Marlies Taljard: Die skryfproses: “skryfode” van Antjie Krog

Skryf oor die skryfproses is in die huidige postmoderne tydsgewrig algemeen onder skrywers. Tog bly dit steeds fassinerend hoe skrywers hierdie proses beleef en watter metafore hulle aanwend om oor skryf te skryf. In die volgende paar blogs wil ek Antjie Krog se gedig skryfode (Krog, 2000:66) onder die vergrootglas plaas – ‘n gedig waarin interessante en insiggewende fasette van die skryfproses na vore kom.

Die bundel Kleur kom nooit alleen nie (2000) laat die primêre fokus val op versoening en op die heelwordproses na ‘n tydperk van trauma. Die vrou was in dié opset nog altyd die versoener, die trooster, die persoon wat die wonde heel. Grimshaw, (986:215) omskryf versorging en omgee (“caring”) as die identiteitseienskap om jouself in die situasie van die ander in te leef en teenoor die ander op te tree soos die situasie dit vereis. Eiebelang word dikwels in die proses van versorging en “caring” opsy geskuif. Sy beskou die vrou, vanweë haar unieke lewenservaring en aktiwiteite wat met die mikrokosmos van die huishouding te make het, as meer geskik vir die taak van versorging (“caring”) as die man (Grimshaw, 1986:224). “Care-giving”-handelinge kan ook ruimte skep vir die bevraagtekening van sekere ander prioriteite wat binne sosiale konteks voorrang bo versorging geniet:

In particular, they may provide space for questioning the split between a ‘public’ world whose concerns or constraints tend to exclude the personal, and a ‘private’ world of care for others whose constraints and concerns are not suppose [sic] to impinge on the ‘public’ realm (Grimshaw, 1986:224-225).

Soos hierbo genoem, is een van die hooftemas van die bundel Kleur kom nooit alleen nie “die herstel van die integriteit van beseerde weefsel” (Krog, 2000: motto) of dan die heel van wonde deur versoening te bewerkstellig. Een van die sterkste instrumente waardeur die spreker in die bundel versoening probeer bewerkstellig, is deur die ondermyning en bevraagtekening van handelinge wat in die openbare ruimte geskied, ‘n ruimte wat in die meeste gevalle die toneel is van geweld, konfrontasie en vervreemding. Dekonstruksie van dié ruimtes geskied deur die problematisering van die grense waarbinne sekere handelinge volgens voorafbepaalde kodes “mag” plaasvind al dan nie. Ten einde self los te kom van soortgelyke beperkende denksisteme, onttrek die spreker haar (in die gedig skryfode) aan die openbare ruimte en gaan “ondergronds”.

skryfode (‘n Fragment)

Writing is a fraught activity for everyone, of course, male or female, but women writers seem to have to take stronger measures, make more peculiar psychic arrangements, than men …

Janet Malcolm: The silent woman

 

om te kan skryf moet ek myself binne kom

deur my te buite te gaan

 

ek verlaat die daglig

die sleur van gefabriseerde stemme

en gaan ondergronds

 

ek reis soos ‘n gedagte

 

dis stil hier

en volkome afgesluit

veilig    privaat

ek tas die wande af

ek gryp in die ongegronde donker grondelings rond

om my stem te vind

om die geluid van die gedig te hoor

die reël wat sag oopspat van êrens

 

en die skryf, die neerskryf, vind plaas in selfgeveg

 

(bogronds

wag die man wat ek liefhet

Sondae stap hy teen Leeukop

as die laatmiddaglig sloep teen die klip

die ruimte wat nie is nie

is nié, sê hy)

 

dit problematiseer die neerskryf

en ek baklei met myself tot die dood toe (66)

 

Die gebruik van twee binêre opposisies aan die begin van die gedig, naamlik “binne” teenoor “buite” en “daglig” teenoor “ondergronds”, asook die verklaring dat die skrywende ek haar “te buite” moet gaan om te kan skryf, suggereer ‘n ekstreme handeling. Op ‘n tweede vlak van betekenis kan die “te buite gaan” egter ook letterlik gelees word, naamlik dat daar ‘n afstandelikheid moet kom, ‘n losmaak van die persoonlike en vertroude “daglig”-handelinge. Die spreker moet  haar doelbewus afsluit van voorafbepaalde aannames wat gedragskonvensies binne ‘n samelewing reël – die “gefabriseerde stemme” – alvorens sy kan begin skryf. Die woorde “kom” en “gaan” aan die reëleindes roep die uitdrukking “kom en gaan” op en dui op verwisseling van ruimte. Viljoen (2005:18) wys daarop dat liminale karakters soms gekenmerk word deur hulle beweging tussen verskillende ruimtes. Die voorneme van die digteres ten aanvang van die gedig laat dus reeds die hele teoretiese web van grensoorskryding en skryf in die liminale ruimte tril.

Die konsep van liminaliteit is geskep deur die antropoloog Arnold van Gennep in sy boek Rites du Passage (1908) om die prosesse rondom inisiasierites te beskryf. Liminale persone is derhalwe persone wat die grens oorsteek. Wanneer die grens oorgesteek is, verkeer so ‘n persoon meestal in ‘n soort marginale of tussen-ruimte. Op tekstuele vlak impliseer marginaliteit ‘n binêre sisteem wat geleë is tussen twee grense of diskoerse, in teenstelling tot liminaliteit  wat ‘n oop en plurale sisteem is wat gegenereer word “between two or more discourses, a transition area between two or more universes which thereby shares in two or more poetics” (Aguirre et al.,2000:11-31). Gilead (1986:183) beskou die liminale sone as ‘n gebied waarin universele waardes geld en van waar af kritiek op struktuur-gebonde gedrag en norme uitgespreek kan word (sien ook Viljoen, 2005:4).

Turner (1969:95) verwys na persone wat in liminale ruimtes leef en werk as “liminal personae“. Dit is, in antropologiese terme, mense wat uit die struktuur van die samelewing uitbeweeg na ‘n anti-strukturele, nie-hiërargiese sisteem wat hy communitas noem (Viljoen, 2005:3). Hierdie “liminal personae” is mense wat deur die klassifikasienetwerk glip van bestaande kulturele sisteme. Dit is, aldus Gilead (1986:183) persone wat dikwels oor transformerende krag beskik en ‘n belangrike invloed op die gemeenskap kan uitoefen. Soos reeds gesê, word hierdie figure dikwels gekenmerk deur ‘n gedurige beweging tussen verskillende ruimtes – in skryfode die beweeg van die sprekende ek tussen die “bogrondse” en die “ondergrondse” ruimte. Turner (1969:133) merk ook op dat “liminal personae” dikwels optree in tye van radikale sosiale oorgange. Volgens Turner (1969:106-130) is dit dikwels kunstenaars en profete wat hulle tot dié ruimtes wend en wat poog om communitas-tipe verhoudinge met hulle medemense aan te knoop.

Wanneer die spreker in skryfode haar dan voorneem om “ondergronds” te gaan, is dit ‘n verklaring dat sy die ruimte binnegaan wat tradisioneel aan die kunste en veral aan die poësie toegedig word. Bachelard (1964:23) plaas die poësie byvoorbeeld direk in die domein van die kelder. Wilshire  wys daarop dat Persephone, die godin van die dood, die onderwêreld bewoon het wat vir haar aanbidders ‘n plek van heling en wedergeboorte was – die skoot waaruit lewe ontstaan (Wilshire,1989:103). Ook Estés wys op die noodsaak van ‘n psigiese ruimte waarin die vrou haar kan terugtrek. Sy beskryf dié ruimte as ‘n ruimte waarin visioene kan voorkom, insigte kan ontstaan en skatte ontdek kan word wat die vrou se psige kan voed wanneer sy terugkeer na die “bogrondse” ruimte. Dit is volgens haar ‘n ruimte waarin oor die toekoms besin kan word en waar nagedink kan word oor psigiese letsels, waar dié letsels opgedoen is en hoe dit geheel kan word. Ook sy eien die “onderwêreld” as die ruimte van kreatiewe energie en skeppingskrag (Estés, 2003:344-346). Viljoen beskryf die liminale sone as ‘n sone wat gekenmerk word deur spontaneïteit, maar ook as ‘n ruimte van metamorfose en heling waarin kontakte en gesprekke tussen twee verskillende sisteme of partye kan voorkom. Hy sien dit as ‘n sone wat tradisioneel deur die kunste opgeëis word omdat kuns kan floreer in ruimtes wat effens verborge is van die openbare oog. Die krag van spel, sang en dans kom hier tot sy volle reg (Viljoen, 1998:14-18).

Bronne

AGUIRRE, Manuel. 2004. Austin’s Cat, and Other Observations Towards a Theory of Thresholds. In: Bredendick, Nancy. 2004. Mapping the Threshold: Essays in Liminal Analysis. Madrid: The Gateway Press.

BACHELARD, Gaston, 1964: The Poetics of Space. Boston: Beacon Press

ESTÉS, Clarissa Pinkola, 2003: Die Wolfsfrau: Die Kraft der weiblichen Urinstinkte. Aus dem Amerikanischen übertragen von Mascha Rabben (Titel der Originalausgabe: Women who run with Wolves). München: Wilhelm Heyne Verlag.

GILEAD, Sarah. 1986. Liminality, anti-liminality, and the Victorian novel. ELH 53(1):183-197.

GRIMSHAW, Jean. 1986. Feminist Philosophers: Women’s perspectives on philosophical traditions. London:Harvester Wheatsheaf.

KROG, Antjie. 2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.

TURNER, Victor W. 1969. The ritual process. Structure and anti-structure. London: Routledge & Kegan Paul.

VILJOEN, Hein, 1998: Marginalia on Marginality. Alternation 5:2.

VILJOEN, Louise. 2005. ‘n ‘Tussen-in boek’: Enkele gedagtes oor liminaliteit in Breytenbach se Woordwerk. Stilet XVII:2 (Junie 2005). p.1-25.

WILSHIRE, Donna.  1989.  The uses of Myth, Image, and the Female Body in Re-visioning Knowledge.  In: Jaggar, Alison M. & Bordo, Susan R. 1989.  Gender/Body/Knowledge: Feminist reconstructions of being and knowing. New Brunswick: Rutgers University Press.

 

Bookmark and Share

12 Kommentare op “Marlies Taljard: Die skryfproses: “skryfode” van Antjie Krog”

  1. Evette Weyers :

    Marlies , ek is verheug dat jy hierdie gedig gekies het. Sedert ek die bundel gekoop het, ‘n paar jaar gelede, is hierdie ‘n lieflingsgedig vir my. Die agtergrond en mitiese eggoes is interesant. Maar dit is die gedig self wat meesterlik beweeg deur die bogrondse en ondergrondse, met stukke gedigte self ingeweef wat organies uit die ondergrond goei maar ook analities herkenbaar kan wees bogronds.
    Aan die einde van die gedig het mens ‘n lang en veelvlakkige reis onderneem met die digter deur Afrika en deur die wispelturige lewe saam met ‘n geliefde. Dit het vir my ‘n diepe bevrediging gegee en . Ek voel eindeloos verryk en uitgelate na die lees van die gedig. Dit is aansteeklik. Ek het my man ook geinspireer om ‘n deel daarvan op Vers en Klank voor te lees, wat hy gedoen het.
    Baie dankie
    (O, ja. Ek het jou stuk oor Pythadoras ook baie geniet!; Die saamdans van wiskunde en die mistiese. My laat dink aan Lewis Carol ( op ‘n meer speelse trant) wie as wiskundige die absurde wëreld van “Alice in Wonderland” kon skep waar ons heerlik bollemakiesie slaan deur baie onwiskundige ruimtes.
    Alice laughed. “There’s no use trying”, she said; “one can’t believe impossible things.”
    “I daresay you haven’t had much practice”, said the Queen. “When I was your age, I always did it for half an hour a day. Why, sometimes I have believed as many as six impossible things before breakfast.”
    .

  2. Marlies Taljard :

    Evette, “skryfode” is my lieflingsgedig in Antjie se oeuvre. Dit is so ‘n intieme vervlegting van teorie en lyflikheid, van sensoriese belewing en kognitiewe prosesse, van werklikheid en sprokie, mite en mistiek. Ek kan my indink hoe jy dit in beelde sou uitdruk. (So jammer ek het jou uitstalling by die Woordfees gemis – hoop jy het my e-pos gekry). Ek sou sê dit wat jy hier oor Pythagoras en Lewis Carol sê, is ook tot ‘n mate op “skryfode” van toepassing.

  3. Evette Weyers :

    Jy beskryf die gedig so kolskoot, in die hart en siel daarvan! Ek wil meer lees, soos jy reeds beloof het.
    Dis altyd ‘n lekker skatkis om ‘n nuwe blog van jou oop te maak.

    Wat die dans tussen die mistiese en die wetenskap betref,het jy The Tao of Physics van Frietjoff Kapra gelees? Quantum fisika en die mistiese dans saam.
    Ek het nie ‘n vonkpos van jou gekry nie. Ek weet self hoe besig lewens is en om alles te balanseer is soms net te gejaagd.

  4. Ek het ook “The turning point” van Fridjof Capra gelees – net so ‘n interessante boek. “The Tao of Physics” illustreer natuurlik ten beste die ingewikkelde en verstommende dans tussen mistieke begrippe en die fisika. Ek dink natuurlik nog steeds dat Wiskunde ‘n vorm van poësie is en dat ‘n goeie gedig meer as oppervlakkige raakpunte met die Wiskunde het. Lyk my iewers in die kuberruim gaan ons vonkposse verlore – ek stuur dit na die adres waarvandaan jou kommentare kom … al ‘n paar gestuur. Dalk iewers in die swart gate van ons onkunde verlore geraak.

  5. Leon Retief :

    Die oorgroote meerderheid fisici beskou Capra se potsierlike mengsel van (meestal) Oosterse filosofiee en kwantumfisika as, wel, potsierlik, en heel tereg ook. Kwantumteorie het beslis baie eienaardige begrippe maar daar is geen mistiek aan verbonde nie, dit is een van die mees suksesvolle teoriee wat die fisika nog geskep het en elke en iedere voorspelling wat hierdie teorie nog gemaak het is korrek bewys – en korrekte voorspellings is een van die belangrikste maatstawwe van ‘n natuurwetenskaplike teorie. Daar is baie, sommer baie, beter skrywers oor hierdie onderwerp, oa Victor Stenger en my persoonlike gunstelinge, Richard Feynman en Steven Weinberg.

  6. Marlies Taljard :

    Dankie Leon! Ek gaan beslis die twee skrywers lees. Vir ons wat hier aan die ander uiterste van die kampus klasgee (ons Lettere fakulteit en die Natuurwetenskappe is aan twee uiterste punte van die kampus)is rigtings soos die kwantumfisika wel fassinerend, maar ons werk nie elke dag daarmee nie en is daarom nie altyd op datum met wat verskyn nie. Groete.

  7. Leon Retief :

    Marlies, ek is seker dat jul bib iets deur Feynman sal he.

  8. Marlies Taljard :

    Dankie, Leon – ek het meer as 30 titels van Feynman gevind en gaan dadelik begin lees!

  9. Leon Retief :

    @Marlies: ek is altyd nuuskierig om te weet wat mense dink van skrywers wat ek aanbeveel het, ek hoor graag jou opinie oor Feynman en dalk ook Weinberg indien jy sy skryfsels dalk ook in die hande gekry het.

  10. Marlies Taljard :

    @Leon. Ek moet erken dat ek Cappra se werke meer as ‘n dekade gelede laas gelees het en intussen baie ander insigte bygekry het. Ek het wel gekyk na die skrywers wat jy aanbeveel het en elke een op sy eie manier fassinerend gevind. Tog moes ek nou eers weer gaan kyk en vinnig gaan oplees om jou vraag te beantwoord. Van Victor Stenger het ek “God the failed hypothesis” gelees waarin hy gebruik maak van die metode van hipotese toetsing. Ek was beïndruk met sy logika en die groot aantal voorbeelde wat hy ter stawing aanvoer – baie daarvan bokant my vuurmaakplek, want hoewel ek belangstel in fisika, het ek laas in my matriekjaar self daarmee gewerk. Vir my as geskoolde letterkundige was dit ʼn toets in selfbeheersing om die werk klaar te lees. Weinberg het my meer beïndruk met sy toeganklike styl en in agneming van ʼn wyer akademiese veld, veral wanneer hy skryf oor die ontwerp van die heelal. Wat my betref hou ek die meeste van Richard Feynman se benadering. Sy entoesiasme en sy kennis van ander vakgebiede buiten die fisika het my nogal beïndruk, asook sy oop ingesteldheid. Daar is wel baie van sy insigte waarmee ek tot ʼn mate kan identifiseer. Hoewel, soos ek gesê het, my belangstelling intussen verander het en my leeswerk (wanner ek tyd kry) ʼn heeltemal ander rigting inslaan.

  11. Leon Retief :

    @Marlies: ja weet jy, Stenger kan soms bietjie monomanies raak, maar desnieteenstaande het hy goeie argumente. Weinberg en Feynman is uitstekende skrywers – kyk, ek is nie iemand wat “helde” het nie, maar sou ek wel he dan sou daardie twee van my “helde” wees. Jy kan gerus ook Murray Gell-Mann se “The Quark and the Jaguar” in die hande kry – ‘n boek wat nie sonder rede kritiek ontvang het nie maar darem. Gell-Mann het die bestaan van kwarke voorspel en hy is/was getroud met ‘n professor in Engelse letterkunde. Ek seg met opset is/was want hy is al in sy 80’s en ek weet nie of sy vrou nog leef nie. Sy kennis van letterkunde skyn deur in die boek. Uitstekende leesstof! Dis jammer dat jy min kans het om nog na fisika te kyk, dit fassineer my net soos molekulere biologie en biochemie – ek was eens op ‘n tyd ‘n biochemikus. Ek wens dat daar meer raakpunte was tussen letterkundiges en natuurwetenskaplikes.

  12. Marlies Taljard :

    @Leon: Ek sal beslis Gell-Mann se werk gaan opsoek, veral as hy ‘n aanvoeling het vir die letterkunde. My indruk is dat baie natuurwetenskaplikes die letterkunde kan waardeer en veral musiek – daar moet tog iewers ‘n raakpunt wees, dalk in die logiese, skoon denke wat die vakgebiede in gemeen het … ek weet nie! Ek was met ‘n natuurwetenskaplike getroud en ons kon ure na mekaar luister. Dalk is dit waarom ek my liefde vir die fisika behou het. Ek dink die basis van alle soeke na waarheid is om by die kern van ‘n saak uit te kom, en dit is waarskynlik waarom die kwantumfisika (en die biochemie) ons so bly fassineer. Dalk moet letterkundiges en natuurwetenskaplikes meer met mekaar begin praat – ‘n literêr-natuurwetenskaplike kongres sou ‘n beginpunt kon wees …