Onderhoude: Nuwe Stemme 5 digters (1)

 

ONDERHOUDE (Nuwe Stemme 5) : Joan-Mari Barendse,  Jaco Barnard-Naudé, Gerhard Bothma, Neil Cochrane, Adriaan Coetzee en Oloff de Wet.

deur Louis Esterhuizen

 

 Joan-Mari Barendse

Joan-Mari Barendse

Toe ek agt maande oud was, het my gesin vanaf Pretoria verhuis na ’n plasie tussen George en Knysna. Dáár het ek ’n voorliefde ontwikkel vir berge, woude en wolke. Na skool is ek Stellenbosch toe waar ek gestudeer het, vir ’n paar jaar gewerk het, en toe weer gestudeer het. Ek het my doktorsgraad, wat handel oor distopiese toekomsromans in Afrikaans, in Maart 2013 ontvang. Tans is ek ’n nadoktorale navorsingsgenoot in Afrikaanse letterkunde by die Departement Afrikaans en Nederlands, Stellenbosch Universiteit.

Ek was van kleins af gedurig aan die lees en skryf. Dit is moeilik om te sê wanneer ek spesifiek poësie begin skryf het. Op skool het ek sulke groot swart boeke volgeskryf met stories, aanhalings, gedigte en vreeslike diep filosofiese gedagtes. Ek het skoon angstig geraak as ek nie een van my boeke by my gehad het nie (deesdae is ’n klein notaboekie in my handsak darem genoeg). Skryf is iets wat ek begin doen het sonder om regtig daaroor te dink. Ek het baie skrywendes dit al hoor sê. Ek vermoed dat skryf geneties of verslawend of iets is. Sommige mense móét marathons hardloop, ander móét skryf. Ek het al ’n paar keer probeer om op te hou skryf, geïntimideer deur dit wat ek as letterkundige navorser bestudeer. Dan sien of hoor ek iets as ek in die straat afstap wat ek tog maar móét neerpen, want, wie weet, dalk kan dit ’n gedig of storie word… 

In 2002 en 2003 is enkele van my gedigte opgeneem in die studentepublikasie Penseel. Dit is vir my redelik maklik om ander mense se werk te beoordeel en te verbeter. Die beoordeling van my eie skryfwerk is ’n bietjie moeiliker. Dat my gedigte genoeg uitgestaan het om ingesluit te word in Nuwe Stemme 5 is vir my ’n groot aanmoediging om harder te werk en meer te skryf. Ek is verder beïndruk met die kwaliteit van die gedigte van die ander digters in die bundel. Ek voel geëerd dat my werk naas hulle s’n verskyn.  

Tafelberg trek nou al by die 5de Nuwe Stemme. Daar is dus genoeg mense wat in Afrikaans dig (en hopelik genoeg wat Afrikaanse gedigte lees!). Soos ek reeds genoem het, is daar belowende digters in die bundel. Die Afrikaanse digkuns is beslis nie besig om te stagneer nie.

Ek glo nie daar is iets soos ’n “volmaakte vers” nie. Die digkuns is juis spesiaal omdat dit soveel vorme aanneem. Ek het wel nog altyd bewondering gehad vir Wilma Stockenström se verbeeldingryke en slim gedigte. Die volgende een laat my altyd glimlag:

 

Kraak die aardbol langs ’n naat

oop en dop maar uit – jy sal vind

drie myte en ’n groterige kewer

rooi van magma en doodverskrik.

Maar moenie worry nie. Alles werk

ten goede mee. Laat die vuurvloei

uitloop in die al en op die sterretjies

drup-drup. Skud goed. Gom nou

die helftes stewig vas en, siedaar,

die nuwe aarde, lig, leeg, lief.

 

Niks om na te delf, niks te splyt,

niks meer te beskryf of uit te lê.

Die kewer spartel in die melkweg

en die myte verdwyn spoedig in die buik

van wording. O aansienlik intelligenter

as die myt mens, skepper van leegheid,

was jy maar reg aan die begin en nie

sommer somewhere in die groot proses nie,

nè, ma se grootman? Ma se snaaksie

hou sy handjies bak en vra bol, ma.

 

***

 

Jaco Barnard-Naudé

Jaco Barnard-Naudé

Ek is gebore in Pretoria aan die einde van die sewentigs. Meestal traumaties skoolgegaan in Brits in die Noordwes Provinsie (toe nog Transvaal) en daarna gelees vir ‘n BCom (Regte) en LLB aan die Universiteit van Pretoria (UP), met uitvoerende musiek deurlopend as byvak (my instrument is die tjello). Ek het drome gehad van professionele tjellis word, maar gou besef dat ek nie die persoonlikheid vir daardie soort lewe het nie. Tans is ek professor in die Departement Privaatreg aan die regsfakulteit van die Universiteit van Kaapstad, waar ek werk sedert 2004. Na voorgraadse studies het ek my kortstondig in die prokureurspraktyk in Johannesburg begeef, maar die korporatiewe wêreld is en was nie vir my nie. Toe skryf ek in 2003 in vir ‘n doktorsgraad in kritiese regsfilosofie (ook aan die UP) en skuif Kaap toe. Nou gee ek filosofieklasse vir (meestal onwillige) regstudente en is so 31 jaar weg van aftrede – skrikwekkend. Ek spandeer ook deesdae ‘n gedeelte van my jaar in Londen waar ek die voorreg geniet om as ere-navorsingsgenoot by die Birkbeck Instituut vir die Geesteswetenskappe te werk. Dis ‘n wonderlike plek, omgeef met die flambojante persona van Slavoj Zizek wat die internasionale direkteur van die Instituut is, so ons sit selde daar sonder ‘n nuwe uitdaging om oor iets te dink. 

Ek het in standerd 8 begin skryf. Afrikaanse onderwyseresse en onbeskikbare geliefdes het heelwat daarmee te doen gehad. Aan die einde van my standerd 9-jaar, ná (onder andere) ‘n pateties-mislukte (moontlik gewelddadige) poging tot ‘n liefdesverhouding met ‘n straight man, skryf ek ‘n klomp swak gedigte (as mens dit enigsins gedigte sou kon noem) op ‘n ou tikmasjien in my koshuiskamer op Brits. Ek stuur dit vir Tafelberg, verbeel my ek is ‘n latter day Annesu De Vos. Maande later kom die manuskrip terug met ‘n wonderlike, simpatieke dekbrief op die Tafelberg-briefhoof, onderteken deur Nélleke De Jager, waarin sy aandui dat alhoewel die manuskrip nie publiseerbaar is nie, het Charles Fryer (op daardie stadium hoof van fiksie, dink ek, by Tafelberg) in potlood aantekeninge / kommentaar op die manuskrip aangebring. Daardie manuskrip met Fryer se (soms skerp, ongenadige) kommentaar in potlood aangebring in die kantlyn van elke enkele gedig is nie net my kosbaarste besitting nie – dit het my oor jare heen aangemoedig om by die digkuns te bly, met ander woorde, wat ek probeer sê is dat daardie gebeure ‘n soort deurslaggewendheid gebring het. En hoop.

Ek het al so hier en daar (meestal op LitNet) gedigte gepubliseer. Om in Nuwe Stemme 5 te publiseer is nog effe onwerklik, amper asof dit nie ek is wat daarin publiseer nie, maar ‘n ánder Jaco Barnard-Naudé. As ek hy was sou ek gesê het dat dit ‘n wonderlike, leersame, opwindende, angswekkende, gelukkige, uitputtende, belonende ervaring is.

Met die Afrikaanse digkuns gaan dit goed. Ons baklei en stry, beledig en komplimenteer, val uit, maak weer op, stem heftig saam, dans, beskryf dié een as ‘n adder en daai een as ‘n engel en môre ruil die rolle weer om. Ons rou vir dié wat heengaan, applaudiseer die pryswenners (meestal) – dis lewenslustig, nogal uitbundig en selfs ruimhartig. Elke keer as iets in die Afrikaanse digkuns verloor word kom soveel nuwe dinge aan om dit te vervang. Kyk nou maar na die eerste Dancing In Other Words-fees by Spier nou die dag. Die energie van ons digkuns is ongelooflik. Maar daar is ook groot uitdagings. Hoe kry ons die Twitter-geslag om poësie (nie rymelary of banale lirieke nie) te lees? Hoe kry ons hulle om na gesprekke en lesings oor die digkuns te gaan luister en daaraan deel te neem? Hoe kry ons hulle om ‘n eie, oorspronklike, nuwe stem te vestig téén intellektuele intimidasie en die dogmatiese opwekking van die tradisie? Met ander woorde, hoe de hel kry jy hulle om passievol produktief-transgressief te wees, gegewe die apatie van die heersende verbruikerskultuur aan die een kant en die verlammende uitwerking van die fallies/gewelddadige nom du père, aan die ander kant? Hoe kry ons (meer van) hulle om Afrikaanse poësie op universiteitsvlak as kursus te neem? Ek dink dit is uiters moeilik, maar darem nie onmoontlik nie. Waar ‘n wil is…

Was dit Ingrid Jonker wat in ‘n ander konteks geskryf het, daar is net een vir altyd? En dit is vir my onteenseglik Eybers se relatief onbekende gedig getiteld “Voortgang” (uit Verbruikersverse (1997). Dis miskien nie dié volmaakte Eybers-vers in die objektiewe sin nie, maar in die subjektief-eksistensiële sin is dit vir my ‘n gedig wat my lewensbeskouing nou al vir ‘n geruime tyd oorheers en ek vermoed sal bly oorheers, tot tyd en wyl:

 

Voortgang

 

Onverhoeds en verbasend kom jy op slag

deur ‘n samespel van beloning en straf.

By gebrek aan ‘n deugdelike alternatief

durf jy die dag aan, al is dit nie iets

wat jy uit eie beweging sou kies.

Jy neem elke verdraaglike prikkel vir lief,

keer op keer waag jy jou selfs in die nag

en bring dit sowaar daar nog heelhuids van af.

Voortgang gaan voort. Aan die end van die tog

klink jou klaarste bevinding: kyk, hier is ek nog.

Hier het een voordeel: dat jy dit ken

al kos dit ‘n leeftyd om daaraan te wen,

banneling gebore. Vergeefs moet jy raai

wáárom alles per slot van rekening draai.

 

*** 

 

Gerhard Bothma

Gerhard Bothma

Ek is 39 jaar gelede gebore op Worcester. Het grootgeword op Caledon in die hart van die Overberg. Na matriek en diensplig maar redelik rondgeval op soek na ʼn plek in die wêreld; verskeie beroepe gevolg, onder andere poskantoorklerk, ontvangspersoon by ʼn hospitaal, stemwerwer vir ʼn stilgebore politieke party en praatjies gelewer vir ʼn gemeenskapsradiostasie; ʼn paar jaar in Ierland deurgebring, toe in Pretoria en nou rus gevind in Kaapstad. Besig met nagraadse studies in sielkunde.

Ek was maar ʼn eenkantkind wat vroeg reeds my toevlug tot die verbeeldingswêreld en boeke geneem het. Albei my ouers is lief vir lees en het daardie liefde aan my oorgedra. My ma het aan Leserskring behoort en destyds was daar ook ʼn kinderafdeling onder Daan Retief uitgewers. Elke maand se boekpakkie in die pos was ʼn groot gebeurtenis.

Later was ek ʼn gereelde besoeker aan die Caledon biblioteek waar ek Karel Schoeman “ontdek” het. Sy vermoë om atmosfeer te skep, die outsider karakters, sy gedetailleerde beskrywings van die alledaagse lewe in vroeër tye, het my aangetrek. In my eerste skryfpogings – kortverhale en novelles -het ek hom dan ook probeer nadoen. En bedroë daarvan afgekom.

Ek dink ek het eers in my vroeë twintigs werklik poësie begin lees en dadelik aangevoel dat hier ʼn medium is waarin ek dalk my eie verwarde gewaarwordings kan uitdruk. Breyten Breytenbach, Wilma Stockenstrom, T.T Cloete was aan die begin die groot vuurstokers. Later die drie ou meesters, Eybers, Opperman en Van Wyk Louw. Vir my eerste verse het ek hoofsaaklik inspirasie gaan soek in die Overbergse landskap, waar die son in die somer so tydsaam kan sak en daardie naamlose verlange sommer so met die skemer en die stilte deur die koringlande aankom.

Maar ek was nog nie werklik ryp genoeg vir skryf nie en moes eers ʼn bietjie meer lewenservaring opdoen, en natuurlik lees, en het die skrywery maar redelik sporadies aangepak totdat ek in my middel dertigs ernstiger pogings begin aanwend het.

Nuwe Stemme 5 is my eerste publikasie. Ek was baie verras en opgewonde toe die boodskap kom dat ek gekies is om aan die facebook gespreksgroep deel te neem. Deur die hele proses het ek baie geleer, veral by die werkswinkel met Loftus en Heilna waar ons verse, hoofsaaklik ten opsigte van tegniese aspekte, krities bespreek is. Vir ʼn ontwikkelende skrywer is so iets van groot waarde.

Om in Nuwe Stemme opgeneem te word is vir my ʼn reuse eer. Die erkenning bevestig dat daar potensiaal in my pogings is en dat dit die moeite werd sal wees om aan te hou probeer.           

Tans heers daar ‘n tyd van opbloei in ons digkuns met ‘n ongekende hoeveelheid bundels wat elke jaar verskyn, sowel as nuwe digters wat vir die eerste keer publiseer. Dit is natuurlik goed vir die voortbestaan van Afrikaans en ook omdat soveel uiteenlopende stemme ‘n geskakeerde beeld gee van die Afrikaanse leef- en geesteswêreld. 

Oor die gehalte en waarde van dit wat verskyn voel ek my nie gekwalifiseer om ‘n gesaghebbende oordeel te fel nie. Daar is baie wat ek van hou en geniet, tog wil dit voorkom asof daar soms by digters te veel van ‘n oppervlakkige tipe vers gevind word; ‘n gedig wat tegnies goed versorg is, suksesvolle beelde gebruik, maar nie veel dieper as mooi beskrywing gaan nie. Of is hierdie tipe vers juis die simbolisering van ‘n post-moderne verbruikerskultuur waar alles gaan oor uiterlike vorm maar arm bly aan geestelike inhoud?         

ʼn Voorbeeld van ʼn “volmaakte vers”? Dis ‘n moeilike een, maar ‘n vers wat ek nou skielik weer onthou is “Die dooie diere” van Sheila Cussons, uit haar bundel Die skitterende wond:

 

‘n Huis staan hoog met ruite wintervuur

die rookgeel tuin suig aan sy skaduwees

en binne rol drie kinders warm van die lag

hulle ronde lywe oor die geel vel van ‘n leeu

 

en dan ‘n ander huis, ‘n dooie vrugteboord

en winter weer

en ‘n dol hond met ‘n blaaslamp-tong

wat teen die heining sy springende pote

loeiend om verlossing skuur.

 

En soms in rustelose droom

soek ‘n vergiftigde hond snuffelend na sy bloed

oor ‘n koue grond wat snouend na my voete hap

rys stadig onder die slapende lywe

van kinders moeg gespeel

die geel rug van ‘n leeu met oë wintervuur.

 

***

 

Neil Cochrane 

Neil Cochrane

Ek het aan die Universiteit van Pretoria in die Uitgewerswese en Afrikaanse letterkunde studeer. Ek is tans ’n dosent in die Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Suid-Afrika.  Ek hou my die meeste van die tyd met die Afrikaanse letterkunde besig – referate, resensies, artikels  en lesingmateriaal. Ek bly my hele lewe lank in Pretoria – behalwe toe ek vir twee jaar in Pole Afrikaans doseer het.  Ek is enkellopend – die mees sinvolle verhouding wat ek  tans het, is met my Franse bulhond, Jojo. Ek is ’n  kranige tennispeler en wonder dikwels waarom daar byna geen gedigte oor tennis in die Afrikaanse letterkunde bestaan nie. Tennis bied wonderlike metafore om digterskap te beskryf…

Soos die meeste seker, het ek op hoërskool begin om gedigte te skryf. Dit was bloot ’n vorm van terapie en uitdrukkingsmiddel vir my storm-en-drang en adolessente hormone. Ek het al my pogings gebêre in  ’n flip file wat ek nou nog het. As ek die dag lekker wil lag, kyk ek weer daarna. Dit is ongelooflik hoe nederig dit jou maak om na jou vorige pogings te kyk, maar meer interessant besef jy – ek het so baie sedertdien beleef en ek kan of wil nooit weer terugkeer na hoe ek toe was nie. Ek is iemand wat regtig glo dat ervaring en poësie hand  aan hand loop – sonder intense, wonderlike en onstellende ervarings sal ek dit moeilik vind om te dig.

Ek het nie eintlik inspirerende onderwysers op skool gehad wat my passie vir die poësie aangewakker het nie. Skool was maar vir my ’n oninspirerende ervaring, behalwe vir juffrou Lynn wat vir my Duits gegee het. Sy het vir ons Duitse gedigte van Rilke, von Hoffmansthal en Goethe uit ons koppe laat leer – dit het my baie geleer oor ritme – elke taal het ’n  ritme wat die beste in sy poësie neerslag vind. Ek is ’n ewige romantikus en sensualis – die Duitse poësie wat ons behandel het, het so reg in my kraal gepas – perde wat doodgeslaan word, vasgekeerde diere in dieretuine en singende voëls in woude.

My passie vir die poësie is eers op universiteit aangevuur – hier wil ek graag vir Karen de Wet uitsonder. Sy was ’n uitstekende dosent wat gedigte vir jou kon ontsluit. Sy het werklik my belangstelling en entoesiasme geprikkel. Eintlik wou ek nooit in die Afrikaanse letterkunde studeer nie – ek wou ’n prokureur word wat boedels en egskeidings hanteer, maar De Wet se lesings het my anders oortuig. Daar was ook ander dosente by Tuks by wie ek ontsettend veel geleer het oor die poësie en die Afrikaanse letterkunde – Reneé Marais, Piet Roodt, Elsa Nolte en Heinrich Ohlhoff

Ek het al voorheen hier en daar in literêre tydskrifte gepubliseer. Ek is nie baie produktief nie – het baie idees en notatjies, maar gedigte is maar so skottelgoedwas – jy moet dit doodeenvoudig DOEN ook. Ek hou ook van netjies, afgeronde verse – ek kan nogal my natuurlike neiging tot obsessiewe-kompulsiewe gedrag oordra na die skryf van gedigte – ek word moeilik tevrede gestel. Al die eindelose gepieker oor ’n vers neem ongelukkig baie tyd in beslag.

Vir my is Nuwe Stemme 5 ’n  goeie motivering om groter erns met my digterskap te maak. Ek het so bietjie die selfvertwyfeling besweer en ek is nou meer gemotiveerd om my notaboekies nader te sleep. Tog moet ’n  mens soos met alles in die lewe jou “prestasies” relativeer – dit is goed, maar nou is dit ook verby. Daar is nog baie gedigte wat geskryf moet kom… en swak gedigte wat ’n mechanic of psigiater moet gaan sien.

My gevoel oor die stand van die digkuns? Ek vind dit altyd interessant dat hierdie vraag oor en oor opduik – moet digkuns ooit op ’n  bepaalde manier daaruit sien?   Wat is die kriteria om goed daaruit te sien? Hoeveelheid publikasies? Aantal nuwe stemme? Vlak van eksperimentering? Tematiese variasie?

Gedigte is ’n  uiters persoonlike, nederige en uiters narsistiese bedryf – ek dink jy is gelukkig as jy ooit jou gedigte iewers gepubliseer kan kry – of as iemand ooit die lus het om jou selfobsessies te lees. Eintlik dig jy maar net vir jouself – nie om enige sisteem of nasionale digkuns in stand te hou nie. Dit is vir my baie belangrik om die digkuns te relativeer – dit is seker een van die kunsvorme waarin mense die minste belangstel. Dit is makliker om iemand te oorreed om na ’n simfoniekonsert of visuele kunsuitstalling te gaan as om ’n digbundel te koop (en boonop te lees).  Die argument is nog meer geldig vir die Afrikaanse digkuns – dit  funksioneer binne ’n sisteem waarin ’n handjievol mense dit toegewyd bevorder, terwyl die res gefassineerd dans op die ritmes van nog ’n nuwe Afrikaanse „song“ wat „stunning“ is.

ʼn Gunstelingvers? Sjoe, dis moeilik. Daar is so baie – hulle is volmaak weens verskeie redes. Tegnies gesproke moet ek die verse van Elisabeth Eybers uitsonder  – elke woord in haar verse pas perfek. Sensueel gesproke hou ek van Ina Rousseau en Sheila Cussons. Daar is ’n gedig van Ina Rousseau wat vir my baie mooi is – “Jan”:

 

Jan

 

Terwyl sy vir haar gesin ’n  broodjie

van water en witmeel maak,

dink sy weer aan ’n  man met die naam

Jan. Hoe hy eens op ’n tyd ’n baadjie

gedra het van bruin riffelferweel

en die woord dadelik

stukkend gebreek het tot drie enkelklanke

een dodelike stormdonker dag. So: daa-de-lik –

en sy gedink het, aanvanklik, sy stil blik

is onskadelik. Sy plaas die pan

In die oond en gaan na die hoofslaapkamer.

Baie stadig kam sy haar hare

terwyl sy deur die raam

na die sonsondergang staar.

So baie herinneringe,

so baie baie herinneringe deur so baie jare

van haar bestaan,

aan ’n man met die naam

 

Jan-

 

Die rede waarom ek so baie van dié vers hou, is omdat dit my opvattinge oor geslaagde poësie so goed opsom – EENVOUD, konkrete beelde, direktheid, eerlikheid, aardse sensualiteit en onderliggende, intense (dog beheerde) emosie. Dit is vir my beeldskoon as ’n vers kompak is en sê wat dit wil sê. Ek hou nie van uitgesponne verse wat net mals voortbeweeg nie. Een van die dinge wat ek so interessant gevind het van die Nuwe Stemme 5 ervaring was die uiteenlopende opinies, opvattinge en perspektiewe – waarvan een hou, haat die ander – die belangrikste is dat jy na almal luister, maar die moed van oortuiging sal hê om by jou opvattinge (ook oor jou eie verse) te bly – veral as iemand van jou verskil – dit is net nog `ʼn opinie wat bes moontlik gaan verskil van iemand anders s’n. Daarom kan ’n mens poësie nooit sien as ’n baas om gelukkig te hou nie.

 

***

 

Adriaan Coetzee

Adriaan Coetzee

Ek het laerskool en hoërskool klaargekry, R4,400 se slegte skuld opgestapel by Wits en probeer my ruggraat Cum suis in die wêreld behaal. Verder het ek my eerste psigiater se emigrasie help befonds (no brain drain there) en span nou met my tweede saam vir haar droomhuis ’n wonderlike klippie van die see af. As werker het ek al hubares help onthaar in die heuwels, saam die direksie skunk gerook in Camden Town se raadsale, masjiene herstel wat verbruikersverhoë poets en ander dinge waarop ’n ma erg kan trots wees. Afgesien van myself tans voordoen as kranige tuinier lê ek meestal op my vrou se nek en skend my kinders emosioneel. Dit geskied alles op Sterkfontein. Die naburige landgoedere se perdestalle is groter as ons plot se huis. Gelukkig is ek nou amptelik ’n digter so “armoede” is iets van die verlede. Maar voor hierdie kort biografiese skets in ’n epiese manuskrip ontaard sal ek dinge hier moet kortknip. O ja, ek pleeg soms ’n noemenswaardige vers- nee, dit lieg ek! Almal is kostelik, vra my onmiddellikes, hulle is tandetrekkers van statuur.

Hoe en waar die passie vir poësie? Iets van op pad na ’n vrou se hart met verbete vlerkslag om die droom van sterwe te haal. Of dit of Shakespeare op skool. Toe was Breyten net-net nog ’n terroris. In Engels is ons bietjie Serote gegun. En daarna begin jy aktief aan jouself leesstof voorskryf. Ek het eers in 1999 in Londen besluit om in Afrikaans te dig.

Ek het al voorheen in New Coin gepubliseer. Dit is ‘n besonderse voorreg om in Nuwe Stemme 5 te debuteer. My eerste Nuwe Stemme het ‘n groen omslag (en rooi streep?) maar is voorlopig skoonveld. Dit sal insiggewend wees om weer te kyk wie daarin gedebuteer en sedertdien aanbeweeg het na groter en beter dinge in die letterkunde. My soektog het darem weer my Eleven Plays of William Butler Yeats opgelewer. Ek het dit by die eerste KKNK vir R15 gekoop. Boklied was ‘n belewenis. Ek het die hele vertoning aan bomskok gelei want die terroris en sy vrou het reg agter ons gesit.

Ek voel die Afrikaanse digkuns is ongewaardeer onder die jelly babies in die potjie aan die einde van die reënboog. En baie sit en sug asof digters, maar ook skrywers in die algemeen, se tjank so maklik afgetrap word. Hoe moeilik kan dit nou werklik wees om jou siel aan die duiwel te verkoop in ’n wêreld waar almal se beursies vanselfsprekend 23.4 grade gekantel is?

“Die volmaakte vers” is ’n gedig met een oordadige lettergreep …Was die “Laaste Avondmaal” nie die perfekte sonnet nie? Nee, in alle erns, die volmaakte vers verlang dat een enkele stem groter is as die digkuns self en daarvoor is die muse te veel van ’n flerrie. Die kriteria waarby ek sal volstaan vir gedigte wat naby so iets kom is woorde wat jou met ’n gesonde soort jaloesie oorweldig. So gedig vir my is bv. die volgende:

 

Die rede vir lug

 

die hadeda het olie-ogies

(’n geweermetaalgrys vraagtekenvoël)

hy prik afgemete

die gemanikuurde grasperk

 

boontoe, in boomtoppe

sit kras swartwit kraaie

wagtend op nesduiwe

om hul waaksaam te verslap

 

boontoe steeds, dieper in die blou

bo pelikane wat huiswaarts bons

word die lug gespikkel

met fletsende swaels

 

heel bo, in hoogste strata

sirkel roofvoëls

in die volvoering

van gevleuelde lae

 

en ’n boeingstert halveer die lug

 

 

(deur André van der Merwe)

 

***

 

Oloff de Wet

Oloff de Wet

Ek het grootgeword in Vryheid in Natal en het later teruggekeer na KwaZulu-Natal om skool te hou by ‘n skooltjie genaamd Amandla! Daar het ek by die induna toestemming gekry om ‘n huisie by die meer te bou, en die soldate het nie omgegee as mens nou en dan deur die grensdraad klim en bier in Mosambiek gaan drink nie. Ek was jare lank ‘n student – in verskeie rigtings – eers om die weermag te vermy en toe om werk te vermy. En tussendeur het die broederskap  soms maande lank in Afrika met ‘n ou Hilux rondgery.  Maar eindelik het ek by wiskunde vasgehaak en so baie daarvan gehou dat ek dit nege jaar lank op arme studente in Pretoria afgedwing het. Tans is ek egter ‘n sweiser: ek en my broer ontwerp en bou ‘n aluminium seiljag in Kaapstad, en as dit klaar is gaan ek my girlfriend vra om saam te kom, dan seil ons windaf.

Daar was ‘n ou (en dus klein) Groot Verseboek in my ouerhuis wat my geïnspireer het. Nuwe Stemme 5 is my eerste publikasie en daaroor is ek in my noppies. Ek dink die Afrikaanse digkuns  sukkel, soos alle kontemporêre kuns, om ‘n balans te kry tussen toeganklikheid en kwaliteit.

My persoonlike gunstelingvers:

“En nou het die more my

oor die rand van sy glas gemors”

 

***

 Vervolg by Nuwe Stemme 5 (2)

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Onderhoude: Nuwe Stemme 5 digters (1)”

  1. André van der Merwe :

    Adriaan Coetzee, dankie vir die aanhaling van my vers Die Rede vir Lug as ‘n voorbeeld van die ‘volmaakte vers’. Maar werklik, die ‘volmaakte vers’?! Bestaan so iets wel?

  2. Ai Joan-Mari… so ernstige foto!

    Trots Afrikaans, ek hou daarvan… waar sign ek op…

    Om af te sluit met ‘n engelse versie van ‘n nuwe held van my…

    “… I’m the root of all thats evil, yeah, but you can call me cookie…The roof… the roof… The roof is on fire.”