Andries Bezuidenhout. Heilige handel

1
Op ʼn kaal verhoog begin die eerste bedryf
as João en Girolamo na vore tree.
João, gekraag soos ʼn Portugese intellektueel,
eerste aan die woord: “Flambojante Da Gama op die kaai,
sy jaspante uitgeskutte seile.”
Hy stik in die medeklinkers, raadpleeg sy teks.
Die regisseur skree: “Ontspan! Verbeel die klank van meeue,
water teen die kaai.” Hande bo die oë
kyk die akteurs na ʼn afwesige gehoor en die kalkligson.
In vyftiende-eeuse kleinboerskoene praat Girolamo dan:
“Kyk, selfs die koning en ʼn biskop inspekteer
proviandstapels en rolle tou.”
Nou sonder teks kug João: “Agies met agendas!”
Girolamo, vraend: “Maar vriend, weet jy dalk
in watter rigting die São Gabriel se boeg nou mik?”
João antwoord: “Dis voor die hand liggend, stommerik,
kyk verby jou koskasvingers, kyk na repe lam,
hompe ham wat in slagterspekel hang.
In hierdie eeu van navigeer kan ons seisoene tem,
ons kan preserveer, opgaar vir ʼn maer jaar.
Dit gaan oor veel meer as jou tong, domkop,
hierdie reise strek sowaar veel verder as die horison
van naeltjies, peper en kaneel in jou opstopkieste!
Dis die reuk van speserye op die seewind –
sonder woestynstof.”
Vanuit die verhoogvleuels kom ʼn spreekkoor ter sprake:
“Kyk, dis Vasco Da Gama, hy vaar om die suidpunt van Afrika,
hy soek na Priester Jan, hy soek vennote teen gierige Moore.”


2
Die gordyn trek toe en oombliklik weer oop
op die ʼn ewe eksperimentele tweede bedryf.
Drie nywerheidswaaiers blaas vanuit die vleuels
op die leë verhoog en Vasco Da Gama
in kapteinsuniform met serp en handskoene.
Nou praat hy in die rigting van die gehoor:
“Navigeer, swawel, laveer suid,
om die Donker Kontinent, teen drifstroom,
deur die ewige afgrond se yswater,
verby die wink van spitsrotse – ʼn ketterheksklou.”
“It’s very Opperman,” fluister die regisseursassistent
en die gordyn swiep toe.


3
Nou kom die derde bedryf met ʼn rooi lig teen die agterdoek.
Steeds net Da Gama in gesprek met die leëstoelrepetisie:
“Lou winde, warm water – hierdie is ʼn ander see se gety.
Hier is vreemde skuite, plat bote met driehoekseile,
kaneelkleur manslywe swaai in lendeklede,
maneuvreer deur ʼn kalm oseaan.”
Vasco klap sy teleskoop toe, brom:
“Die god van die Moore was ons een voor.”
Hy ysbeer die dek, planke klap onder sy hakke,
draai weer na die gehoor: “By Ilse de Moçambique
doen ek my as Moslem voor, maar steeds
word my geskenke te lig bevind.”
Nou kners die kaptein, lag dan: “Wie nie hoor nie,
moet heilige kanonlood proe –
heiden stad geblaas, heiden handelskip gekaap.”
Dan stilte. Da Gama ruk sy teks uit sy broek.
Die regisseur skree: “Waar’s die ambassadeur?”
“Jammer,” roep ʼn stem van agter, gaan voort in ʼn ander akkoord:
“Laat spaander, Portugese duiwels,
in Isle de Moçambique en Mombasa is julle nie welkom nie!”
“Kies jou piepietyd beter,” mompel die regisseur
en trek dan self die gordyne toe.


4
Nou volg die vierde bedryf natuurlik, maar hierdie keer
agter ʼn toe gordyn. “Very Von Trier,” sê die regisseursassistent.
Weer die spreekkoor: “Vaar voort, seun van Portugal,
kind van die ware God, stuur nog ʼn gesant aan land.
Dan, in Melindi, ʼn wonderwerk! ʼn Gewillige oor en hand.
In die Jaar van Onse Here veertien agt en negentig
plant Vasco Da Gama sy padrão in Melindi,
waar handelaars uit die Rooi See, Indië en die Persiese Golf eeue reeds
kibbel oor die prys van speserye, goud, slawe en ivoor.”


5
“Ek’s nie seker oor hierdie oorgang
tussen die vierde en vyfde bedrywe nie,”
fluister die assistentregisseur. Op hierdie onsekerheid
trek ʼn gordyn weer oop met Da Gama aan die woord:
“As jy soveel keer bome, berge, strande, dalk geboue
in newels oor oseaaneinders sien verskyn het
(eers kleur, dan vorm?), word jy steeds
met dieselfde gevoel van bestemming vervul?
Steek jy jou hand land toe uit,
jou vingers in ʼn kosmiese inkpot, beweeg jy jou arm,
jou baadjiemou ʼn vlag in die wind,
draai jy jou pols, vingers, en skryf geskiedenis in die lug?
Of hoes jy bloot, vryf jou maag, derms sat van diarree,
slukderm rou van semels en sout, en swets jy?”
Da Gama trek sy baadjie uit, laat val dit agter hom op die verhoog.
Hy staan vir ʼn oomblik stil, kyk stip na die gehoor:
“Op agtien Mei, twee jaar voor die draai van die eeu
sien ek Indië – by Calicut, in Malabar.
Dít weet julle, danksy my skeepsjoernaal.
Maar ruik ek peper, gemmer en kaneel;
bekende reuke, maar nuwe kombinasies, op die wind?
Kolk die nuwe taal vreemd, melodieus in my oorskulpe?
Hoe sal julle weet, julle koekeloerders, julle inluisteraars?
Vra eerder julle geld terug, of bly sit vir die sesde bedryf.”


6
Die sesde bedryf moet nou begin,
maar eers is daar onmin in die voorste gestoeltes.
“Ek weet nie, ek weet nie,” sê die regisseursassistent,
“of hierdie ding werk nie –
hierdie Opperman paarrym meets Charles Fourie,
hierdie Van Wyk Louw gedawer met ʼn herkouseltjie Boklied –
hierdie dwarsgatnaai van avant-garde en nostalgie.”
“Sjit,” sê die regisseur, “jy kan kla ná die repetisie.”
“Kan ek voorgaan,” vra Da Gama,
“of verkas die drama nou na julle stoele toe?”
Hy stap tot teen die agterdoek, draai om,
eensklaps opgewonde: “Dan, op ʼn dag, sien ek die katedrale.
Ons het hulle gevind, met die Heer se genade,
het ons hulle gevind! Ons reis was nie verniet nie,
ons tog is geseën met die kennismaking van
Christene van die ooste, bondgenote, Katolieke
kinders van God!”
Dan val sy gesig. “Nie oorspeel nie,” maan die regisseur.
Da Gama stap tot teenaan die gehoor. Hy fluister amper:
“Miskien moes ek nie dadelik Portugal toe geskryf het nie.”
Sy skouers sak terwyl hy verder vertel:
“Dit kan met enigiemand gebeur. Ek sien toe vir Lakshmi
as Moeder Maria aan. Hispar, Visno en Brama,
so het ek gedink, is die Vader, die Seun en die Heilige Gees.
Vir ʼn desperate seevaardersoog soos myne,
lyk Hindoe ikone darem ál te Katoliek.”


7
Dít alles in my sakboek genoteer, die drama,
hier in Malindi se museum: Woorde, datums, indrukke,
die stomme Vasco Da Gama se komiese versinsel.
Vir eers net gegewens, kontroleer spelling, feite,
op ʼn kennisgewing vir toeval en toeriste aangebring.
Later kom versinsel, kondensering, verdigsel.
Hier, in Malindi-museum, onthou ek Juffrou Louwtjie nou,
standerd een, Laerskool Meyerspark, geskiedenisles,
my derde skooljaar.
Ons papegaai name, plekke waar Groot Ontdekkers
aan land gaan. Begin altyd in Lissabon,
eindig met Mombasa, Malindi, Kalikoet!
Malindi, Malindi, eksotiese, padlangse hawe.
Teen die wêreldkaart klap Juffrou Louwtjie se lat,
plekname ritmies geleer vir ʼn toets.
Juffrou Louwtjie, deesdae onthou ek net sinsnedes,
redes vir ontdekkingsreise steeds afrigfrases,
futiel, soos “Die mag van die Moore gebreek.”
Wat de hel is die Moore? Familie van die Gisters?
Waar Da Gama geland het, kan ek ook nie onthou nie,
maar iets van die ritme het vasgesteek.
Lê metrum voller in die verlede as in taal?
Hier is ek dus nou in Malindi met notaboek en kaart,
ver van Meyerspark, skool, NG Kerk, roosparkdorings en jou lat.
Juffrou Louwtjie, jy en jou Vasco Da Gama,
kan julle my dalk sê, hoe de hel het ék hier beland?
João en Girolamo, trek tog die gordyne toe.

Bookmark and Share

Comments are closed.