Onderhoud met Heilna du Plooy oor Nuwe Stemme 5

Heilna du Plooy 

 

Onderhoud Nuwe Stemme 5 : Louis Esterhuizen gesels met Heilna du Plooy (mederedakteur van Nuwe Stemme 5)

 

1.    Watter aspekte rondom die uitgewer se “Nuwe Stemme”-inisiatief maak dat julle kans gesien het vir hierdie enorme stuk werk wat julle vermag het?

‘n Projek soos Nuwe Stemme is baie belangrik en wel om drie redes. Dit gee die geleentheid aan jong digters (jonk daarin dat hulle nog nie ‘n volledige bundel gepubliseer het nie) vir ‘n oefenlopie, ‘n eerste probeerslag binne ‘n relatief beskermde omgewing waarin die beste gedigte deur ander mense geselekteer word en waar daar ook raad en hulp beskikbaar is. Die tweede rede is dat dit ‘n idee gee van tendense in denke en styl op ‘n bepaalde moment in tyd. In die derde plek is dit ‘n geleentheid om nuwe talent te ontdek. Omdat ek dink dat die literatuur in ‘n land een van die belangrikste vorme van kulturele uiting is, en nog belangriker, ‘n sigbare uiting van persoonlike kreatiewe denke, is ‘n projek wat literêre skryfwerk aanmoedig vir my van groot waarde. Verder speel die poësie tans in die openbare lewe nie so ‘n belangrike rol nie. Min mense lees poësie en nog minder koop dit, maar as vakkundige weet ek dat die poësie iets kosbaars is en dat hierdie vorm van literatuur vir spesifieke mense ontsettend belangrik is. Die poësie dra in sigself die vermoë en stel selfs die eis dat taal tegelykertyd konkreet en transenderend kan wees, dat dit individuele ervaring kan verwoord op ‘n manier wat universeel word. Daarom is dit ‘n uiters belangrike argief van die gevoelens en denke van ‘n tydperk en ons weet uit die literatuurgeskiedenis dat goeie poësie die tyd oorleef, dat dit nie oud word nie.Om dus by so ‘n projek betrokke te wees, is ‘n voorreg. Ek het gedink dit is belangrik dat hierdie soort publikasies verskyn en al is daar ekstra werk aan verbonde, is die resultaat die moeite werd.

 2.    Vertel ietsie rondom die omvang van dié publikasie, byvoorbeeld: Hoe lank het dié proses geduur, van die aanvang tot die finale manuskrip ingegee is? Hoeveel inskrywings was aanvanklik ontvang en volgens watter riglyne is dié oormaat verminder na die gedigte wat tans in die keur opgeneem word?

Vandat Riana Barnard my genader het om deel te neem tot nou is byna 18 maande. Daar was aanvanklik omtrent 170 inskrywings wat ek en Loftus eers tot 36 verminder het en toe weer tot 18.  Ons het heeltemal apart gelees in die eerste rondte en vanselfsprekend het ons geen name gesien nie en het net met genommerde voorleggings gewerk. Daarna is ons keuses vergelyk. Riana het hiermee gehelp en telkens so ‘n samevattende lysie gemaak. Ons het eers die name van digters gesien toe ons met ‘n finale lys vorendag moes kom.

Dit is interessant dat ons keuses van die begin af in ‘n groot mate ooreengestem het al werk ek en Loftus verskillend en al  kom ons uiteraard uit verskillende literêre tradisies. Ons leef wel tans in dieselfde literêre klimaat en ons albei ken die huidige gesprek en literêre styl. Waar ons verskil het, het ons heen en weer geskryf en dit help baie want ‘n gesprek wys dikwels aspekte uit wat mens dalk in die eerste lees misgekyk het. Ek dink daarom dit is baie belangrik dat twee mense betrokke is by die seleksieproses want smaak en aanvoeling speel altyd ‘n rol en dan is daar meer ruimte vir die verskillende en uitenlopende style van die digters.

Daar was ook die fase, nadat die finale lys bekendgemaak is, waarin daar telkens ‘n gedig op ‘n geslote webwerf geplaas is en waar die redakteurs en die ander deelnemers kommentaar op so ‘n gedig kon lewer. Dit het ook heelwat diskussie tussen die deelnemers ontlok.

Die eerste rondte se lees was baie werk, maar tog nie te moeilik nie want baie inskrywings is duidelik die werk van mense wat lief is vir die poësie maar wat nie genoeg leeservaring of talent het om self goed te kan skryf nie. As mens ervaring het in die lees en beoordeling van poësie sien jy dit duidelik raak. Gelukkig het ek oor baie jare studente se werk gelees en ook baie keurings gedoen vir tydskrifte en uitgewers. Hierdie eerste fase se lees was dus omvangryk maar die beter werk het vanself uitgestaan. Die fyner keuses word moeiliker want dan kyk jy met ‘n meer kritiese oog en jy moet keuses maak tussen gedigte wat nie regtig baie in gehalte verskil nie.

Ek het probeer om met ‘n wye lens te lees, om oopgestel te bly vir uiteenlopende onderwerpe, temas en style. Dit is immers die hart van die poësie dat daar altyd vir uitsonderlike en individuele aanvoeling plek moet wees, maar dat goeie digwerk wat aansluit by die tradisie nie misgekyk moet word nie.

Daar is dus nie vaste maatstawwe aangelê nie, want dit sou te beperkend wees. Dit is eintlik so dat die werklik goeie verse hulleself eintlik gekies het omdat mens elke keer kon sien hier is ‘n gedig wat werk! Wat ‘n gedig laat werk, kan nie in ‘n resep opgeskryf word nie en elke gedig moet volgens sy eie aanbod beoordeel word.

3.    Uiteraard was daar frustrerende aspekte by betrokke; dog sekerlik ook vreugdes wat julle opgewonde gestem het. Kan julle asseblief vir ons so ‘n kykie gee na enkele van hierdie ervarings van julle?

Dit werkswinkels was vir my regtig lekker en interessant  – om die gesigte agter die gedigte te sien en die mense te ontmoet, veral om met hulle te praat en te hoor wat hulle dink. Ek kan my voorstel so ‘n bespreking van jou werk voor ander kan ongemaklik wees en die ouens het ook verskillend daarop gereageer. Maar dit was duidelik toe die gedigte terugkom nadat hulle self daaraan gaan redigeer het, dat hulle wel baat gevind het by die bespreking van al die aspekte waarna digters kan oplet om hulle werk beter af te rond.

As jy ‘n gedig wat in die beginstadium wel ‘n goeie idee bevat het, maar nog nie die nodige poëtiese ekonomie en samehang het nie, na redigering weer sien en dit val net reg uit – met digterlike konsentrasie en woorde wat iets verrassends toevoeg – voel ‘n mens regtig lekker. Dit was dan die moeite werd want die digter het self gegroei in die proses. Dit was vir my ook goed om al die nuwe digters te leer ken sodat ek in die toekoms kan dophou wat van elkeen word.

‘n Ander saak is dat die eerste lees van die groot groep gedigte my laat besef het hoe min mense lees, veral poësie. Baie mense wat graag digters wil wees, lees nie genoeg om te weet dat hulle absoluut in terme van cliché’s dink en skryf nie. En tog het hulle hierdie drang om te skryf, om hulle gedagtes vas te vang in woorde, om te besin en te orden aan die dinge wat hulle koppe en harte vul. Hulle het dus behoefte aan die poësie, maar iewers gaan die aanvoeling en aanleg daarvoor verlore of bly onderontwikkel. En miskien moet ‘n mens regtig ernstig dink daaroor om op ‘n innoverende en praktiese manier iets daaraan te doen. Ek het altyd so ‘n gidsie gehad vir die studente wat ek genoem het “Wie’s nou bang vir die poësie? ” en dalk moet mens iewers ‘n forum soek waar die poësie in haar eiesoortigheid op ‘n populêre maar tog verantwoorde wyse bekendgestel kan word. Ek is seker daar bestaan by baie meer mense ‘n behoefte hieraan as net by dié wat wil skryf.

Die laaste aspek wat ek wil noem, is die belangrike rol van ‘n uitgewer om so ‘n proses te inisieer en deur te voer. Afgesien  van die inisiëring van die idee en die finansiering van die basiese prosesse is dit veral die rol van ‘n toegewyde en ervare redakteur, soos wat Riana Barnard inderdaad is, wat nie genoeg beklemtoon kan word nie. Sy het die hele proses met groot kalmte en gemak en professionaliteit bestuur en daarsonder kan niks gebeur nie.

 4.    In welke mate, volgens julle, dien ‘n publikasie soos “Nuwe Stemme 5” as ‘n tipe ‘kristalbal’ ten opsigte van bepaalde ontwikkelings wat vir die Afrikaanse digkuns voorlê?

Ek weet nie of mens voorspellings kan maak nie, maar jy kan wel sien watter invloede nou werksaam is. Die verskeidenheid van die gedigte in die bundel Nuwe Stemme 5 sal al ‘n aanduiding gee van die verskillende aksente wat hulself op ‘n oortuigende manier aanmeld. Dit is miskien al ‘n belangrike waarneming, naamlik dat die veld nou regtig oop is vir iets van alles.

Daar word geskryf oor baie verskillende onderwerpe en temas. Daar is liefdesverse, herinneringsverse, verse oor postmodernistiese vervreemding, gay verse en verse oor vreugde sowel as oor ontgogeling en teleurstelling. Hierdie temas is eintlik deel van die universele tematiek van die poësie wat in elke era opnuut en anders benader en geformuleer word, maar sommige van hierdie digters skryf aards en nugter en ander meer gesofistikeerd daaroor. Wat wel nuut is, is die gedigte van Afrikaanse digters wat hulle buite Suid-Afrika bevind, vanselfsprekend om verskillende redes, maar die bestaan of ontstaan van ‘n groep buitelandse Afrikaanse digters of internasionale Afrikaanse digters, dalk kan mens praat van digters buite die grense, is, dink ek, nou ‘n feit en ‘n werklikheid waarvan kennis geneem moet word. Hulle werk hanteer onderwerpe op ‘n spesifieke wyse en hulle bied ‘n ander en vernuwende blik op die werklikhede van ons tyd.

Wat styl betref, verkies sommige digters vormvaste verse terwyl ander ‘n baie vryer vers skryf. Daar is gedigte wat neig na die kabaretagtige, ander wat narratief van aard is en ander wat eintlik heeltemal liries, in die sin van uitinge van emosie, is.

5.    Is daar enige voorstelle wat julle uit jul ervaring as samestellers sou wou maak ten opsigte van toekomstige projekte van hierdie aard?

Ek dink die proses het al goed ontwikkel en het al verfyn geraak Die webwerffase kan dalk beter ontwikkel en meer effektief gebruik word. Dit was ‘n eerste keer en ek dink dit kon meer intensief en uitgebreid benut word. Ons moes dit maar proefondervindelik ontwikkel en in ‘n volgende rondte sal dit waarskynlik sterker kan figureer. Wat die res betref, dink ek alles het goed en glad verloop en die samewerking tussen al die betrokke partye was positief en gemaklik.

Ek het werklik dit geniet om by die projek betrokke te wees. Ek hoop dit was vir die digters ook ‘n goeie ervaring en dat die lesers die bundel gaan geniet.

 

 

Nuwe Stemme 5

 

 

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Onderhoud met Heilna du Plooy oor Nuwe Stemme 5”

  1. Buiteblaf Breytenbach :

    Dankie, Heilna en Loftus, vir die saamvoeging. Wat ‘n opwindende en diverse pluksel Nuwe Stemme skyn dit te wees (afgelei van die onderhoude elders op die werf)! Nou kan ons sinici, sieners, sinofiele en ander seniele Sienas gerus en seker met sielerus die sware stampers neersit. Of soos die ander ou gesê het: “Ons het niks, maar ons deel dit graag met julle. Welkom!”