Louis Esterhuizen. Hermetiese digkuns, danksy die genade van die raaisel

 

Die hele kwessie van hermetiese poësie is iets wat wêreldwyd in bykans alle vername digkunste weldeeglik gevestig is, terwyl dit hier by ons eintlik nog nooit inslag gevind het nie. Trouens, met die uitsondering van Gilbert Gibson, twyfel ek of daar enige Afrikaanse digter is wat as ‘hermeties’ (of te wel ‘ondeurdringbaar’) beskryf sal kan word. Heelwat verse wat as ‘hermeties’ beskryf word, is myns insiens wel ontoeganklik, dog selde hermeties.In die meeste van hierdie gevalle is dit (waarskynlik) weens onvoldoende kontekstualisering en nié as gevolg van die vers se tegniese vernuf om sy eie spore dood te vee, soos dit die geval is met Gilbert Gibson se gedigte, nie.

Nietemin. ‘n Belangrike boek oor hierdie onderwerp wat pas in Nederland verskyn het, is Paul Claus se Zwarte zon, code van de hermetische poëzie.  Op De Contrabas kon ek ‘n deeglike bespreking hieroor vind.

 

Omslag

Maar eers: volgens die uitgewer, Van Tilt Uitgeverij, se liriese inligtingstuk: “Niets is zo helder en tegelijk zo duister als de zon. Het zonlicht zelf verblindt, alleen een eclips maakt het zichtbaar. Voor de hermetische poëzie geldt dezelfde paradox. Als een zwarte zon schittert haar zin pas door afwezigheid. Zwarte zon leert de lezer de geheimtaal van de hermetische poëzie lezen. Paul Claes past een nieuwe ontcijferingsmethode toe op twaalf duistere dichters: Horatius, Luis de Góngora, Willem van Swaanenburg, Gerárd de Nerval, Stéphane Mallarmé, Arthur Rimbaud, Rainer Maria Rilke, Karel van de Woestijne, Wallace Stevens, André Breton, e.e. cummings en Hugo Claus. Het is een misverstand te denken dat de poëzie verdwijnt als we haar mysterie doorgronden. Integendeel, pas zo verschijnt ze in haar volle luister: als de zon na een verduistering.”

In De Contrabas se bespreking word Claus dan soos volg aangehaal: “‘Lezen is steeds ontcijferen. Wie de sleutel niet heeft, staat voor een gesloten deur. […] Een moeilijk gedicht bestaat bij de gratie van het geheim. Het plezier van de lezer bestaat erin dat raadsel te ontsluieren […]  De Rousseau-achtige opvattingen die tegenwoordig in het literatuuronderwijs en in het cultuurbeleid opgeld doen, ontkennen deze evidenties. Iedere kleuter wordt als een kunstenaar in de dop gezien. Iedereen zou n staat zijn zonder voorkennis cultuurproducten te consumeren. Elke vorm van initiatie wordt als doctrinair, elitair en contra-emancipatorisch afgewezen. De gevolgen voor deze doorgeschoten romantiek zijn dagelijks te merken. Cultureel simplisme en pueriel populisme voeren de boventoon in de media. Alles wat niet hapklaar is, wordt gecensureerd.”

‘n Belangrike publikasie, inderdaad.

Ten slotte word Claus soos volg aangehaal: “De twintigste-eeuwse avant-garde wil de politieke revolutie ook in de poëzie doorvoeren en creeërt zo een experimentele poëzie die steeds cryptischer wordt. Vreemd genoeg verzet ze zich tegelijk ook tegen iedere inwijding van de lezer. Hermeneutisme wordt zodoende een doel op zichzelf. Wellicht is de tijd gekomen om tegenover dit anti-intellectualisme een nuchtere technische analyse van de moderne poëzie te stellen.”

Maar waarom is hermetiese digkuns dan enigsins van belang? Uiteraard ‘n vraag waarop vele antwoorde moontlik is. Persoonlik het dit vir my te make met taal-verknoeiing en –ontginning, soos met die voorbeeld van Paul Celan. (Selfs Dylan Thomas?) En tog, altyd, altyd met T.S. Eliot (selwers ‘n gedugte hermeet) se beroemde uitspraak voor oë: “Genuine poetry moves before it is understood.”

En die hermetiese digkuns se vernaamste belemmering? Seer sekerlik die gebrek aan opwindende, of avontuurlustige  lesers.

As leeslekkerte volg sommer twee gedigte deur Gilbert Gibson; albei geneem uit sy mees onlangse bundel [vii], en eweneens deur Joan Hambidge aangehaal in haar resensie oor die betrokke bundel.

*

[60]

 

in daardie film zapruder

kruip jackie in rukkerige bleek

kleure oor die kar

om dele van haar man

se brein bymekaar te maak

elkeen van haar hande

daar is net twee

van sosiale media bevry

dante is haar digter

hy verstaan haar wêreld in die motor

in daardie wêreld van liefde en chaos

soek haar hande bloed

soos hansie smal se hande soek na staal

*

[24]

 

alice oswald op my af

die geluid van ’n fiets

van ’n bui reën wat jy

voor die tyd reeds ruik

jy kan haar spore na my toe volg

soos ink na ’n inkvis verskrik

bo ’n strandmeer se oopgevoude bodem

hier sluip iets soos koue

teen my ruggraat af

haar voetval wentel

’n aasdier

om ’n dooie skaap

in die naderkom van die hoogste wuppertal

wat mits dese vir haar van nuuts af

soos ’n bliksemstraal stuur

spoorloos en indrukwekkend

daardie grens van naamloosheid

wat om my baan en daar buite

op ’n ander reis begin gaan

 

© Gilbert Gibson (Uit: [vii], 2013: Human & Rousseau)

 

 

Bookmark and Share

12 Kommentare op “Louis Esterhuizen. Hermetiese digkuns, danksy die genade van die raaisel”

  1. Gert :

    Dankie, nice

  2. Joan Hambidge :

    Tristia is hoogtepunt van hierdie soort gedig in Afrikaans, ofskoon daar in vele bundels hermetiese gdigte te vinde is. Helize van Vuuren het deur die jare vele raaisels opgelos vir ons.

  3. Helize van Vuuren :

    En wat is Breyten Breytenbach se DIE BEGINSEL VAN STOF en KATALEKTE anders as hermetiese poësie? En na my gevoel is Marlene van Niekerk se MEMORANDUM – veral daardie pragtige prosagedig aan die slot in “Passacaglia (vir JSB)” – ook niks anders as ‘n hermetiese gedig nie.

    Tweede vraag – hoe verskil hierdie gedigte van “(altyd) moeilike(r) poësie” , soos Van Wyk Louw in sy literatuurkritiek talle artikels oor geskryf het – hier lê die literêre knoop: Louw had dit oor modernistiese poësie, maar is Breytenbach en Van Niekerk se tekste neo-modernisties, of is dit ‘n geheel nuwe verskyning in ‘n ander toonaard, uit ‘n ander voedingsbodem?

  4. Louis Esterhuizen :

    Beste Joan & Helize – Ek stem in die breë saam met julle; uiteraard is daar ook nog TT CLoete en Wilma Stockenström … Die probleem lê hier rondom die definisie van ‘hermetiese poësie’ en in welke mate verskil dit van ‘moeilike’ poësie? Dit wil my tog voorkom asof (veral die Nederlandse) siening is dat die hermetiese vers hom met taalverdigting (of – verwringing, soos by Paul Celan, byvoorbeeld) besig hou. Ook Hans Favery en meer onlangs Tonnus Oosterhoff. Alhoewel ek persoonlik nie heeltemal met laasgenoemde saamstem nie …

  5. Joan Hambidge :

    Veral Katalekte kan as hermeties beskou word. Ek het sopas Gibson gedoseer. Vir my is sy gedigte geskryf in ‘n postmodernistiese toonaard – kyk na gedig nommer 14: die sonnet, “Ek het ‘n perd, ‘n blinkvosperd”, die spel met die sonnet & die struktuur van die liefdesgedig.

  6. Helize van Vuuren :

    En gaan kyk na Pound se Canto’s – wat anders is dit as hermeties/geslote/moeilike poësie.

    Dis nie ontoeganklik nie, maar die leser “moet ook werk”, soos Louw al gesê het. Dis ‘n literere tegniek in Pound waarmee ou vorms, ou tale, ou boeke uit die verlede “teenwoordig” gemaak word, weer vars en relevant gemaak word, die “sacred texts” vd verlede – vir diegene wat dit herken en aangryp, a la Prof Langford Hammer…Dis ‘n tendens téén onmiddellike gratifikasie soos in pulpromans of resepmatige tekste.

  7. Chris :

    Ek beskou baie van Jasper van Zyl se gedigte as hermeties – wat dink julle?

  8. Gisela Ullyatt :

    Goeie vraag, Chris. Dalk gaan die vraag nog verder terug: Van Zyl noem (in ‘n onderhoud, ens) dat sy digkuns tot ‘n groot mate deur sy mentor, Alfred Schaffer, beînvloed is; dus wonder ek of Schaffer se oeuvre nie ook as hermeties beskou kan word nie? Maar soos Louis tereg uitwys: wat is die verskil tussen die begrip ‘hermeties’ en gewoon moeilik om te lees/begryp? En hang dit nie af van hoe die leser ‘n gedig ervaar nie? Dus sal een leser bv Schaffer se gedigte surrealisties ervaar terwyl ‘n ander hulle vanuit ‘n totaal verskillende uitgangspunt sal lees. Beslis stof tot nadenke en moontlike navorsing!

  9. Joan Hambidge :

    Alfred Schaffer se verse is beslis hermeties.

  10. Buiteblaf Breytenbach :

    Die een se Hermes Tresmegitus verseël seker maar die ander se hermityk. Of Hermansdrup.

  11. Christo van Staden :

    Louis, dankie vir die verwysing (ek is volgende week in die Kaap en wil ‘n kopie van Claus se boek by jou kom koop as jy voorraad het – dit val so in die kraal van my huidige navorsing).

    Van Rosmarie Waldrop het in 1971 ‘n interessante studie verskyn, Against language, waarin sy ondersoek instel na die soeke van modernistiese digters na wat buite die taal lê – sy bring dit in verband met ‘n tipe modernistiese mistiek, ‘n poging om die onrepresenteerbare weer te gee (in die na-oorlogse Europa eerder Niet as God), wat lei tot ‘n vernietiging van taal (in die Penguin-uitgawe van Finnegans Wake verwys die inleiding na ‘n “war against language”), of minstens ‘n verwringing soos by Celan, en natuurlik ook Vallejo, cummings, lucebert, ‘n hele lot Franse digters, NPvWL, ensomeer. Sy verwys (en binne die sfeer van vroeë strukturalisme) na paradigmatiese verwringings of verwrigings van keuse (dikwels woordverwringings, soos by die Joyce van die Wake) aan die een kant, en sintagmatise of samevoegingsverwringings (ek reken die kriptiese rigting van Gibson se poëtika is ‘n uitdrukking hiervan), wat steun op o.a. ‘n verskeidenheid oornames uit ander genres – surrealisme/outisme, visuele kuns en musiek, wiskunde … Hierdie modernistiese poëtika (en dis ‘n modernisme soos Joyce s’n wat altyd op die rand is om oor te tuimel in post-modernisme, en eintlik dalk reeds “post” is, soos ek reken Breytenbach se “modernisme” ook) waarvan die oogmerk nie noodwendig is om moeilik verstaanbaar te wees nie, maar om die konsepte van begrip en betekenis, en dus ook eksegese, nie net onder verdenking te bring nie, maar te verpletter. Die resultaat is natuurlik altyd paradoksaal – soos o.a. die psigo-analitiese strominge in kritiek maar te goed bewys.

    Ek vermoed in ieder geval heelwat sg. hermetiese poësie is net soveel ‘n direkte bemoeienis met taal self as objek, as ding met sy eie ontologie, as met wat dit tegelykertyd sê en verhul. Hermes T se alchemieë is nie eenvoudig nie: die spanninge tussen waarheid en betekenis, tussen uit(drukk)ing en begrip, word nie maklik opgelos nie (en goddank daarvoor ook).

  12. Louis Esterhuizen :

    Christo, ongelukkig het ons geen voorraad van “Zwarte zon” nie. Voorspoed met die studies …