Joan Hambidge. My Pa

My Pa

 

My pa was geen musikant,

ook nie ‘n man van durf en daad.

Nee hy was dromer, leser, opgaarder.

Op die oog af ‘n man van raad:

dikwels die sekretaris of skriba,

ja weldoener, ‘n man van komitees.

Maar ek weet van beter:

in sy binnepraat

“Ja, Sondag is dit net ek en my God”,

was daar teleurstelling,

selfs verdriet  

oor sy familie skynheilig

wat sý pa verniel het,

oor sy broer wat hy in alle onskynlikheid,

besef ek nou, dikwels moes bystaan,

oor sy vier telge se opstand en teëstaan.

My pa was ‘n man van stiltes,

van ‘n ander se laste eien

soos dit ‘n ankerman betaam,

van geheime graf toe dra.

 

© Joan Hambidge / 2013

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Joan Hambidge. My Pa”

  1. Carina Stander :

    Vintage Hambidge.