam; en

soos hul ietwat skugter padlangs stap, blyk dit

hul vermoed iets van hulself verraai

die vreemde lakens waartussen hul vroeër was.

 

Maar hoe is  die digter se lewe nie verryk.

Môre, oormôre, of jare daarna die gloeiende

strofes gepenetreer met net hier hul onstaan.

 

(Vertaling: Mathilda Smit)

Lyf, Onthou

 

Lyf, onthou nie net hoe lief daar vir jou was

nie net die lakens waarop jy gelê het nie,

maar ook daardie begeertes wat

nakend vir jou in oë geglim het,

en in die stem gebewe het – en sekere

onvoorsiene hindernisse wat hul frustreer het.

Nou dat dit alles aan die verlede behoort

lyk dit of jy jouself ook oorgegee het

aan daardie begeertes – al glimmend,

onthou, in die oë wat jou ontklee het,

hoe het hul nie gebewe in die stem vir jou, onthou, lyf!

 

(Vertaling: Karen Kuhn)

 

Foto’s: Mirela Šavrljuga

Bookmark and Share

Comments are closed.