Louis Jansen van Vuuren. An(ge)nam(e)nese

 

Laaste

 

Dit is nog die laaste ding

wat ek kan doen:

 

om my hande

om my pa se nek te slaan

 

Erato se laaste woorde:

moenie my los nie, Pa

ek raak los

ek verdwyn

die duisternis daal oor my oë

ek gly af

af

tot in die Dood

 

hou my

hou my vas

                           

Vrye vertaling van die Griekse digteres Anyte se gedig ”Erato” 300 vC.  Mykonos, Julie 2000. (Riana Scheepers. Met die taal van karmosyn. Human & Rousseau. 2001)

 

 

In Plato se epistemologie en sielkundige teorie gebruik hy die woord Anamneses vir die begrip dat die mens kennis van vorige inkarnasies in hom herberg – dat intellektuele en geestelike ontvouing afhanklik is van die herontdekking van die kennis wat in ons verborge is.

[G.  ana + mimnesko  herinner].

Hierdie terugroeping of herroeping van herinneringe weerkaats ’n eskader woorde boontoe wat soos bakens die weg na binne aandui. Betrag en bepeins die volgende:

herdenking

geheue

besinning

nagedagtenis

reminissensie

verbinding

soewenier

onthou

terugflits

aandenking

memento

’n Onlangse tentoonstelling van my werk by die Breytenbach Sentrum in Wellington dra die titel Anamnese. Dis ’n terugblik na plek en mens –  waarvandaan ek kom. Hoekom?  Met soveel oorgawe en betrokkenheid?

Vermoedelik omdat die finale fase van ’n lewe aanbreek met die optrek van die konsertgordyn. Die verhoog warm gespeel van die vier voorafgaande bedrywe. Les acte finale.  Laaste bedryf. Hopelik langdurig  en vol kreatiewe knope totdat die in die voorste gestoeltes op hulle horlosies begin kyk en klam gape begin onderdruk. Daar word ’n paar hoofrolle uitgedeel met ’n magdom figurante wat koorsig in die kollig kwispel.

 

Openingtoespraak. Marilyn Martin.16 Februarie 2013. Breytenbach Sentrum, Wellington.

Hier en daar verras ʼn kleurmoment (die selfportret, ʼn voëltjie, ʼn kompas, ʼn pienk waterpistooltjie) of die weelderige tekstuur van damask, maar oor die algemeen is Louis se palet in hierdie werke/verwerkings beperk. Sodoende behou hy die essensie van die oorspronklike swart-en-wit foto’s en die gevoel van vergange se dae, van verganklikheid. Dinge skuil en is verskuil in en agter die verf- en tekenmerke, in die grys en donker en stilte – spoke of drome van die verlede – bekend en onbekend – opgeroep, ervaar en moontlik ter ruste gelê. Katarsis ook.

Of openbaring. Die opvallendste kontras is tussen die groengrys van sy voorouers en die welige rooi en goud van die gordyn in Charles Garnier se operahuis in Parys wat die formaat in die helfte sny. Die gordyn kan sak op die verlede en die herinneringe of dit kan oopgaan om ander dinge te onthul, miskien selfs die andersoortige kennis waarvan Plato geredeneer en geskryf het.

 

Vir hierdie blog word gedigte wat raak aan herroeping en herinnering betrag – waar die bewus-word-oomblikke van ʼn naderende finale, die breekbaarheid van been en bloed, gevoel word.

 

die maan en die haan

 

in die vroemôre wanneer jy opstaan

om weer skuiling te soek in die beneweling van die liggaam

wanneer dit nóg nagversaak nóg dagraad is

maar ’n afwagting

en die wind haar onttrek het aan bome

en jy weet van visse wat in die skemer waterruimtes hang

soos die balling wat hom verbeel hy hoor vryheidsliedere

wanneer die maan weggeraak het

wanneer die eerste haan die einde van die wêreld

aan die orde van die dag probeer bring

in ’n taal waarvan die keel afgesny is

 

in die vroemôre wanneer jy opstaan

tussen sterwe en vergeet

           bly jou skaduwee in die bed lê:

die nog lewende huid donker soos

wyn se afskynsel in die donker glas

diep soos afskeid neem van bloed

en vir ’n oomblik wéét jy dat jy die grens oortree het

draai om om oor die afwerping te ween

al die versinkende gedaantes een vir een

daarmee heen

al sedert die vertelverval van tye

 

later vandag sal jy die vel probeer verkoop

as droombevlekte laken

jou deur hierskrywe weer laat lei en verlei

tot verblyding in ’n tyding van getye

wat uit die hand moet loop

 

en onthou: die omskrywing van die onkenbare

wat jy nie lê kan maak nie

 

hierdie wurms in papier

 

 

  Breyten Breytenbach. katalekte. Human & Rousseau. 2012

 

  

 

Economics

 

My father at the sink

like his father before him

softening two flints

of soap, then squeezing

the yellow into the pink.

                             

Jacob Polley. The Brink. Picador. 2003

 

 

 

History

 

Here’s what lasts:

the buckles and pins,

 

the arrowheads

but not the shafts

 

piss-pots, urns and epitaphs,

false teeth; graffiti.

 

                Jacob Polley. Little Gods. Picador. 2006

 

 

Skelet

 

1

Al hoe dowwer minder word

tot niks van glans aan my behoort

ek afgevel tot nugter net

’n wit uitdagend laaste woord.

 

11

Net waan

dat ons skelette van betekenis

met spraak en letter soet uitvlees,

die laaste argument is been?

       

 

Sheila Cussons. die asem wat ekstase is. Tafelberg, 2000

  

 

Tyd

 

elke jaar is die beenstruktuur

’n aks meer sekuur afgeteken

in die vorm van jou hande,

jou gelaat, elke lyn van jou figuur

 

al dunner gaan die tyd ons puur,

die raakvlak in, tot ragfyn vel

tussen die leegte en verlede,

tussen begeerte en vertel

 

                         Heilna Du Plooy. In die landskap ingelyf. Protea, 2003

 

 

 

 ’n Subtitel vir my tentoonstelling is: Die huis van Daniël. My lewe is deur Daniëls beset. Grootvader, Oupa, Pa en oudste broer. Hulle was altyd effens befoeterd. Ek kon my dié kwaaigeit nogal aantrek. Van toé af al aantreklik. Daar was min wat my  so intens kon kantel – behalwe die Augustuswind en die plaashuis. Huis van Daniël. Die donker plek het my klam en huilerig gestem – die kleure, klanke, kaal kamers, kooksels kos en die kerkhof aan die agterkant van die huis.

 

Plaas

 

Bloekombos om die sinkdakhuis

oksied geverf teen roe en hael

stoep uit klip en steen

smeerkalkwit wat streep in reën

’n klam bekransing

 

Wasblom bloei in gekerfde motorband

drumpel wys en oopgetrap

donker gang en los gordyn

sonder lag, ook sonder sug

die matige besinksel

 

Kaneel en suiker, soet die nag

bloed en spek en dorpervleis

net en gaas behoed die spys

lamplig kring om mot en git

’n soet beroking

 

Teks en vers groet droef die hallelujalied

met oggenduur die reuk van roet en moer

doodswit die kerkhofmuur

engelvlerk wat waak oor broer en kind

die vaagste herinnering

 

Augustuswind wat ruk en skud

rooi stof slaan teen ruite op

windpomp kreun sy droë draai

boorwater biggel uit die ronde dam

’n soort verlossing

 

Verder weg, verby die grensdraad-roes

Vlieg swerms trekvoëls in die wolke weg.

 

                    LJvV. Tempermes. Queillerie.2010

 

 

Bitterfontein

 

Geslagte lank is die opstal

as breë tuiste onder die berg

tussen bos en buitegebou

ingewit. Vandag egter:

glasskerwe in die gang

beddegoed op die vloer

met elke hond

by sy plassie bloed

die hekke kettingvry

die gordyne toegetrek.

 

’n Uur gelede nog op die mat

hande-viervoet gemuilband terwyl stemme

skater van kas na laai, van vertrek

na vertrek: só alleen binne die reikwydte

van ’n gebed, hier in hul gewaande  vestings

van alarm en sirene,

in die flou aftasting van ’n buitelig –

 

Die skote: spatsels soos lieweheersbesies

teen die muur, die kreet van bloedpatrone

oor ’n vloer, spore van hulle

elders heen

 

die huis deur stilte

platgeslaan

Bitterfontein die plaas se naam

 

                Louis Esterhuizen. Liefland. Protea, 2004

 

 

 

 

Die herdenking  en die soeweniers van liefde maak woorde wakker – wanneer verlange en onthou weer woorde word. Alle soorte liefde ruk die gordyn op.  ( of ’n skirt of twee! ) Uit die Grieks kom vier woorde vir liefde:

eros

storge

philia

agape

Eros verteenwoordig die romantiese kant van dié gevoelentheid – bruisend en spuwend met trillings en trane.

Storge omhels familieliefde is al sy hoekige fasette –vol omgee, ootmoed en ’n oorveeg van tyd tot tyd.

Philia bepaal vriendskap as liefde – die David en Jonathan afdeling-  armdrukke en omhelsings  soms met ’n knypie in die donker.

Agape is die selflose liefde wat gloei van woorde soos barmhartig, liefdadig en weldadig. Sonder skyn of flikkers.

 

Die herversamel van, en besinning oor  liefdesaandenkings  vou vreesloos velde  voor ons oop…

“ How much must be forgotten, out of love,

How much must be forgiven, even love.”

 
-W.H. Auden, “Canzone”

 

 

Nogmaals Lot se vrou

 

’n Eerste herinnering

in ’n begraafplaas met ligene

en begrafnisblomme gestulp in gebreekte glas.

Die gedig dalk tóé al uitgewys as ‘’n in memoriam?

’n Tweede onthou

met die bou van huisies, paadjies getoor uit knope

en ou poppe op ons wintersmat.

Alreeds ’n vooruitwysing na ’n wegvlug van hierdie band?

’n Derde terugflits,

meer dwingend, op die droë loop van ’n rivier,

vasgevang in iets onnoembaars

met die geur van gryswordende populierbome

en winterstof wat soos ’n teregwysing oor alles sproei:

te jonk vir woorde, reeds oud genoeg vir verstaan.

Treur oor jou jeug, maan Alice Miller.

Hoe op aarde doen ’n mens dit?

Net ’n gedig, ’n reis,

die voortdurende beweging,

die iteratief-duratief,

vóór die groot stilstand

kan my nou troos

in hierdie voldonge toestand

van volledige, troostelose onbehae.

 

 

Joan Hambidge. Lot se vrou. Human & Rousseau, 2012

 

 

 

 

Gisteraand

 

gisteraand in jou arms

by die perdeskoen maan

pluk ons ’n klawer

met vier blare aan

 

vandag bly ek staan

op die werf by die blik

my hart agterdogtig

soos ’n hoender wat pik

 

aan een korrel ’n klip

wat skeur deur die hange

die liefde’s niks anders

as die verlange

 

 

Ingrid Jonker. Rook en Oker. Perskor, 1963

 

 

 

  

uiteindelike nag

vir anna

 

ek lê ’n gloeiende gehuide geraamte

in jou arms en wag

ek lê sonder geslag

teen jou teruggetrokke skaamte

 

ek voel hoe jy jou medelye

in my inleef uit jou buik

uit jou heupe wat skeef stuik

en jou afgemoederde dye

 

na al die letsels wat ek jou gevloek

het is my dun vingers in berou

op jou hoë voorhoof en die lede van jou

skoon blou oë smekend opsoek

 

ek betas jou mond in die duister

en ek voel hoe jy vergifnis en begrip

met hart en sagte geslote lip

in die dun skelp van my oor warm fluister

 

                T.T. Cloete. Allotroop. Tafelberg, 1985

 

 

 

As liefde ons verkeerd bewys

 

As liefde ons verkeerd bewys

en die nag in ons holtes kom lê,

en die dood ons laaste hegsels

losknip uit die lewe se patroon

sodat ons saam is, ongeheg,

asof om te sê ons liefde ken

nóg duur nóg vordering, sal ons

weet die dood is tydloos soos plesier,

en ons is net somerweerlig,

’n aprillende gier, net lewe

Vir sy dood, voorbrand vir sy vuur.

                  

Johann de Lange. Snel grys fantoom. Human  &  Rousseau, 1986

 

 

 

 

Om groot te word tussen donker Daniëls was nie altyd maklik nie. Hulle was donker op onverwagse maniere – mees opvallend was die hare. Bytswart. Met donker oë wat tussen teer en taai kon knipper. As jy nie swart hare had  nie, was dit (donker) bruin. My Pa was reeds verby agtien jaar toe die laatlam boetie van hom gebore is. Spierwit. Die hare nou. Die kind was glo die appel van vele oë. Selfs die donkertes van die Daniëls kon vermurwe wanneer die kind oopmond lag. Sy naam was Louis. Hy het op nege jaar van sy perd geval en is dood. Ek is ook laatlamlik gebore – tussen ander donker sibbe. Vader Daniël het glo die boskaas net een kyk gegee -en my laat doop….

 

  

Ubi sunt

 

Waar is hulle, dié wat voor

ons lewend was

julle wat belydenis maak

in stof en verbrokkelde been?

 

Trek my in

soos warm as

blaas my uit

in gietende reën

 

Waar is julle,  dié wat voor

ons lewend was

julle wat belydenis maak

in stof en verbrokkelde been?

 

                  LJvV. 2013

 

 

 

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Louis Jansen van Vuuren. An(ge)nam(e)nese”

  1. Elizabeth Miller-Vermeulen :

    Louis, my eie Maandag lees anders na die deurlees hiervan. Dankie vir die afdraaipad vandag

  2. HEILNA DU PLOOY :

    Dit is ‘n baie interessante blog, te meer omdat ek myself ook bevind in ‘n fase van bestekopname en besinning oor die verlede. Dit is vir my ‘n kompliment dat my gedig hiervan deel is.

  3. Buiteblaf Breytenbach :

    Ek beaam en stem saam met Heilna.

  4. Annette Taljaard :

    Ek wens daar was nog! Dankie weereens dat jy die binnekant vans menswees so ged bestudeer. Skielik het ek myself ook gesien groot word.

  5. Berdine :

    Weereens lekker om te lees en ek beaam ook wat Heilna sê.